Lady Anne en Sjaka Zulu: Enkele ooreenkomste tussen Antjie Krog se Lady Anne (1989) en Alfred Schaffer se Mens Dier Ding (2014) aan die hand van metamodernisme

Carel van Rooyen

Onafhanklike navorser

Abstract

Both Antjie Krog’s Lady Anne (1989) and Alfred Schaffer’s Mens Dier Ding (2014) make use of a historic figure in exploring personal and socio-cultural themes, placing these historical figures (Lady Anne and Shaka Zulu) in contemporary contexts. This ahistorical and achronological approach to the past appears typically postmodernist. This article does not contest or relativise the postmodernist qualities of either work, but argues that Mens Dier Ding can be discussed in terms of metamodernism for its questioning of moral relativism, and the application of the concepts of ethics, involvement and truth. Schaffer stated that he was also influenced by metamodernism during the writing process of Mens Dier Ding (Schaffer, in Anker & Schaffer, 2015). Metamodernism involves a constant oscillation between modernist and postmodernist ideas and ideals (Vermeulen & Van den Akker, 2010:2), a movement never resolved. Lady Anne and Mens Dier Ding shares a preoccupation with issues on violence and gender roles, explored respectively through the anachronistic incarnations of Lady Anne and Shaka Zulu. The implications of these themes are read as a metamodernist strife for solutions to societal problems. This discussion rests on the assumption that metamodernism is developing into a valuable interpretative framework in Afrikaans literature, and aims to illustrate this, thereby contributing to a growing conversation.

Agtergrond en inleiding

In 1989, vyf jaar voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, verskyn Antjie Krog se bekroonde1 bundel Lady Anne. Die bundel spreek van ’n postkoloniale bewussyn en ondersoek kwessies rakende geslag en identiteit, asook hoe nou laasgenoemde met land en herkoms verband hou. Hierdie temas word verken deur ’n gefiksionaliseerde weergawe van die historiese figuur waarna die titel verwys, Lady Anne Barnard, “wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef [en] kontak met die inwoners maak” (Odendaal & Van Coller, 2010).

Lady Anne en die uitgebeelde verhouding tussen die implisiete outeur en die gefiksionaliseerde weergawe van Lady Anne word as ’n postmoderne werk ontvang. Louise Viljoen (s.a.) noem die bundel ’n “postmodern epic” en Elize Botha (in Terblanche, 2017) beskryf die bundel as “pragtige poësie in die post-modernistiese idioom”. Vier gedigte uit Lady Anne [“Ek wou ’n tweede lewe deur jou leef”, “transparant van die tongvis”, “slot” (Die leuse van my vader wil ek herhaal) en “slot” (miskien behoort die slot vir oulaas aan my)] word ook in Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997) opgeneem, ’n versamelbundel wat ’n oorsig bied van die postmodernistiese tendens in die Afrikaanse poësie. Die kenmerke en digterlike strategieë van postmodernisme, soos beskryf deur Foster en Viljoen in Poskaarte (1997), is herkenbaar in die bundel, soos (onder andere) die vermenging van feit en fiksie, ’n hernude omgang met die geskiedenis, metafiksie, en die veelvuldige gebruik van intertekste. In hierdie geval is die belangrikste intertekste die gebruik van Lady Anne se skryfwerk en die gegewens van haar lewe.

Die poëtiese omgang met die historiese figuur in die verkenningsproses van eietydse persoonlike en sosio-politieke vraagstukke herinner aan Alfred Schaffer se 2014 bundel Mens Dier Ding2 waar Sjaka Zulu as ’n kapstok dien vir sosio-politieke vrese (onder andere magsmisbruik en xenofobie). Soos Krog se Lady Anne word hierdie bundel ook deur resensente en kritici met die postmodernisme in verband gebring. Omdat die bundel Sjaka Zulu in ’n hedendaagse konteks plaas, beskou Zandra Bezuidenhoud (wat die Afrikaanse vertaling van die bundel behartig het) die bundel as ’n postmodernistiese spel: “Niks loop lineêr of chronologies nie. Jy moet die moontlike interpretasies verken en jukstaponeer” (Bezuidenhout in Opperman, 2019). In die gedig “Harde feiten rondom Sjaka dat wil zeggen harde feiten rondom mij” sê Sjaka dat wanneer hy na homself in ’n spieël kyk, hy ’n droste-effek sien (Schaffer, 2014:12 r. 120). Volgens Ham (2014) is dit “een prototypisch postmoderne visuele truc”. Die afbeelding in ’n droste-effek het geen ware oorsprong nie (Ham, 2014); Sjaka, by implikasie, ontbreek ook ’n koherente “kern”. Ham vind hierdie verband met die postmodernisme egter nie klinkklaar nie, en skryf dat die onderskeid tussen die droste-effek en die simboliek belangrik is; hy interpreteer Mens Dier Ding vervolgens as ’n ondersoek na die ontmensliking van Sjaka, wat ’n simbool vir tirannie geword het (Ham, 2014). Sjaka en sy ryk word byvoorbeeld in die televisiereeks Shaka Zulu (1986-1987) as sodanig bloeddorstig uitgebeeld dat Howard Rosenberg (1986) van die L.A. Times die volgende daaroor te sê het:

Shot in South Africa, it seems to shape history to fit a contemporary political theme. Yesteryear’s supposedly blood-lusting Zulus fill nearly every frame of Shaka Zulu, becoming a negative metaphor for today’s black South Africans, reinforcing a wild tribal image in contrast to “civilized” whites.

In ’n resensie van die Afrikaanse vertaling van Schaffer se bundel getiteld “Regstreeks hier: Die metafoor se ondergang”, skryf Bibi Burger (2019:9) dat die bundel die ontoereikendheid van die metafoor uitwys, die problematiek daarvan om van ’n mens se lewe ’n simbool te maak: “[… D]it [laat] die leser dink oor temas soos die aard van manlikheid, sterflikheid en die misbruik van mag, maar dit gebeur alles met ’n bewustheid van die gevare van metafore en die beperkings van biografieë”. Ook in Lady Anne kom die skrywersinstansie tot hierdie besef wanneer sy agterkom dat die historiese Lady Anne nie konformeer aan die beeld wat sy in gedagte gehad het nie, en haar pogings om Lady Anne pasklaar tot simbool te maak word daardeur gefrustreer. Krog skryf dan in die gedig “ek wou ’n tweede lewe deur jou leef” dat Lady Anne as metafoor (in parafrase) niks werd is nie (Krog, 1989:40).

