Op soek na Krog in die reg: ’n relaas 

Isolde de Villiers

Vrystaatse Sentrum vir Menseregte,
Universiteit van die Vrystaat

Abstract – In search of Krog in law: an account

The work of Antjie Krog is used frequently in the context of law and literature. Her debut novel Relaas van ’n moord, however, receives less attention. In this article the author explores the value of this novel for legal studies by firstly looking at how it has already been used and by searching for and finding the court records of the case on which the novel is based. The purpose of this search is to point out the broader value of literature for law, beyond pragmatic application and acquisition of skills. The central argument entails that the work of Krog requires a rethinking of the relation between law and literature; a question of the distinction between law in and law as literature, but also a move away from a functionalist application of literature in the service of strengthening law. The article concludes by looking at recent re-curriculation in the LLB degree at the University of Pretoria and laments the resistance to incorporating literature in law curricula, which forms part of a broader refusal to view the law as part of the humanities. 

Ek kan oor hierdie ding nog geen koherente begrip vorm nie – die werklike verwildering en spanning raak altyd êrens tussen die woorde verlore. (Krog, 1995:36)

Inleiding

Gedurende Suid Afrika se oorgangstydperk, te midde van protesoptogte, die ontbanning van die ANC, Nelson Mandela se vrylating, samesprekings en onderhandelinge vir die eerste demokratiese verkiesing, vind daar in Kroonstad in 1992 ’n moord plaas. Die strafsaak word onder saaknommer 66/92 as S v Bloem, Petrus en Ntlakosi aanhangig gemaak. Antjie Krog tree as staatsgetuie in die saak op. Hierdie moord en Krog se getuienis daarin is “die eintlike storie waaroor die hele storie gaan” in Krog se eerste roman, Relaas van ’n moord (1995:36). Die moord op die Wheetie en die hofsaak wat daarna volg, begin eers in die tweede helfte van die boek. Wat dit voorafgaan skep wel belangrike konteks: Krog woon saam met haar man en kinders in Kroonstad, sy hou skool in die bruin woonbuurt en is aktief betrokke by teen-apartheidveldtogte en -groepe, wat sy volledig in die eerste deel van die boek beskryf. Dit sluit die verwelkoming van Nelson Mandela in Bloemfontein, die sendingkerk, die Bybelstudiegroep, en die Victoria-watervalberaad in. Wanneer die vertelling rondom die moord en hofsaak begin, word die belang van haar inverweefdheid in hierdie groepe en die groot deel wat daaraan gewy word, duidelik.  Die boek word soms as ’n “afgeskeepte” teks beskryf, in vergelyking met die res van Krog se oeuvre (Renders, 2011:36). Die verhaal het meer relevant geword nadat ’n Engelse vertaling daarvan in Begging to be black (Krog, 2009) opgeneem is (Renders, 2011:37). Maar ten spyte hiervan trek Relaas van ’n moord ook nie soveel aandag in die vakgebied reg en letterkunde soos Krog se ander werk nie, dit ongeag die ooglopende regstemas wat daarin vervat is.

In hierdie artikel raak ek eerstens aan ’n voorbeeld van hoe Krog se Relaas van ’n moord in ’n regskurrikulum gebruik is en verhaal dan my soektog na die hofrekord in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein ten einde die voorbeeld te illustreer. Na aanleiding van my ervaring in die soek en vind van die hofrekord en om hierdie aanwending van Krog se roman krities te bejeën, kyk ek tweedens oorsigtelik na die grondslag van die reg en letterkundebeweging en veral die onderskeid tussen die “reg en letterkunde“ en die “reg as letterkunde”. Derdens verwys ek na die herkurrikuleringsproses (van 2017-2019 en na aanleiding van die nasionale hersiening van die LLB onderneem deur die Raad op Hoër Onderwys in 2016) in die regsfakulteit by die Universiteit van Pretoria om die belang van hierdie relasionaliteit tussen reg en letterkunde te benadruk. Met verwysing na studies in ruimtelike geregtigheid, stel ek in die gevolgtrekking voor hoe hierdie twee dissiplines in verhouding tot mekaar kan staan. Die sentrale argument in hierdie artikel is dat Krog se breër werk mens uiteindelik noop om die simplistiese onderskeid tussen die reg in en die reg as letterkunde te bevraagteken. 

Relaas van ’n moord in die regskurrikulum

Letterkunde in ’n taalkursus vir regstudente

Die werk van Krog word gereeld binne regs- en letterkundige raamwerke gebruik. Die bekendste hiervan is moontlik Mark Sanders se Ambiguities of witnessing: law and literature in the time of a truth commission (2007)¹. Daar is egter ’n beperkte interaksie met Krog se Relaas van ’n moord in hierdie veld. Mariana Kriel stel voor hoe hierdie roman in taalkursusse vir regstudente gebruik kan word (1998). Die rol van Afrikaans in regskursusse het natuurlik baie verander sedert Kriel se artikel. My argument is nie vir die gebruik of terugkeer van Relaas van ’n moord in hedendaagse regskurrikula as sodanig nie, maar die waarde van Krog se werk vir regstudente, met Relaas van ’n moord as voorbeeld. Die voordeel van Relaas van ’n moord is dat dit in Afrikaans en Engels (in Begging to be black) beskikbaar is. Kriel se vertrekpunt, waarmee ek saamstem, is dat die regsprofessie “in die eerste plek ’n taalprofessie is” (Kriel, 1998:274-275). Maria Aristodemou vang dit vas: “What is the ontological status of law and literature? […] While we can agree that, unlike literature, law deals in the material world of life and death, both law and literature are, in the first place, signs on a page” (2000:1). 

