Antjie Krog as buitestander en die behoefte aan ’n Afrika-perspektief in Begging to be Black (2009)

Remona Voges

remona@proteaboekhuis.co.za 

 

Begging to be black is ’n ondersoekende teks wat deur die vervlegting van verskillende narratiewe poog  om “’n gemeenskaplike basis te vind waarvolgens mense in Suid-Afrika met mekaar kan saamleef”  (Viljoen, 2016a:597). Die teks is gestruktureer in die vorm van ’n drieluik waarin ’n wêreld verbeel word  waar karakters van diverse agtergronde en uit verskillende periodes van die geskiedenis in dieselfde  narratiewe ruimte geplaas word en met mekaar in gesprek tree. Op dié wyse poog Krog om konsepte  soos “becoming minor” te verklaar. Sy doen dit deurlopend binne ’n nuwe raamwerk, wat gefundeer  is in die Afrikafilosofie: “this text weaves together seemingly disparate fragments in an attempt to  identify a common framework by which South Africans can live interconnected and morally respon sible lives” (Viljoen, 2012:15). 

In Begging to be black worstel die outobiografiese skrywer as wit Afrikaner deurlopend met ’n gevoel  van buitestanderskap in ’n post-apartheidsamelewing in Suid-Afrika. Krog kontrasteer die koherensie  wat sy tydens haar verblyf in Berlyn ondervind met die Suid-Afrikaanse samelewing waarin genoemde  koherensie totaal ontbreek (vgl. Krog, 2009:124). 

Bogenoemde koherensie verwys na die feit dat Duitsers met mekaar verbind is deurdat hulle ’n taal,  kultuur en geskiedenis deel (Viljoen, 2012:16). In Suid-Afrika, waar groepe van verskillende dele van die  samelewing sukkel om met mekaar saam te leef, ontbreek ’n soortgelyke koherensie:

[…] we realize we have nothing in common – not what we read, not what we speak, not what we write,  not what we sing, not whom we honour. Nothing binds us. Our daily Third World lives are broken into  hundreds of shards of unrooted, incoherent experiences. (Krog, 2009:125) 

Die outobiografiese skrywer se gevoel van ontworteling (’n metafoor wat soos ’n goue draad deur die teks loop) word toegeskryf aan die feit dat Krog (as wit Afrikaanssprekende) tot en met die Suid-Afrikaanse politieke omwenteling in 1994 in ’n geslote, koherente wêreld gefunksioneer het. Dié vals sentiment word verduidelik as tipies van gekoloniseerde lande, waar koloniseerders dikwels hul eie koherensie vanuit ’n posisie van mag ‘skep’ (vgl. Krog, 2009:126). Die nuwe Suid-Afrika het bogenoemde koherensie en gepaardgaande gevoel van “behoort” egter omvergegooi deurdat Afrikaners hulself skielik te midde van ’n “gradually selfasserting Black majority” bevind het: “So Afrikaners, who have so easily appropriated the land and the continent, found themselves in a new kind of post-colonial  dynamic and are still reeling and deeply resentful about the incoherence of their lives” (Krog, 2009:126). 

Tydens Krog se verblyf in Berlyn probeer sy die redes vir die gebrek aan samehang tussen wit en swart  mense in Suid-Afrika naspeur. Sy kom tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrikaners se onvermoë om  mekaar te verstaan, toegeskryf kan word aan die feit dat daar telkens na morele en etiese kwessies  gekyk word vanuit verskillende morele raamwerke. Die een raamwerk is gefundeer in die Westerse  tradisie waar die individu en persoonlike belang sentraal staan; die ander raamwerk is gefundeer in die  Afrika-filosofie van ubuntu waarvan ’n gemeenskapsgerigte lewensfilosofie die hoeksteen vorm. 

