Hoe kon ons daarvan droom
om ons met taal op te hou in stede
van ’n onwêreldse gegrom
om vleis, vlees; weg te kom van pyn?
Soos ’n pypbom hierdie drukgang
na sy eksplosiewe. “Loop lig,
of stom,” moes ’n toornige god
donder donkiejare voor dié babelse
verwarring. Neuk nie met woorde
alvorens jy jou knikker oor-
bedraad, ’n vonk die kasarm
in ligte laaie van binne af laat op-
gee, wat nog te sê wag
op ’n bliksem genade.