Ruimtelike, epistemologiese en ontologiese (on)geregtigheid as temas in die werk van Antjie Krog

Karin van Marle

Departement Publiekreg, Fakulteit Regte,
Universiteit van die Vrystaat

Abstract – Spatial, epistemological and ontological (in)justice as themes in the work of Antjie Krog

The starting point of this article is the interdependence between epistemology, ontology and
spatiality and its development in selected non-fictional and poetic work of Antjie Krog. I focus on Krog’s engagement with relations and interdependence and how this challenges a simplistic engagement with the land issue. I develop my argument by drawing on Krog and the work of André van der Walt and argue that how we engage with land theoretically and epistemologically as well as how we experience land, our everyday relation with land stands central to processes of restitution and reform. I read Krog’s conversations with Deleuzian philosopher Paul Patton and her embrace of the notion of becoming and the rhizome together with Van der Walt’s suggestions on the understanding and application of property rights.

Inleiding

1995

 

ek sê dit vooruit

hard

ek staan vir niks

ek skaar my by nêrens

niemand kom my naby

almal lyk dieselfde

almal is mans almal

is nekke almal

peule van mag

die generale en brigadiere en ministere

en hoofmangenerale sit en piele vleg

en bebliksem ’n hele land met die omruilbare gesigte

van politiek en geweld

almal is slu

almal voel fokol

Here waar kom ons hulp vandaan?

in die wandelgange lê geld en glas

stopstrate van vleis

taxi’s word bloedgargoyles

en almal wil hê

en almal wil hou (Krog, 1995:6)

Die uitgangspunt van hierdie artikel is die interafhanklikheid tussen epistemologie, ontologie en ruimtelikheid en hoe dit ontwikkel word deur Antjie Krog in ’n aantal van haar joernalistieke/niefiksiewerke asook in haar poësie. Ek fokus op Krog se omgaan met verhoudings en interafhanklikheid en hoe dit ’n simplistiese omgaan met die grondkwessie uitdaag. Ruimtelike ongeregtigheid in Suid-Afrika is ’n uitvloeisel van ’n koloniale en apartheidsverlede wat voortduur in ons tyd. Die reg en spesifiek ook bepaalde wetgewing met betrekking tot grond het in baie gevalle tot gedwonge verskuiwings aanleiding gegee wat soveel mense ontneem het, nie net van basiese lewensmiddele nie, maar van ’n tuiste. Die geweld, skade en ongeregtigheid wat hierdeur teweeggebring is, is nog nie enigsins ten volle en behoorlik aangespreek nie. 2018 was deurspek met debatte spesifiek rondom die wysiging van die eiendomsregsklousule in die 1996-Grondwet. Hierdie debatte kan gesien word as nog ’n voorbeeld van die frustrasie wat ondervind word as gevolg van die traagheid en grotendeelse mislukking van die prosesse rondom die herstel en hervorming van grond. Die argument wat ek ontwikkel, deur te steun op Krog asook die werk van André van der Walt, is dat die manier hoe ons teoreties, op die vlak van epistemologie met grond en eiendom omgaan, asook hoe ons grond beleef, wat ons alledaagse verhouding is daarmee, sentraal is tot die prosesse om grond te herstel en te hervorm. Van der Walt was een van die regsgeleerdes wat die mees vernuwend gedink het aangaande eiendom en grond. Sy vroegtydige sterfte het ’n leemte gelaat in die denke en gesprekke rondom hierdie kwessies. Die rigting waarin die diskoers in die jare 2017-2018 gegaan het en nog steeds voortduur, onderstreep die verlies van sy stem. Van der Walt was ’n leser van formaat – wat die werk van Krog ingesluit het. 

In wat volg, begin ek kortliks met wat Cheryl Walker beskryf as die “meesternarratief” wat aangaande grond ontwikkel het en vertel word. Daarna keer ek na Krog se bemoeienis met versoening en transformasie, haar soeke na hoe om eties te leef te midde van die oorblyfsels van apartheid en kolonialisme en haar besinning oor grond. Wat vir my uitstaan in haar omgang met hierdie dinge is die klem wat sy plaas op interafhanklikheid en verhouding. Ek bedink hoe haar bemoeienis met die gedagte van wording in die werk van Deleuze en Guattari, en spesifiek hul fokus op die risoom, in gesprek kan tree met voorstelle aangaande die verstaan van eiendomsreg soos ontwikkel deur wyle André van der Walt. Van der Walt se werk aangaande die transformasie van eiendomsreg staan vir my in die teken van ’n minieur-regsleer / “minor jurisprudence” welke gedagte ook wording/“becoming” onderskryf. Ek lees Krog se gesprekke met Deleuziaanse filosoof Paul Patton en spesifiek haar opneem van die gedagte van wording/“worde” en die risoom saam met Van der Walt se voorstelle aangaande die verstaan en toepassing van die reg op eiendom. Die sentrale draad in my argument is hoe die gedagte van om saam met ander te weet, en te wees (’n verruiming van epistemologie en ontologie), alternatiewe oor hoe om saam met grond of eiendom te leef, ’n ander wording /“worde”, teweeg kan bring.