In ’n resensie van die Afrikaanse vertaling van Mens Dier Ding skryf Dewald Koen (2018) ook:
“Soortgelyk aan Antjie Krog se Lady Anne (1989) ondersoek die digter ’n geskiedkundige figuur naamlik Sjaka Zoeloe in Mens dier ding”.3 As sodanig is daar verskeie raakpunte tussen Lady Anne en Mens Dier Ding, maar daar is ook aspekte wat ’n vergelyking tussen die bundels kompliseer en wat deurentyd in gedagte gehou moet word. Alhoewel beide bundels polities van aard is, verskyn Lady Anne in 1989, ’n tyd van politieke onstabiliteit en verandering vóór die demokratisering van Suid-Afrika. Mens Dier Ding verskyn in 2014, in post-Apartheid Suid-Afrika, ten tyde van voormalige president Jacob Zuma se bewind. Alhoewel die bundels tematies met mekaar skakel, is daar fokusverskille. Die onderskeie aanslagte en digterlike styl differensieer die bundels ook van mekaar. Verder handel Krog se bundel oor ’n Europese figuur in (Suid-)Afrika, en Schaffer se bundel oor ’n Afrika-figuur in ’n hedendaagse Westerse konteks – in die asielsoekergedigte bevind Sjaka hom letterlik in ’n land waar dit “baie reën”, vermoedelik Nederland (Schaffer, 2014:124 r. 3.). Alhoewel beide bundels vrylik met die geskiedenis omgaan en hede en verlede vermeng, is Krog se Lady Anne-karakter se verblyf in Suid-Afrika gebaseer op die geskiedenis, terwyl Sjaka se verplasing na ’n Westerse omgewing nie geskiedkundig is nie. Dit is dalk nodeloos om dit uit te wys, maar Lady Anne is uiteraard oorspronklik in Afrikaans uitgegee, en Mens Dier Ding in Nederlands.

Schaffer self noem Krog se Lady Anne as een van die epiese poëtiese werke oor bekende figure of gebeure waarby Mens Dier Ding aansluit (Schaffer, 2016:151). Daar is ook faktore wat buite die tekstuele wêrelde van Mens Dier Ding en Lady Anne staan, maar van belang is wanneer die twee digters saam genoem word. Krog en Schaffer werk byvoorbeeld saam as samestellers van Nuwe Stemme 3 (De Vries, 2013:18). Krog het ’n ikoniese status in Nederland; Schaffer geniet ’n soortgelyke posisie in Suid-Afrika, waar hy op verskeie maniere by die Afrikaanse literatuur betrokke is (sien Hambidge, 2013). Daar is reeds verwys na Zandra Bezuidenhout se Afrikaanse vertaling van Mens Dier Ding: die vertalings van die bundels onder bespreking sien ek as aansluitend by die metamodernistiese beginsel van die wegdoening van afstand en afstandelikheid (Abramson, 2015).

Metamodernisme, en ’n Suid-Afrikaanse metamodernisme

Schaffer noem dat hy hom in die skryf van Mens Dier Ding deur metamodernisme laat beïnvloed het, omdat verwagtinge rondom die poësie in die bundel deurbreek word (in Anker & Schaffer, 2015). Hy verwys na ’n HUMO-resensent: “In de fascinerende Sjaka vindt de dichter een gedroomde aanleiding om zich stilistisch los te zingen van verwachtingspatronen en poëtiche stereotypen en zich te vermeien in een rondleiding in een waanwereld” (Vanegeren, 2014 in Anker & Schaffer). Ek beskou die verwagtinge waarna hy hier verwys as (deels) postmodernisties – in dieselfde onderhoud brei Schaffer (in Anker & Schaffer, 2015) uit op die uiteenlopende bronne wat as inspirasie gedien het en waarna verwys word, en sê dan: “Heerlike onderwerpe en sake om bymekaar te gooi en klits, maar dan moet jy jou eie ding daarmee doen en ’n storie vertel wat saak maak, jy kan nie bly vassteek in spel, verwysings en relativisme nie.” Die storie wat in Mens Dier Ding vertel word, is myns insiens veelseggend oor ’n meer volledige personasie – die hedendaagse mens as Sjaka – as wat ’n tipiese postmodernistiese benadering tot dieselfde gegewens sou wees. Soos Winkler (2015:111) dit stel: “Een coherente identiteit mag dan misschien niet bestaan, en valt op papier uiteen in ‘een horde ikken’, maar juist door in de poëzie alle ikken te betrekken wordt de dialoog volledig. Het ‘ik’ is gefragmenteerd maar niet gemankeerd.”

Volgens Visagie (2010:95-96) het die postmodernisme ’n langslewende invloed op die Afrikaanse poësie uitgeoefen, bes moontlik ook op die Suid-Afrikaanse Nederlandse literatuur4 (poësie). Met verwysing na Vaessens en Van Dijk (2011:8) skryf Linde (2018:4) dat die negatiewe nalatenskap van postmodernisme “ ’n amper apatiese relativisme, sinisme en ’n wegskrammende tipe ironie” behels. Dit kan uiteindelik veroorsaak dat literêre tekste verwyder is van die publiek en bloot relevant is op akademiese vlak (Mousley, 2011:4 in Linde, 2018:4). Die skepping van tekste in ’n konteks waar konsepte soos opregtheid, oorspronklikheid en waarheid met agterdog of selfs minagting bejeën word (Vaessens & Van Dijk, 2011:10 in Linde, 2018:4), bied ’n uitdaging vir die skrywer wat wel iets oor die samelewing wil beweer. Dit is ook moontlik dat hierdie benadering (van afstandelikheid en relativisme) van die digter of skrywer self verwag word. Alhoewel hy nie spesifiek hier na postmodernistiese konvensies verwys nie, voel die volgende opmerking na die publikasie van Mens Dier Ding tog hier veelbetekenend: “Ik heb me nog nooit zo bevrijd gevoeld!” (Schaffer in Winkler, 2015:112). Die vraag kan gevra word of hierdie gevoel van bevryding moontlik verband hou met die deurbreking van (postmodernistiese) verwagtinge rondom die poësie (op metamodernistiese wyse).

