30(1) eggo: Janien Linde

“[E]k het ’n boek van name”: (on)sistematiese benoeming in Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob (2019). ’n Resensie

Janien Linde

Klik hier vir die PDF-weergawe

“ek vra die vreemdheid wat’s sy naam” (p.9). So eindig die aanvangsgedig “Jakob Engelstoeier” in Loftus Marais se nuutste bundel, Jan, Piet, Koos en Jakob (2019). Soos die bundeltitel aantoon, is name, naamgewing en benoeming van die belangrikste tematiese en strukturele merkers. Alhoewel dié vier name ‘n baie spesifieke kulturele, talige en genderkonteks aktiveer, delf die gedigte veel dieper as mensename, en selfs eiename. Die bundel voer ‘n wye maar subtiele gesprek rondom die aksie om ‘n spesifieke woord aan iets toe te ken, om met “die liggaam se vermetelste voortbrengsel, stem” (p.9) die “veelheid vreemdheid” (p.47) te probeer ver-taal. Dit is tegelykertyd ‘n spel met die vermoë van taal om op kreatiewe en metaforiese maniere betekenis aan woorde te heg, en die oneindige afstande wat bestaan tussen tekens en betekenis. Die bundel ondersoek sodoende die betroubaarheid én onbetroubaarheid van taal om menslike ervaring oor te dra.

Die drie motto’s is belangrike rigtinggewers in hierdie verband. Die eerste, uit Ernst van Heerden se gedig “Die bokser” (uit Op die mespunt, ‘n keur uit die gedigte van Ernst van Heerden [1963]), beklemtoon die introspektiewe vraag rondom die “bekende naam”, en ook die voortdurende skyngeveg met die beeld van die self in die spieël. Die tweede, uit “Jan” deur Ina Rousseau (uit ‘n Onbekende jaartal, [1995]), aktiveer ‘n wye verwysingsveld rondom die krag van woorde en wit Afrikanermanlikheid. Die laaste motto is ‘n fragment uit Jacob Polley se “Jack O’Bedlam”. Die gedig verskyn in die bundel Jackself waarvoor Polley in 2016 die gesogte TS Eliot-prys ontvang het. Marais se bundel is in verskeie opsigte verwant aan Polley s’n. Waar Jackself die verskillende Jacks in die Britse kultuur ontgin, gaan Marais se bundel speels om met betekenisvelde rondom vier verskillende Afrikaanse mansname. Beide bundels plaas veelvuldige selwe of identiteite op die voorgrond, terwyl die ek-spreker versteek word agter figure uit kinderverse, idiome en ander kulturele verwysings. Die uiteindelike gevoel waarmee Marais se bundel my gelaat het, is egter nie versnippering en oneindige uitwaaiering nie, maar eerder ‘n waardering vir die veelvuldigheid van invloede wat vanuit verskillende oorde op die individu inwerk en ‘n komplekse netwerkagtige geheel skep.

Daar is iets sistematies, speels-wetenskaplik, aan die manier waarop benaming, klassifisering en beskrywing in die bundel hanteer word. Dink maar aan die gedig “Janolus capensis” [p.20]. Enersyds is die bundel ‘n stelselmatige uitpak (“die almoëndheid van lýs” [p.88]) van al die verskillende Janne, Piete, Kose en Jakobs in die Afrikaanse taal, en verder. Dit is ‘n inventarisering en dokumentering van, in sommige gevalle vergete, name soos dit in die volksmond gebruik word, byvoorbeeld “Jantjie Skuinsdwars” (p.11) vir die suidoostewind, “Piet Lawaai” (p.35) vir ‘n trein, “Piet Langpoot” (p.24) vir ‘n spinnekop en “Bloukoos” (p.88) vir die duiwel. Deur gebruik te maak van sulke benamings, word die kultuur-historiese betekenis daarvan bevestig, maar daar word ook nuwe en onverwagse assosiasies gemaak. In hierdie opsig toon Marais se bundel raakpunte met hoe Marlene van Niekerk in Kaar (2013) omgaan met verouderde vorme van Afrikaans en Diets.

