30(1) eggo: Dewald Koen

Vele fasette van manlike identiteit in Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Dewald Koen

Klik hier vir die PDF-weergawe

Watter geheimenisse lê opgesluit in ’n eienaam? Dit is met laasgenoemde vraag in gedagte dat ek Loftus Marais se derde bundel met die “onpoëtiese titel” (soos verskeie resensente reeds daarna verwys het) begin lees. Alhoewel die titel “onpoëties” daarna uitsien vergeleke met sy debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) asook Kry my by die gewone plek aguur (2012), dra die titel bestaande uit Afrikaanse manlike eiename op konkrete wyse by tot een van die kerntemas van die bundel naamlik manlike identiteit. Wie is hierdie Jan, Piet, Koos en Jakob na wie die spreker in die titel verwys?

Die voorblad aktiveer die beeld van die leser as voyeur wat deur ’n gat na binne (of buite) kyk. Hierdie beeld kan ook as gloriegat (glory hole) beskou word – die manlike voyeur wat seksuele kontak begeer sonder om sy identiteit te openbaar. Die oorvleueling van kleure sinspeel verder op die kaleidoskopiese beeld van manlike identiteit soos deur die spreker in sy gedigte verwoord word. In die gedig “Op soek” in sy debuutbundel skryf Marais soos volg: “leser, ek’s op soek na ’n gedig/ poësie is ’n perversie:/ ek’s gedeeltelik draadtrekker en dief/ maar altyd eerstens voyeur” (2008:42). Die tema van laasgenoemde gedig spoel oor in sy jongste bundel waarin manlike identiteit deur middel van vernuftige woord-, vorm-, en klankspel ondersoek word.

Die vele gedaantes van manlike identiteit word in Jan, Piet, Koos en Jakob ten toon gestel. Alhoewel die meerderheid gedigte fokus op die seksuele identiteit van die manlike homoseksueel, stel Marais ook ondersoek in na die manlike psige. In “Piet X” (19) kom die “middeljarige en harige rekruut van daardie ligte/ afstigting bearbei deur die solidariteit-beweging […]” aan die woord. In hierdie treffende vers lewer die spreker kommentaar op die Afrikanerman en die soms bevooroordeelde en oppervlakkige wyse waarop hy deur die samelewing getakseer word. Deur middel van ’n wending lei die spreker die leser na die onsigbare gedaante wat onder die oppervlak skuil:

tog: dikwels saans gaan sit hy by sy rekenaar en lees

en luister op die internet na al die “unexplained

sea sounds” – meegevoer, met stuyvesant en frons […]

In kontras met “Piet X” versinnebeeld “Geldpiet” (39) die manlike drang tot mag en sukses en lewer terselfdertyd kommentaar op die meer konserwatiewe identiteit van sommige Afrikanermans: “[…] uit stellenbosse koshuis uitgeraffineer/ tot ’n meneer, hy wikkel sy maroen das vas/ en glimlag as hy lees oor stakings/ in ’n land vol werkloosheid – weet die mense/ nie hoe wérk die wêreld nie?”.  Marais het ’n fyn aanvoeling vir die vele fasette van veral die Afrikanerman en verleen deur middel van die spreker ’n stem aan verskillende manlike identiteite – hetsy magsugtig, konserwatief, sensitief of net bloot afgestomp en teleurgesteld met die gang van sy lewe. In die distigon “Koos van der Merwe by die huis” (43) verwoord die spreker die verlies van identiteit: “die ergste is as hy saans neurie in die stort/ sy stem wat soos ’n ander man s’n word”. Die digter is in aanvoeling met die sosio-politiese atmosfeer in postapartheid Suid-Afrika.

Seksuele identiteit word vanuit die gay man se perspektief verken. Weereens slaag Marais daarin om ’n balans te handhaaf tussen die eksplisiete liggaamlike bedryf van liefde en die meer intieme, emosionele aspek van manlike gay verhoudings. In “Jan Pikbroek / Janmaat” (12) tree Marais op intertekstuele vlak met Tom of Finland in gesprek en verken die erotiese aspekte verbonde aan manlike identiteit. In “Verlief/ “Petrus”[”] (13) verwoord die spreker manlike intimiteit soos volg: “my pa het soms as hy gaan draf/ ’n klippertjie/ onder sy tong gesit teen miltsteek/ net so hou ek teen die dinge wat my pla/ jou naam in my mond/ dis klein en nat ’n harde konsentraat/ ’n pit ’n saad. simpel boereraat”. Verdere aspekte van manlike seksualiteit kom aan bod in “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (52) terwyl die verganklikheidsmotief op humoristiese wyse deur middel van ’n Aucamp-parodie in “Studentikoos” (72) verwoord word: “geheuwel, ek, die ouman/ wat staan in oumanland,/ ’n kleine rhodeskolossus/ my slimfoon in een hand”.

Naas manlike identiteit fokus Marais in dié bundel ook op temas soos verbruikerskultuur en om tuis/ontuis in Suid-Afrika met sy vele sosio-politiese uitdagings te wees. Marais se humoristiese stem skep ’n balans tussen meer navrante verse soos “Vertalings van ’n Amerikaner” (33) waarin die spreker afskeid neem van ’n geliefde en “Botsing” waarin ernstige vrae oor die menslike psige binne die Suid-Afrikaanse konteks geopper word. In die gedig “Die groot digteres probeer parkeer” (15) demonstreer Marais op humoristiese wyse sy digterlike vernuf deur middel van sy fyn waarnemingsvermoë en beheersde tegniek: “[…] beroomde vingers/ om die stuur en dan die diep spondee van twee/ stámpe met die band teen randsteen, hemel help,/ terwyl die oggend se verkeer in sag bebriekligte enjambemente/ werk toe gly, gee sy uiteindelik op: bumper tot doer/ oor die teer en koos die karwag skree/ vir hierdie hertzogpryswenner: “ek checkit vir jou, my miesies!”. Ook die abjekte aspekte van manlike identiteit word verwoord in “Jan Pierewiet” (26) waar die manlike figuur homself in die spieël betrag: “[…] grawe in sy naeltjie, ruik/ sy vinger en geniet die stank”.

Jan, Piet, Koos en Jakob is ’n geslaagde samevoeging van kranige woordvernuf en digterlike tegniek – ’n bundel wat nie alleen insiggewende sosiale kommentaar lewer nie, maar veral die talle fasette van manlike identiteit deur die spreekwoordelike loergat bekyk. Op vernuftige wyse plaas Marais die soeklig op elke spreekwoordelike Jan, Piet, Koos en Jakob op soek na die “wie” wat agter die eienaam skuil. Met dié bundel vestig Marais homself stewig as digter binne die Afrikaanse literêre kanon.

 

stilet.eggo-resensie deur Dewald Koen vir 30(1) Novum

Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Loftus Marais

Kaapstad: Human & Rousseau, 64 pp.

ISBN: 9780798177177