Die klem van Kriel se artikel val op die taalvaardighede wat regstudente moet bemeester en hoe ’n regstaalkursus hiermee kan help (1998:274). In die konteks van haar artikel was dit algemeen vir regsfakulteite om ’n taalmodule in die LLB in te sluit; deesdae word taalvaardighede eerder in kursusse soos “Regsleer” of “Inleiding tot die Reg” geïnkorporeer. Kriel dui aan dat hoewel daar toenemend van taalkursusse vir regstudente verwag word om studente oor die algemeen te vorm, Relaas van ’n moord ewe geskik is om studente se taalverwante vaardighede te onwikkel en bevorder (Kriel, 1998:274). Die inventaris van taalvaardighede wat sy meen ’n student moet bemeester, ontleen sy onder andere van die eerste eeuse Romeinse orator Marcus Fabian Quintilianus. Dit sluit in dat regsgeleerdes vinnig en met begrip moet kan lees, hul idees duidelik op papier moet kan formuleer, oortuigend moet kan praat, deeglik kennis moet dra van oorredingsbeginsels en moet kan argumenteer (Kriel, 1998:278). Hierdie eng beskouing van wat regsvaardighede behels en instrumentalistiese aanwending van letterkunde in diens van die Romeinse orator se oogmerke, word aangevul deur verwysing na Clark wat verwys na ’n drieledige doel (funksies) wat taalgebruik dien, naamlik ’n interpersoonlike funksie, ’n kennisfunksie en ’n ervaringsfunksie (Kriel, 1998:280 met verwysing na Clark, 1996:256). Dit sluit in om krities te dink, om ’n sin vir gemeenskap en nasieskap te ontwikkel, deel te neem aan die totstandkoming van demokrasie en gelykheid (Kriel 1998:281 met verwysing na Clark 1996:253-254).

Vir Kriel kan Krog se Relaas van ’n moord as volg van waarde wees: om ’n dokument soos ’n beëdigde verklaring op te stel uit die feite (284); mens kan aan die hand daarvan die onhaalbaarheid van objektiwiteit illustreer (285); dit wys hoe daar vertaling van dit wat feite is na dit wat die reg is, plaasvind (285); dit wys dat vertaling ’n aanvoeling vir register en styl verg en dat daar kodewisseling plaasvind – hier gebruik sy die voorbeeld van MK-outjie (in die roman) en MK-lid (in die koerantberigte) (286-287 – albei verwys egter na uMkhonto weSizwe). Buiten die meer pragmatiese nut van die roman vir regstudente, lig Kriel ook die algemeen-vormende waarde van letterkunde met verwysing na Relaas uit. Hier betrek sy die werk van Martha Nussbaum, die kritiek teen Nussbaum van John Horton, asook perspektiewe vanuit estetiek en feminisme, naamlik Stephanie Ross, en Jenefer Robinson en Carol Gilligan (Kriel, 1998:289-291). Die onderliggende waarde, volgens hierdie bronne, lê in die empatie-kwekende rol van letterkunde (Kriel, 1998:289). Gilligan onderskei tussen die manlike etiek van geregtigheid wat tot universele en algemeen-geldende, abstrakte reëls verbind is, en ’n vroulike etiek van verantwoordelikheid en sorg, wat tot die ander persoon in hul heelheid verbind is (Kriel, 1998:290, met verwysing na Gilligan, In a different voice, 1982:105). Vir haar is Krog se Relaas dus ’n feministiese bewusmakingsinstrument. Dit is nie net belangrik om regstudente van geslagdiskriminasie te leer, of om die skending van artikel 9 in die Grondwet tuis te bring nie, maar is belangrik as benadering tot die reg wat die patriargie van die regsisteem self uitdaag. Hier haal Kriel die toneel aan waar Krog en Douglas se vrou nie die ANC-rally kan bywoon nie, omdat hulle moet regstaan met verversings vir die mans (Kriel, 1998:292 en Krog, 1995:30-31). Kriel sluit af: “Deur letterkunde oordeelkundig te betrek in ’n kursus wat primêr gerig is op die ontwikkeling […] van regstudente se taalvaardighede kan die gevaar vermy [word?] […] dat sodanige kursusse […] bloedloos, sielloos, kleurloos, konteksloos, verbeeldingloos [is]” (293). Dit blyk dus duidelik dat die letterkunde hier gebruik word om die reg te versterk en om die reg as’t ware op te helder. Dit ondersteun en bevestig die sentrale posisie van die reg in die samelewing sonder om die grondslag daarvan in twyfel te trek. Die kritiese potensiaal van letterkunde en die moontlikheid dat dit die reg kan bevraagteken, kry nie juis aandag nie. Dit is met laasgenoemde punt in gedagte asook Kriel se ander praktiese voorstelle – die opstel van ’n klagstaat of verklaring, die verskil tussen die hofdokumente en die roman, die register van die hofverslag teenoor die register van die mediaverslae – dat ek die hoflêer gaan soek het. Die soektog sigself – na die hof, die ingang, die lêer, en die getuienis – ontbloot kritiese aspekte van, en die moontlikheid vir kritiek teen, die regsisteem en Suid-Afrikaanse regskultuur. Vervolgens dek ek hierdie proses in ’n narratiewe styl, aangevul deur foto’s, om van die aspekte na die oppervlak te bring. 

