Die “doodstil wit Afrikaner” kry stem: Wit subjektiwiteit in die feministiese reisverhaal In my vel (2019)

Delia Rabie

 

In my vel (2019) deur Azille Coetzee word op die voorblad van die boek beskryf as “ ’n reis”. Aan die een kant is die boek ’n soort outobiografiese reisverhaal waarin die skrywer haar verblyf van 22 maande in Nederland in oënskou neem. Aan die ander kant is die boek ’n filosofiese besinning van politieke kwessies wat, aan die hand van haar verhouding met twee karakters, C en die Nederlander, aan die leser voorgedra word. In my vel kan dus gelees word as ’n soort feministiese reisverhaal waarin die skrywer haar eie posisie as wit, Afrikaanse vrou in Nederland en postapartheid-Suid-Afrika bedink.

In die essay “What women’s eyes see” (1976:50) vra Viviane Forrester die vraag: “How do [women] carve, invent, decipher the world?”. Louise Viljoen (2009:75) voer aan dat die dagboeknarratief hierdie stem gee aan die vroulike skrywer se perspektief op die wêreld, deurdat dit dikwels ’n “self-ondersoek, self-onthul-ling en self-ekspressie [is]”. Volgens Carl Thompson (2011) funksioneer vroueskrywers se reisverhale op dieselfde manier. Reeds met die daad van skryf, ondermyn hierdie reisverhale die patriargale ideologie dat vrouens nie die “restlessness, freedom of movement and a taste for adventure” (Thompson, 2011:168) kan beleef soos manlike reisigers nie.

Hierbykomend het vroueskrywers dikwels (maar nie noodwendig nie) “distinctive ‘feminine’ characteristics” (Thompson, 2011:172) wat in hulle reisverhale nagespeur kan word. Hierdie “feminine characteristics” (Thompson, 2011:172) is ook te vinde in In my vel, te same met ’n duidelike feministiese invalshoek. Dit word veral pertinent met die enkele liriese oomblikke, die fokus op vroulike seksualiteit en die gebruik van intiem-persoonlike ervarings.

Buiten haar ervaring as vroulike reisiger, bespreek Coetzee ook haar eie witheid. ’n Interessante interseksie tussen vroulike subjektiwiteit en witheid vind dus in In my vel plaas. Volgens Thompson (2011:173) word die interseksie(s) tussen geslag en ander sosiale faktore, soos dié van ras en klas, dikwels ondersoek in die reisverhale van vroueskrywers. Wat kenmerkend van In my vel is, is egter die bepaalde self-kritiese ondersoek wat die skrywer aanpak. Die self-kritiese aard van die reisverhaal is nie ’n gegewe in die dagboekinskrywings of reisjoernale van manlik-identifiserende outeurs nie. Inteendeel word die reisjoernale van manlike skrywers juis gekenmerk deur ’n soort selfversekerde manlikheid. Thompson (2011:173) noem die tradisionele reisjoernaal ’n “important mode or rite of masculine self-fashioning”. Ek dink byvoorbeeld aan die werke van Dana Snyman waarin die protagonis vrylik beweeg en teen die einde van sy verhale ook ’n aanvaarding van sy (wit) identiteit beleef (Pereira, 2010:149), maar nie noodwendig sy manlikheid krities benader nie. Teenoor Snyman, of byvoorbeeld Gerrit Rautenbach, is Coetzee oor haar geslag en witheid self-reflektief en veral self-krities.