Timotheus Vermeulen en Robin Van den Akker gebruik die term metamodernisme vir ’n tydsgees wat op postmodernistiese (en modernistiese) idees reageer – hierdie “nuwe” tydsgees beskryf hulle as gekarakteriseer deur “ingeligte naïwiteit” of “pragmatiese idealisme” (2010:5). In sy manifesto van metamodernisme skryf Luke Turner (2011) dat die metamodernisme sigself beywer vir ’n “plurality of disparate and elusive horizons”. Turner (2011) sien modernisme as gekenmerk deur ideologiese naïwiteit en postmodernisme as siniese onopregtheid; metamodernisme wyk dus daarvan af deur die beweging van ossilasie. In hul invloedryke artikel “Notes on Metamodernism” (2010) beskryf Vermeulen en Van den Akker metamodernisme as “characterised by the oscillation between a typically modern commitment and a markedly postmodern detachment” (2010:2). Die konsep van konstante ossilasie is integraal tot die Europese metamodernisme wat hulle omskryf: 

Ontologically, metamodernism oscillates between the modern and the postmodern. It oscillates between a modern enthusiasm and a postmodern irony, between hope and melancholy, between naïvete and knowingness, empathy and apathy, unity and plurality, totality and fragmentation, purity and ambiguity. (Vermeulen & Van den Akker, 2010:5-6)

Die outeurs lê klem op die feit dat metamodernisme nie gesien moet word as ’n middelpunt of balans tussen pole, byvoorbeeld tussen empatie en apatie, nie. Dit is ’n voortdurende wisselwerking waar die een pool die individu of teks terugtrek terwyl hy/sy of besig is om na die ander pool te neig, en andersom (Vermeulen & Van den Akker, 2010:5). Volgens Turner (2011) is dit hierdie ossilasie wat die wêreld tot aksie aanspoor, asof dit moontlik is om die grense inherent aan hierdie beweging en die ervarings wat daarmee gepaardgaan, te oorskry.

In resensies en literêre besprekings van die Afrikaanse letterkunde word die metamodernisme toenemend as teoretiese raamwerk betrek. In ’n resensie van Lien Botha se Wonderboom skryf Thys Human (2018:110; 114) dat die roman van vorige distopiese romans afwyk omdat daar ’n sekere optimisme in die roman teenwoordig is. Human, in die artikel se abstrak, skryf: “socio-economic and political issues that South Africa are currently facing – poverty, crime and violence – are intensified in the novel”. Ten spyte daarvan sien hy die optimisme van die roman as “ ’n aansporing tot ’n beweging in die rigting van ’n (voortdurend uitgestelde) doelwit” (Human, 2018:110;113). Hy interpreteer dit, met verwysing na Vermeulen en Van den Akker (2010:5), as ’n voorbeeld van die metamodernistiese nosie van “mov[ing] for the sake of moving”, ten spyte van die besef (as gevolg van die postmodernisme) dat ’n oplossing nie moontlik is nie. Die uiteindelike mislukking, hoe onvermydelik ook al, in die soeke na en implementasie van oplossings op probleme, word volgens die metamodernistiese denkwyse nie as ’n verskoning gesien om nié proaktief betrokke te raak nie.

Oor Ingrid Winterbach se roman Vlakwater skryf Andries Visagie (2018) dat die roman op soortgelyke wyse onverskrokke sin wil maak van die werklikheid:

Dit is hierdie sensibiliteit wat Winterbach in Vlakwater so goed vasvang met die deeglike omgang met die verbysterend hoë vlakke van geweld in die eietydse Suid-Afrika. Met haar roman skryf sy dus voort binne die tradisie van die betrokke literatuur in Afrikaans, maar soos geen ander Afrikaanse skrywer tot dusver nie, slaag sy daarin om die dilemma van die metamodernisme vas te vat. 

Janien Linde (2018:iii) argumenteer in haar doktorale proefskrif Relasionele performatisme: ’n Metamodernistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk dat die onlangse werke van Marlene van Niekerk ’n transnasionale bewustheid toon. Daar word egter nie geïmpliseer dat hierdie uitbreiding in fokus ’n breuk met Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse realiteite inhou nie, wel dat hierdie uitdagings van ’n globale aard is: “Van Niekerk se vyf nuutste tekste vertoon op verskillende maniere ’n bewustheid van en sensitiwiteit vir globale uitdagings soos dreigende politiese, ekonomiese en ekologiese katastrofes, asook probleme op nasionale vlak wat ’n internasionale kleur verkry omdat dit in verskillende lande aanwesig is, soos ongelykheid, geweld en politiese onstabiliteit” (Linde, 2018:ii).

Dit is opmerklik dat die metamodernisme in enkele van hierdie voorbeelde telkens in verband gebring word met die kwessie van geweld, spesifiek geweld in Suid-Afrika. Alhoewel die epidemie van geweld glad nie beperk is tot Suid-Afrika nie, soos Linde (2018) hierbo uitwys, toon die statistiek oor gewelddadige misdaad nie net dat dit iets is waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word nie, maar ook dat dit aan die toeneem is (soos gesien kan word vir die 2017/2018-tydperk) (Sicetsha, 2018). Die vraag ontstaan of ’n metamodernistiese ingesteldheid, soos dit in die werke hierbo weerspieël word, funksioneel kan wees om Suid-Afrika se probleem van geweld en misdaad aan te spreek. Die politieke bewustheid van studente is myns insiens verwant aan die filosofiese veronderstellings van metamodernisme. Hierdie betrokkenheid is ingelig deur letterkunde en ander media soos films en musiek wat sosiopolitieke uitdagings uitlig en aanspreek. Die aanname is nie dat kuns die werklikheid drasties sal verander nie, maar dat dit ’n invloed het op hoe daar gedink word oor gender, magsverhoudings, sosiale status, en so meer – idees wat inspeel op hoe mense met mekaar omgaan en die gedrag wat as sosiaal aanvaarbaar gesien word.

