my stem
Herschelle Benjamin
vir Nathan Trantaal
Mammie,
ek skryf vi jou ’n anner tipe gedig.
Ma’ ek dinkie mammie salit verstanie,
wan it klinkie soes ek pratie.
Da is ’n man.
’n jong klong.
Hys my colour en mammie se
colour.
Ôsse nasie.
Ma ek’et hom nogie gemeeti
altans nie in
lewende lywe nie.
Net op pampier.
Hy skryfi mooi nie.
Hy skryfie om anner te please nie.
Hy skryf ookie vi jo om te verstanie.
Hy skryfit soes hy praat.
Dis ’n anner tipe man.
Special.
En regop soes ’n besem stok.
Nou lies ek sy goed
en ek wonner wat sal
Mammie sê
wan nes Ankil Adam
en oompie Vincent
krap hy diep gate in my hart. Sy goed soek broeiplek
vi nog
vi meer
Nie net va sy kant afi
ma va myne
en va ali laaities
en girlies na ôs.
Mammie,
Ek salute hom.
Rêrig.
Wan hy dala met sy woorde va regs na links
en ek sluk al daai Kaapse ink.
Al verstani eki alsi –
wan my tong is nog lui
(vasgat)
en dik van die Plattelandse brei. Ma’ ek sal try …
Try om my stem te kry.
Try om te skryf
oor ôsse struggles,
ôsse mense
en
ôsse mooi.
Soe ja,
ta Betta.
Ek skryf vi jou ’n anner tipe gedig. Ek hoep Mammie verstanit, wan it klinkie soes ek
altyd
pratie.
© 2019. Die outeur.
Om die pdf-weergawe van hierdie stilus-stuk af te laai, klik gerus hier.