Narratiewe van meesters

Grond

 

onder bevele van my voorgeslagte was jy besit

had ek taal kon ek skryf want jy was grond my grond

maar my wou jy nooit

hoe ek ookal strek om my neer te lê

in ruisende blou bloekoms

in bees wat horings sak in Diepvlei

rimpelend drink die trillende keelvel

in tafsytossels in leksels gom

in doringbome afgegly na die leegtes

my wou jy nooit

my verduur kon jy nooit

keer op keer skud jy my af

rol jy my uit

grond, ek word langsaan naamloos in die mond

nou word geveg om jou

beding verdeel verkramp verkoop versteel verpand

ek wil ondergronds gaan met jou grond

grond wat my nie wou hê nie

grond wat nooit aan my behoort het nie

grond wat ek vergeefser as vroeër liefhet. (Krog, 1995:72)

 

Cheryl Walker (2008:11) beskryf die primêre narratief ten opsigte van grond in Suid-Afrika as een van verlies en herstel (“loss and restoration”) en hoe dit as die meesternarratief na vore getree het vanaf die stryd teen apartheid in die tagtigs en vroeë negentigs. Sy is geïnteresseerd daarin om die gaping tussen die verwagtinge en die uitkomste wat hierdie narratief skep, te ondersoek; nie net ten opsigte van grond nie, maar ook vir die breër nasionale projek van die herstel van die verlede (2008:12). Walker (2008:16) is van mening dat hierdie meesternarratief met die storie van verskuiwings as sentrale tema belangrike ontwikkelinge mis ten aansien van die ondervinding van ontneming en die moontlikheid van herstel. Sy argumenteer dat hierdie narratief blind is vir presies wat gebeur het in die jare tussen die ontneming en nou; dat dit nie genoegsaam of enigsins omgaan met ontneemde gemeenskappe, families en hul nasate en die grond vanwaar hulle verskuif is nie, en dat die narratief nie daarin slaag om uitdrukking te gee aan spesifiekhede nie. Volgens haar verbind die meester-narratief ook nie die nasionale projek van die herstel van grond met ander programme wat te doen het met sosiale ontwikkeling nie, bv. behuising, omgewingsbewaring, sosio-ekonomiese ontwikkeling en gelykheid. Walker (2008:16) meen dat die narratief van die herstel van grond veral vaag is wat sosiale herstel en ekonomiese ontwikkeling betref. Dit is geskoei op die simplistiese gedagte van ommekeer. 

The task becomes simply to turn those elements of dispossession in the past around – to put ownership of land in the hands of the majority, restore those who were uprooted to the land from which they were torn, and reconcile those who lost with those who gained. Underpinning it is the naïve hope that through this act of reversal our society will indeed reach its promised land and thereby overcome the entrenched poverty, suffering, alienation, ignorance and conflict we see all around us.  (2008:17) 

’n Belangrike punt wat Walker opper, is die oorbeklemtoning van landelike grond ten koste van stedelike behuisingskwessies. Twee temas kom na vore in die projek van herstel: die trauma wat gepaard gaan met verskuiwing en verlies; en die belofte van herstellende geregtigheid deur toekomstige teruggee van die grond. Walker onderstreep die feit dat die verlies van grond met meer as ’n fisiese verlies gepaard gegaan het; daar was ook sosiale, ekonomiese, politieke en psigologiese verlies. Ek sien hierdie verlies ook as ’n epistemologiese, ontologiese en ruimtelike verlies. Dit is egter die fisiese verlies wat die sterkste onthou word en ’n kragtige sentrale narratief skep in nasiebou en gedenkprojekte. Walker verwys daarna as ’n effektiewe “politieke fabel” wat vir vele mense beteke-
nisvol is. En, belangrik om te noem, dat sy op geen oomblik die waarheid van hierdie narratief oftewel fabel ontken nie. Dit is egter die vlak van oorvereenvoudiging wat pla. 

Walker (2008:34) verduidelik dat die narratief van ontneming binne twee verskillende sfere werksaam is: In die een sfeer word die narratief opgeroep as ’n opsomming van die verlede en ’n regverdiging van die hedendaagse beleid ten opsigte van grondhervorming en sosiale transformasie. Die ander sfeer bestaan uit ’n veelheid van werklike ontnemings met spesifieke kontekste en verhoudings wat slegs op ’n breë vlak raakpunte het met die meesternarratief (2008:37). Walker is bekommerd oor die mate waartoe daar in algemene terme van herstel gepraat word en wat kan lei tot wat Jeremy Cronin (2008:37; 2006) “representative redistribution” noem, met ander woorde dat slegs ’n sekere elite-groep sal baat by die herstel. ’n Ander gevolg daarvan om oor grondverlies in breë terme te praat, is om alle konflik en kompetisie wat daar tussen swart gemeenskappe aangaande grond is, te ontken. Walker (2008:41) beklemtoon dat die verskillende aspekte van die “politieke fabel” nie onwaar is nie, maar dat as ’n simplistiese narratief dit te veel uitsluit en reduseer. 

It runs together very different periods and relationships to land and collapses very differently constituted
groups into the single category of ‘the dispossessed’. It glosses over class and gender and ethnicity and generation, as well as locality. (2008:41-42) 

Sy let op die individuele geskiedenisse van ontneming wat ’n komplekse reeks van verblyfregte en verhoudings tot grond behels (2008:45). Dit is spesifiek met betrekking tot die aard van die oorvereenvoudiging en die verskillende verhoudings waar myns insiens Krog se skrywe aangaande grond, versoening en transformasie aansluit by Walker se siening aangaande die meesternarratief / politieke fabel wat rondom grond en ruimtelike geregtigheid vertel word. Krog se aandrang op wording, soos bespreek hieronder, wat enige maklike of te vinnige beskrywing of gevolgtrekking stuit, is van belang.

