My vriendskap met Johann de Lange

Antjie Krog

Hy sien hoe sy ouma onder haar naghemp woel. Hy weet sy maak haar onderklere los om dit by haar voete te laat val. Op sy kampbedjie draai hy op sy ander sy sodat sy in vrede kan uittrek. Hy asem diep aan die reeks intiem-bekende geure uit die vanity case op haar bed – salwe, smere, druppels, tinkture. Hy hoor hoe sy swaar op die bed gaan sit, haar wekker opwen en stel. Môre sal sy “Kas” sê, “Kas, dis ses-uur.” Daar was al ander kamers, ander huise, ander buitegeluide, maar hierdie bly so. Soms vra sy saggies: “Slaap jy al Kas?” en omdat hy die behoefte in haar stem hoor, draai hy om en sy lees met ’n vraende stem: “Openbaringe sê: ‘Ek sal jou uit my mond spuug. Hier staan: ‘Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, Ek sal jou uit my mond spuug.’ Dit moet vreeslik wees, dink jy nie, so ’n spuug? So uit God se mond…” Hy herken die keelgrein. “Ouma, ek dink nie dis régtig regtig nie.” Hoewel hy nie die woorde weet nie, weet hy met sy hele lyf hoeveel toegewings sy maak, hoeveel vergewings, hoeveel vernederings om ’n kamer vir haar, vir hulle, uit verskeie familieverbindinge te beding. “Daar’s ook iets nie reg met die taal nie, Ouma. Is dit nie: omdat jy nie warm is nie ‘sal ek’ jou uit my mond spuug en nie, ‘ek sal’ nie.” Hy hoor hoe sy stem te hard word in die slapende huis, maar die manier waarop sy ouma na hom kyk asof sy hom vir die eerste keer heeltemal sien, maak dat sy asem wegstort en welgeluksaligheid oor hom uitsak.   

Dit is weer soos dit altyd was. Niks anders behalwe nou en die son en die veld bestaan nie. Sy ore is gespits, sy oë kyk vinnig en skerp na elke bossie.

Hy is alleen op die wêreld.

Al die bekende klanke kom saam met die donker. Die veraf roep van die korhane maak ’n lêplek vir die hees klank van ’n wildegans wat die donker spruitlangs vat. Die onrustige kiewiete stuur ’n boodskap dat hulle vannag nooit werklik gaan swyg nie. Inderdaad: die maan beier asof sy nie ’n gewete het nie. Sy waaier klein voetspore oor hom. In hierdie landskap is hy sterflik. Die maan verander alles in klip en hy gaan lê. Soos water, gaan lê hy. 

Hy probeer die velletjie aan sy wysvingernael aftrek, knaag dit met sy snytande, terwyl sy linkerhand se middelvinger bloed uit die duim knoei. “Kas…” sy ouma sit haar groot hande bo-oor syne en wieg saggies met haar bo-lyf. 

Vanuit my diepste holtes kom dit. Uit elke kronkeling bars geweld op my af. Onder my voete is ’n ysvloer waaronder geweld opstamp aanhoudend opstamp. Oopstamp. My lyf identifiseer die voorwerp: lat, daai’s lyfband, draadhanger, vuis. Ek vergaan in die geilte van ’n skuimende angs. My nagte beklemminge van vrees. Dan eindelik gewaar ek dit. Van êrens. Dit kom, ’n soet lieflike gevoel, ’n reddende vertroosting. Hier! Ek gee my oor. My hele liggaam stuiptrek van verlossing. Dan word ek wakker en voel hoe alles om my afkoel. Bedwelmd pluk ek die lakens af voordat die matras nat word. Skuif die venster oop en hang die lakens oor die tuinmeubels. Buite is volle maanlig. Ek draai my matras om en lê onrustig. Die lakens moet inkom voordat die huis wakker word.

Die boiler word teen skemer gestook. Wanneer die water bo by die pyp begin uitspuit is dit badtyd. Daar is net genoeg warm water vir twee baddens: al die vrouens saam, en al die mans saam in ’n mengsel van geilte en vrees, kaal met die sadistiese man en sy twee neefs in een bad. Here moenie lat hy ’n horing kry nie.