Op soek na Antjie Krog

Ek draai regs na die Ultra Liquors in Markgraafstraat en parkeer in Fonteinstraat op ’n laaisone, een straatblok van die hooggeregshof af. Dit is skuins ná drie en die regte tyd om gou ’n lêer te trek voor toemaaktyd. Ek waag egter ’n kans, want mense kan óf haastig wees om die dag af te handel en my daarom gretig en vinnig help, óf hulle kan weens die nabyheid van die einde van die dag juis weier om my te help. Ek draai in President Brandstraat en loop verby ’n ou kanon wat op die hoek staan. Waar sou die oorblyfsel tog vandaan kom? Die Appèlhof is ook in President Brandstraat. Diaan van der Westhuizen skryf hoe die voltooiing van die hooggeregshof (1909) en die appèlhof (1910) bygedra het tot die sin van plek in Bloemfontein nadat dit in die Wet van Suid-Afrika met uniewording aangewys is as die juridiese hoofstad (1910). Met die bou van die Nasionale Museum, ook in President Brandstraat, het hierdie prominensie toegeneem (Van der Westhuizen, 2011:98). Sy argumenteer dat die strategiese plasing van institusionele geboue oor die jare ’n impak op die samehang en leesbaarheid van die stadstruktuur gehad het. Hierdie strategiese plasing het die Britse, Nederlandse, en later apartheid-sosiaal-politieke doelwitte ondersteun (Van der Westhuizen, 2011:90-91). Die argitektuur en plasing van hierdie gebou dra by tot die formalistiese regskultuur van Suid Afrika, waarop ek later met verwysing na Karl Klare uitbrei. 

Links in Selbornestraat, al met die stofdroë Bloemspruit langs. Ek vind nie die ingang nie. Hierdie aansig van die hof is heeltemal omhein. Die heining is dieselfde tipe as wat mens by ’n sportstadion vind – mens kan daardeur sien, maar dit is so ’n digte fyn netwerk van metaal dat mens nie eens jou neus kan deursteek nie. Dit herinner aan Kafka se kortverhaal “Der Process” (‘die verhoor’). Die deur van die reg staan oop, aldus die deurwagter in die verhaal, en die man van die platteland kan enige tyd daar ingaan, net nie nou dadelik nie. Die deurwagter is effektief en die man van die platteland gaan helaas nooit in nie. Hy sterf aan die einde reg voor die (oop) deur van die reg. Die deurwagter maak dan maar die deur toe, aangesien daardie deur slegs vir die man van die platteland bedoel was. Die reg is dus nie vir almal toeganklik nie, ten spyte van die reg tot toegang tot howe vervat in die Grondwet in artikel 34. 

Ek loop maar eerder aan en kom voor die sleepwaentjie met ’n venster waardeur mens “fatcakes”, “coffee” en “beko mince” teen onderskeidelik R7, R1 en R10 kan koop, tot stilstand. Bo die bordkryt-geskribbelde spyskaart adverteer die sleepwaentjie ook Psalm 3:3. Ek moet tog onthou om te kyk wat daar staan, dink ek. Draai weer links en weer, verby ’n bordjie wat parkering deur enigiemand anders as ’n regter verbied (dankie tog ek het besluit om ver te parkeer en eerder te stap) en dan is ek uiteindelik by die regte ingang. Mens moet jou naam in ’n boek skryf by die ingang voordat jy deur ’n masjien moet stap en jou handsak deur ’n x-straalskandeerder moet stuur. Dit voel kompleet soos lughawesekuriteit. Ek besluit om nie my naam te skryf nie – niemand gaan die inskrywings na nie – en stap ook na die naaste sekuriteitsbeampte voordat ek myself en my besittings aan die alles-siende strale onderwerp. Nee, jammer, ek gaan moreoggend moet terugkom. Die stoor het reeds drie uur gesluit. Hoofsaaklik verlig en net ’n tikkie gefrustreer, stap ek terug – dankbaar dat ek nie ’n boete vir die laaisoneparkering gekry het nie. Die volgende oggend is makliker. Ek vind wettige parkering, loop reguit na die regte ingang, stap verby die intekenboek sonder om te wonder en skandeer my persoon en besittings tot anderkant in die marmergange van die hooggeregshof. In die eerste kamer waar mens gewoonlik lêers aanvra, help hulle my vinnig reg en verwys my na die onderste vloer waar die strafsake se rekords gehou word. Die griffiers is verbasend behulpsaam. Die saal waar ek wag saam met leerskapklerke wat pleitstukke indekseer en pagineer en kla oor die eksamen en onredelike kollegas, is Vrystaat-beenkoud. As ek nou terugstap motor toe om my trui te gaan haal, moet ek weer deur die skandeermasjiene stap. Ek hou eerder uit en teken in op die gratis wi-fi wat LexisNexis adverteer. Die diens is beter as verwag en die vriendelike griffier is baie geïnteresseerd en selfs ’n bietjie beïndruk dat ek Antjie Krog hier in die hooggeregshof in Bloemfontein kom opsoek. Sy onthou skynbaar die saak goed. Sy het toe reeds hier gewerk. Moes seker ’n affêre afgegee het met Krog in die hof om te getuig in die S v Bloem, Petrus, Ntlakosi-saak. Ná minder as ’n halfuur se wag word die lêer reg voor my op die groot eikehouttafel geplaas. Versigtig. Die rekords is getranskribeer (volgens die oorskryfsertifikaat agterin het ene mev. N.E. Colton die volle 391 bladsye oorgeskryf) en dit neem my nie lank om vinnig deur die verskillende omslagte te blaai nie. Daar is sy: in hoofletters regs bo in die hoek van die bladsye van haar getuienis: “SAMUEL, A.E.” Ek het haar gevind. 