Narratiewe van verhoudings 

land van genade en verdriet

tussen jou en my

hoe verskriklik

hoe wanhopig

hoe vernietig breek dit tussen jou en my

soveel verwonding vir die waarheid

soveel verwoesting

so min het oorgebly vir oorlewing

waar gaan ons heen van hier?

jou stem slinger

in woede

langs die kil snerpende sweep van my verlede

hoe lank duur dit?

hoe lank vir ’n stem

om ’n ander te bereik

in dié land so bloeiende tussen ons (Krog, 2000:37) 

In ’n bundel opstelle wat die uitkoms is van ’n kongres in 2013 ter herinnering aan die 1913-Wet op Grond opper Krog haar misnoeë met die wyse waarop daar oor grond gepraat word.1 Sy beskryf die diskoers as verbeeldingloos en uitsigloos. Daarby meen sy dat die deelnemers aan die diskoers onkundig is oor die mate waartoe die “menslike verhouding tot grond”  moet verander.   

We require a fundamental shift – a new kind of literacy in systemic thinking through relationships, context, patterns and process relating to land: not extracting from land but in fact learning from it. (2015:207)

Sy ondersoek die eeueou problematiese verhouding met grond in Suid-Afrika deur na ’n aantal gedigte in Afrikaans, Xhosa, Sepedi en Khoi(//Xam) te kyk. Sy wys uit hoe boerdery en “baasskap” en ’n sekere verstaan van vryheid sterk na vore kom in meeste van die tekste. Verdere temas wat uit die samekoms van boerdery en ‘baasskap’ spruit, is manlikheid, patriargie en mag. In ’n analise van ’n gedig deur ’n Xhosa-digter, St. J. Page Yako, wys sy uit hoe die gedig dieselfde gedagte van manlikheid en mag koppel aan grond as sekere Afrikaanse gedigte. Sy merk ook die gedagte op dat grond nodig is vir menslikheid om na vore te kom, wat aan die een kant getuig van ’n dieper omgaan met grond wat sy waardeer. Terselfdertyd reageer sy ook krities op hierdie opvatting en vra of dit dan nie moontlik is om dieselfde menslikheid te bekom in ’n stad of in ’n woonstel nie? Myns insiens kan hierdie vraag in dieselfde lig geplaas word as Walker se kritiek op die oorbeklemtoning van landelike herstel van grond ten koste van stedelike kwessies. Daar is ’n essensialisme wat kleef aan vele Suid-Afrikaanse verhoudings met grond.2 Krog (2015:215) voer aan dat ons grond wil besit omdat dit een of ander essensie vasvat eerder as wat ons toelaat dat die grond ’n aanspraak op ons maak, en sorg en verantwoordelikheid oproep. 

Krog vind ’n radikale ander omgaan met grond in tekste van die Khoi(//Xam), ’n verbondenheid tot en interafhanklikheid met die natuur en omgewing wat nie net op ’n ander verhouding tot ruimtelikheid nie, maar ook epistemologie en ontologie, dui. Sy vind in die tekste die gedagte van ’n “radical relational unfoldedness”, die moontlikheid van ’n nuwe etos en ’n nuwe bestel ten aansien van grond waar niemand meester is oor die grond nie, maar waar ons die grond ter wille van ons almal en ter wille van die grond self beskerm (2015:219). Die gedagte van ’n sterk verhouding tot grond en tot ander mense staan in radikale kontras met die klem wat op individuele eienaarskap geplaas word in tradisionele opvattings van grond. Krog meen dat daar ’n algemene onvermoë is om ’n nuwe etiek te “karteer”, een waar ons aan die grond behoort eerder as die grond aan ons. Sy vra vir ’n radikale desentralisering (“radical decentering”): “We need to grow what Homi Bhabha calls ‘new organs’, to cross ontological and epistemological frontiers in thinking about land in a way that permits freedom from the essence of a self that is only possible with land possession.” (2015:219) Myns insiens is die voorstelle van André van der Walt aangaande ’n grondwetlike opvatting van eiendom wat ek hieronder bespreek, geskoei op so ’n radikale desentralisering.  

In ’n analise van Krog se werk aangaande die poësie van die Khoi opper Dan Wylie (2014:219) die problematiek daarvan oor hoe om werklik begrip te kry van ’n ander kultuur, sonder om toe te laat dat mens se eie agenda jou verstaan daarvan beïnvloed. Hy vra hoe dit moontlik is om ’n skryfstyl te kry wat tot ’n “werkbare leefwêreld” sal bydra sonder om te approprieer. Alhoewel my lees van Krog is dat sy in haar poging om te verstaan altyd tentatief is, opper Wylie ’n belangrike punt vir enige refleksie aangaande diverse epistemologieë en ontologieë. Sy kommer is dat menige pogings om met byvoorbeeld die leefwêreld van die Khoi om te gaan, die fout maak om ’n eendimensionele siening van sowel Khoi (“Bushmen”) en moderniteite weer te gee. Hy is van mening dat samelewings op ’n sekere manier uitgebeeld word en verskille met die “Westerse” samelewing gekonstrueer word bloot omrede so ’n skrywer haar/sy eie samelewing wil kritiseer. Sy insig is belangrik ook vir die omgaan met Afrikareg, waarvan juis die dinamiese en buigsame aard verstaan moet word, eerder as om dit vir eens en altyd saam te vat in ’n definisie. Wylie (2014:224) wys hoe Krog se omgaan met die tekste van die //Xam dikwels die interafhanklikheid en samekoms van moderniteite tussen Westerse en nie-Westerse leefwêrelde aantoon. Die temas van ontworteling en verplasing wat sy vind in die gedigte van die //Xam is temas wat ook as eie aan die Westerse moderne ervaring gesien kan word. Daar word dikwels ’n onderskeid getref tussen ’n “Westerse” en “Afrika”-opvatting van die reg waar eersgenoemde se sekerheid en laasgenoemde se buigsaamheid beklemtoon word, maar kritiese regsteoretici argumenteer al vir jare dat ook die Westerse reg onbepaalbaar en veranderlik is. 