Boskloof. Hanglipberg. Ek gaan jou binne soos ’n kontinent. Behoedsaam, vol verwondering en oop vir nuwe horisonne. Kyk, hoe elke blouomfloersde krans in die ander pas, teen mekaar beur en lugwaarts stu. Ek duik. Diep. Ek gee die water my gewig en ’n gloed van goud skiet na my kop. Dit sluit my in ’n borrelende en uiteindelik sagbodemende stilte. My mond word water. Purpur modders pars uit my oë. Ek bly op die bodem lê, gooi my arms om ’n klip. Hier wil ek ondergaan. ’n Ewige prins tussen die rotse. Ek omarm die rots soos ’n  bark. Hou my! Hê my! Vat my! Dit warrel wil en nood, kleure en oorgawe. Dit word donker. En ’n angswekkende noute. Dan is ek bo. My stem brul teen die vinkneste wat soos snikke oor die water hang. Missie Misluk: soektog na die ekstreme. 

Die ekstreme. Dan is ek otter. Dan is ek sag. Ek swem met muggies en klein blou naaldekokerhelikoptertjies. Ek vat die bruisende vorteks van die stroom. Ek haal gedronge asem in ’n oogstilwêreld. Ek glip soos ’n geheim oor plompe rotse en bots teen benerige poele. Ek stort vallende en stamp my seer. Ek kom rof en proe kraaiend bloed. Ek swem en swink volkome alleen. ’n Volgehoue transisie. Ek is vloed en malende pyn. My kop klap. My voetsole bloei op soek na ’n oordosis oordaad, ’n buitensporige verregaande verrukking.   

Met die gebrom van die knipper, die snip-snip van die skêr, rus my oë op jou harige bobene, glip af teen jou sonbruin bene wat uit die kortbroek bult, na jou kuite, na die haarklossies op elke toon. Ek kan jou ruik, agter die gulp, en knus, die onbesnede objek waarheen my lus my voer. Met jou knie dwing jy my knieë wyd oop sodat jy kan inbeweeg, met knoopgulp in kan leun. Jy hou my kop met een hand roerloos stil. Dronk van jou reuk, my hartklop luid, my wang kan teen die kakie vryf. Wanneer daag die dag waar ek áls verloor wat ek bemin? Hoe ontheg ’n hart hom van ’n heelal wat aanhou sê: Begin, begin, begin!

Beleidsbeslissing: Alle moontlike stappe moet geneem word om die verskynsel van homoseksua-
lisme / lesbieïsme [sic] in die SA Weermag te bekamp. Tydens die werwingsproses moet veral sorg gedra word dat persone met sulke gedragsafwykings nie tot die Staande Mag toegelaat word nie. Uitvoering hieraan moet gegee word ooreenkomstig die riglyne in Aanhangsel A.14 Beleidsdirektief No HSAW/1/13/8215

Electrodes were strapped to the arms of the subject, and wires leading from these were in turn connected to a machine operated by a dial calibrated from one to ten. The subject was then shown black and white pictures of a naked man and encouraged to fantasise. The increase in the current would cause the muscles of the forearm to contract—an intensely painful sensation. When the subject was either screaming with pain or verbally requested that the dial be turned off, the current would be stopped and a colour Playboy centrefold substituted for the previous pictures … [The doctor] would then verbally describe the woman portrayed in glowing and positive terms. This process would be repeated three times in a single session. Sessions were held twice daily for three to four days. People subjected to this therapy experienced long periods of disorientation afterwards. Resister No.47:15

Die digter skryf sy gedig allereers omdat dig ’n geweldige versneller van die bewussyn is. Wie die ver-
snelling eenmaal meegmaak het, moet en sal hierdie ervaring herhaal. Hy raak afhanklik van die proses, soos hy afhanklik raak van dwelms of alkohol. Wie sigself in dergelike afhanklikheid van taal bevind, heet, dink hy, digter.

Uit die donker hokkies en agter afskortings waar groepies mans saamkoek, klink die konstante lae dreun van manstemme, ’n litanie van bevel en pleidooie, van geil kreune en vloeke. All sy boundaries dissolve. Sy sense of self desintigreer. Sy bewussyn bars oop van die inhoud en wêreld wat Suzuki op sy donker draaitafel uitspeel, en uit alle nate en skeure peul nog meer wêrelde, klanke, beelde, cartoon characters en storielyne. Hy het geen konsep meer van sy lyf nie. Hy self iets van ’n techno cyborg, ’n potpourri van klank en lig en fractal thoughts. ’n Rubrick’s cube wat met elke beat verder en verder van sy oorspronklike eenvoud verdraaid raak. 

