Redaksionele nota – deel 1

Thys Human & Wemar Strydom

Daar is iets gerusstellends bekend aan ’n Antjie Krog-huldigingsnommer. ’n Vinnige soektog deur die Stilet-argief lewer byvoorbeeld 25 artikels op waarin daar pertinent in die titel na Krog verwys word, en nog ’n bykomende 37 artikels waarin Krog aangehaal of daar op direkte of indirekte wyse na haar verwys word. Voeg hierby nie minder nie as drie temanommers en, sedert 2000, ook twee ALV-kongresse wat gedeeltelik aan dié outeur, digter, openbare intellektueel en akademikus-aktivis gewy is.

Ten spyte van die omvang van die Krog-oeuvre, fokus akademiese belangstelling – in elke geval sover dit die Stilet-argief betref – veral op drie seminale tekste, naamlik Kleur kom nooit alleen nie, Lady Anne en die gerugmakende Country of my skull, wat bykans sonder uitsondering in artikels oor Krog se niefiksie figureer.

Akademiese belangstelling hou dikwels nou verband met openbare temporeel-affektiewe bemoeienis met Krog, wat ook rondom ’n handjievol tekste en handelinge sentreer: Wie het byvoorbeeld nog nie hulle steun toegesê aan die bykans jaarlikse petisie aan die Nobelprysbenoemingskomitee, of op aandoenlike wyse “Ma, ek skryf vir jou ’n gedig […] ’n kaalvoet gedig” by ’n kunswedstryd voorgedra nie?

Oorbekendheid hou egter die gevaar in dat skerp kante soms te maklik gladgeskuur kan word; daar is byvoorbeeld indertyd min in Stilet van die plagiaatdebat gemaak. Hiervoor moet ander bronne, soos Katie Highman of Anthea Garman, geraadpleeg word. Voorts moet ’n mens ook vra: hoe bly jy gemaklik bekend met ’n oeuvre wat by tye lig werp op brutale ongeregtighede, of wat op verwikkelde wyse gehoor probeer gee aan die broodnodige behoefte om gesprek te ontlok? En wat maak ’n mens van die neiging in talle artikels om op ’n enkele, gedekontekstualiseerde, oeuvre-losse teks te fokus ten spyte daarvan om Krog se kreatief-samewerkende personas te ondersoek? (Ten spyte van Krog se eie aandrang op die noodsaaklikheid van literêre samewerking is daar byvoorbeeld min gepubliseer oor There was this goat (2009), wat Krog saam met Nosisi Mpolweni en Kopano Ratele geskryf het.)

Dit mag dus waardevol wees om Krog-in-Stilet op doelbewuste wyse binne ’n wyer konteks te lees: dat Krog dikwels as teenhanger gebruik word in besprekings van ander vrouedigters, kan byvoorbeeld saam met Carlijn Cober se bespreking van topopoëtikale verplasing in Ingrid Jonker gelees word. Die gebruik om Krog soms as “dogterfiguur” van manlike digters van ’n sekere ouderdom te identifiseer, kan in verband gebring word met Yianna Latsos se navorsing oor die paradokse verbonde aan die skryf van ’n “nuwe bloedlyn”. Bydraes wat op enkeltekste fokus kan op produktiewe wyse saamgelees word met nie-Stilet-navorsing oor transtekstuele konsepte soos die sinkreties kommunale, die opgaar van media meta-kapitaal, selfverAndering en tweedepersoonsopvoering en vertalerspraktyke.

Sover dit sisteemdenke betref, kan so ’n lees-saam-met en -in-konteks-van besonder waardevol wees vir groter insae ten opsigte van Krog se belang vir die Afrikaanse letterkunde. (Selfs al is dit steeds nie duidelik tot watter mate Afrikaanstalige navorsing oor Krog met Engelstalige navorsing oor Krog oorvleuel nie. “Wie haal Viljoen aan, of Van Niekerk, en wie haal Garman aan?” blyk ’n handige toets in dié verband te wees.) Daar word uitgebreid na Krog verwys in navorsing oor vertaling (des te meer ná die verskyning van vertalings van inheemse romans wat deel vorm van die vertalingsprojek van die Sentrum vir Meertaligheid en Diversiteitsnavorsing, asook werk wat deur Jerzy Koch oor Krog gedoen is), asook navorsing oor een van die dringendste vrae van die laat-2000’s – in 2020 selfs nog meer dringend: Wie praat namens wie? (Stilet-uitgawe 27(2))