Louise Viljoen (2009:78) lees in Krog se Country of my skull “identiteit in interaksie met ruimte.” Sy onthou die belangrike rol wat ruimtelikheid tydens apartheid in nie net die konstruksie van ’n nasionale identiteit en Afrikaneridentiteit nie, maar gevolglik ook in die Afrikaanse letterkunde, gespeel het. J.M. Coetzee (2009:79; 1991:377) het kritiek op die ideologiese gebruik van landskap deur Afrikaanse digters, onder andere Breyten Breytenbach, gelewer. Viljoen voer aan dat Krog vir haarself deur haar ervaring met die Waarheids- en Versoeningskommissie en spesifiek deur die besoek van verskillende ruimtes, landskappe en plekke ’n nuwe identiteit konstrueer. Van belang vir my is dat Krog se benadering tot ruimte – in Viljoen se woorde – “soepel en beskeie […] ambivalent en veranderlik” is (2008:79). Dié benadering staan in kontras met wat Walker as ’n meesternarratief beskryf. 

Krog se vertelling in Country of my skull (1998) gee aandag aan spesifieke stories en gebeure wat plaasvind of gebeur het op spesifieke plekke, eerder as om te veralgemeen. Viljoen (2009:82) verwys in hierdie verband na die “politiek van spesifisiteit (oftewel ‘politics of location’)”. Paul Carter se onderskeid tussen ’n “ruimtelike” en “imperiale” geskiedskrywing word ook betrek. Imperiale geskiedskrywing word geassosieer met ’n beskrywing van gebeure in ’n teleologiese orde vanuit ’n agternaperspektief wat ’n sekere progressie beklemtoon, sonder om met die ruimtelike aspekte om te gaan. Ruimtelike geskiedskrywing poog om historiese ervaring te vind in joernale, dagboeke, briewe en onvoltooide kaarte wat die moontlikhede van transformasie, wording oophou (2008:82-83). Viljoen lees Krog se omgaan met detail in haar verslag van die Waarheids- en Versoeningskommisse as ’n “poging om die ruimtelikheid van ervaring te herwin” (2008:83).  

Viljoen verwys na die onderskeid tussen grond en landskap en voer aan dat Krog bewus is van hierdie spanning. In die gedig “grond” kritiseer Krog die menige voorbeelde in die Afrikaanse letterkunde wat ’n natuurlike band tussen Afrikaners en grond probeer bewerkstellig het om sodoende as regverdiging vir eienaarskap te dien. Volgens Viljoen (2008:87) word in hierdie gedig 

[d]ie tradisionele magsverhouding tussen besitter en besitting […] omgekeer: in plaas daarvan dat mense mag het om die grond te onderwerp (soos wat blyk uit die metafore van besitting, appropriasie en penetrasie van die grond in koloniale diskoerse), het die grond in hierdie gedig die mag en die vermoë om die toenadering van die spreker af te wys.

Krog herhaal van hierdie sentimente in haar hoofstuk aangaande grond in die publikasie ter herinne-ring van die 1913-Wet op Grond waarna ek hierbo verwys het. 

Vir my doeleindes om ruimtelike met epistemologiese en ontologiese geregtigheid te verbind, is dit van belang dat Viljoen (2008:88) ag slaan op die verhouding tussen Krog se grootword op ’n Vrystaatse plaas en die rol wat die plaas gespeel het in die geskiedenis en spesifiek Afrikaanse letterkunde. Viljoen eindig haar hoofstuk aangaande “Identiteit in interaksie met ruimte” deur te verwys na hoe identiteit vir Krog in ’n voortdurende proses van transformasie en verandering gerekonstrueer word. Dit is op hierdie punt waar ek wil oorgaan na spesifiek Krog se skrywe aangaande wording, maar voor ek dit doen, wil ek net kortliks verwys na Judith Lütge Coullie (2014:313) se kommentaar op die vraag na etiek in There was this goat (Krog, 2009). 

Coullie sluit aan by Viljoen se siening dat by Krog insig altyd voorwaardelik is en afhang van dialoog met ander en vermenging van stories. Coullie (2014:314) merk die volgende op:

Crucial to Krog’s ethical project, in each text, is the refusal to take a position and hold it; rather, her certainties are rendered fruitfully unstable through the relentless hunting down of ambiguities inherent in the apparent, through the radical – and racial – interrogation of the certitudes of the first (white) person singular voice and persona.