Krog verduidelik bogenoemde twee raamwerke aan die hand van ’n metafoor van wortelsisteme.  Dié metafoor word reeds deur die afbeelding op die voorblad van Begging to be black aangekondig.  Daar bestaan twee tipes wortelsisteme, naamlik dié van ’n penwortel en dié van ’n diffusiewortel.  Eersgenoemde bestaan uit ’n enkele hoofwortel wat ondertoe skiet, wat volgens Krog ’n metafoor vir  die individualistiese Westerse benadering tot die lewe is. ’n Risoom se wortelstelsel vertak in verskil lende rigtings om die plant te anker; vir haar kan dit dien as ’n metafoor vir die kollektiewe aard van  Afrika-gemeenskappe (vgl. Krog, 2009:216). 

Krog bring bogenoemde metafoor in verband met die konsep “interverbondenheid”, wat gebaseer is  op die beginsel van samehorigheid wat deur alle lede van die gemeenskap gevoel word, “de uitdrukking  van een intense en intieme verbondenheid”, soos Renders (2012:79) dit stel. Hierdie metafoor word  uiteindelik voortgesit in haar bundel Mede-wete (2014).  

Krog is van mening dat ’n groter begrip van interverbondenheid en interpretasie deur die lens van ’n  Afrika-wêreldbeskouing die moontlikheid bied vir ’n “nuwe soort koherensie” in die Suid-Afrikaanse  samelewing (Van Niekerk, 2015:161). Sy verwerp Westerse raamwerke omdat dit haar verhoed om werklik die ander te kan verstaan en omdat hulle in effek “useless and redundant” (Krog, 2009:93) is.  Sy skryf verder in dié verband: “I do not want to have a Western perspective on Mugabe; I want an  African perspective. I am trying to work out what that is” (Krog, 2009:93). 

Krog beskou die bekende negentiende-eeuse Afrika-leier Koning Moshoeshoe (ook bekend as die “the  Binder-together” vir sy vermoë om mense byeen te bring – vgl. Krog, 2009:81) as ’n voorbeeld van  iemand wat interverbondenheid-tot-heelheid op staatkundige vlak toegepas het in ’n maatskappy  waarin die heelheid van die lewe sentraal staan. Deur haar navorsing oor hom kry sy “toegang tot de  leefwereld van de Afrikaan en krijgt ze inzicht in diens wereldbeeld” (Renders, 2012:79). Krog wend die  karakter van Moshoeshoe aan om die moontlikheid van ’n breë en inklusiewe gemeenskap te demon streer. Deur dié historiese narratief kontrasteer Krog Afrika-kollektivisme (soos verteenwoordig deur  Koning Moshoeshoe) met Westerse individualisme.  

Laasgenoemde word in die geval van Krog se bespreking verteenwoordig deur die Franse sendeling  Eugène Casalis. Net soos Casalis wil Krog deel voel van die breë swart gemeenskap in Kroonstad, maar  haar pogings is relatief vrugteloos omdat sy nie daarin slaag om te ontsnap uit die geïsoleerde “heart  of whiteness” (Krog, 2009:154) nie. Gevolglik voel sy soos ’n kangaroe (’n uitheemse dier) in Afrika (vgl.  Krog, 2003:274). Ook Casalis het in die negentiende eeu probeer om saam met die ander te leef, maar  sy Westerse en Christelike perspektief verhoed hom om volkome deel van die Afrika-gemeenskap te  raak. Omdat Moshoeshoe dinge vanuit ’n ander raamwerk beoordeel het, kon Casalis hom in werk likheid nie verstaan nie: “Casalis […] intelligent, sensitive and deeply fond of Moshoeshoe as he was,  seemed unable to grant Moshoeshoe a position of integrity if it was not founded in Christianity” (Krog,  2009:85). 