In die eerste hoofstuk van In my vel, “Wie ben ik”, stel Coetzee haar soeke na identiteit met die intreeslag op die voorgrond. Aanvanklik voel sy “te wit vir Afrika, [maar] nie heeltemal ‘wit’ genoeg vir Europa nie” (Coetzee, 2019:11). Sy los haar Suid-Afrikaanse partner van sewe jaar, koop nuwe klere en vind uiteindelik ook ’n Nederlandse man saam met wie sy haar nuwe lewe van vryheid en veiligheid in Amsterdam kan aandurf. Sy streef om, soos die ideale Nederlandse vrou, “solied haar plek in die wêreld vol [te staan]” (Coetzee, 2019:14). In die hoofstuk “Kolonialiteit” besef Coetzee egter dat Europa nie haar “tuiste” is soos wat in Suid-Afrika aan haar voorgehou is nie. Ten spyte daarvan dat sy wit is, en dat haar moedertaal amper klink soos Nederlands, word sy vinnig “genees […] van enige illusies oor [haar] eie Europeesheid” (Coetzee, 2019:34). Sy kan nie “solied haar plek” (Coetzee, 2019:14) inneem nie, want sy benodig ’n Nederlandse partner om aansoek te doen vir ’n partnervisum. Hierdie partner moet haar ook “fasiliteer” in haar kulturele transformasie van Afrikaner na Nederlander (Coetzee, 2019:64). Hierdie wending waarin Coetzee in ’n soort tweestryd tussen Suid-Afrika en Nederland is, dui die begin van die skrywer se filosofiese besinning oor, onder andere, wit bevoorregting, nasionalisme, vroulikheid, manlikheid en rassisme aan.

Coetzee begin om haar identiteit krities te ondersoek deur eerstens haar voorouers se betrokkenheid by Afrikanernasionalisme te bestudeer. Terwyl hierdie gegewe by ander skrywers soms in die abstrakte geskied, is dit meer konkreet-materieel vir Coetzee. Sy besef dat haar Oupagrootjie se stryd vir “die opvoeding van die [wit] dogters” (Coetzee, 2019:72) deel uitmaak van die Carnegie-kommissie se bevordering van sogenaamde armblankes. Haar analise en uiteensetting van die komplekse geskiedenis van die Afrikaner ondermyn eerstens wat Tiffany Willoughby-Herard (2015:6) die Afrikaner se “immitation narrative” noem. Eerder as die verhaal van vooruitgang en sukses, word die leser (en Coetzee self) gekonfronteer met die geskiedenis van die Afrikaner se armoede. Hierdie geskiedenis kompliseer die voorgestelde beeld van ’n homogene, ongeproblematiseerde witheid.

Met haar kritiese benadering tot die narratief van sogenaamde armblankes, verhoed Coetzee egter ook om in die strik van “uplift feminism” (Willoughby-Herard, 2015:80) te trap. Willoughby-Herard (2015:80) kritiseer hierdie ‘projek’ van die wit Afrikaanse vrou om wit Afrikaners uit armoede te probeer help. Willoughby-Herard (2015:80) gebruik M.E. Rothman as ’n voorbeeld van hierdie wit Afrikaner vrouens. Sy voer aan dat wit Afrikaner-vrouens politiese opgang gemaak het in ’n eksklusief-manlike ruimte deur beheer te neem oor die lewens van arm, wit Afrikaners: “Upper-class women were driven by what I call ‘uplift feminism’, which guaranteed them public political identities and the role of ‘policing’ the bodies of the poor” (Willoughby-Herard, 2015:80). In teenstand met die projek van byvoorbeeld Rothman, besef Coetzee (2019:73) dat hierdie ‘projek’ wit Afrikaners se “entitlement” aandui, veel eerder as hulle barmhartigheid of nasionalistiese sukses. Hierbykomend word die Afrikaner se “imitation narrative” (Willoughby-Herard, 2015:6) van sukses deur Coetzee se kritiese benadering tot haar persoonlike verlede afgebreek. Sy het grootgeword in die wit voorstad Belville, skool gegaan op Hoërskool D.F. Malan, en in Harmonie-koshuis gebly toe sy op Stellenbosch Universiteit was. Al hierdie ruimtes is die Afrikaner-ruimtes, die “middelklas […] wit kokon” (Coetzee, 2019:39), waaruit sy juis probeer ontsnap. Hierdie self-kritiese aspek maak deel uit van die skuld wat sy as wit Afrikaner in post-apartheid Suid-Afrika ervaar. Soos reeds kortliks hierbo
genoem is, staan hierdie self-kritiese skuld in duidelike kontras met die dikwels selfversekerde reisjoernale van manlik-identifiserende Suid-Afrikaners, soos dié van Snyman. Waar Snyman homself byvoorbeeld identifiseer as ’n lid van ’n soort wit tribe (La Vita, 2007:11), beskryf Coetzee (2019:35) juis bepaalde wit Afrikaners se aanspraak op die Afrikalandskap as “opportunistiese manteldraaiery”.