Sy verwys na Krog se opmerking in haar gesprek met Patton: “I am trying to become others, plural, interconnected-towards-caringness.” (2014:315; Krog, 2009:200) Veelstemmigheid is sentraal in veral A change of tongue (2003) / ’n Ander tongval (2005), Begging to be black (2009) en There was this goat (2009). Aansluitend by wat hierbo opgemerk is oor ’n politiek van spesifisiteit, is Krog en haar mede-outeurs se poging om insig te kry in “wie” mev Konile is. Die etiese bemoeienis vind nie plaas op die vlak van die algemene nie. ’n Mens sou kon sê dat ook die meerstemmigheid inderdaad die stemme van vele spesifieke mense is. Coullie let op die reis wat Krog en haar mede-outeurs maak en hoe die reis soos ook in ander letterkundige werke ’n letterlike en ’n figuurlike dimensie behels. Hierdie interafhanklikheid tussen fisiese en intellektuele en psigiese ruimte is van belang vir die saamlees van epistemologiese, ontologiese en ruimtelike (on)geregtigheid. Vir epistemologiese geregtigheid is so ’n metaforiese tog / “metaphorical pilgramage” essensieel. Die benodigdhede vir hierdie reis is vanuit die staanspoor onsekerheid, nederigheid, uitgesteldheid (2014:321). 

Miranda Ficker (2007) se werk aangaande epistemologiese ongeregtigheid is van belang. Ficker onderskei tussen die ongeregtigheid van getuienis en hermeneutiese ongeregtigheid. Dit blyk asof albei hierdie ongeregtighede mev Konile geraak het tydens haar verskyning voor die WVK. Sowel haar getuienis as haar leefwêreld is as ongeloofwaardig beskou. Krog en haar mede-outeurs poog om hierdie epistemiese ongeregtigheid aan te spreek. Coullie maak ’n konneksie tussen epistemologie en ontologie: “Krog finds ‘epistemic gain’ and ethical gain. She admits new truths and finds, for the time being, a new way to be” (2014:327).

Om saam te weet en saam te word 

die oerbeginsel van gulhartigheid

 

die wasagtige

mansjetknope van die

orgidee die bit-

ter snik van kinien

in heilige bas

die pou se oogspat-

tende wifi a-

rea is nuttig

vir oorlewing van-

daar die begrip:

oorlewing van die

fiksste

maar die aarde blyk

nié een groot konglomeraat

kompeterende

ego’s nie

niks 

ontruk ons

aan die

oogvloed (Krog, 2014:43)

In ’n hoofstuk aangaande “Postkoloniale wording” fokus Jacomien van Niekerk (2016:25) op die reeks gesprekke wat Krog in Berlyn voer met Paul Patton, kenner van die werk van Giles Deleuze en Felix Guattari. Van Niekerk voer aan dat hierdie Berlynse gesprekke nie net sentraal is tot Begging to be black nie, maar tot al die werke in die trilogie. Sy let op Krog se strewe na “ ’n verwerping van egoïstiese denke en ’n strewe na veelvoudigheid, na ‘nomadiese denke’ ” wat getrou is aan die filosofie van Deleuze en Guattari (2016a:26). Ander keuses wat hieruit volg, is verskil bo eenvormigheid; vloeiings bo eenhede; mobiele rangskikking bo sisteme, nomadies nie sedentêr nie. Vir Van Niekerk (2016:27) bied Deleuze en Guattari se denke ’n manier om anders te dink oor identiteit. Sy voer aan dat die transformasietrilogie nie slegs oor transformasie gaan nie, maar ook transformasie beliggaam en demonstreer. Van Niekerk haal Anker (2008:66) aan: “[o]m te skryf, is om anders te word. Om te filosofeer is om anders te dink. ’n Voortdurende proses van verandering waar transformasie – van die self, van die self in die teks, van die teks as sodanig, van die gedagtes – die enigste konstante is wat verlang word.”

’n Konsep wat ontwikkel is deur Deleuze en Guattari is die konsep van die risoom, ’n bywortel eerder as penwortel(stelsel). Waar die penwortel ’n bepaalde punt of orde vestig, is die risoom totaal anders, “gegrond in konneksie en heterogeniteit: ‘any point of a rhizome can be connected to anything other, and must be’” (2016:27; Deleuze & Guattari, 2004:7). Van Niekerk bring die opvatting van die risoom in verband met die konsep van mineurwording in Deleuze en Guattari. Vir hierdie filosowe is wording altyd die wording na ’n mineur, wat die opgee van ’n bevoorregte posisie impliseer. 

Krog se bemoeienis met identiteit, met epistemologie en ontologie staan in die teken van mineurwording. In lyn met die soeke na die risoom, soek sy na meerdere stemme, meerdere epistemologieë, meerdere maniere van wees. Om dit in verband te bring met haar gedagtes rondom grond, kan haar soeke na ’n ander verhouding, ander verhoudings met grond dus ook as mineurwording beskou word. Grond moet nie besit en beheer word deur die mens nie – mineurwording verg dat die mens in verhouding tot en in diens van die grond leef. Ek is geïnteresseerd in hoe die voorstelle van die regsgeleerde, wyle André van der Walt ten aansien van die verstaan en toepassing van eiendomsreg met Krog se navolging van die risoom en mineurwording asook haar klem op interafhanklikheid verbind kan word.