In die gedig “Piet Langpoot” (p.24) word ‘n spinnekop byvoorbeeld beskryf sonder dat die woord spinnekop ooit gebruik word. Die gedig lewer met die volgende woorde kommentaar op die antroposentriese geneigdheid om diere te beskou as ondergeskik aan en tot beskikking van die mens wanneer Piet beweeg en spreker skielik besef dat hy moontlik die spinnekop se bestaan misbruik: “en (ek) hou op om die litte as raamwerk / vir my eie denke te rangskik”. Piet Langpoot is nie slegs ‘n spinnekop wat teen die muur sit en beheers kan word deur die name wat die mens daarvoor gee nie, dit is ook ‘n wese met eie agentskap.

Daar is ook verwysings na versies, grappe, kinderspeletjies en karikature in gedigte soos “Jan Pierewiet” (p.26), “Koos van der Merwe in die galery” (p.36), “Piet Kapater” (p.41), “Jakob-waar’s-die-perde” (p.60), “Piet Snot” (p.78), “Jansalie” (p.79), “Piet Verdriet” (p.80), “Jakob Eensnaar” (p.82) en “Vader Jakob” (p.84). Dan is daar ook ‘n aantal gedigte wat die naamgegewe gebruik om ekfrasties met ander kunstenaars of kunswerke in gesprek te tree, byvoorbeeld “Piet Mondriaan” (p.37), “Die wasvrouens, Peter Clarke” (p.57), “Die bosveldbome van Jacobus Hendrik Pierneef” (p.58) en “Pietà” (p. 85). Op hierdie manier is dit ‘n bevestiging van die komplekse betekeniswaarde wat name dra, soos die volgende versreël uit die gedig “Name” (p.46) aandui: “die name sal in hulle take slaag, ‘n ek en jy / ‘n uitvee en ‘n definisie, oral.”

Die gedigte “Tegnonostalgie 1” (p.30) en “Tegnonostalgie 2” (p.31) neem inventaris van stukke tegnologie wat nog name het, maar nie meer nut nie. Beide is ook besinnings oor die verbygaan van tyd aan die hand van beskrywings van nostalgiese herinneringe aan vhs-kasette en die dot matrix printer. Die spreker kritiseer die haastigheid en ongeduld van die kontemporêre bestaan, en verlang na “fast forward en rewind” want “destyds was naby nog ver”, en tyd het tyd gevat, “lekker lastig”. Die “afskeurstrokies met die gate, altyd in repe” (p.31) van die dot matrix printer is ‘n skelle herinnering aan hoe tyd verbygaan, ‘n mens oud en weerloos raak (“die vasmaakdeel van naambandjies in hospitale”).

Die bundel verteenwoordig ook ‘n onsistematiese en lukrake assosiatiewe spel met die metaforiese, idiomatiese en klankmatige reikwydtes van name. ‘n Netwerk van verbintenisse ontstaan waarin betekenis diversifiseer en verdig, eerder as wat dit vergly. Die name raak nie leeg van betekenis nie, maar kry eerder meer betekenismoontlikhede. Dit is ‘n herskrywing en verbreding van die geykte betekenisse van name, en woorde oor die algemeen, soos uit die volgende reëls afgelei kan word: “ons herskryf die wêreld / néé eerder: bo-oor die stilte rangskik ons dinge anders, weer” (p.46). Woorde en taal word dus nie relatief nie; die herbeskrywende en nuanserende potensiaal daarvan word eerder beklemtoon. Die gedig “Piet X” (p.19) is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Aanvanklik is die gedig ‘n string skerp beskrywings van ‘n stereotipiese “noord-pretoriase donder”. In die vierde strofe neem die gedig egter ‘n wending wanneer beskryf word hoe Piet X daarvan hou om saans meegevoer te luister na “‘unexplained sea sounds’” op sy rekenaar. Die gedig gooi dus sy eie vooropgestelde idees omver en vra peinsend: “wat sê dit dat ‘n wese soos piet x / geroer word deur die tjanke van verbeelde seemonsters?” Alhoewel tradisionele wit manlikheid en “wit bevoorregting (van) ‘n republiekseun” (p.53) in verskeie gedigte ondervra en aan skerp kritiek onderwerp word, skemer ‘n gevoel van medepligtigheid en ‘n simpatieke ingesteldheid elke nou en dan deur, soos wanneer die ek-spreker “ewig en ordentlik afrikaner” luister na die ou man in die Virgin Active-stoomkamer in Randburg wat “op sy nek ‘n muistepel (het) / op byna die presiese plek as ek” (p.53). In die gedig “By Lara se doop” (p.86) word die relatiwiteit en lukraakheid van naamgewing en familieverbintenisse bepeins. Die gedig is egter ook ‘n bevestiging van die onvermydelikheid van ‘n mens se geplaastheid in ‘n sekere konteks. Daarom die gelaagdheid in die reëls “as peetpa is ek effe trots dat lara / se gevreetjie nors en ook verskrik is” (p.53). Die spreker staan krities teenoor die doop en die proses van naamgewing, maar is tog trots daarop om die peetpa van ‘n nuwe familielid te wees.