op sy vlerkbeen pryk ’n anker, ’n bottelblou hart op sy bors en so vervaag grens tussen self en ander oksels tussen lieste kleef die see se siltige kors en here ek weet die self is nie anders as die ander maar bemoontlik ’n bestaan – nuut – waarin ek kan ontkom aan die vooroordele van my bestaan daar is golwe wat soos heupe beuk en wit vreugdes oor bruin rotse reik uit na ’n eendersheid wat universeel is – waarin ek jou bemin as anders as ekself maar as altyd jou gewordene jou gewesene o kom na my tuin waar die donkerrooi rose duist’re geheime vertrou aan die nag bedwelm blus ek deur die taboe sonnestraal kusse en suidewind-kose drome en liefde die langsomerdag van alles wat my ry  is jý die een wat in die saal blý o god jy’s so mooi dat ek jou op geen manier kan liefhê nie maanblom met sy en satyne wat skugter jou bloesem ontbloot aan die maan daar in die vyver bestraal deur Arjana open jou lotus sy heilige kelk as die laaste bewaarder van manlikheid ek tel jou op en stoot die warm skuit deur die smal geswolle poort en sorg so dat jy altyd net lyf bly ek belek jou lyfhebbendheid jy beuk blink soos die see die nagte is ongelooflik wyd en oop met die windklokkies van sterre en konterfeitsels 

… dink ek dit is ’n lieflike teks met gedigte wat gelykstaande is in gehalte aan jou bestes. Op taalvlak is van die gedigte vernuwend, maar ook veeleisend. Soms voel ek by ’n gedig dat dit vir die oog geskryf is; dat dit, as dit voorgelees sou word, onverstaanbaar sou wees. Die tipografiese aanbod versterk verder die gevoel dat die teks ook en veral aanspraak maak op die oog, meer so as in jou ander werk. Maar dit is wat ’n teks moet wees: die waaghalsige afspring by ’n waterval en jy moet NIE weet of jy jou te pletter gaan val of seëvierend uit die kolk gaan opspeer nie. 

In essensie is die poësie onsedelik – iets word voortgebring wat jy weet jy in jou het. Mens knip jou oë asof ’n luiperd daaruit spring en in die lig kom staan – sy stert pietsend. Mens skryf om jouself te herinner hoe moeilik dit is om een person te bly. Wat is poësie as dit my nie red nie? Dit wat vries maak die digter.

die eienskap wat haar vir my uitlig bo baie tydgenote en sedertdieners is haar beeldvermoë, maar meer nog: haar waarnemingsvermoë. van opperman tot uys tot wie jy ook al aan kan dink, het altyd gewaarsku teen die gebruik van adjektiewe. ek het skoon ’n fobie ontwikkel wat ek lank mee gesukkel het. maar bishop doen die teenoorgestelde, dis nie ongewoon om 2-3-4 adjektiewe te kry wat ’n naamwoord kwalifiseer nie, maar die gawe lê daarin dat haar keuses is só ongewoon en jy kan nie één weglaat sonder dat iets verlore gaan nie. sy is ’n tegniese skrywer ook, maar daar is nie vuurwerke van vernuwing nie, sy werk binne ’n goed gemynde tradisie (Hennie sou sê iemand het ál die gras voor jou afgewei), maar dit deeglik gedoen. wanneer dit werk, soos in die verruklike “The fish” word my brein jellie van afguns. sy is nie ’n digter wat dadelik met jou praat nie. hoe langer ek haar lees, hoe meer detail ontdek ek, want sy is soos ’n magiër wat haar toertjies reg voor jou oop oë doen en jy sien niks. maar as jy dit sien, wil jy opspring en almal vertel.

Sy hand verglans. Sy arm heers in marmer. Die knie stulp regloos in sigself. Sy sandaal is op my keel. Ek staar na sy knie wat elke ander knie in skadu stel. My vlees is in alarm. Die heupe onder die kleed suggereer die trauma van skoonheid. Elke borskas ’n snak na asem. Elke torso meer nakend. Die arm met die lans suig die oë leeg. Die gode maak oorlog. Die wilsuiting in sy gewrig alleen laat lendenes vlam. God tog, kyk hoe bad hulle in marmer. Nog nooit kon mans so uit marmer stap nie, hulle tunieke walm vodka en likeur maar in die bevrore voue is daar beweging en heuning en tumult. Kyk hoe verag sy neus die verslaande. Niks wat gebied word is oorbodig nie; alles konnekteer in ekstase en grandeur, o elke gebaar is teatraal en ewig, ewig ryp.   

