Outobiografie
Clinton V. du Plessis
“It’s my party, and I’ll cry if I want to
Cry if I want to, cry if I want to
You would cry too if it happened to you.”
– Lesley Gore
Die taal was goed vir my
meer dan die Taal met sy (be)perk en (be)paal
só, lees my verhaal:
hiérdie is my teks
my storie, my versie,
geleef en beleef
eerstehands
net ek sal besluit waar en
wanneer om hierdie monster van onthou finaal nekom te draai
steeds ken ek my plek, in elke gesprek
uit eie keuse loop ek katvoet
daar spoor vooroordeel in my bloed
ek was, anders as Jorik,
in die baarmoeder van ‘n lokasie
tussen die rituele met voorvaders
en die pre-okkupasie met gestorwe geeste
die onwettige biermaak van die shebeens
die offers, met reëlmaat, vir die seën,
bees met mes se blink lem geslag
en die verontwaardige affront van Umlungu
wat meer omgee vir dier dan mens, of hoe?
Die umgidi,
met bloed gekook en stomende vleis in skottels
en pepperboomtak
wat vlieg moes verdryf
en die seun met die man se nuwe trotse lyf
só het ek geleer
leef en laat leef
beleef en meeleef
Maar ook, hierdie ander land se snykant
julle dáár,
kindertjies klein, maar nie-bleek en onrein,
effe weg,
buite die kollig se kief binnekring
na agter
nog bietjie,
na buite
so ja!
dáár na die kant toe en klaar.
Onskuld, ons skuld, skuld,
die toekoms is ʼn onbetaalde tjek.
Jy moet ophou om te onthou
klink die refrein,
kyk net, vorentoe
die toekoms van die Taal is ‘n betaalkanaal
die uitkoms,
nuwe narratiewe, nuwe narre,
nuwe nare broeders,
blas en gebreinspoel met opsies vir voorkeur-aandele
hier kiep-kiep, daar kiep-kiep
‘n ghoema hier, ‘n ghoema daar,
en woerts jy’s binne-in die (nuwe) laer.
Flitse uit my verlede:
die polisie, die Opperman en die flitslig
in die nag en die bruin vrou
met die ligte gelaat, die lippe rooi,
en die groot taboe van die boer wat met die kroeshaar hoer
paar, nakend gevind tussen die wit lakens
by ruskamer, tussen treine, tussen skofte,
mans wat met ysterrooi gelooide begeertes
wag tussen stasies,
ontugtig, dié vrou, met die mooie dogter
met die ligte gelaat
en haar stil man,
wat pakkies op en af van goederetrein laai,
hy wat nooit ʼn woord durf praat
oor sy vrou se lyflike kleurverraad.
Of
die Indiër van Grahamstad wat smous met lorrie
en glimlag en oorleef-Afrikaans moes leer praat
met geduldige vrag groente en vrug
hy wat opskryf op die boek en jou
volgende maand vir hierdie maand se gelag
laat betaal, ʼn goeie Koelie, aldus my ma.
Maar hy moes diskreet geparkeer onder God se bloedige oranje-blanje-blou son
buite die munisipale grens
om die plaaslike handel te beskerm,
só besluit die verkose raad na gebed.
Skakerings van ʼn nuwe land?
die skyn bedrieg, my vriend
kom ons skryf en tell op die man af
los die subtiele showing vir die skryfskole
met voorskriftelike drogredenasies
want:
vreemder as fiksie is onse waarheid
vergun my my swartgalligheid toe, asseblief,
juig en jubel julle gerus
maar weet
daar is geen wederkoms
geen vol vleispotte in treine se eens swierige eetwaens nie.
Die deur skreef oop
ek huiwer, die verlede sit aan my skoensole vas,
soos klei, soos modder, soos gom,
steeds weier ek steeks om te (be)hoort
ongehoord moet my woord bly
Weereens, ek is geen joernalis, geen Jorik
ek is die verwerpte hoeksteen in die taalmonumente
tog , hou ek boek in die nag
flentertjies papier, knipsels,
ek skryf die grootboek op, van reg en onreg
van gee en ontneem
in die laboratorium van die uitnemende woord
kweek hy proefbuisdigters, geneties fyn
die digter se gesig plooi tot erosieslote
op die voorplat van sy laaste bundel.
Ek staan met die ketting en die slot:
ek bepaal nou, hiér is toegang streng voorbehou
hiérdie is my klein heilige ruimte
en, soos die ander hardegatdigter, van weleer, sweer ek:
geen N.G predikant
geen N.B keurder
sal by my graf durf kom …