Van getuienis na vertolking na hofrekord na roman

Anna Elizabeth Samuel lê die eed af voor haar getuienis: “So help my God” wys die rekord. Sy getuig in Afrikaans en daar is ’n tolk wat haar getuienis vertolk. ’n Paar maal moet sy sinsnedes herhaal omdat die tolk haar onderbreek. “Dame,” vra die staatsaanklaer, meneer Du Toit, “is u ook bekend as Antjie Krog?” “Ja”, kom die antwoord uit die getuiebank. Die regter spreek haar aan as “mevrou” wanneer hy vrae vra. Mens lees gedeeltes van Relaas van ’n moord raak in die rekord: die jogaklas, die besonderhede van die rooi trui (in die roman ’n T-hemp), selfs die hokkiespan wat Krog afrig. Maar dit is ook nie heeltemal dieselfde nie. Dit is asof Krog haar eie getuienis in die hofsaak vertolk het na die register van die roman en probeer om die mate waartoe hierdie inligting nie in die saak gedek word nie, reg te stel. In die roman beslaan haar betrokkenheid by die kleurlinggemeenskap en ander teen-apartheidaktiwiteite die hele eerste helfte van die boek en in die hof beskou die regter nie die vraag juis as relevant nie en sy kan kies of sy dit wil antwoord of nie. Die absurditeit van regspleging kom na vore wanneer ’n fundamentele vraag oor Krog se houding jeens en betrokkenheid by die kleurlinggemeenskap opgevolg word deur ’n vraag oor die spesifieke plant wat op die stoep gestaan het, kompleet met die wetenskaplike naam van die plant:

MNR. DU TOIT: Edele, die afleiding wat ek gemaak het uit die … getuienis is dat sy betrokke was by die kleurlinggemeenskap … [is dit] nog steeds die situasie … het sy onttrek. Wat is die posisie?

HOF: Mevrou, wil u die vraag antwoord of wil u nie … Ek laat die keuse aan u.

ANNA ELIZABETH SAMUEL: Goed, ek gee nie om nie. Dit voel vir my belangrik vandag in alle partye, politieke partye, om onderskeid te maak en nie te sê as een mens ’n moord gepleeg het daaroor is die hele party moordenaars nie. Dit geld seker vir die KP’s en vir almal nou. So dit voel vir my as ’n belang-rike persoon in die ANC iets gedoen het wat my teen die bors stuit is dit nie te sê daaroor is die hele party of groep daarom verwerplik nie. 

Daarna volg daar ’n vraag oor die geweer wat op Krog se stoep, weggesteek in ’n platbak, gevind is:

MNR. DU TOIT: Mevrou, ons het getuienis dat daar toe op die 27ste – as ek korrek het, edele – bewys-
stukke gevind is op u stoep daar agter daardie blombakkie, die selloum, bak met selloum-plant, die philodendron selloum. Weet u iets hiervan?

Die spesifieke fokus op die wetenskaplike naam van die plant blyk belangriker te wees as die waarde-gelade stand van die verhouding tussen Krog en die kleurlinggemeenskap. Hierdie fokus dui op Suid-Afrika se formalistiese regskultuur wat Karl Klare beskryf (1998). Die vonnis in die saak is op 26 April 1993 uitgespreek en die boek volg dan twee jaar later. Beskuldigde een (mnr Bloem) is skuldig bevind aan begunstiging en ’n boete van R7 500 of 18 maande gevangenisstraf opgelê, beskuldigde twee (mnr Petrus) is aan moord skuldig bevind en 14 jaar gevangenisstraf opgelê, beskuldigde drie (mnr Ntlakosi) is onskuldig bevind en vrygespreek. Met die lees van die rekords en nagaan van die bewysstukke (daar is foto’s van die moordtoneel, die lyk, die vuurwapen, Krog se stoep en die drie beskuldigdes) raak ek bewus van die gapings wat daar in die hofrekord is. Die dokumente spreek nie vanself nie. Dit moet geïnterpreteer word, dit is, soos die roman, onbepaalbaar en oop. Die hofrekord bevat ’n woordelikse opskrywing van wat gesê is. Natuurlik bevat dit nie aspekte soos die atmosfeer en stemming in die hof nie. Dit sal mens moet interpreteer. Maar die hofrekord kan ook nie aan die roman getoets word nie, want die roman is ook ’n interpretasie. 

