In die oog van die storm – ’n Afrikaanse Lear vir nou 

Jean Meiring

jeanmeiring@gmail.com

 

Op 28 Mei 1971 maak regisseur Dieter Reible se opvoering van Koning Lear, Uys Krige se vertaling van Shakespeare se 1606-tragedie, die dak van die Nico Malan-stadskouburg nat – ’n ruimtetuig wat op Kaapstad neergedaal het. Dis ná ’n ballet in die skoene van Bartho Smith se drama Christine, Koning Lear se teenhanger, moes tree weens laasgenoemde se beweerde omstredenheid. Alhoewel die gordyn tóg daarop lig, word Koning Lear gou ook deur berugtheid omgewe. Reible het die ou koning se verbrokkelende ryk na Afrika verplaas, ’n kunsgreep wat menige fynproewerswenkbrou laat spits. 

Dieselfde jaar gee HAUM die teks uit, wat teen 1976 al ’n vierde druk beleef. In die Rapport-koerant van 13 Augustus 1972 neem Ernst van Heerden, indertyd ’n professor aan die Wits-universiteit se luisterryke departement Afrikaans en Nederlands, die vertaling gloeiend onder die loep. Krige is immers kort vantevore met die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk bekroon. 

Al ontbreek die boek self ’n verantwoording vir Krige se op-die-skouer-neem van die taak en ’n uiteensetting van sy aanslag, verskyn daar op die binnekant van die flapteks tog ’n knap opsomming van sy kernbeweegredes. Krige, wat in 1969 dieselfde prys vir sy oorsetting van Twaalfde Nag ingepalm het, het die Lear-vertaling aangepak nie alleen oor hoe ontroerend die stuk is nie: “Ook omdat ek al geruime tyd oortuig was dat Afrikaans by uitnemendheid geskik is as vertaalmedium vir Shakespeare se dinamiese, van lewe bruisende Engels. (Dis ’n stokperdjie van my, die stelling dat Afrikaans op hierdie stadium van sy ontwikkeling in sy lewenskrag, idiomatiese rykdom, frisheid en ongereptheid veel gemeen het met Elisabethaanse Engels.)” 

Krige se vergelyking tussen Afrikaans en die Engels wat onder Elisabeth I gepraat is, is boeiend en vrugbaar. (“Dost thou prate, rogue?”). Derhalwe is dit dalk des te vreemder dat Shakespeare-vertalings in Afrikaans ná ’n ryk opbloei in die jare sestig en sewentig in die vier dekades sedertdien byna volkome opgedroog het. Die vraag ontstaan of van die sentrale dryfvere verdwyn het wat vroeër ’n vertaallus aangevuur het. 

Onder meer híérom is die nuus met opwinding begroet dat Shakepeare in 2019 weer ’n keer Afrikaans sou praat. (“Why pratest thou to thyself, and answerest not?”) Die kunstefeeste het lank vantevore reeds die leisels by die Streekskunsterade oorgeneem, waaronder die ou KRUIK, wat in die Nico Malan gehuisves is. By daardie jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees sou die spilpunt van die hooffeesprogram ’n opvoering van ’n produksie genaamd Koningin Lear wees. Die afwagting was des te groter met die rugbaar word dat dit Antjie Krog se vertaling in Afrikaans sou wees van ’n teks deur die Vlaamse skrywer en dramaturg Tom Lanoye, wat sterk bande met Suid-Afrika het en wat betreklik wyd in Afrikaans vertaal word. 

Die produksie het onder spelleiding van Marthinus Basson gestaan, met Antoinette Kellerman in die titelrol. Toneelmatig was dit ’n reusesukses. Onder die Kanna-toekennings, wat prestasies op die KKNK bekroon, het die produksie wyd en syd gemaai: in al agt kategorië waarin dit benoem is, het dit trofeë geoes. (“We will not stand to prate; / Talkers are no good doers …”) In 2019, toe dit lank reeds betreklik ongewoon was dat toneeltekste in boekvorm gepubliseer word, gee Protea Boekhuis dit uit. 