Die rol van gender en geslagsrolle in geweld en geweldpleging is een van die tematiese raakpunte tussen Krog se Lady Anne en Schaffer se Mens Dier Ding (wat in die volgende afdeling aandag sal geniet). In Mens Dier Ding word geweld en bloedvergieting telkens in makabere besonderhede beskryf en word dit dikwels in verband gebring met manlikheid. In Lady Anne word dit nie altyd breedvoerig beskryf nie, maar dis selde nié deel van die subteks nie. In beide werke gaan dit nie net om letterlike geweld nie, maar ook om die emosionele en psigologiese geweld van kolonialisme en die voortdurende nala-tenskap daarvan (in Lady Anne), en van ’n meëdoenlose kapitalistiese verbruikerskultuur (in Mens Dier Ding), waar Sjaka, as ’n ikoon, ook ’n item word wat “verbruik” word; soos die titel aandui, ’n “ding”.

Raakpunte tussen Mens Dier Ding en Lady Anne

In die postmoderne denke word die modernistiese siening dat die mens ’n inherente, samehangende en holistiese subjektiwiteit besit, gekontesteer; identiteit word eerder gesien as fluktuerend en performatief, iets wat deur konteks bepaal word. In Mens Dier Ding beskik die subjek oor veelvuldige identiteite; hierdie omgang met die subjek as gefragmenteerd blyk dus aansluiting te vind by die postmodernisme. ’n Lys van die manifestasies van Sjaka se identiteite is te vind in die gedig “Een beroerde danser” waar meer as ’n halfdosyn personasies ’n kroeg binnegaan, en waarop die kroegman dan bloot vra: “Zo Sjaka, wat mag het zijn?” (Schaffer, 2014:90). Volgens Brems (2006:533) word die postmodernistiese digterlike subjek gesien as ’n konstruksie. So ook die nosies van objektiwiteit en deursigtigheid – omdat representasie noodwendig subjektief en ideologies gekleurd is, word daar nie ’n poging aangewend om getrou aan die geskiedenis te bly nie: dit is wesenlik onkenbaar. ’n Onkenbare verlede is ’n verlede wat beperkte seggenskap oor die hede kan uitoefen, in kontras met die metamodernistiese denke. Volgens Turner (2011) speel tegnologie ’n belangrike rol in die demokratisering van die verlede, “illuminating the forking paths along which its grand narratives may navigate the here and now.” Die rol van meesternarratiewe (sien Abramson, 2015), ook in terme van die verlede, en die moralistiese moontlikhede (sien Corsa, 2018:241) wat daarmee gepaardgaan, is die hoofrede hoekom ek Mens Dier Ding en Lady Anne in ’n metamodernistiese lig lees. In Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen (2003) verwys Joosten en Vaessens na Lyotard (1984:xxiv in Joosten & Vaessens) se stelling dat postmodernisme, wanneer dit (oor)vereenvoudig word, ’n “incredulity towards metanarratives” behels5.

In die genoemde teks van Vaessens en Joosten (2003) bespreek hulle eweneens sewe “problemen” waarmee die postmodernisme gemoeid is, waarvan moraliteit een is. Die gevolgtrekking waartoe hulle kom, is dat moraliteit wel ’n oorweging in postmodernistiese literatuur is, maar dat dit nie ’n moraliteit is wat op meesternarratiewe staatmaak nie (2003:91). In Mens Dier Ding is daar enersyds ’n postmodernistiese speelsheid en relativering, andersyds is daar ’n onderliggende etiese raamwerk wat neerkom op oorkoepelende waarhede, soos dat onbeperkte mag lei tot korrupsie en wreedheid tot selfvernietiging, wat met die modernisme geassosieer word (Van Rooyen, 2015:57). ’n Moraliteit wat postmodernistiese kulturele en morele relativisme transendeer, word op verskeie maniere in die bundel betrek, enersyds deur die parodiëring van Sjaka se identiteit as magsmisbruiker – ’n voorbeeld hiervan is die hantering van Sjaka se roemrykheid. In Mofolo se roman Chaka, ’n belangrike interteks van Mens Dier Ding, smag Sjaka na roem: “Ja, beroemdheid is ’n heerlike ding. […] Bowendien, daardie roem waarna ek streef is oorlogsroem, waar die assegaai gebruik word, waar sterk manne met dik nekke sterwe, die ware onverskrokkenes.” (Mofolo, 1974:36) In Mens Dier Ding word Sjaka se roem geparodieer deurdat dit gelyk gestel word aan die kapitalistiese verbruikerskultuur van die moderne stersisteem: “Sjaka’s faam verspreidt zich als een virus. / Sjaaltjes posters mokken pennen buttons – / De merchandise draait op volle toeren.” (Schaffer, 1013:43)

Ek lees ook Sjaka se angs en kloustrofobie in die dagdrome as ’n implisiete oordeel oor sy magsmisbruik en geweld, en die idee dat geweld kan of moet gebruik word om manlikheid te bewys of uit te leef. Die dagdrome speel telkens af in beklemmende ruimtes en daar is geen verwysings na ’n medemens nie (Schaffer, in Anker & Schaffer, 2015). Die gevoel van ontontkombare vasgevangenheid, isolasie en angs wat in die dagdrome verwoord en oorgedra word, is die gevolg van die feit dat Sjaka, in sy soeke na mag, nie net voeling met sy medemens verloor het nie, maar ook met homself: “[…] maar alles is al onherkenbaar, zelfs mijn eigen stem”, sê Sjaka in “dag(droom) # 3” (Schaffer, 2014:139 r. 3). Die nommers van die dagdrome tel die dae af tot Sjaka se dood; hierdie uiting speel sigself dus af kort voor sy dood. Die leser wat hiervan bewus is, weet dat Sjaka se uiteindelike ondergang onvermydelik is en dat daar vir hom geen hoop op uitkoms is nie. 