Die saak van S v Kalagaropoulos is ’n moordsaak wat as ’n Griekse tragedie geskryf is om die reg as ’n vorm van letterkunde (hofsake vorm presedente en daarom deel van die gemenereg) te benadruk². Die hofrekord met Krog se roman saamgelees bevraagteken die onderskeid wat daar gewoonlik tussen die reg in en die reg as letterkunde getref word. Krog se werk herinner mens dat hierdie twee in ’n komplekse verhouding tot mekaar staan wat nie so maklik in hierdie twee kategorieë val nie. Die volgende afdeling dek kortliks hierdie (vals) onderskeid in die reg en letterkunde-beweging. 

Reg en letterkunde

Die reg en letterkunde-beweging wat in die Verenigde State van Amerika rondom die 1970’s begin het, word dikwels in twee strome verdeel. Gary Minda plaas die begin van die Reg en Letterkunde beweging in 1973, met die eerste uitgawe van James Boyd White se boek The legal imagination, ’n boek waarin White aanvoer dat die bestudering van letterkunde deel moet vorm van regstudies, omdat letterkunde iets uniek oor die reg en beregting kan sê (Minda, 1995:149). Hy bespreek die twee hoofvertakkinge – naamlik reg in letterkunde en reg as letterkunde (Minda 1995:150). Reg in letterkunde identifiseer regstemas in letterkundige werke en pas dan hierdie temas toe op die regswêreld. ’n Klassieke voorbeeld is die toonbeeld van ’n goeie regsgeleerde wat ons in Atticus Finch in To kill a mockingbird vind. Net so word films en ander kunswerke ook dikwels gebruik. Reg in letterkunde ontwikkel uit die “Great Books”-benadering (Minda, 1995:150). Hiervolgens bestudeer studente regskwessies en regsonderwerpe in ’n lys van klassieke Westerse letterkunde: Kafka, Mellville, Dickens. Hierdie boeke help dan om algemene regstemas soos wraak en skuld te verstaan. Hierteenoor behels die sentrale argument in ’n reg as letterkunde-benadering dat die reg, soos letterkunde, ook onderhewig is aan uitleg, subjektiewe vertaling, vertolking en onbepaalbaarheid. Die reg is daarom ewe interpreteerbaar en onbepaalbaar. Die teorie van literêre kritiek kan as ’n raamwerk dien om regstyl en -retoriek te ondersoek (Minda, 1995:153-154). Die tegniek van storievertelling en narratief kan gebruik word om ’n nuwe metode van uitleg en interpretasie van die reg te bied – een wat tradisionele geykte metodes bevraagteken. Reg as letterkunde beskou die reg dus primêr as taal, as ontologies dieselfde as letterkunde. Dit is rondom hierdie ontologiese raakpunt wat die reg in en reg as-onderskeid minder sinvol raak, soos ek hieronder uitwys.

Kritiek teen die reg in letterkunde- (Great Books)-benadering sluit in dat dit ’n geslote kanon daarstel, maar ook dat dit essensialisties en instrumenteel is en bloot na sedelessies in letterkunde kyk (Minda 1995:164). Hierteenoor fokus White op hermeneutiek en die reg as ’n proses van interpretasie en betekenisvasstelling. Hy beskryf die lewe van die reg as ’n lewe van kuns, naamlik die kuns om betekenis saam met ander te vind (White, 1985:xii). Op hierdie manier beskou, is die bestudering van letterkunde en taal belangrik om die menslikheid van die reg te verstaan en hoe die reg die mensdom beïnvloed (Minda, 1995:165). 

Daar is ander benaderings tot die reg, soos feminismes en kritiese rasteorie, wat ook ’n beroep doen op die gebruik van stories en narratiewe om alledaagse ervaringe na die oppervlak te bring of om persoonlike ervaringe van onreg en diskriminasie vas te vang en sodoende ’n ander stem as dié waarin die reg se stories vertel word, in te bring (Minda, 1995:156). So ’n werkswyse wys onder andere uit dat die reg blind is vir die ervaring van die slagoffer in strafsake.

Hierdie beskouing van wat die reg is, het ’n herkurrikuleringsproses in die departement Regsleer by die Universiteit van Pretoria gedurende 2012 ingelig. ’n Belangrike verandering wat tydens hierdie proses teweeggebring is, is dat ’n nuwe eerstejaarskursus ingestel is waar die taalkomponent en vaardighede-komponent in die vakmateriaal, lesings en assessering geïntegreer is. As deel van die kursus moes studente letterkundige werke lees. Dit was belangrik om dit nie as ’n losstaande komponent (vergelyk Kriel se taalvaardighede vir regstudente wat apart sou staan van ’n kursus soos Inleiding tot die Reg) aan te bied nie, maar juis saam met die ander materiaal, omdat dit alles as Regsleer beskou is. Daar was weerstand van studente, ouers en ander dosente. Die onlangse herkurrikuleringsproses by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria (wat begin in 2017 na aanleiding van die Council for Higher Education se aanvanklike verslae oor die stand van die LLB kurrikulum) stel ongelukkig in een van die weergawes van die nuwe kurrikulum voor dat die Regsleer-vak op eerstejaarsvlak geskrap word. Die besonderhede (en felheid) van die debat strek buite die omvang van hierdie bydrae, maar in die volgende afdeling ondersoek ek die oogmerke van die herkurrikulering en waarom dit juis versoenbaar met ’n sekere relasionaliteit tussen die reg en letterkunde is. 