Alhoewel Koningin Lear natuurlik in ’n sin na die bovermelde tradisie van Afrikaanse Shakespeare vertalings terugreik (en hier en daar interessante eggo’s van Krige bevat), moet dit eweneens beskou word teen die agtergrond van die artistieke samewerking wat oor net meer as twintig jaar tussen Lanoye en Basson ontwikkel het. Kellerman het ook daarin ’n sleutelrol gespeel; Krog weer ’n geringer een. In 2002 is Krog se vertaling van Lanoye se Mamma Medea opgevoer, ’n herskrywing van die oertekste oor Medea deur Apollonios van Rhodos en Euripides. Dit verskyn ook in ’n enkele drukoplaag by die uitgewery Quellerie. 

Toe Lanoye in 2015, in opdrag van die Toneelgroep Amsterdam, aan King Lear ’n nuwe Nederlandstalige gedaante verleen, vorm dít ook ’n onderdeel van nog ’n ander patroon, naamlik Lanoye se vorige twee Shakespeare-projekte. Eers, in 1997, is daar Ten Oorlog, ’n twaalf uur lange bewerking – “op een eigentijdse, vulgaire manier”¹ – saam met die regisseur Luk Perceval van agt van Shakespeare se sogenaamde koningsdramas. In 2015 tree dit in ’n peiling van akademici en teaterfoendi’s as die beste drama in die Nederlandstalige repertorium uit die stryd. In 2014 weer is daar Hamlet versus Hamlet, waarin Lanoye vir Hamlet en Ophelia momenteel op die drempel van volwassenheid laat talm. 

Dis beduidend dat in die Nederlandstalige uitgawe van Koningin Lear daar onder die titel dié woorde verskyn: “Tom Lanoye naar Shakespeare”. Soos met die voorgangers is Koningin Lear nòg vertaling, nòg moderne transponering van die oorspronklike storiegegewe. Dis raker om al drie, in ’n mindere of meerdere mate, as herkonsipiërings van die oorspronklike tekste te beskryf. 

Die boek se agterhoede, wat die uitgewershuis Prometheus Amsterdam in 2015 uitgee, word deur ’n vyftien bladsy lange nawoord gedek met die titel “Lear als Piëta”. Daarin verduidelik Lanoye die motivering vir sy herbewerking en die skeppende proses waardeur die werk gegaan het: “Aanvankelijk wilde ik in Koningin Lear hetzelfde doen als in die andere Shakespeare-bewerking van me, Hamlet versus Hamlet. Ik zou het tijdvak en de locatie slechts een weinig universeler maken … Maar een middeleeuwse vrouwelijke monarch die onverwachts haar koninkrijk verdeelt onder haar drie zonen? Het wilde me maar niet lukken om van haar een plausibele figuur te maken.” 

Die uitdagings wat op daardie besluit volg, sit hy dus boeiend uiteen – asook sy oplossings. Shakespeare se bejaarde koning word ’n hedendaagse sakevrou wat in ’n toringgebou uit die heen-en-weer van die internasionale handel munt probeer slaan en gaandeweg onder die al hoe feller aanslae van demensie ly. Wat Lanoye egter nie verduidelik nie is waarom hy in die eerste plek besluit het om Lear ’n vrou te maak. 

Dit is vreemd en jammer dat die nawoord in die Afrikaanse uitgawe ontbreek. Sodoende is Afrikaanse lesers nie die helder vergrootglas beskore wat hulle Nederlandstalige eweknieë het nie. Trouens, Protea sou met vrug ook ’n essay deur Krog oor die vertaalproses kon ingesluit het. Dit sou die toeganklikheid en bemarkbaarheid van die boek verhoog het: vandag koop min lekelesers dramatekste. (Ook ontbreek die toneelbenaming boaan die blad in die Afrikaanse weergawe, wat heen-en-weer lees bemoeilik.)  

’n Ander kardinale artistieke besluit wat Lanoye in die nawoord verduidelik, is waarom en volgens watter beginsels hy die uitgesponne oorspronklike teks gesnoei het: “King Lear is onder andere zo overweldigend omdat je, als lezer en toeschouwer, twee stukken krijgt voor de prijs van een. Naast Lear en zijn kroost staat een andere familie-intrige, in extensor uitgewerkt. Die van Gloster en zijn clan.” 

