Witwees, plek en wording. Mymeringe oor In my vel

Isolde de Villiers & Liezl Dick

 

Azille Coetzee se boek In my vel: ’n Reis (2019) ontwyk maklike kategorisering en kitsklassifikasie op dieselfde wyse wat die skrywer beskryf hoe sy sukkel om ’n plek te vind waar sy hoort. Haar verhaal is deurweef met worstelinge rondom liefde, identiteit en wat dit vir haar beteken om te behoort. ’n Belewenis van witwees – eers in Suid-Afrika, dan in Nederland, en dan weer terug in SA ná die reis – kom onder die loep. Die boek bied dus die geleentheid om krities te reflekteer oor die verwikkeldheid van plek, identiteit en wording.

Hier en daar

Die wyse waarop plek, andersheid en soortgelykheid bedink word in die boek kan uitgepak word; Nederland en Suid-Afrika word vergelykend bespreek, soos wat mens doen wanneer jy jou geboorteland verlaat en jouself vir ’n wyle elders vestig. Nederlanders, ’n homogene massa, verskil baie van Suid-Afrikaners in al hul etniese en kulturele diversiteit. Dit is dan juis hierdie tipe andersheid wat Azille kies wanneer sy ná haar verblyf in Nederland steeds nie tuis voel nie. Met haar tuiskoms in SA bevind sy haarself egter steeds in ’n homogene mikrososiale ruimte wanneer sy nie daarin slaag om isiXhosa te leer of swart/bruin/Indiër-vriende te maak nie. Meeste wit mense [Coetzee self gebruik “wit mense” eerder as “witmense” in haar boek] in SA kan met hierdie sistemiese uitdaging assosieer: die nalatenskap van apartheid en gepaardgaande ruimtelike segregasie-beleide belemmer steeds ’n wordende-ander(s). Wittes bevind hulself onwillekeurig en willekeurig in enklawes van soortgelykheid (Mbembe, 2008; Van der Westhuizen, 2017) waar subjektiwiteit (lees: Afrikaner- of wit identiteit), plek, taal en gemaksones ’n status quo van bestaan skep waaruit mens slegs met moeite kan breek. Gemak beperk ons wordingsmoontlikhede in Suid-Afrika.

Die geleenthede vir Coetzee om ‘witter’ te word en te transformeer tot ’n geterritorialiseerde wit subjek wil op die oog af meer dikwels in Nederland voorkom. Daar word sy as nie ‘wit genoeg’ beskou nie; moet ’n ander taal aanleer, sosiale kodes antisipeer en “inpas”. Terug in SA bevind sy haarself in ’n smorgasbord van klas- en kulturele verskille, maar die verskil en wordingsmoontlikhede blyk slegs abstrakte konstrukte te bly buite haar bereik; die mikrososiale ruimte bly homogeen, gemaklik en wit: “My kollegas is ook meestal wit. En die buurte waarin ek beweeg, is meestal wit en welgesteld, behalwe die kelners en die skoonmakers en die werkers. Vir alle praktiese doeleindes lyk my lewe seker nie veel anders as wat dit sou gelyk het in apartheid-Suid-Afrika nie. Soveel gemak, soveel voorreg” (p. 159).

Al bied SA dus oënskynlik die geleentheid om wit gerasde subjektiwiteite uit te daag om iets anders te word, gebeur dit nie op die skaal wat mens sou verwag het dit moet gebeur 25 jaar ná die einde van apartheid nie. Alhoewel Azille dus van ’n wordende-wit bestaan in Nederland ontsnap, speel die geleenthede vir wordende-anders, wordende-periferaal, wordende-swart (Deleuze & Guattari, 2008) oënskynlik (nog nie) uit nie. Die probleem met hierdie onvervulde wordingsmoontlikhede kan gelê word voor die deur van klas- en rasgewoontes – kenmerke van ’n samelewing en subjektiwiteite wat nog swaar dra aan ’n verlede deurspek met segregasiebeleide en rasgebaseerde wetgewing. Coetzee verwys na hierdie uitdagings terug in Kaapstad: “Ek vra my wit Afrikaanse vriende of hulle daarin slaag om hegte vriendskappe oor die kleurlyn te kultiveer. So hier en daar, maar meestal nie. Hoekom nie? Kaapstad, is die rede wat baie van hulle aanvoer. Hierdie stad is nog gesegregeer volgens apartheidse stadsbeplanning” (p. 160). Tog sou ’n ondersoek na die deurbreking van wit mikro-sosiale gemaksones ’n dieper dimensie na die boek kon bring, en ook die weg kon baan na ander wyses van witwees. Met so ’n skrywe sou Coetzee verby ’n biegende witwees kon beweeg na ’n performatiewe anders-wees.

Hierdie beperking identifiseer ons nie slegs gemakstoel-agtig in die boek nie, maar ons lê dit ook voor ons eie deure. Dit is juis die feit dat die boek en narratief in hierdie opsig nie slaag nie, wat een van die beduidendste bydraes daarvan tot die lig bring.