Relaas van ’n herkurrikuleringsproses 

Wat kan Krog se werk, en spesifiek die bespreking van Relaas van ’n moord hierbo, bydra tot gesprekke rondom kurrikulumtransformasie vir die LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria? Oor die afgelope jare wat die vak Regsleer vir eerstejaars aangebied is, moes studente die volgende romans as deel van hul materiaal vir die tweede semester bestudeer: Marlene van Niekerk se Triomf, Zakes Mda se Black diamond, en James Kilgore se Freedom never rests. Die tekste was ten volle geïntegreer in die kursus. Soos hierbo aangedui, is die onderskeid tussen die reg in en die reg as nie meer ’n behulpsame kategorisering nie. Mens moet daarom vra watter werk doen die “enin Reg en Letterkunde, of anders gestel, wat is die verhouding wat die voegwoord “en” skep? Die ruimtelike geregtigheidsveld bedink onder andere ook die relasionaliteit tussen die reg en die reg se andere. Die vertrekpunt is dat ruimte, ook akademiese ruimtes en velde, nie neutraal is nie, maar aktief deur sosiale verhoudinge vervaardig word. Hierdie verhoudinge word dan deur die ruimtes hervervaardig. In Braverman en andere se Expanding spaces of law, oorweeg hulle ’n veelheid van hierdie moontlike verhoudinge: interdissiplinêr, trans-dissiplinêr, multi-dissiplinêr, post-dissiplinêr (Braverman et al, 2014:2-12). Met spesifieke verwysing na die reg en die stad vra Andreas Philippopoulos-Mihalopoulos “wat is die werk wat die en doen?” (2007:8). Die en in die titel van sy boek Law and the city stel nie ’n kontinuum tussen die reg en die stad daar nie, maar dit maak die reg eerder oop vir die stad. Dieselfde maak ek hier van toepassing op die en tussen Reg en Letterkunde: die reg moet oopgemaak word vir, tot verantwoording geroep en bevraagteken word deur letterkunde. Die twee is nie op ’n spektrum met die reg wat skielik in letterkunde verval of anders om nie, want die en dra ook die verantwoordelikheid om die verskil tussen die twee aan te dui (Philippopoulos-Mihalopoulos, 2007:7-8). Aristedomou herinner egter dat die reg, anders as letterkunde, met die materiële wêreld van lewe en dood omgaan (Aristedomou, 2000:1). Sodanige benadering tot die reg en letterkunde sou juis gehoor gee aan die vereistes wat die Raad vir Hoër Onderwys aan die LLB-kurrikulum stel. Met verwysing na Klare se konsep van transformatiewe grondwetlikheid, vereis die raamwerk “transformatiewe regsopleiding”. 

Klare beskryf hierdie verhouding as volg: 

[…] legal education cannot be divorced from transformative constitutionalism. “It is when adherence to the word is taken too far, when the upholding of a law obscures or ignores that law exists to try, however difficult, to ensure justice, that formalism becomes dangerous. It is this type of conservative or formalist approach to law that is inconsistent with a transformative Constitution. At the heart of a transformative Constitution is a commitment to substantive reasoning, to examining the underlying principles that inform laws themselves and judicial reaction to those laws”.

In die lig hiervan is dit nie verrassend dat die Raad vir Hoër Onderwys se verslag die insluiting en inhoud van Regsleer op die eerstejaarsvak met goedkeuring beskryf het nie. Die finale verslag van die Hoër Onderwys se kwaliteitskomitee het die volgende bepaal ten opsigte van die vak Regsleer by die Universiteit van Pretoria: 

The panel commends the Faculty for the manner in which and the extent to which the notion of “transformative constitutionalism” has been embedded in the LLB programme. The students are exposed to this notion at the start of their legal studies, in the first-year modules Jurisprudence 110 and 120.
It forms a substantive component of the module content. This notion is further developed in second and third-year modules in Constitutional Law and Jurisprudence. Elective modules in the fourth year, such as Jurisprudence and Law and Community, further reinforce students’ understanding of transformative constitutionalism and the role of the Constitution as a powerful agent of social change. The Department of Jurisprudence within the Faculty plays an important facilitative role in this regard. 

The same comments as in 1 above hold true for the notion of “responsiveness to social justice”. The panel is satisfied that in the recently introduced first-year modules, Jurisprudence 110 and 120, students are made fully aware of the role of law and of lawyers in responding to, and accepting responsibility for, social injustice.

Die pogings om dit daarna uit die kurrikulum te verwyder, is wat teenstrydig en verwarrend is. Nie net strook hierdie benadering tot die reg met die Raad vir Hoër Onderwys se transformatiewe regsopleiding nie, maar dit het ook voldoen aan die Universiteit van Pretoria se vier dryfvere vir kurrikulumtransformasie om die kurrikulum te dekolonialiseer, naamlik: “Responsiveness to social context”, “Epistemological diversity”, “Renewal of pedagogy and classroom practices”, “An institutional culture of openness and critical reflection”. 