Eiendomsreg op die kantlyn as voorbeeld van mineurwording

Conceiving of the work that property does in a transformative constitutional setting in my view requires a significant – Rorshach-like – shift in property theory, primarily involving shifting the observer’s focus away from individual property rights and even specific property institutions and onto what is described in this book as the property system. (Van der Walt, 2012:183)

Vir doeleindes van my argument in hierdie artikel plaas ek Van der Walt se voorstelle aangaande eiendomsreg in die lig van ’n “minor jurisprudence” / ’n mineurregsleer. Dié gedagte is die eerste maal geopper in 1994 in ’n artikel waarin Panu Minkkinen (1994) gesteun het op DeLeuze en Guattari se omgaan met Kafka se opvatting van die reg. Vir Minkkinen verteenwoordig ’n mineur-regsleer dit wat nie in ’n bestaande kanon of genre opgeneem kon word nie (Tomlins, 2017:2). In 1996 het Peter Goodrich die gedagte van ’n mineurregsleer beskryf as “any species of legal knowledge that had escaped the ‘phantom of a sovereign and unitary law’ ” (Tomlins, 2017:2; Goodrich, 1996:2). Hy beskou mineurregsleer as ’n regsleer wat sigself bemoei met randfigure en diegene wat tipies uitgesluit word in die samelewing. Myns insiens kan Van der Walt se werk aangaande Property on the margins (2009) – waarin hy dit wat die beskerming wat eiendomsreg verskaf, verskuif vanaf die sentrale magsfigure na dié wat leef op die marges – in lyn met mineurwording gelees word. Hierdie siening van eiendomsreg staan in sterk kontras met tradisionele opvattings van eiendom. 

Van der Walt (2012:1) onthou die debatte in die vroeë negentigs rondom hoe ’n grondwetlike opvatting ’n tradisionele privaatregkonsep van eiendomsreg sou beïnvloed. Hy beskryf die tradisionele opvatting as ’n benadering wat regte aangaande eiendom op ’n eng wyse beskou en daarmee saam ’n baie spesifieke hiërargie en binêre teenstelling tussen regte vestig (2012:114). Eiendomsregte volgens hierdie opvatting word geassosieer met óf eienaarskap, wat die mees omvattende  eiendomsreg is, óf een van ’n beperkte aantal kategorieë wat mens op iemand anders se eiendom kan bekom. Van der Walt (2012:115) verduidelik dat as gevolg van die absoluutheid van eiendom dit baie moeilik is om onder hierdie opvatting ander tipes of kategorieë eiendomsregte te erken. Die verdere gevolg van hierdie opvatting van eiendomsreg is dat dit ’n sillogistiese verhouding tussen regte en remedies tot stand bring wat beteken dat eiendomsreg altyd enige ander reg sal kan troef (2012:115). Op ’n soortgelyke wyse sal diegene met sterker eiendomsregte, eienaarskap, die beperkte regte van ander kan troef. Van der Walt (2012:116) keer na die Realiste se siening van eiendomsreg, wat die regte op eiendom eerder as ’n bondel van regte gekonsepsualiseer het.4 

Dit is hierdie siening van die Realiste wat Van der Walt verder ontwikkel vir die Suid-Afrikaanse konteks. Die raakpunte met die werk van Deleuze en Guattari lê in die wegbeweeg van ’n eenduidige, of dan wel penwortelstelsel, na ’n siening wat die gedagte van die risoom, bywortel, omhels. Van der Walt, soos Krog, voel sterk oor die noodsaak om te transformeer, om die sentraliteit van tradisionele mag te verplaas, om diegene wat nog altyd tot die marges verdryf of heeltemal uitgesluit is op ’n etiese wyse aan te spreek. Ek het hierbo reeds verwys na Van der Walt se werk Property on the margins waarin hy die reg op eiendom so ontwikkel dat dit ’n belangrike rol kan speel in die transformasie van nie net eiendomsreg en grondbesit nie, maar die transformasie van die samelewing as sodanig. Die wye benadering tot eiendomsreg sluit aan by die siening van eiendomsreg vir die marge – dit is ’n verplasing en ’n ommekeer van die tradisionele siening en kan ’n radikale transformasie van die besit van eiendom tot gevolg hê.

Van der Walt ontwikkel ’n grondwetlike siening van eiendomsreg wat radikaal anders is as die tradisionele privaatregtelike opvatting. Hierdie siening ontbloot ’n wyer siening van wat eiendom is en wat eiendomsreg behels, asook ’n doelgerigte, kontekstuele opvatting van eiendom (2012:117). Volgens Van der Walt was daar gedurende die 1990’s ’n hoop dat hierdie nuwe grondwetlike siening van eiendom ontwikkel kon word ten einde kwessies soos grondhervorming te kan rig en terselfdertyd die privaatregtelike opvatting van eiendom in stand te hou. Hy is egter duidelik daaroor dat hierdie hoop beskaam het, weens die beginsel van grondwetlike oppermag wat behels dat alle reg, ook die reëls van die gemenereg, onderhewig is aan die gees, doel en oogmerk van die Handves van Menseregte soos verskans in die Grondwet (2012:121). Die spesifieke en tegniese omskrywing van hierdie grondwetlike siening van eiendomsreg soos ontwikkel deur Van der Walt val buite die raamwerk van hierdie artikel. In breë trekke behels dit ’n wyer siening en dus uitbreiding van die privaatregtelike verstaan van eiendom. Van der Walt voorsien reeds in 2012 dat ’n eng interpretasie en toepassing van die eiendomsregklousule, artikel 25, daartoe sal lei dat gevestigde (wit)5 eiendomsregte verskans sal word terwyl die regte van swart mense swak en onderontwikkeld sal bly voortbestaan (2012:123). Hy vrees ook dat die insluiting van regte soos toegang tot grond, behuising en natuurlike hulpbronne en die reg op sekerheid van verblyf bemoeilik sal word onder ’n eng interpretasie en sodoende die transformerende aspirasies van die Grondwet in die kiem sal smoor. Van der Walt onderskryf die belang daarvan om eiendom eerder van ’n sistemiese as ’n individuele hoek te benader. Hy beklemtoon ook die interafhanklikheid tussen mense onderling en tussen hulle en eiendom: “Because humans do not live alone, individual property entitlements affect others” (2012:130).