Die doel met hierdie uitgawe was om getrou te bly aan die idee van ’n kongresuitgawe, met die fokus op ’n enkele konsep oor diskoers-, stilus- en herbesoekbydraes heen, maar terselfdertyd ook om ruimte te skep vir meer veelkantige benaderings tot die ‘Krog-as’-figuur, in die hoop om ’n breër lesing van sowel Krog as “Krog-as” te fasiliteer.   

 

deel 2

Ons wil weereens beklemtoon dat hierdie nommer ’n kongresuitgawe is en as sodanig ’n kiekie is van navorsings-diskoers-gesprek met Krog op hierdie oomblik.

Die impetus vir hierdie Krog-(kongres)uitgawe was die agtiende hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging wat gewy is aan die werk van Antjie Krog en die vele raamwerke van die Afri-kaanse literatuurwetenskap. Dit is vanaf 12 tot 14 September 2018 in die Wallenberg-Navorsingsentrum van STIAS deur die Universiteit van Stellenbosch aangebied en het as ruimte gedien vir ’n akademiese gesprek oor die literêre bydrae van een van die belangrikste lewende skrywersfigure in Afrikaans – ’n gesprek wat hopelik in/met hierdie uitgawe van Stilet voortgesit word. 

Benewens die bekendstelling van ’n reeks vertaalde boeke uit inheemse tale, waarby Krog as mede-werker betrokke was, verskyn twee kreatiewe bydraes deur Krog in stilet.stilus: ’n gedig getiteld “Die durf van liedere”, geskryf vir die musikant Mantombi Matotiyana, asook ’n aangrypende verslag oor Krog se vriendskap met die digter Johann de Lange, met ’n wederkerigheid wat ook elders gesien kan word.

Die eerste vier navorsingsartikels in stilet.diskoers is verwerkte weergawes van referate wat by die ALV-kongres gelewer is. Marius Crous stel in sy artikel “ ‘Die stil gebied van die liedere wat ek liefhet’: Antjie Krog se affektiewe belewing van Duitse musiek” ondersoek in na die intertekstuele verwysings wat daar in twee Krog-tekste na Duitse musiek voorkom. Deur te verwys na affekteorie, ontleed Crous die digterlike subjek se somatiese belewenis van Duitse musiek, maar veral ook die selfontleding en selfbewussyn wat dit tot gevolg het.

In sy artikel vergelyk Carel van Rooyen Antjie Krog se gerugmakende bundel Lady Anne (1989) met Alfred Schaffer se Mens Dier Ding (2014) aan die hand van ’n metamodernistiese leesstrategie. Wat ooreenkomste tussen die bundels betref, noem Van Rooyen onder andere die deurlopende gebruik van ’n bekende historiese figuur (Lady Anne en Sjaka Zulu onderskeidelik) as motief, die verkenning van persoonlike en sosio-politieke vraagstukke, asook die wyse waarop hierdie historiese figure anachronisties in ’n eie konteks geplaas word. 

As vertrekpunt vir haar artikel “Ruimtelike, epistemologiese en ontologiese (on)geregtigheid as temas in die werk van Antjie Krog” gebruik Karin van Marle die interafhanklikheid van epistemologie, ontologie en ruimtelikheid in geselekteerde gedigte en werke van niefiksie in die Krog-oeuvre. Met verwysing na die insigte van onder andere André van der Walt (oor eiendomsreg) en Paul Patton argumenteer Van Marle dat die teoretiese en epistemologiese omgaan met grond in Suid-Afrika sentraal staan tot die prosesse van restitusie en hervorming. 