Wanneer Schaffer se Sjaka se lewelose liggaam in die veld gelos word, wil die diere van die veld hulle nie daaraan waag nie: “Zijn lichaam wordt teruggevonden in een veld. / Groen uitgeslagen maar volkomen gaaf. / Zo giftig dat geen dier een hapje waagt” (Schaffer, 2914:140 r. 19-21). Hierdie gegewe strook met Mofolo se Chaka, waarvan Mens Dier Ding ’n gedeeltelike herskrywing is [Schaffer (2016:137) sien hierdie proses van herskrywing, en die intertekstuele netwerk wat sodoende geskep word, as metamodernisties6]. In besinning oor die mens-dier-verhoudings in die Afrikaanse vertaling7 van Mofolo se roman situeer Loots (2018) die roman in die konteks van die Afrikahumanisme, en interpreteer Sjaka se onderwerping van die diere as ’n oordeel oor sy aksies. Alhoewel ek Mens Dier Ding nie as Afrikahumanisties sien nie, het Loots (2018:646) se argument dat die diere se verwerping van Sjaka se lyk en hul distansiëring van hom daarop dui dat hulle “berekende, bewustelike en selfs etiese wesens met agentskap is”, ook op Mens Dier Ding betrekking. Die interaksies tussen Sjaka en diere in Schaffer se bundel spreek van ’n implisiete veroordeling van Sjaka.

In Mens Dier Ding is Sjaka egter nie bloot ’n simbool vir tirannie wat daarom verdoem moet word nie. Daar word op ’n meer empatiese wyse omgegaan met Sjaka se identiteit as ontheemde en vlugteling. In ’n siklus van vyf gedigte (Schaffer, 2014:124-128), wat oor vyf bladsye uitgestrek is en iets van die langsaamheid van die proses suggereer, doen Sjaka aansoek om asiel en word hy dit ontsê. In ander gedigte word daar ook melding gemaak van Sjaka se buitestanderskap as gevolg van ’n assosiasie met “aliens”, aanduidend van sy vreemdelingskap (Van Rooyen, 2015:45-55). Schaffer se bundel spreek dus persoonlike, politieke en maatskaplike kwessies aan. ’n Hernude belang in en omgang met die konsepte van etiek, betrokkenheid, konneksie en betekenis kan verbind word met ekologiese en sosio-ekonomiese toestande waar ’n tipies postmodernistiese instelling van ironiese afstandelikheid en apatie nie meer as geskik ervaar word nie (Vermeulen & Van den Akker 2010:1;6).

Daar is reeds gewys op die veelvuldige identiteite van die tekstuele Sjaka Zulu en sy ryk, sodoende word temas soos manlikheid, magsmisbruik, digterskap, slagofferskap, lojaliteit, medepligtigheid en menseverhoudinge verken. Die temas en personasies wat ondersoek word, is dikwels in weerwil met mekaar, dog word dit gedoen aan die hand van een figuur, in die metamodernisme word die paradoksale en die verwikkelde uitlewing van subjektiwieteite verwelkom. Die fiktiewe Sjaka Zulu kan gesien word as ’n tipe “everyman”, in die bundel word daar gewerk met “universele, menslike kenmerke” (Schaffer in Anker & Schaffer, 2015). In ’n gesprek met Sjaka op die agterplat verseker die digter vir Sjaka dat “De bundel gaat ook niet uitsluitend ‘over jou’” (Schaffer 2014). Soos die titel van die gedig “Harde feiten rondom Sjaka dat wil zeggen harde feiten rondom mij” aandui, gaan dit ook om outobiografiese projeksies, maar omdat die verhaal (van ’n soeke na mag en eer) sig “[i]n ieder tijdperk” (Schaffer 2014) afspeel, word die menslike kondisie verken.

So ook is Krog se Lady Anne nie ’n saaklike ondersoek na die historiese figuur van Lady Anne Barnard in digterlike vorm nie. Louise Viljoen (1989, in Terblanche, 2017) sonder die aktualiteit van die bundel uit, en skryf in haar resensie: “Interessant genoeg word die aktualiteit in die bundel bewerkstellig deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard. Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.”

Soos wat Schaffer toksiese manlikheid en die misbruike wat daarmee gepaard gaan, sowel as die manier waarop dit in die hedendaagse samelewing uiting vind, in Mens Dier Ding ondersoek deur die figuur van Sjaka Zulu te gebruik, so verken en kritiseer Krog ’n tipe vroulikheid wat gekenmerk word deur wit bevoorregting (“white privilege”) en oppervlakkigheid (“frivolousness”). Dit kan geïllustreer word deur die gedig “Lady Anne by die mikrogolfoond”. Hierdie gedig beskryf die voorkoms, leefstyl en prioriteite van “moderne” vroue, vermoedelik Krog se tydgenote in die laat tagtigerjare. Krog impliseer hier dat daar ’n parallel is tussen die bevoorregte posisie van Lady Anne, op grond van velkleur en stand, en die ondeurdagte, voorstedelike vroulikheid in die gedig, wat selfbehep “verbete klou aan soepelheid en Pil” (Krog, 1989:71 r. 5). Uit hierdie reël, en die res van die gedig, is dit duidelik aan watter eise en verwagtinge hierdie vrouens moet/wil voldoen, en wat hul prioriteite gevolglik is: voorkoms, die welstand en sukses van hul kinders, huishoudelike beplanning en orde.

Die spreker distansieer haar van die vroue wat verderaan beskryf word wanneer sy hulle aanspreek met die hoogdrawende “o my susters …” (Krog, 1989:71, r. 1), tog dui die woord “susters” daarop dat sy ook iets met hulle in gemeen het. Die spot word met die vorm van aanvaarde vroulikheid gedryf wat in die gedig beskryf word wanneer daar in ’n voetnota gekwalifiseer word dat hierdie vroue se “fleurige leotards” “[…] pas by die voetlose tights, pas by die leg warmers, pas by die polsband, die kopband”. In die bundel kom die kwessie van medepligtigheid en kennis, as’t ware mede-wete, na vore: uit die ander gedigte is dit duidelik dat die implisiete outeur weet dat die strukture van die samelewing wat wit bevoorregting ’n werklikheid maak, ten koste is van die grootste gedeelte van die bevolking. Die doelbewuste miskenning van die politieke en kulturele brandpunte en veranderinge in die samelewing word veroordeel wanneer daar gesê word dat “die strukture wat ons soort in stand hou / in hulle maai [stort]” (Krog, 1989 r. 22-23). Een van die gevolgtrekkings waartoe Crous (2002:276) in sy doktorale proefskrif oor Lady Anne kom, is dat “die outeursinstansie se anti-apartheidsideologie […] ’n belangrike onderdeel van die diskoers uitmaak”.