Klare se invloedryke artikel van 1998 het uitgewys dat Suid-Afrika se regskultuur formalisties is. Dit ten spyte van die feit dat die grondwet ’n progressiewe, “post-liberale”, in Klare se woorde “transformatiewe”, grondwet is wat grootskaalse verandering in die samelewing beoog en kan bewerkstellig. Klare argumenteer dat selfs regters wat nie polities konserwatief is nie, geneig is om formalisties in hul regspleging te wees. Transformatiewe grondwetlikheid vereis ’n verskuiwing vanaf hierdie tradisionele formalistiese wyse van beregting na kreatiewe beregting (Klare, 1998:150). Die kern van transformatiewe grondwetlikheid is dat die regstelsel en die Grondwet veronderstel is om mense se lewens te verbeter (Klare, 1998:150). Klare se argument berus op die kritiek van die streng skeiding tussen die reg en politiek (Klare, 1998:159). Studente moet gevolglik nie slegs aan regstekste blootstelling kry nie, maar die konteks van hedendaagse Suid Afrika moet deurgaans betrek word. 

Ten einde Suid-Afrika se konserwatiewe en formalistiese regskultuur te verander, is dit nodig dat die regskurrikulum ook verander en veral ag slaan op en waak teen die formalisme in regsopleiding. ’n Sekere benadering tot die verhouding tussen die reg en ander dissiplines, soos die vakgebied Reg en Letterkunde, kan bloot dien om hierdie formalisme te versterk.³ Krog se Relaas van ’n moord vervat reg en asook reg as letterkunde en bevraagteken dié onderskeid. Die realiteit is egter dat nóg reg in letterkunde, nóg reg as letterkunde tans in die herkurrikuleringsproses by die Universiteit van Pretoria oorweeg word en dat daar toenemend klem op ’n funksionalistiese LLB, wat apart van die geestes-wetenskappe is, geplaas word. 

Gevolgtrekking 

In hierdie artikel skaar ek my by ’n benadering tot die reg wat “formalisme en positivisme problematiseer deur die onbepaalbaarhede, paradokse en spannings wat inherent is aan die reg, na die oppervlak te bring” (Van Marle, 2012:751). Met Krog se debuutroman Relaas van ’n moord as agtergrond, spreek ek kommer uit oor die wyse waarop regsopvoeding tot sogenaamde professionele vaardighede gereduseer word. Letterkunde moet dikwels in diens staan van hierdie praktiese opleidingsbenadering en word instrumenteel gebruik. Krog se werk vervat ’n verset teen hierdie funksionalisme. Relaas van ’n moord, benewens die feit dat dit ’n strafsaak verhaal, benadruk ook die dringendheid van transformasie en die aandadigheid van regsopleiding tot die skep van ’n wêreld waar ’n eerbare posisie nie moontlik is nie. 

Die vraag waarom regstudente (letterkunde) moet lees, gaan ek probeer beantwoord met verwysing na ’n antwoord op ’n vraag waarom regstudente (letterkunde) moet skryf. Die belang van skryf vir regstudente word dikwels beperk tot die opstel van hofdokumente en kantoormemoranda, soortgelyk aan die argumente om studente slegs tot regstekste te beperk in wat hulle lees. Van Marle roep Krog in Begging to be black op wat verduidelik dat ten einde iets te begryp, sy dit moet neerskryf: “while writing – writingly as it were – I find myself dissolving into, becoming towards what I am trying to understand.” (Krog, 2009:92). Hieruit argumenteer Van Marle dat dit vir regstudente behels dat hulle meer as net die skryfwerk van hul LLB-kurrikulum (kantoormemoranda, hoofde van betoog, beëdigde verklarings, klagstate, opstelle, skripsies) moet doen (2010:9). Skryf vir die studentekoerant, begin ’n eie studentekoerant, skryf gedigte en stories en verander sodoende die vraag “waarom skryf” in ’n “embrace, an imperative, as a way of living in the law, but also as an attempt in making sense of living in the world” (Van Marle, 2010:9).

Die onderskeid tussen skryf/lees as funksionalisme en skryf/lees as ’n imperatief weerklink ook in die uittreksel op die stofomslag van Relaas van ’n moord: 

“Hoor hier, meneer,” my nekhare staan ineens orent, “ek was nie bang nie. Ek sit hier vanaand omdat ek ingesleep is in ’n saak wat ek niks van weet nie en niks mee te doen wil hê nie. As ek vir jou bang lyk, is dit omdat ek ontsteld is oor julle en die politici gesorg het dat ’n eerbare posisie van ’n gewone mens nie meer moontlik is in hierdie land nie. Hoekom skryf jy dit nie neer nie?”

 

Verwysings

Aristodomou, M.  2000.  Law and literature: journeys from her to eternity.  Oxford: Oxford University Press. 

Braverman, I., Blomley, N., Delaney, D. & Kedar, A., eds.  2014.  The expanding spaces of law: a timely legal geography.  California: Stanford University Press. 

Clark, J.L.  1996.  Task-based learning: purposes, proceses and ever-improving knowledge and language.  Journal of the South African association for language teaching, 4. 

Klare, K.E.  1998.  Legal culture and transformative constitutionalism.  South African journal on human rights, 14(1):146-188.

Kriel, M.  1998.  Antjie Krog se Relaas van ’n moord: woord wat vlees word in taalkursusse vir regstudente.  Obiter, 19:271-293.

Krog, A.  1995.  Relaas van ’n moord.  Kaapstad: Human & Rousseau.

Krog, A.  2009.  Begging to be black.  Kaapstad: Penguin Random House.

Minda, G.  1995.  Postmodern legal movements: law and jurisprudence at century’s end.  New York: New York University Press. 

