deddie
Herschelle Benjamin
vir Hermanus Johannes Benjamin
Deddie,
hie’se gedig vir jou oek
want mammie staan klaar geyk in ou ink
van ou gedigte
en jammer
ek skryf vir jou oor jou van jou
jammer
deesdae is my pen rigtingloos
tussen die tirades van menswees in soe ’n
wêreld
en jonkwees met soe ’n
hart
Deddie,
ek maak soggens my koffie soes joune
te veel melk te min suiker
ek lag nie meer daai klapperlag soos jy nie
ek loop kopaf en bekstil
my kamer is onnet en skoene vuil
veters wil nie knoop nie
en my
kop (is dalk) inplek met my hart in chaos
Deddie,
hiesie mooiste rose in my tuin
en Leeukop is gigantisch deur my venster
my tong probeer Nederlands en Vlaams
maar nét as ek dink ek kan,
onthou ek Deddie se Afrikaans …
Waarheen het die tyd gegaan?
toe ek op jou skouers en agter jou rug ’n kroon was
toe ek jaloers kyk hoe jou hande ’n graaf
vat
toe ek in osse ou Ford jou vernuf en
kar-romanse bejeën
toe ek jou glimlag sien tussen skare want
dis
‘my klong op daai verhoog’
toe jy my afsien innie verte na oorsese lande
wat net bestaan op julle tv-wêreld
Deddie,
jammer, want ek sukkel soms baie
ek is al nerfaf geval en my tande breek soos
skree geluide uitbars
my hart is voortdurend op soek na ’n ander liefverslaafde
en my pen,
voel vreemd, lig, bedwelmend en gewond
Deddie,
ek wou jou eerder met houtskool skets en teen my muur plak
maar hier oppie vloer skryf ek ’n lang gedig
met jou erfpen
en hoor jou stem innie verte:
‘Skryf daaroor my kind. Skryf.’
© 2019. Die outeur.
Om die pdf-weergawe van hierdie stilus stuk af te laai, klik gerus hier.