Hierdie gedig is ’n voorbeeld van metafiksie, omdat die titel doelbewus aandui dat dit fiktief is, dat dit ’n gekonstrueerde werklikheid verteenwoordig (Bertens & D’haen, 1988:102). Soos die hedendaagse vorme van dokumentasie van Sjaka in Mens Dier Ding deur middel van Twitter, Facebook en film, is die mikrogolf in die titel van die gedig hier ’n aanduiding dat daar doelbewus en opsigtelik van die geskiedenis se moontlikhede afgewyk word. Volgens die logika van postmoderne metafiksie is dit nie ter sake om die verhouding tussen die fiktiewe werk en die werklikheid te probeer vasstel nie, “omdat de werkelijkheid te ver uit het zicht verdwenen is” (Bertens & D’haen, 1988:108).

Dit is egter duidelik dat beide Schaffer en Krog deur hul onderskeie bundels iets oor die samelewings wil beweer ten tyde van die verskyning daarvan, en die politieke vraagstukke, maatskaplike probleme en kwessies rondom subjektiwiteit wat aan die orde van die dag is/was. Metamodernisme in die literatuur neig tot singewing en kohesie (Dumitrescu, 2014:169); dit is nie bloot taalspel wat op hermetiese wyse implikasie ontwyk nie. Die poësie neig tot betekenis, tot interpretasie. In die gedig onder bespreking, “Lady Anne by die mikrogolfoond”, plaas Krog Lady Anne in ’n nuwe milieu. Myns insiens wil Krog hiermee aandui dat die moderne vrou se rol wat in die gedig beskryf word, in werklikheid nie veel verander het sedert die tyd van die historiese Lady Anne nie. Die mikrogolf is hier ’n statussimbool (ons het te doen met die laat tagtigerjare) en aanduidend van ’n leefstyl toegespits op gemak en effektiwiteit. Crous (2002:116) wys daarop dat die mikrogolf die vrou in die ruimte van die kombuis situeer, waarvandaan sy volgens patriargale verwagtinge vir haar gesin sorg en haar om hul welstand beywer.

Verderaan in sy tesis speur Crous na hoe die historiese Lady Anne se skryfwerk intertekstueel ontgin word (2002:119 e.v.). Crous skryf dat Lady Anne se tekste (briewe, joernale, dagboekinskrywings en sketse – Viljoen, s.a.), wat toegang bied tot die lewe aan die Kaap in die 18de eeu, ’n “beginpunt” is vir Krog se “projek om te probeer sin maak uit die eietydse problematiek van witwees en vrouwees in Afrika” (Crous, 2002:118). Dit vorm deel van ’n wyer web van intertekstuele verwysings, sitate en afbeeldings; die motto’s in die bundel dien as aanduiding van die temas van onder andere medepligtigheid, die rol en nut (al dan nie) van kunsskepping en optekening en die bewussyn van magsdinamika geskoei op ras, geslag en status.

In die verkenning van hierdie temas ontwikkel daar ’n moontlik onbeplande intimiteit tussen die implisiete outeur en Lady Anne, met wie sy die identiteit van skrywende wit vrou deel. Viljoen (2007:25) skryf dat die outobiografiese sprekende subjek ambivalente gevoelens teenoor Lady Anne koester sedert haar ontdekking dat Lady Anne nie heeltemal by haar agenda inpas nie: “In die res van die bundel wissel die stemming van die gevoel van Krog teenoor Lady Anne beurtelings tussen teerheid en weersin, tussen aangetrokkenheid en afkeer.” In die laaste gedig, “slot”, “waad [haar] hand liefkosend langs [Lady Anne] se nek” (r. 17-18). Wanneer daar gewonder word wie haar “intog en uittog [sal] noteer” en “haar transformasie [sal] karteer” (r. 21-22) spreek dit van ’n bekommernis dat Lady Anne vergeet of misken sal word. Hierdie ossilasie kan as metamodernisties gesien word, ’n konstante wisselwerking tussen herkenning en miskenning, tussen betrokkenheid en vervreemding.

Die kwessie van geweld in Mens Dier Ding en Lady Anne

In haar resensie wys Burger (2019:9) uit dat een van die temas waarmee die leser van Mens Dier Ding gekonfronteer word “die aard van manlikheid” is. In Mens Dier Ding is daar dikwels ’n kruispunt tussen manlikheid en geweld, en neem dit selfs soms ’n erotiese dimensie aan (“Een hoofd fors op een paal gespietst, kijk / daar heb je nu iets als de beroemde snoet van het orgasme” – Schaffer, 2014:11). Vir Schaffer se Sjaka is daar ook ’n edele arbeidsaamheid aan geweld en bloedvergieting (“Als ik de gieren hoog boven mijn hoofd zie cirkelen / dan denk ik Kijk eens aan, de vogels van de koning hebben honger! / Ik geef hun dan te eten.” – Schaffer, 2014:10), en ’n edelheid aan onderdrukking (hier bedoel om te beïndruk):

Op mijn Facebookprofielfoto sta ik afgebeeld als Napoleon

mijn linkervoet rust op het hoofd van een onderdaan. (Schaffer, 2014:8 r. 14-15)

Enersyds kan die karakter Sjaka alledaagshede vreemd laat voorkom, andersyds kan sy uitbeelding ook uitwys dat Sjaka, in soverre hy ’n simbool van wreedheid en tirannie is, met gemak in ons hedendaagse samelewing geplaas kan word, dat hy inderwaarheid nie ver verwyder is van die moderne samele-wing en praktyke nie. Sjaka se sienings oor geweld mag oënskynlik onversoenbaar met ons moderne samelewing voorkom, maar dui by nadere ondersoek mispraktyke en teenstrydighede in die logika van die hedendaagse kultuur aan. Die bundel is byvoorbeeld veelseggend oor die gebruik van geweld en bloedvergieting as vermaak in films. Die moeisaamheid van die filmproses vir geweldstonele vir Apocalypse Now en Raging Bull (Schaffer, 2014:9;11 r. 35-36; 82-83) staan in kontras met Sjaka se moeitelose slaggereedheid om mense te vermoor en opdrag te gee om dit te doen (Schaffer, 2014:10;11 r. 70; 87-89) (Van Rooyen, 2015:5). Daar word dus kommentaar gelewer op die etiek van die normalisering en verheerliking van geweld en aggressie in ’n samelewing (Suid-Afrika) waar die waarde van menslike lewe nie hoog is nie.