In haar artikel “Op soek na Krog in die reg: ’n relaas” ondersoek Isolde de Villiers die waarde van Antjie Krog se debuutnovelle, Relaas van ’n moord, vir regstudie deur ’n verwysing na die hofstukke van die saak waarop hierdie novelle gebaseer is. De Villiers bepleit ’n herbesinning van die verhouding tussen die reg en letterkunde; ’n duidelike onderskeid tussen die reg in en die reg as letterkunde, maar ook ’n wegbeweeg van die funksionalistiese toepassing van letterkunde in diens van die reg.  

Die laaste twee artikels, in ons stilet.argief-afdeling, is vertalings van voorheen gepubliseerde artikels – deur Bernard Odendaal en H.P. van Coller oor die liriese intrige in Lady Anne, enersyds, en Marthinus Beukes oor die ikonisering van liggaamlike agteruitgang in die bundel Verweerskrif (2006), andersyds. Dit is die bedoeling en hoop om met die insluiting van hierdie artikels in stilet.diskoers die steeds relevante en verhelderende insigte daarin met heelwat meer literatuurondersoekers, sowel plaaslik as internasio-
naal, te deel. 

Die stilet.herbesoek-afdeling bied herlesings van ’n handvol akademiese tekste uit die Krog-oeuvre, en uit hierdie retrospektiewelike oriëntasie word meer nuanse gesien in, onder andere, die diversiteit van Suid-Afrikaanse beleefde werklikheid, talige vernuwing as identiteitsruimteskeppend, verbeeld-heid van vroulikheid en manlikheid, en die wyses waarop Krog-deur-vertaling in gesprek tree met die eko-vrae van ons tyd.

In die eerste herbesoek benader Remona Voges Krog se outofiksionele teks Begging to be Black (2009) as ’n drieluik “waarin ’n wêreld verbeel word waar karakters van diverse agtergronde en uit verskillende periodes van die geskiedenis in dieselfde narratiewe ruimte geplaas word en met mekaar in gesprek tree”. Na aanleiding van Krog se ervarings en indrukke tydens ’n verblyf in Berlyn, word daar in dié teks –  met sy gerigtheid op die problematiek verbonde aan ’n saambestaan in (Suid-)Afrika – geargumenteer dat ’n groter begrip van interverbondenheid en interpretasie deur die lens van ’n Afrika-wêreldbeskouing die moontlikheid bied vir ’n “nuwe soort koherensie” in die Suid-Afrikaanse samelewing.

In “Vernuwende taalgebruik in Antjie Krog se Mede-wete (2014)” dink Geroda McCharlie na oor hoe hierdie interverbondeheid deur – en met – taal geskied. McCharlie verwys hierin pertinent na Krog se “voortdurende gekweldheid met die etiese en estetiese” wat haar betrokkenheid op taal indwing. Hierdie taalvernuwing “fungeer moontlik as tekstuele getuienis van ’n nuwe manier van skryf” vir Krog. 

Met verwysing na Uys Krige se gerugmakende Shakespeare-vertalings, besin Jean Meiring in “In die oog van die storm – ’n Afrikaanse Lear vir nou” oor die geslaagdheid van die vertaalstrategieë wat Antjie Krog aanwend in haar omsetting van Tom Lanoye se Koningin Lear.

Die twee laaste herbesoeke neem gegenderde sigbaarheidstrope onder die loep, deur die ‘lens’ van 2020. In “Die mineurburger en sy imposante stem, maar ook sy verbleikte kraag” skets Wemar Strydom die Terre’Blanche-figuur as a gegenderde skrif van verlepte politieke mag – ’n mag wat bloots voorgehou word in die drie openingsparagrawe van Country of my skull. Hiernaas ondersoek Martina Vitackova in haar artikel “Antjie Krog as trendsetter and boundary pusher: Representations of feminine third age in Afrikaans (popular) culture” verskuiwings in die voorstelling en sigbaarheid van die vroulike derde tydperk in gekose Afrikaanse gewilde tekste.

Dit is die redaksie se hoop dat hierdie Stilet-uitgawe – nes die werk van Antjie Krog – ryke stof tot nadenke en herbesinning sal bied, en iets sal voeg by die gemak(sugtigheid?) waarmee mens ’n daadwerklike
natuurverskynsel benader.

 

Om die pdf-weergawe van hierdie nota af te laai, klik gerus hier.