Bly te kenne

deur Hermoine le Roux

 

Ek het werklik nie geweet hoe om te wys dat ek nie die gewone tipe dosent is nie. Ek pas nie lekker in die vorm van die traditionele (sommige sou aanvoer stereotipe) Afrikaner nie. Ek eet nie boerewors nie, ek hoort nie aan enige kerk nie, ek luister nie Kurt Darren of Die Antwoord nie. Bowendien is ek ook transgender.

“Soos Caitlyn Jenner?” Dis ’n vraag wat ek vreeslik baie kry van kollegas en vreemdelinge af, as hulle natuurlik weet wie Caitlyn Jenner is. Ongelukkig is sy die prototipe van transgenderisme in die Engelssprekende wêreld, wat Suid-Afrika insluit. Jy hoef net op die internet te gaan kyk om te sien dat sy nie baie populêr is onder transgender mense nie. Laverne Cox is ’n baie beter rolmodel, maar dit daar gelaat.

Die ongeluk is natuurlik dat die “T” in LGBT+ ’n minderheidsgroep binne die minderheidsgroep is. Selfs ’n paar van die hooggeleerdes (beide hetero en homo) het geen idee gehad wat “transgender” beteken nie. Ek moes vir ’n paar van die hooggeleerdes verduidelik wat dit beteken, want hulle het (dalk) net ervaring met gay mans of lesbiërs. Ek wil nie eers dink hoe dit sou wees om die konsepte “nie-binêr” of “agender” te verduidelik nie.

Ek is eintlik gelukkig, want my kollegas gee werklik nie om wat in my persoonlike lewe aangaan nie. Daar is nou en dan iemand wat jou ’n vraag gaan vra wat besonder persoonlik is, maar ek voel geen verpligting om so iets te beantwoord nie, want vele keer is só ’n vraag oor iets onder die belt.

Ek is ook gelukkig, papierwerk tersyde, dat almal my sien as myself en nie meer as “hy” nie. Maar met die vryheid waarmee ek leef, kom daar ook vrese. Ek vrees dat ek dalk oor die telefoon soos ’n man gaan klink, wat ek eintlik nie hoef te vrees nie. Ek vrees dat iemand vir my “sir” gaan noem omdat ek nie “vroulik genoeg” lyk of voorkom nie. Natuurlik is die grootste vrees wat ek het: die badkamer. Konserwatiewer kollegas sou nie begryp waarom ek die damesbadkamer wil gebruik nie, so ek knyp heeldag of ek gebruik ’n badkamer twee vloere na benede. Dis toevallig dieselfde mense wat sal sê “hy” in plaas van “sy”.

Ek sal ook nie weet hoe groot, indien enige, impak ek gehad het op my kollegas of my instansie nie, want ek’s nie geseënd met goeie sosiale vaardighede nie. Dis seker waarom ek bekommer oor dinge wat soms nooit ’n bekommernis was nie.

Wanneer jy trans is, kom jy twee tipes mense voor: mense wat jou as mens wil ken en mense wat jou sien as ’n lewende, lopende eksperiment. Die mense wat vir jou omgee gaan ook soms vreeslik persoonlike vrae vra, maar dis bloot om seker te maak dat jy nog op die regte pad is. Diegene wat jou behandel soos ’n lopende eksperiment gee werklik nie om oor jou as mens nie en het ’n morbiede fasinasie met wat tussen jou bene is.

Ter illustrasie, ’n kollega vra ander dag hoe ek en my partner “dit doen”. Natuurlik is die ’n baie flou eufemisme en ek’t op ’n vreeslik beleefde wyse vir haar gaan sê sy kan gaan spring. In teenstelling daarmee natuurlik is daar ander kollegas wat my nog altyd met deernis en ordentlikheid behandel het en ek’s hulle ewig dankbaar. Hulle vra my nie sulke goed nie en gewoonlik wanneer ons “daaroor” (nog ’n flou eufemisme) praat, dan is dit die PG weergawe.

Dit is alles goed en wel, maar gender en oriëntasie is iets wat maklik misgekyk word in die nuwe Suid-Afrika waar almal gelyk is, maar sommige nog meer gelyk is as ander (met apologie aan Mnr Orwell). Daar’s vreeslik baie diskriminasie, beide intern en ekstern, teenoor die LGBT+ gemeenskap. Dis ook alles goed en wel dat my familie, vriende en kollegas my sien as myself, maar die “establishment” sien my steeds as ’n man. ’n Wit, Afrikaner man.

Dis wonderlik as jy ’n transgender persoon wil verstaan. Dis wonderlik as jy al “The Danish Girl” of “A Girl Like Me” gekyk het of Anastacia Tomson se boek al gelees het. Dis meer as wat meeste mense sal doen. Dit gee jou wel nie ‘n “all access pass” tot die person se persoonlike lewe nie en nog minder gee dit jou toestemming om uiters persoonlike vrae te vra.

Glo dit of nie, ek en vele ander mense in die LGBT+ gemeenskap raak eintlik moeg daarvoor om heeltyd ons stories te vertel. Ons raak moeg daarvoor om ons bestaan te verdedig. Ek reken die Afrikaansdosent het ’n soortgelyke ervaring: “Ek doseer Afrikaans. Nee, ek luister nie Die Antwoord of Kurt Darren nie. Nee, ek is nie ’n rassis nie. Nee, ek ken nie jou tannie in Kakemas nie.” En om hemelsnaam, moet nooit vir my sê dat ek braaf is nie. Ek is nie.

As jy my dalk eendag ontmoet, vra my liewer watter boeke ek onlangs gelees het of oor my klipversameling. Ek reken dis iets wat jy nie sou verwag het nie. My klipversameling is slegs een van die dinge wat wys dat ek baie meer as bloot net ’n etiket is of ’n stereotipe is. Die samelewing sê “Afrikaansdosent” of “transgender vrou”. Ek sê: “My naam is Hermione. Bly te kenne.”

 

Lees meer oor die skrywer, hier. Hierdie stilet.digital exclusive is ook te lese in Engels, hier.