Subjektiwiteit, plek en ruimte

Op bl. 164 skryf Coetzee: “En, dan dink ek, in ’n land soos Suid-Afrika is kort antwoorde en maklike oplossings ’n luukse wat ons juis nie kan bekostig nie. Die kompleksiteit van hierdie ruimte verg van ons om stil te staan, om te vertoef in onsekerheid en dubbelsinnigheid, om tyd te neem om te dink en te praat en om met noukeurigheid en fokus die lang pad te vat.”

Inderdaad. Om die self en witwees anders te verbeel en ander versinnebeeldings van witwees in Suid-Afrika te bedink, is van kardinale belang. Tog is daar al vir ’n wyle ruimte vir wit subjektiwiteite om sigself te bemoei met die versinneliking, die materialisering van hierdie deurdagtheid, komplekse denke en versigtige kommunikasie. Volhoubare materiele en sosio-ekonomiese verandering gaan nie gebeur wanneer ons dit slegs bedink nie. Overgesetseinde, dis tyd vir ons om ons hande vuil te maak, uit ons gemaksones te klim en tyd te maak om iets te doen aan die bou van verbandhoudendheid en afbreek van koloniale gewoontes. Want om anders te word, te transformeer, impliseer ’n anderste-(wit) wees, ’n ander manier van doen en leef in die wêreld. Om werklik ’n dekoloniale wit subjek te word, moet die homogene mikrososiale ruimtes versteur word. Die wordingsmoontlikhede van die subjek is onlosmaaklik verbind aan die omgewing/ruimte waarin die subjek sigself bevind. ’n Subjektiwiteit wat ruimtelikheid, plek, verbandhoudendheid, taligheid, ras, materiële en nie-materiële entiteite ernstig opneem, en dit as deel van die proses van subjektivering beskou, werk dus ook krities met die mikro-sosiale ruimte, klas-onderskeide en ras-identiteite wat deel vorm van die subjektiveringsproses.

In hierdie verband is ’n ruimtelikheidsbenadering behulpsaam. Coetzee illustreer effektief die wyse waarop (mags)verhoudings ruimte produseer en waarop hierdie verhoudings eweneens dan deur hierdie ruimtes herproduseer word. ’n Feministiese benadering tot ruimtelike geregtigheid plaas juis klem op die wyses waarop plek (mikro-sosiale) altyd alreeds in ruimte (makro-sosiale) ingebind is (Valverde, 2015; Massey, 1994). In my vel neem immers eksplisiet ’n feministiese aanslag en die geykte “die persoonlike is die politiese” vind hier weerklank. Dit is daarom behulpsaam om klem te plaas op die wyses waarop magsverhoudings in huishoudelike en selfs intieme ruimtes verband hou met verhoudings in breër openbare ruimtes. Dit is vanuit hierdie benadering wat ons Coetzee se verbrokkeling, versoening en uiteindelike hereniging in haar romantiese verhouding met C as ’n parallel vir haar verhouding met Suid Afrika lees. Oorbewus van die moontlike kritiek teen sodanige metafoor en die gevaar van oor-romantisering, wil ons egter nie te vinnig hierdie narratief van die boek verwerp nie. Daar is dalk juis in hierdie tyd en vanuit Coetzee se generasie ’n hernieude behoefte aan hoop en vars versoenende moontlikhede en dit kan moontlik as een van die beduidende bydraes van die boek beskou word.

Dit is verder ook belangrik aangesien die idee dat ruimte deur ongelyke verhoudings geproduseer word en ruimtes dan hierdie ongelyke verhoudings instandhou, behulpsaam kan wees, maar dikwels slegs ’n verdoemende en bykans verlammende analise bied. Volgens Keenan (2015) is die ruimtes wat verhoudings van geborgenheid onderhou, nie staties nie en hoef dus nie noodwendig verhoudings wat onderdrukkend, uitbuitend en konserwatief is, te onderhou nie. ’n Feministiese benadering wat die kru onderskeid tussen plek (veilig, beperk, geslote) en ruimte (oop, potensiaal vir verandering) juis bevraagteken, wys hoe plek net so oop en buigsaam soos ruimte kan wees en maak die potensiaal vir verantwoordelikheid oop (Massey, 2004). In “Geographies of Responsibility” voer Doreen Massey aan dat om verskoning te vra vir die verlede ’n goeie begin is, maar nie voldoende is nie en nie dieselfde is as om verantwoordelikheid daarvoor te neem nie (Massey, 2004:10). As die afstand tussen toe en nou (verlede en hede) as ruimtelik beskou word, en nie net as verwant aan tyd nie, kom verantwoordelikheid – die beroep om iets daaraan te doen – met veel groter dringendheid na vore. Verskeie identiteite, insluitende dié van plek, skryf Massey, word deur beliggaamde verhoudings geskep wat geografies en geskiedkundig uitstrek. Ten einde verby die herverbeel na die herskepping van identiteit en plek te beweeg, is Deleuze en Guattari se konsep van ’n vluglyn handig.