In Lady Anne word medepligtigheid aan geweld, bloedvergieting en fanatisme gesuggereer deur die uittreksels wat voor (en elders) in die bundel gevind word. Een van die uittreksels berig byvoorbeeld oor die dood van ’n “Timothy” in Angola, wat in 1979 by die weermag aangesluit het:

His brother Timothy joined the SADF in 1979 and became a commissioned officer. He also volunteered to serve in Northern Namibia and died “300 km inside Angola”. “He was painted black and was wearing a Unita uniform,” Paton wrote. He died painlessly and fast (one bullet), the family was told. Timothy was given a pro patria medal. (Krog, 1989:8)

Volgens die United Nations Centre Against Apartheid (1989:2) was die doel van die Suid-Afrikaanse weermag om onreg in stand te hou: “Idealogical justifications for apartheid have become increasingly sophisticated, but the South African Defense Force (SADF) has remained its ultimate guarantor.” Alhoewel hierdie uittreksel en enkele ander aanhalings daarnaas met die eerste oogopslag kan voorkom as “ideologiese regverdigings vir apartheid”, verskaf nadere ondersoek die nodige konteks. Die anonieme persoon waarna hier verwys word, is Mark Patrick, een van 143 mans wat op 3 Augustus 1988 openbare protes aangeteken het teen konskripsie deur te weier om by die SADF aan te sluit, omdat dit die apartheidsisteem onderhou het (United Nations Centre Against Apartheid, 1989:15). Die rede hiervoor was die dood van sy broer, wat die onderwerp is van ’n essay deur Alan Paton, “Lament for a young soldier” (United Nations Centre Against Apartheid, 1989:15; Rickhard, 1988:2). Die uittreksel bó die een oor Timothy is uit dieselfde berig uit The Weekly Mail, en verwys dus na die dood van Timothy:

Did he die for the maintenance of our way of life? I mean, for the White way of life, for it is the White people of South Africa who say what the way of life must be.  (Paton, in Rickhard, 1988:2)

Die kwessie van skuld en medepligtigheid, ’n terugkerende tema in Krog se werk, word verder in die berig (wat nie in Lady Anne te vind is nie) opgeroep:

Did he die for the continuance of the Group Areas Act? Did he die for detention without charge or access? Or did he go to fight because his friends were going to fight? Or because he felt no call to be a conscientious objector? Or because he loved his country, and didn’t want to leave it? (Paton, in Rickhard, 1988:2)

Krog se bundel sluit aan by die stemme van besinning en protes wat voor in die bundel versamel is, maar nie tot hierdie uittreksels beperk is nie. Deur na kolonialisme, apartheid en koloniale ideologieë, asook die gevolge daarvan te verwys, word Lady Anne se verblyf in Suid-Afrika in die skadu hiervan geplaas. Soos Sjaka in Mens Dier Ding verteenwoordig die karakter Lady Anne ook ’n tipe “everyman”, en die leser word sodoende gekonfronteer met die gewelddadige verlede van die samelewing waarvan hy/sy deel is. Hierdie sensibiliteit oorskry die morele relativisme wat met ’n tipies postmodernistiese instelling verbind kan word, en alhoewel Krog ook die waarde van die digterlike woord in die bundel betwyfel en daaroor besin (sien “parool”, Krog, 1989:35-38), blyk die bundel te suggereer dat poësie aanleiding kan gee tot gewete (“conscience”) deur wete, en sodoende moontlik maatskaplike verandering.

Slot

Lady Anne en Mens Dier Ding kan met mekaar in verband gebring word deur meer as net die postmodernistiese gebruik van die historiese figuur as motief in die verkenning van die self en eietydse vraagstukke. Die (outobiografiese) sprekende subjek se identifisering met en betrokkenheid by die personasies van Lady Anne en Sjaka Zulu, asook die moralistiese en etiese aspekte van die bundels, getuig van ’n benadering wat die tipies postmoderne oorskry. Sekere veralgemeenbare stellings oor geweld, magsmisbruik en geslag kan ook uit die bundels afgelees word, stellings wat op metamodernistiese wyse aansluit by meesternarratiewe en gerig is op die oplossing van kontemporêre uitdagings.

 

Notas

  1. Die bundel word in 1990 bekroon met die Hertzogprys vir poësie (Esterhuizen, 2017).
  2. Soos Lady Anne, is Mens Dier Ding ook ’n bekroonde bundel; die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs en Charlotte Köhler Prijs is aan die bundel toegeken (Koen, 2018). 
  3. Die titel van die Afrikaanse vertaling bevat slegs een hoofletter; in die oorspronklike, Nederlandse bundel wat ek
    gebruik, begin al drie woorde van die titel met hoofletters.
  4. Literatuur in Nederlands geskryf vanuit ’n Suid-Afrikaanse konteks (Francken in Francken & Praamstra, 2008:10 in Van Rooyen, 2015:2).
  5. Die postmodernisme en sig politiese en morele moontlikhede kan tereg verder genuanseer word; dit val egter buite die bestek van hierdie bespreking.
  6. Schaffer (2016): “It [the article] explores how “translating” a work of fiction into another work of fiction is at the heart of the continuing conversation that is literature, and may even be a metaphor for postmodern, or better, metamodern literature, which is characterised by an oscillation between both modernism and postmodernism”.
  7. Loots verwys na Swanepoel se 2017-vertaling; Schaffer verwys na die 1974-vertaling.

 

Verwysings

Abramson, S.  2015.  Ten Basic Principles of Metamodernism.  https://huffpost.com/us.entry/us_7143202  Date of access: 26 September 2019.

Anker, W. & Schaffer, A.  2015.  Oor pypdrome, anachronismes en ander ongemakke.  [Netwerk24].  http://www.litnet.co.za/Article/oor-pypdrome-anachronismes-en-ander-ongemakke  Toegangsdatum: 13 Februarie 2019.

Bertens, H. & D’haen, T.  1988.  Het postmodernisme in de literatuur.  Amsterdam: De Arbeiderspers.

