die durf van liedere

geskryf vir die musikant Mantombi Matotiyana 

Antjie Krog

 

waarom val die man se huis uitmekaar?

waarom wag sy die windrigting af?

waarom eet sy asem en die aaklige

voorgevoelens van vrees?

 

waarom het hy weg gegaan?

waarom is sy weer eens iemand uit 

die ensiklopedie van onvervulde

begaafdes in wonde agtergelaat?

 

waarom verkies sy om bier te maak? 

waarom laat hy ’n warm huis agter?

waarom los hy mielies vir die kinders?

word pyn so glansend opgehang?

 

waarom roep sy Majola, 

kom uit uit jou gevangenisskap?

waarom is haar voorname gekleed 

in die borsklank van voorvaders?

 

sy laat lig los uit haar larinks

sy galm en gloei ’n voetpad oop

lallend kam sy heling uit haar vel 

om ’n wêreld wendbaarder te laat

 

en ons nie vergeet nie: ons mensasem 

vrekkig wreed – kouend op ons eie bloed 

– en al die jare nog steeds die appél 

van ’n wit voortsloffende volk

 

© 2019. Die outeur.

Om die pdf-weergawe hiervan af te laai, klik gerus hier.