Vluglyne en wording(smoontlikhede)

’n Vluglyn maak dit moontlik vir ’n subjek of terrein om uit ’n bestaande orde, gewoonte of struktuur te breek en in kontak te kom met die ‘buitekant’, die ander, andersheid en dit wat nuut is (Deleuze & Guattari, 2008). Nuwe ruimtelike bestaansordes vir die subjek word dus moontlik. Wanneer ’n vluglyn te voorskyn kom en geskep word, word ’n radikale sprong vanaf die vra van vergifnis tot die aktiewe opneem van verantwoordelikheid en kreatiewe toepassing van oplossings om die ruimtelike en materiële ongeregtighede van die verlede te verander, moontlik. Om ’n gedekoloniseerde wit subjek te word, beteken dat die performatiewe aard van witwees moet verander. Dit impliseer ook dat die materiële elemente, gewoontes en algehele ordening van ons mikrososiale ruimtes ’n ander vorm sal moet aanneem. Maar bo en behalwe die materiële en performatiewe aard van witwees, gaan ’n radikale verbandhoudendheid met ander Suid-Afrikaners geskep moet word. Hoe gaan ons dit moet doen?

Om ’n vluglyn te skep, is soos om op ’n bewegende trein te spring (Anker, 2007) – uitdagend, nuut en eksperimenteel. Vluglyne moet uit ons mikro-sosiale ruimtes ontspring en dit deterritorialiseer sodat ons saam kan word in ruimtes buite ons gemaksones. Hierdie geleenthede moet aangegryp word voordat dit soos ’n trein verby ons snel. Die argument wat hier gemaak word, is dat so ’n wordendeanders van wit subjektiwiteite geskep word deur die materiële impak van dade. Om anders te word, moet witheid inderdaad anders bedink en verbeel word, maar witwees moet terselfdertyd anders beoefen word. Ten einde te verander, moet ons dus iets anders doen, en dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om te verstaan hoe en wat ons kan doen. ’n Vluglyn het nie ’n resep of model wat nagevolg kan word nie. Elke vluglyn is uniek en ontspring vanuit spesifieke omstandighede of terreine wat dit deurbreek of subjektiwiteite wat dit transformeer (Stengers, 2008).

Waarom is hierdie punt belangrik? Indien ons nie dade, aksies en die uitbreek uit ons eie spesifieke mikrososiale gemaksones vooropstel nie, loop ons die gevaar om Suid-Afrika se diversiteit en kompleksiteit slegs as ’n veraf mentale konstruk te bedink en te benader, soos wat Coetzee soms neig om te doen. Ons loop dus die gevaar om koloniaal in ons denke te bly, en daar moet gevra word wat die groot verskil is tussen die wording van ’n wit subjek in Kaapstad, en die wording van ’n wit subjek in Amsterdam? Dit is tog juis die “hardkoppige ongemak” wat op die stofomslag van Coetzee se roman benadruk word, wat wit Suid-Afrikaners noop om voortdurend anders te word, uit gemaksones te beweeg en ’n verbandhoudendheid met die gerasde ander te skep. Natuurlik is daar steeds verskeie wit mense in Suid-Afrika wat die impak van apartheid en witwees (ten spyte van die ooglopende en skreiende littekens daarvan op die plekke en ruimtes wat ons alledaags bewoon) ontken, en in daardie opsig kan In my vel gelees word as die begin van ’n vluglyn, die deurbreking van ’n rigiede denkorde en uitbreek na ander wordingsmoontlikhede van witwees. ’n Self-kritiese witheid soos wat Coetzee in In my vel oopskryf, is dus belangrik. Vir ’n vluglyn om te werk, en ’n psigiese, materiële en ruimtelike deterritorialisering teweeg te bring, moet die geleenthede wat dit bied egter aangegryp word, en moet mens aktief op die trein van wording spring ten einde die (ongemaklike) reis te onderneem.

 

Verwysings

Anker, W.P.P. 2007. Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.

Deleuze, G. & Guattari, F. 2008 [1987]. A Thousand Plateaus. Capitalism and schizophrenia, II. London: The Continuum Publishing Company.

Keenan, S. 2015. Subversive Property: Law and the Production of Spaces of Belonging. New York: Routledge.

Massey, D. 1994. Space, Place and Gender. Cambridge: Polity Press.

Massey, D. 2004. Geographies of Responsibility. Geografiska Annaler: Series B, Human Geography, 86(1):5–18.

Mbembe, A. 2008. Passages to freedom: The politics of racial reconciliation in South Africa. Public Culture, 20(1):5-18.

Stengers, I. 2008. Experimenting with Refrains: Subjectivity and the Challenge of Escaping Modern Dualism. Subjectivity, 22(1):38–59. https://doi.org/10.1057/sub.2008.6

Van der Westhuizen, C. 2017. Sitting pretty. White Afrikaans women in postapartheid South Africa. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

Valverde, M. 2015. Chronotopes of Law: Jurisdiction, Scale and Governance. Abingdon: Routledge