Burger, B.  2019.  Regstreeks hier: Die metafoor se ondergang.  Die Burger, 21 Januarie: 9.

Corsa, A.J.  2018.  Grand Narratives, Metamodernism, And Global Ethics.  Cosmos and History: The Journal of Natural and Social Philosophy, 14(3):241-272.

Crous, M.L.  2002.  Die diskoers van Antjie Krog se Lady Anne (1989).  Doktorale proefskrif.  Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.

De Vries, W. & Schaffer, A.  2014.  Shaka kry gestalte in digbundel.  [Netwerk24].  http://www.netwerk24.com/vermaak/2014-01-18-shaka-kry-gestalte-in-digbundel Toegangsdatum: 14 Julie 2015.

De Vries, W.  2013.  Schaffer vertaal in Afrikaans.  Die Burger, 7 Maart: 18.

Dumitrescu, A.  2014.  Towards a metamodern literature.  Doctoral thesis.  Dunedin: University of Otago.   https://ourarchive.otago.ac.nz/bitstream/handle/10523/4925/DumitrescuAlexandra2014PhD.pdf?sequence=5  Date of access: 13 Februarie 2019.

Esterhuizen, L.  2017.  Nuuswekker: Lady Anne binnekort in Engels beskikbaar.  versindaba.co.za/2017/02/09/nuuswekker-lady-anne-binnekort-in-engels-beskikbaar/  Toegangsdatum: 24 Mei 2018.

Foster, R. & Viljoen, L., reds.  1997.  Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960.  Kaapstad: Tafelberg.

Ham, L.  2014.  Harde feiten: Over Mens Dier Ding van Alfred Schaffer.  De Reactor.

Hambidge, J.  2013.  Alfred Schaffer – Kom in, dit vries daar buite (Vertaal deur Daniel Hugo) (2013).  http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/04/alfred-schaffer-kom-in-dit-vries-daar.html  Toegangsdatum: 13 September 2015.

Human, T.  2018.  “ ’n Tyd van oorvloed; ’n tyd van skaarste”: Utopies en distopiese impulse in Lien Botha se Wonderboom.  Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(1):109-123.

Hutcheon, L.  1991.  The politics of postmodernism.  London: Routledge.

Koen, D.  2018.  Resensie: Mens dier ding (Alfred Schaffer).  Vert. Zandra Bezuidenhout.  [Versindaba].  versindaba.co.za/2018/12/13/resensie-mens-dier-ding-alfred-schaffer-vert-zandra-bezuidenhout/  Toegangsdatum: 27 Desember 2018.

Krog, A.  1989.  Lady Anne.  Kaapstad: Human & Rousseau.

Linde, J.  2018.  Relasionele performatisme: ’n Metamodernistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk.  Doktorale proefskrif.  Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.

Loots, S.  2018.  Mens-dier-verhoudings in Thomas Mofolo se historiese roman Chaka (1925, 2017). LitNet Akademies, 15(3):627-653.

Odendaal, B. & Van Coller, H.  2010.  Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989).  Stilet, 22(2):63-88.

Opperman, A.J.  2019.  Schaffer-bundel oor Tsjaka nou in Afrikaans.  Die Burger, 9 Januarie: 7.

Rickhard, C.  1988.  Not I, says the brother of the soldier in Paton’s essay.  The Weekly Mail.  5-11 Augustus: 2.

Rosenberg, H.  1986.  ‘Shaka Zulu’: Negative metaphor for South African blacks.  http://articles.latimes.com/1986-11-21/entertainment/ca-14929_1_shaka-zulu  Toegangsdatum: 11 Februarie 2019.

Schaffer, A.  2016.  ‘A reflection of a reflection’: Notes on representation and ethical possibilities in Thomas Mofolo’s Chaka.  Tydskrif vir Letterkunde, 53(2).

Sicetsha, A.  Crime stats South Africa 2018: the murder rate increased by 6.9%.  www.thesouthafrican.com/crime-stats-south-africa-murder-rate-2018/  Date of access: 2 Februarie 2019.

Terblanche, E.  2017.  Antjie Krog (1952–).  [LitNet]. www.litnet.co.za/antjiekrog-1952/  Toegangsdatum: 7 September 2018.

Turner, L.  2011.  METAMODERNIST // MANIFESTO.  www.metamodernism.org  Date of access: 24 September 2019.

United Nations Centre Against Apartheid.  1989.  The issue of conscientious objection in apartheid South Africa: Growth of the anti-conscription movement.  https://www.jstor.org/stable/al.sff.document.nuun1989_09  Date of access: 23 September 2020.

Vaessens, T. & Joosten, J.  2003.  Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen.  Amsterdam: Vantilt.

Van Rooyen, C.  2015.  “Maar waar is Sjaka?”: Mag, moraliteit en identiteit in Mens Dier Ding (2013) deur Alfred Schaffer aan die hand van post- en metamodernisme.  Ongepubliseerde honneursskripsie.  Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. 

Vermeulen, T. & Van den Akker, R.  2010.  Notes on metamodernism.  Journal of Aesthetics & Culture, 2:1-14.

Viljoen, L.  s.a.  Lady Anne by Antjie Krog.  www.postcolonialweb.org/sa/viljoen/5.html  Date of access: 8 September 2018.

Visagie, A.  2018.  Litnet Akademies-resensie-essay: Vlakwater deur Ingrid Winterbach.  www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-vlakwater-deur-ingrid-winterbach/  Toegangsdatum: 3 Januarie 2019.

Visagie, A.  2010.  Globalisering, modernisme en postmodernisme: In stede van die liefde (2005) van Etienne van Heerden.  Tydskrif vir letterkunde, 47(2):95-112.

Winkler, M.  2015.  ‘Ik heb me nog nooit zo bevrijd gevoeld!’ Over het lezen van Mens Dier Ding van Alfred Schaffer.  DWB, 108:112.

 

Hoe om hierna te verwys:Van Rooyen, C. 2018. Lady Anne en Sjaka Zulu: Enkele ooreenkomste tussen Antjie Krog se Lady Anne (1989) en Alfred Schaffer se Mens Dier Ding (2014) aan die hand van metamodernisme. Stilet, 30(3):36-51.

© 2019. Die outeur.

Om die pdf-weergawe van hierdie artikel af te laai, klik gerus hier.