Om die teks te vaartbelyn, was ’n kopseer: “Ik moest en zou een manier vinden om de lijn-Gloster te schrappen en de kroonjuwelen onder de scenes toch te bewaren. Het was de Storm die mij uit de penarie zou helpen. En dankzij de Storm: een nieuw soort rijk voor onze gedroomde vrouwelijke Lear … Onze storm moest a perfect storm zijn op elk gebied … Onze global economy. Daar dient zich het rijk te situeren van onze nieuwe Lear. Vlak voor een mondiale crisis die bancair, politiek en economisch zal huishouden.” 

Derhalwe lê Lanoye die snoeiskêr in die oorspronklike rolverdeling in. Die spil waarom die verhaal tol, is natuurlik steeds Lear, hier ene Elisabeth, of dan Betty (in die Afrikaans: Bettie), Lear. Sy is ’n “bejaarde captain of industry”. Pleks van drie dogters het sy drie seuns, Gregory en Hendrik (beide met ’n eggenote, onderskeidelik Connie en Alma) en die jongste, haar oogappel Cornald (of Naldje), wat sy van kleins af voortrek. Deur die omskakeling van genders, het Lanoye se bewerking dié ekstra lading: Elisabeth het die seuns met wie sy in ’n stryd des doods gewikkel raak, self gebaar, “[i]ets wat koning Lear, hoe groot zijn leed ook is, niet kan zeggen …” (In die 2016- Londense produksie met Glenda Jackson as Lear het die res van die karakters hul oorspronklike genders behou.)

Dan is daar Oleg, Lear se verpleër en vermaker, en ’n straatbewoner-karakter Junkie (wat deur die akteur wat Naldje speel, vertolk word). Laastens is daar Kent, Lear se jarelange regterhand, by Shakespeare “een hartverwarmend trouwe figuur” wat Lanoye “met niet eens zo veel inspanning … kon doen versmelten met graaf Gloster.” Lanoye behou die berugte blindmaaktoneel uit die Gloucester-deel van die oorspronklike verhoogstuk: hier is dit dan Kent wat deur Gregory veblind word. 

Die twee dele waaruit Koningin Lear bestaan – die eerste, “Die binnewêreld, in verdeeldheid”, heelwat langer as die tweede, “Die buitegrens, in die storm” – speel onderskeidelik binne en rondom die toringgebou-setel van Lear Edms. Bpk. af. Die vyf tonele in die eerste helfte stotter soos ’n hysbak na benede, om eindelik op grondvlak tot ruste te kom: die penthouse; die suite; die gang; die argiefkelder en die ingangsportaal. Deel 2 bestaan uit twee tonele, “Die Straat/die stad/die storm” en “Die dak”. Die toneelaanwysings vereis dat sekere tonele wat op die verhoog afspeel tegelykertyd op groot skerms gekaats word. Sodoende is die naasmekaarstel van die “ware” gebeure  en hul opgeneemde weergawes uit die staanspoor ’n goue draad wat deur die verhoogstuk loop; dit hang nóú met die tematiek daarvan saam. In die eerste toneel reeds stel Oleg ’n “kameratjie op-tripod” in en is Lear “sigbaar op verskeie wyebeeld-TV’s”. ’n Klompie spraakbeurte die teks in dui die verhoogaanwysings aan dat Lear “besef dat sy verfilm word” en sê: “Hou op met daai! Wie se idee was dit?” 

Tog, al die nuutheid ten spyt, is herkenning vreemd genoeg die eerste en sterkste gevoel wat die leser – en sekerlik ook die teaterganger – tref. Met die Gloucester-neweverhaallyn grootliks uit die weg geruim, bestaan die verhoogstuk uit die hoofverhaal in hewig saamgeperste vorm. In die openingstoneel, in die penthouse heelbo, is die eerste toneel in King Lear duidelik herkenbaar, met Lear wat haar sakeryk by wyse van ’n tong-in-die-kies moderne weergawe van clavium traditio onder haar drie seuns wil verdeel. Die fisiese storm van later word deur die dreigende wêreldekonomiese “monster” en “tsunami” voorafgeskadu – Lanoye se perfect storm, wat in 2020 luider praat as ooit. Anders as in Shakespeare se teks, bly die skrywersoog in die tweede toneel op Lear. Die derde toneel weer is ’n duidelik herkenbare verwerking van die derde toneel in die oorspronklike teks. En so aan. 