Van der Walt vra vir drie skuiwe wat moet plaasvind. Eerstens ’n skuif van “objects to obectives”: in plaas daarvan om die tipes eiendomsregte, of die verhoudings wat beskerm moet word of die remedies wat aangevra kan word, te beskryf, moet die reg op eiendom verstaan en toegepas word ten einde ’n wye vorm van eiendom te beskryf en grondwetlik te beskerm (2012:139-147). Tweedens ’n skuif van “property to propriety” wat in aansluiting met die eerste punt vra vir ’n skuif weg van individuele eiendomsreg na ’n wyer en publieke beskerming van eiendom (2012:147-153). Derdens ’n skuif van “syllogistic to transformative logic”. Van der Walt verwys na die skrywer Bernard Schlink wat aanvoer dat “legal systems that never unravel themselves but just continue weaving the cloth of the law denser and denser will eventually suffocate” (2012:153). Van der Walt vra vir ’n sekere ontrafeling van die drade waaruit die tradisionele regsdiskoers bestaan en wat transformasie versmoor. Hy vra vir die weef van ’n nuwe, grondwetlik geïnspireerde patroon (2012:154).      

Ek het hierbo na Walker verwys wat die diskoers rondom grond as ’n meesternarratief beskryf. Van der Walt se werk onderstreep dat die tradisionele siening van eiendomsreg in presies so ’n meesternarratief vervat is. Die narratief rondom grond waarna Walker verwys – wat gedurende die tagtigs na vore tree as deel van die stryd teen apartheid, en voortduur gedurende die negentigs en die nuwe millennium en onlangs weer nuwe energie gekry het – is gewoon ’n spieëlbeeld van die tradisionele meesternarratief. Myns insiens kan die gedagtes rondom mineurwording, die risoom en ontrafeling soos ontwikkel is in die werk van Van der Walt aangaande eiendom ’n werklike bydrae maak ten opsigte van dit waarvoor Krog vra, naamlik ’n fundamentele verskuiwing, sodat ons op ’n nuwe manier kan dink oor verhoudings en prosesse aangaande grond oftewel eiendom. 

Slot

Die hoofoogmerk van hierdie artikel is om te ondersoek hoe Antjie Krog met die temas van ruimtelikheid, epistemologie en ontologie omgaan in enkele tekste. Sy wys uit hoe hierdie drie temas aan mekaar verbonde is, met die belangrike implikasie dat die kwessie van grond slegs anders gereguleer kan word, dat die prosesse wat transformasie moet bewerkstellig geskoei moet wees op ’n radikale ander verstaan van kennis en syn, epistemologie en ontologie. Ek steun op Cheryl Walker se beskrywing van ’n “meesternarratief” aangaande grond om aan te toon hoe van alle kante in die debat rondom grond daar nog nie wegbeweeg is van ’n oorvereenvoudigde en eendimensionele siening van grond nie. Krog besin in haar digkuns sowel as haar niefiksieskryfwerk oor alternatiewe verhoudings met grond. Haar belangstelling in die gedagte van wording en spesifiek mineurwording is van belang vir haar sienings aangaande transformasie, hoe om eties met die wêreld om te gaan, maar ook vir die herbedink van en leef saam met grond. In haar bundel Mede-wete (2014) spreek sy spesifiek die kwessie van epistemologie en die verbreding, die saam-weet daarvan, alhoewel onmoontlik, aan. In kommentare op die bundel is uitgewys hoe sy in navolging van die digter Paul Celan woorde opbreek, as’t ware tot niet maak, wat my herinner aan Van der Walt se steun op Schlink se idee van ontrafeling (Esterhuizen, 2015). In die artikel lees ek die werk van Van der Walt saam met / in die lig van Krog. Temas wat hulle beide omarm in hul besinning aangaande transformasie in die algemeen en spesifiek met betrekking tot grond en by Van der Walt spesifiek eiendom, is interafhanklikheid, relasionaliteit, radikale desentralisering, mineurwording, die verplasing en opheffing van grense en ontrafeling.

hoor jy my

jy wat julle/ons is

hoor jy my grabbel

in hegge in omhagte heinings in papiere

gerasse en die stroomkreng van harsings

[…]

hoor jou’le my?

jy wat ons’le is

[…]

dit wat anders ek’le gryp die ons’le

in ’n nuwe woordeskot van etaak

ons knal gans die aar-eerde tot kielblou-klank

(hoor jy die nuwe-newe die safte hoe verlosbluffend

spoel die swoegtels van apoorte aardes los?) (Krog, 2014:114-115) 

 

 

Notas

 