Een van die verhaallyne in Begging to be black is ’n herskrywing van die geskiedenis wat Krog ook in  Relaas van ’n moord (1995) vertel het. Deur dié narratief demonstreer die skrywer watter beduidende  verskil benaderings vanuit ’n ander raamwerk as die tradisionele Westerse raamwerk tot ’n mens se  interpretasie van bepaalde kwessies kan maak. Bogenoemde narratief handel oor hoe Krog as jong  aktivis teen haar sin by die moordsaak van ’n bendelid in haar tuisdorp, Kroonstad, betrek is. In die  oorspronklike weergawe van die verhaal, soos dit in Relaas van ’n moord verskyn, besluit sy om die  moordsaak by die polisie aan te gee. In Begging to be black pas sy die einde van die verhaal aan deurdat  sy besluit om nie polisie toe te gaan nie. Sy maak hierdie keuse deur die gebeure te interpreteer en te  probeer verstaan vanuit ’n Afrika-perspektief.  

Krog se raamwerk van interverbondenheid-tot-heelheid het tot gevolg dat haar morele en etiese  houding teenoor die moordsaak dramaties verander. Sy kom tot die gevolgtrekking dat as ’n misdaad in die belang van die gemeenskap gepleeg word, dit nie as ’n immorele daad beskou kan word nie  (vgl. Renders, 2012:81 se kritiek hierop) en dat waardeoordele dus berus op die vraag oor wat reg of verkeerd is vir die betrokke gemeenskap (vgl. Eze, 2014:244; Rein, 2011:14). Krog se herinterpretasie van die gebeure rondom die moord wys volgens Robbe (2016:330) op ’n ontwikkelende perspektief in Krog se skryfwerk. Die herskrywing en herinterpretasie van die oorspronklike gebeure vanuit ’n Afrika-perspektief in Begging to be black is verder tekenend van hoe Krog haar eie identiteit as wit Suid-Afrikaner probeer herverbeel, in ’n poging om ’n opregte begrip vir die Ander te kry en sodoende deel te word van die breë gemeenskap.  

Uit die bogenoemde blyk die suggestie dat dit vir alle wit Suid-Afrikaners moontlik is om te ontwikkel in die rigting van interverbondenheid. Daar is ook die suggestie dat Westerse en Afrika-perspektiewe  saam kan bestaan, indien daar gepoog word om die verskillende raamwerke te verstaan.  

 

Bronnelys 

Eze, C. 2014. Rethinking African culture and identity: the Afropolitan model. Journal of African cultural studies, 26(2):234-247. 

Krog, A. 1995. Relaas van ’n moord. Kaapstad: Human & Rousseau. 

Krog, A. 2003. A change of tongue. Johannesburg: Random House. 

Krog, A. 2009. Begging to be black. Cape Town: Random House. 

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau. 

Rein, B. 2011. “Where I become you” – A practical theological reading of Antjie Krog’s concept of  interconnectedness. Supplement, 52(1):8-16.  

Renders, L. 2012. Op zoek naar Afrika: Over Begging to be black van Antjie Krog en andere recent  verschenen autobiografische teksten van Afrikaanse auteurs. Werkwinkel, 7(1):73-95. 

Van Niekerk, J. 2015. Om te hoort: aspekte van identiteit in Antjie Krog se transformasie-trilogie.  Ongepubliseerde doktorale proefskrif: Universiteit van Pretoria. 

Viljoen, L. 2012. Representing post-apartheid South Africa: mothers, motherlands and mother  tongues in the work of selected Afrikaans women writers. In: Boehmer, E. & De Mul, S., reds. The Postcolonial Low Countries. Literature, Colonialism, Multiculturalism. Lanham: Lexington Books. pp. 139-162. 

Viljoen, L. 2016. Profiel: Antjie Krog ná 1998. In: Van Coller, H.P., red. Perspektief en Profiel. Deel 2.  Pretoria: Van Schaik. pp. 587-600.

 

 

Hoe om na hierdie herbesoek te verwys: Voges, R. 2019. Antjie Krog as buitestander en die behoefte aan ’n Afrika-perspektief in Begging to be Black (2009). Stilet, 30(3):146-149. 

© 2019. Die outeur.

Om die pdf-weergawe van hierdie herbesoek af te laai, kliek gerus hier.