Die uiteinde is ’n verhoogstuk wat bepaald minder kompleks as die oorspronklike is, maar wat veel onmiddelliker en meer ademloos, in húl taal, die “taal” van rolprente en Netflix, tot moderne gehore spreek. En in die geval van Krog se vertaling in meesal oortuigende Afrikaans; soos in Lanoye se oorspronklike, is die dialoog subtiel en moeiteloos berym (minder eindrym as in Lanoye s’n; meer moeiliker naspeurbare binnerym) sodat dit nie soos poësie klink nie, maar soos die gewone alledaagse taal – nóú oorredend, nóú skellend en tierend – van hedendaagse Afrikaanssprekende sake-indoenas. 

Die naasmekaarlees van die Nederlandse en Afrikaanse tekste bied ’n openbarende blik op die strategieë wat Krog as vertaler aangewend het. Hulle is meesal, maar tog nie sonder uitsondering nie, geslaagd. Soms verbeter Krog subtiel die oorspronklike. Lear se bekende “while we / Unburdened crawl toward death” maak Lanoye “om vrij / En blij te kunnen kruipen naar mijn graf”. In die Afrikaans word dit “sodat / Ek veerlig en verlos kan aankruip graf toe”. 

In ’n tydsgewrig waar Afrikaans veel minder as vroeër, en bepaald minder as Nederlands, in formele, sakekontekste gebruik word, word wat eens ’n skerp onderskeid tussen formele en informele spraak was, grootliks in Krog se vertaling opgehef. So spreek Betty byvoorbeeld in die eerste toneel vir Kent met die formele “uw” aan (“Uw ondersoek”). In die Afrikaans gebruik Bettie “Jou ondersoek”. Ook is die Afrikaanse karakters, in dieselfde trant, baie meer as hul Laelandse eweknieë tot vloekwoorde, banaliteit en godslastering geneig – meesal sonder aansien des persoons. In dieselfde toneel word byvoorbeeld die versugting “Wij zijn / Reeds nu te veel de slaaf van zulke prullen” in die Afrikaans (dalk deels weens die rym) oorgesit as “Jirre, verlos my tog van sulke prulle”. Twee reëls verder word “Komaan, gedaan met narigheid en poespas” in die Afrikaans “Was out of line, en regtigwaar ’n bitch”. Effens later in dieselfde toneel word die jagbeeld “ik jaag je op” in die minder potente “fok jou op” omgesit. (“he prated / And spoke such scurvy and provoking terms / Against your honour …”)

Tog syfer die oorspronklike Nederlandse teks by tye onverwags en onoortuigend in die Afrikaans deur. In die eerste toneel sê Kent aan Lear: “O, jy sal versteld [sc. verstom] staan oor jou jongste!” In die eerste toneel in die tweede deel gebruik Lear byvoorbeeld die uitdrukking “dié pokdalig-boggelende monsters” (vir “het pokdalig en gebocheld monster”). Beide uitdrukkings – en sekere ander – val vreemd op die Afrikaanse oor en sit boonop effe vals in die mond van die vrylik swetsende Bettie Lear. 

Anders as in Lanoye se weergawe praat Krog se Oleg (die “Fool” of Nar) ’n vreemde mengsel van Engels en Afrikaans (en dis geen Kaaps nie). Dikwels verwissel hy halfpad deur ’n sin van taal. Die leser wonder of Krog nie hier ’n ander strategie kon aangewend het nie: Oleg sou ’n herkenbare dialek kon praat. 

Die welslae van die Basson-produksie sou nie moontlik gewees het as Krog se vertaling nie uiters geslaagd was nie. Soos Lanoye se oorspronklike is dit dikwels meesleurend. Tog skep die haperpunte wat hierbo vermeld word die indruk dat fyner en meer kritiese afronding die teks sou gebaat het. 

Is die versugting geoorloof dat na dese, Shakespeare meer Afrikaans gaan praat?

 

 

Notas

1 Karolien Segers in VRT NWS, 20 September 2017. Op die internet beskikbaar by https://www.vrt.be/vrtnws/ nl/2017/09/20/segers/

 

Hoe om hierna te verwys:  Meiring, J.  2019.  In die oog van die storm – ’n Afrikaanse Lear vir nou.  Stilet, 30(3):155-160. 

© 2019. Die outeur. 

Om die pdf-weergawe van hierdie herbesoek af te laai, klik gerus hier.