Hy het die aand voor sy verjaarsdag in die bed geklim, en daar was geen verjaarsdag nie. Is dit nie wonderlik nie. Met 55ste binnekort op hande fantaseer mens op so ’n netjiese wegglip, of soos Hennie tydens sy middagslapie, kros oor sy bene gegooi.

Ek dink teen die tyd van die karavaanpark, jou pa se selfmoordpoging en Johannesburg was my sinne so afgestomp. Ek wou loop, baie kere, maar dan is ek pregnant. Jou Ouma het jou kom oorvat. Maar daar was die ander. Bloedsuiers het sulke kloste van my af gehang. As hy my geslaan het was ek vir ’n rukkie van julle almal vry. Ek dink jou afsydigheid spruit uit die manier wat hy my behandel het. Oor hom en jy kan ek niks onthou nie. Ek moes die mandrax vir hom in die hande kry, van dórp na dórp, partykeer met die trein, vir ’n voorskrif. 

Sy pa was ’n skadufiguur. Hy het dikwels geslaap. Nou nog, as ’n volwassene, kan hy dit nie hanteer as iemand in die huis slaap nie. Hy het die hele woonstel onherbergsaam gemaak met sy slapery. Dit maak hom ongelooflik depressief. Hy voel abandoned as hy met iemand involved is – ’n lover – en die lover slaap, bedags, en hy is wakker.

Om dood te gaan is die opregste manier om met ander in verhouding te tree. Om in ’n leegte wees. Leegte is ’n eerlike stilte. Die afwesigheid van vriendskappe. Kinders leer leegte van kleins af skep. Hulle verloor belangstelling as ouers hulle verlaat. ’n Kind is nie sentimenteel nie. ’n Kind is vurig of koud. Met vasberadenheid. Met verdriet. Hulle word vreemdelinge. Hulle is nie langer verlaat nie, maar tree agteruit. Ouers is nie noodsaaklik nie. Min dinge is noodsaaklik. Baie kinders kyk na hulleself – hulle harte van titanium. 

Hy sal seker nie meer onthou nie, maar kort na hy my ontmoet het, jarre terug, toe hy nog net ’n jong moffie van die plaas was wat in die grootstad nagteliks homself verhandel vir verse, het ons gesels en hy het gesê ek wens jy was ’n man, want ek kom nie moffies/mans teë wat sulke kóppe het nie. En toe sê haar genoot: sy weer soek ’n moffie met ‘straight piel’.

veel liefs, dis nie OF nie, dis bloot WANNEER & onthou VWL se woorde uit Tristia: “Wie naand sê moet góéd wees / vir dié vir wie daar naand gesê is”

hy het onbedaarlik begin huil en kon met niemand praat nie. dit het vir die grootste deel van die dag so gegaan. hy het so min goeie vriende oor, hulle is eintlik meer sy familie as vriende. omdat hy altyd ouer mense gekies het toe hy jonk was, moes hy deur die jare hulle een na die ander verloor. nou het hy nog net drie oor. dan is hy alleen op die aarde.

Hy en sy katte, sy lieflike seuns

Lê af. Lê alles af. Lê sig neer by onversoenbaarheid. By die sug na die ekstreme. Die uiteindelike leegte in die ekstreme. Eenmaal het hy geglo die liefde kom weergaloos; dat op velde van herinnering pers amarante bloei. Maar dis uiteindelik ontdaan. Die ekstreme van eensaamheid. Die groteske leegte daarin. Die wraak op die gehate self. Die wrong. Maar op sy tong versaligd: heiland vir heiland eet hy die oneindige.  

(in navolging van Fleur Jaeggy, geplunder, afgeskryf, gesteel, oorgedig, bygelieg, verraai, verdraai uit Elizabeth Bishop, Joseph Brodsky, Johann de Lange, Gerhard Falkner, Joan Hambidge, NP van Wyk Louw, Czesław Miłosz, Dolf van Niekerk, Alice Oswald, Andries Visagie en AG Visser.)

 

Om die pdf-weergawe van hierdie bydrae af te laai, klik gerus hier.