  1. Die Naturellen Grond Wet 27 van 1913 het die fondasie gelê vir landelike apartheid en was ’n perfekte voorbeeld van diskriminerende wetgewing. 2013 was 100 jaar sedert die promulgasie van die wet. 
  2. Hierdie essensialisme kom ook na vore in veral die Afrikaanse letterkunde deur byvoorbeeld die oneweredige fokus wat op die plaasroman geplaas word. My dank aan die anonieme keurder wat hierdie punt uitgewys het.
  3. Mev Konile was die ma van een van die Gugulethu Sewe wat deur die veiligheidspolisie vermoor is. Haar getuienis tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie is as onduidelik, onsamehangend en onverstaanbaar beskou en nie opgeneem in die finale verslag nie. Krog, saam met twee mede-outeurs, Nosisi Mpolweni en Kopano Ratele, het mev Konile en haar getuienis herbesoek in ’n poging om erkenning te gee aan haar getuienes.
  4. Die Amerikaanse Realiste was ’n groep regsgeleerdes wat in die 1930’s na vore gekom het met ’n sterk kritiek op regsformalisme, naamlik die geloof in die reg as ’n objektiewe, neutrale en allesomvattende sisteem. Van der Walt betreur die feit dat die sienings van die Realiste aangaande eiendom nooit werklik in Suid-Afrika posgevat het nie. Bykomend tot hul siening van eiendom as ’n bondel van regte het hulle eiendom ook beskou as ’n uitvloeisel van magsverhoudinge tussen mense en as ekonomiese effektiwiteit. Sienswyses van die Realiste het later herleef as kritiese realisme wat ook in die konteks van Suid-Afrikaanse grondwetlike reg na vore gekom het. Sien Davis en Klare, 2010:435-449.
  5. Krog is bewus van en bemoeid met haar posisie as wit en as bevoorreg. Haar nie-fiksiewerk (1998; 2003; 2009; en Krog, Mpolweni & Ratele, 2009) asook haar poësie (sien byvoorbeeld 2000 en 2014) fokus op witheid en bevoorregting en streef na ’n moontlikheid van herstel. Sien ook Van Niekerk (2016). 

 

Verwysings

Anker, W.  2008.  Die denke van Deleuze en Guattari: filosofie as teater.  LitNet Akademies, 5(2):46-75.

Coetzee, J.M.  1992.  Doubling the point: essays and interviews.  Cambridge, MA: Harvard University Press.

Coullie, J.L.  2014.  A question of ethics in There was this goat: Investigating the truth commission testimony of Notrose Nobomvu Konile.  In: Coullie, J.L. & Visagie, A., eds.  Antjie Krog: An ethics of body and otherness.  Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.  pp. 313-331.

Cronin, J.  2006.  Creole Cape Town.  In: Watson, S., ed.  Cape Town – A city imagined.  Johannesburg: Penguin.

Davis, D & Klare, K.  2010.  Transformative constitutionalism and the common and customary law. South African Journal on Human Rights, 26(3):403-509.

Esterhuizen, L.  2015.  Die verweerde liggaam vertaal haar ontologie. Antjie Krog gesels met Louise Esterhuizen oor haar nuutste bundel, Mede-wete.  https://versindaba.co.za/2014/11/30/onderhoud-met-antjie-krog/  Toegangsdatum: 10 Junie 2015.

Fricker, M.  2007.  Epistemic injustice. Power & the ethics of knowing.  Oxford University Press.

Goodrich, P.  1996.  Law in the courts of love: Literature and other minor jurisprudences.  New York: Routledge.

Krog, A.  1995.  Gedigte 1989-1995.  Pretoria: Hond.

Krog, A.  1998.  Country of my skull.  Johannesburg: Random House.

Krog, A.  2000.  Kleur kom nooit alleen nie.  Kaapstad: Kwela Boeke.

Krog, A.  2003.  A change of tongue.  Johannesburg: Random House.

Krog, A.  2009.  Begging to be black.  Johannesburg: Random House Struik.

Krog, A., Mpolweni, R. & Ratele, K.  2009.  There was this goat. Investigating the Truth Commission Testimony of Notrose Nobomvu Konile.  Scotsville: UKZN Press.

Krog, A.  2014.  Mede-wete.  Kaapstad: Human & Rousseau 

Krog, A.  2015.  Baas van die plaas/ Izwe lethu: Essay in fragments and two villanelles exploring different relationships to land in some indigenous poetic text.  In: Cousins, B. & Walker, C., eds. Land, divided. Land restored.  Sunnyside: Jacana.  pp. 206-231. 

Minkkinen, P.  1994.  The radiance of justice: On the minor jurisprudence of Franz Kafka.  Social & Legal Studies, 3:349-363.

Tomlins, C.  2017.  Law as … IV: Minor jurisprudence in historical key. An introduction.  Law Text Culture, 12:1-29.

Van der Walt, A.J.  2009.  Property in the margins.  Oxford: Hart Publishing.

Van der Walt, A.J.  2012.  Property and Constitution.  Pretoria: Pretoria University Press.

Van Niekerk, J.  2016.  ‘baie worde’: Identiteit en transformasie by Antjie Krog.  Pretoria: Van Schaik.

Viljoen, L.  2009.  Ons ongehoorde soort. Beskouings oor die werk van Antjie Krog.  Stellenbosch: SUN Press.

Walker, C.  2008.  Land-marked. Land claims & Land restitution in South Africa.  Johannesburg: Jacana.

Wylie, D.  2014.  ‘Now strangers walk in that place’: Antjie Krog, modernity, and the making of //Kabbo’s story.  In: Coullie J.L. & Visagie, A., eds.  Antjie Krog: An ethics of body and otherness. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.  pp. 215-240.

 

Hoe om hierna te verwys:

Van Marle, K. 2019. Ruimtelike, epistemologiese en ontologiese (on)geregtigheid as temas in die werk van Antjie Krog. Stilet, 30(3):52-68.

© 2019. Die outeur.

Om die pdf-weergawe van hierdie artikel af te laai, klik gerus hier.