Vormloos

Hermoine le Roux

 

Ek weet nie lekker wat om te skryf om vir jou, liewe leser, te wys dat ek nie pas in die mooi vormpie van die stereotipiese Afrikaner nie. So kom ek begin maar op ’n punt: ek eet nie boerewors nie; ek luister nie na Kurt Darren of Johannes Kerkorrel nie; ek was so lanklaas in ’n kerk gewees dat my ma sal ween en bowendien is ek transgender.

“O, soos Caitlyn Jenner?” As ek ’n rand gehad het vir elke keer wat ek dit gehoor het… nee, ek sou nogsteeds moes werk.

Ongelukkig is Caitlyn Jenner die prototipe van transgenderisme vir baie wit mense regoor die Engelssprekende wêreld, wat eintlik Suid-Afrika insluit. Dit maar daar gelaat, want anders gaan ek net daaroor skryf. Laverne Cox is iedergeval ’n beter rolmodel.

Die ongeluk het baie mense, selfs van die hooggeleerdes waarmee ek werk, geen idee gehad wat ek bedoel toe ek vir hulle die dag sê “ek’s transgender” nie. Dis seker omdat dit iets is wat verwyderd is van die mooi vormpie van die stereotipiese Afrikaner. Maar dis ook ’n klein groepie binne die LGBT+ gemeenskap, so jy gaan dit soms iedergeval verduidelik wanneer jy praat met ’n gay man of vrou. Dan kan ek nie eers myself indink om vir dieselfde mense te verduidelik van nie-binêr en agender nie.

Eerlik gesê, ek skryf nou net bloot wat in my kop inkom. Ek, soos baie ander transgender mense wat ek ken, is eintlik al lekker moeg om dieselfde vrae oor en oor te beantwoord. En natuurlik het dit geen invloed op hoe goed of sleg ek my werk doen nie. Taalwetenskap bly taalwetenskap, of jy wit, swart, cis of trans is.

Ek moet wel sê ek’s eintlik dom wanneer dit kom by sosiale goed. Vele akademici, dink ek, het maar probleme met gewone sosiale interaksie. Dis hoekom ons in kantore gestop word met ’n klomp boeke, waar ons op ons gelukkigste is (tot merktyd kom). Ek kom nie agter as mense my snaaks aankyk nie. Ek mis ook al wat ’n skinderstorie is, want ek gee nie om nie. So nou en dan sal ek ’n skewe kyk kry, maar dit kom nooit van een van my kollegas af nie.

Inteendeel, meeste van my kollegas gee werklik nie om wat ek in my persoonlike lewe aanvang nie, maar jy kry altyd een in elke groep. Jy weet mos waarvan ek praat. Soos wanneer jy na ’n partytjie toe gaan en jy hoor: “Baie welkom, en byvoorbaat om verskoning vir Hanno.”

Ek dwaal nou van die punt af.

Gender en oriëntasie is iets wat eintlik maklik misgekyk word in die nuwe Suid-Afrika, waar almal gelyk is, maar sommige is meer gelyk as ander (met apologie aan Mnr Orwell). Dis alles goed en wel dat my familie, vriende en kollegas my sien as myself, maar op papier is ek steeds ’n man. ’n Wit, Afrikaner man, wat weens die geskiedenis sekere dinge nie mag doen nie.

Papierwerk tersyde geskuif, ek is steeds ek. Ek is vriendelik en kollegeaal, ek doen my werk, ek’s meeste van die tyd heel beleefd, maar ek het vrese by die werk. Ek bekommer heeltyd oor my stem, wat eintlik nie nodig is nie. Ek hoor elke nou en dan iemand wat nog sê “sir” wanneer hulle verby my loop. Ek moet baie seker wees dat ek werklik die badkamer nodig het, want dalk sien iemand my en vra wat ek daar maak.

Daar is dan ook nog kollegas wat sê “hy” in plaas van “sy”.

Het my transisie ’n groot impak gehad op die departement of die kollegas? Ek, liewe leser, sal die laaste mens wees wat dit sal uitvind, weens my fantastiese sosiale vaardighede.

Ek dwaal nou weer.

Wanneer jy trans is, kom jy twee tipes mense voor. Die met ’n morbiede fasinasie oor wat in jou broek sit, en die wat jou behandel soos ’n mens. Vele kere sal die wat jou behandel soos ’n mens soms vrae vra wat bietjie persoonlik van aard is, maar dis bloot omdat hulle omgee. Ander dag het een van my kollegas, waarmee ek baie goed oor die weg kom, vir my gevra wat aangaan in my liefdeslewe. Ek’t met die grootste glimlag haar vertel wat ek en liefie aanvang wanneer ons saam is (die PG weergawe, natuurlik). Sy het my nog altyd met deernis en respek behandel en daarvoor is ek haar ewig dankbaar. Sy’s ook nie die enigste een wat my so behandel nie. Dalk was my impak groter gewees as wat ek gedink het?

Dan is daar die kollega wat sommer net wil vra oor “hoe doen jy dit?”. Ja, “dit” is ’n flou eufemisme. Ek’t op ’n baie diplomatiese wyse probeer sê “dis nie jou besigheid nie”.

Dis alles goed en wel om te sê jy het al “The Danish Girl” en “A Girl Like Me” gekyk of Anastacia Tomson se boek gelees het. Dis meer as wat meeste mense sal doen. Dit gee jou nie ‘n “all access pass” tot die persoon se persoonlike lewe nie en nog minder gee dit jou toestemming om uiters persoonlike vrae te vra.

Ek reken ek’s moeg daarvoor om my storie oor en oor te vertel, nes ek moeg is om vir mense te vertel “Ek doseer Afrikaans. Nee, ek is nie ’n rassis nie. Nee, ek luister nie Kurt Darren of Die Antwoord nie. Nee, ek ken nie jou tannie in Kakemas nie.” Moet ook asseblief tog nooit vir my sê dat ek braaf is nie. Ek is nie.

So as jy my eendag ontmoet, vra my liewer watter goeie boeke ek onlangs gelees het of oor my klipversameling. Ek wed jou jy’t nooit gedink ’n transgender Afrikaansdosent sou ’n klipversameling hê nie. Dis een van die dinge wat my meer maak as bloot net die etiket en stereotipe wat die samelewing aan my toeken met etikette soos “Afrikaansdosent” of “transgender vrou”.