Philippopoulos-Mihalopoulos, A., ed.  2007.  Law and the city.  Abingdon: Routledge-Cavendish.

Pratt, M.L.  1977.  Towards a speech act theory of literary discourse.  London: Indiana University Press.

Renders, L.  2011.  “Murder most foul”: Relaas van ’n moord van Antjie Krog.  Stilet, 23(1):36-52.

Sanders, M.  2007.  Ambiguities of witnessing: law and literature in the time of a truth commission.  California: Stanford University Press.

Van der Westhuizen, D.  2011.  Colonial conceptions and space in the evolution of a city: evidence from the city of Bloemfontein, 1846-1946.  South African journal of art history, 26(3):90-103.  

Van Marle, K.  2010.  Why Write?  Pretoria Student Law Review, 4:7-9. 

Van Marle, K.  2012.  Regstudie, die geesteswetenskappe en enkele gedagtes rondom geregtigheid.  Tydskrif vir geesteswetenskappe, 52(4):749-760.

White, J.B.  1973.  The legal imagination: studies in the nature of legal thought and expression.  Boston: Little, Brown and Company.  

White, J.B.  1985.  Heracles’ bow: essays on the rethoric and poetics of law.  Madison: University of Wisconsin Press.

 

Hofsake en verslae

S v Kalogoropoulos 1993 1 All SA 472 (A)

S v Bloem, Petrus en Ntlakosi (ongerapporteer, hofverslag op rekord by Bloemfonteinse hooggeregshof)

HECQ LLB Review Report UP 2016 – 2017  (op rekord by outeur)

 

Nota’s

1 Sien in hierdie verband byvoorbeeld:

Barnard-Naudé, J.  2012.  A law of impurity or a principle of contamination.  Stellenbosch Law Review: 462-475.

Brand, D.  2009.  Courts, socio-economic rights and transformative politics.  Doktorale proefskrif, LLD, aan die Universiteit van Stellenbosch.

Van Marle, K.  2017.  Jurisprudence after the Truth and Reconciliation Commission – ‘Welcoming Other Ways of Being’ and a ‘Jurisprudence of Sense’.  (In: Swart, M. & Van Marle, K., eds.  The Limits of Transition: The South African Truth and Reconciliation Commission 20 Years on.  Leiden: Brill; Nijhoff. 

Van Marle, K.  2010.  Reflections on post-apartheid being and becoming in the aftermath of amnesty: Du Toit v Minister of Safety and Security.  Constitutional Court Review, 347-367. 

Van Marle, K. & Motha, S.  2013.  Genres of Critique: Law, Aesthetics and Liminality.  Stellenbosch: SUN PRESS.

 

2 Sien ook Le Roux, W.  2006.  The aesthetic turn in the post-apartheid constitutional rights discourse.  Journal for South African Law, 1:101-120.

S v Kalogoropoulos 1993 1 All SA 472 (A). Die saak begin as volg: “This is a Greek tragedy, in which the dramatis personae are: Athanasius Kalogoropoulos, a 52-year old baker, the appellant. Dafni, his wife, some 21 years younger. Dimitra, his 13-year old daughter. Macheras, his business partner and friend (but suspected by the appellant of having an affair with Dafni). Charitomeni, wife of Macheras. Dora, housemaid in the appellant’s home. Julia, her cousin. Stefanos, husband of Dafni’s sister. Stergiou, husband of the appellant’s sister (and self-confessed erstwhile lover of Dafni). The scene alternates between the appellant’s home in Craighall Park, Johannesburg, and a nearby supermarket run by the appellant and Macheras, assisted by Dafni and Charitomeni. The time is the afternoon of 16 February 1988.” Die feite word dan uitgestip en eindig met: “In the meantime all the other people in the house have slipped out. Stefanos, at an opportune moment, while the appellant’s back is turned, does the same. The police arrive and surround the house. After a while the appellant comes out, his hands in the air. He is arrested and taken away. The curtain falls.”

3 Sien in hierdie verband byvoorbeeld Van Marle se kritiese omgang met ’n hoofstuk van: Van der Merwe, A.  2012. Justice ‘beyond’ the law in The secret in their eyes: Rights of victims and offenders in the post-sentencing phase.  (In: Viljoen, F., ed.  Beyond the law: Multi-disciplinary perspectives on human rights.  Pretoria: PULP).  Van der Merwe bespreek The secret in their eyes, ’n Argentynse film van ’n vrou wat brutaal verkrag en vermoor word en hoe die regsisteem, binne ’n fascistiese politieke bestel, haar man faal. Van der Merwe beskou die film as bruikbaar om uit te wys hoe ingewikkeld die strafregsisteem is, waarteenoor Van Marle argumenteer dat die film “veel meer aan[spreek] as bloot die werking van ’n land se strafprosesregstelsel … [dit] gaan om met ’n diepe besinning oor politiek, etiek, die kompleksiteite van die lewe, etiese aandadigheid en is nie bedoel as ’n gids tot die Strafprosesreg nie.” (2012:756).

 

Hoe om hierna te verwys:  De Villiers, I. 2019. Op soek na Krog in die reg: ’n relaas. Stilet, 30(3):69-82.

© 2019. Die outeur.

Om die pdf-weergawe van hierdie artikel af te laai, klik gerus hier.