Dit is interessant dat die aanvangsgedig in die bundel handel oor ‘n engel, en die laaste oor die duiwel. In beide gedigte word die naam, of juis die naamlóósheid, en daarmee saam die mitiese bonatuurlikheid, van die wesens beklemtoon. Name en naamgewing (asook taal in die algemeen) verleen mag aan die spreker (of digter); die geleentheid om te skep, te beheers en te oordeel. “Bloukoos” word in die posisie van God geplaas wanneer hy soek na die aangesprokene se naam in “’n boek van name” omdat hy “nes god verknog (is) aan lyste” (p.88). Maar anders as verwag, word die aangesprokene nie in die hel gewerp wanneer die naam in die boek opgespoor word nie; die einde word eerder ‘n begin. Alhoewel die name in die boek “meestal roep (is) / en nie soos baie mense dink ‘n wens of die geskiedenis of selfs portret nie”, is dit tog “stukke self” en “veelheid lewe”. Uit hierdie gedig spreek die dubbelsinnigheid van name duidelik: die toekenning van ‘n naam is ‘n relatiewe oefening, maar dit dra tog swaar aan betekenis, konteks en geplaasheid.

Om te benoem, is gelyktydig om raak te sien, te herken, eer te betoon, en te beheers. In die gekompliseerde wêreld van vandag, is naamgewing ‘n manier om te verstaan, om betekenis aan iets te gee. Die onkenbare word met taal afgebaken en benoem in ‘n poging om sistematies sin te maak en te verstaan. Dit behels ‘n ontdekkingstog om die self te identifiseer in terme van ander en binne ‘n spesifieke tyd, ruimte en taal. ‘n Naam maak iets of iemand bekend soos “’n klippertjie onder (die) tong […] teen die dinge wat […] pla” (p13), maar dit steel ook die misterie en opwinding daarvan, maak dit “klein en nat ‘n harde konsentraat”. In die gedig “Heet” (p.51) is die minnaar se naamloosheid opwindend en geheimsinnig. Wanneer die spreker wel sy naam voor in sy bybel lees, is die ontdekking ontluisterend, maar ook opwindend en besonders, asof die spreker ‘n smokkelaar in besit is van ‘n waardevolle geheim; “kontrabande”.

In hierdie vernuftige bundel is die manier waarop met name, naamgewing en identiteit omgegaan word deurentyd ‘n produktiewe, skeppende en indrukwekkende balanstruuk: “heelal opgedeel / in punte a en punte b / en kuns is slegs / die spanning / – net-net houdbaar – / tussen daardie twee.” (p.83).

 

stilet.eggo-resensie deur Janien Linde vir 30(1&2) Novum

 

Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Loftus Marais

Kaapstad: Human & Rousseau, 64 pp.

ISBN: 9780798177177