Teen die einde van haar verblyf in Amsterdam besef sy dat Nederland haar nie “’n meer morele bestaan” (Coetzee, 2019:114) bied nie, maar dat sy eerder haarself insuleer teen die armoede en wit skuld in Suid-Afrika. Mary West (2009:32) voer aan dat wit normatiwiteit in stand gehou word deur die “embodiment of certain ideals of the west”. Volgens West (2009:3) beskryf wit vroueskrywers wit identiteit as ’n “largely unconscious and thus unexamined set of assumptions, and a concomitant sense of entitlement”. In In my vel draai Coetzee as ’t ware teen die Westerse ideaal wat Nederland vir haar verteenwoordig het. Sy besef dat haar lewe in Nederland slegs moontlik gemaak is deur “eeue se slawerny, kolonialisme en ’n steeds voortgaande kolonialiteit” (Coetzee, 2019:117). Sy besef ook dat Nederland nie verantwoordelikheid neem vir hulle bydrae tot Suid-Afrika se geskiedenis nie. Haar Nederlandse partner vra byvoorbeeld wie Jan van Riebeeck is, en raai haar aan om ’n sielkundige te gaan sien oor haar “chroniese skuldgevoelens” (Coetzee, 2019:107). Sy besluit dat haar verblyf in Nederland noodwendig sou beteken dat sy ook nie verantwoordelikheid vir haar bydrae tot die omstandighede in Suid-Afrika neem nie: “die antwoord vir my is nie om my witheid te probeer afskud tussen ’n klomp ander wit mense in Nederland nie. Skud soos jy wil, dis daardie onsigbare witheid wat die hardste kleef, die swaarste weeg” (Coetzee, 2019:118).

Alhoewel hierdie gegewe resoneer met akademiese werk oor witheid (soos dié van Willoughby-Herard en West), vermy Coetzee egter die ontoeganklikheid van akademiese taal wat dikwels in kritiese opstelle van aktiviste, teoretici en filosowe gebruik word. Hoewel sy ook aanhalings deur Steve Biko, Ndjabulo Ndebele en Antjie Krog gebruik om wit bevoorregting en wit identiteit te analiseer, vermy sy hierdie ontoeganklikheid deur kwessies van die “wit Afrikaner-entitlement” (Coetzee, 2019:73) in verband te bring met persoonlike (en dikwels intieme) ervarings. Sy maak byvoorbeeld die opinies van haar vriende, soos dié van Ann, Elma of C aan die leser bekend. By ’n intieme verjaarsdagpartytjie konfronteer sy ook ’n mede-ekspat se opvatting oor die herkoms van Afrikaans. Hierdie konfrontasie met ’n mede-Afrikaner bereik ’n hoogtepunt waarin Coetzee beide poëties en gefrustreerd raak met konsepte van taligheid en kultuurherkoms: “Afrikaans is nie óf óf nie, dis én én. Ek is nie óf óf nie, ek is én én. Vra die taalkundiges, Danie, vra hulle” (Coetzee, 2019:80).

Met die gebruik van hierdie liriese oomblik, sowel as die uitbeelding van intieme gesprekke en byeenkomste, bly Coetzee getrou aan die intimiteit wat reisjoernale deur vroueskrywers kenmerk. Tydens hierdie intieme oomblikke erken sy ook aan die leser dat sy self ’n ambivalente posisie beklee. Aan die een kant is sy die wit Afrikaner wat weens haar bevoorregting die geleentheid gegun word om in Nederland te bly, en om krities daaroor te dink. Aan die ander kant is sy die “‘ander soort’ Afrikaner” (Coetzee, 2019:40) wat meer liberaal is – wie se Afrikaner-identiteit nie “meer preutse Christelikheid en konvensionaliteit” (Coetzee, 2019:39) voorstel nie. Dit is hierdie tipe erkennings (intiem-gemoedelik en ver verwyderd van die konserwatiewe oriëntasie wat dikwels Afrikaner-identiteit kenmerk) wat die leser vertroud maak met die protagonis, maar by implikasie ook die leser konfronteer met hul eie subjektiwiteit.

Gedurende die liriese hoogtepunt by die intieme verjaarsdagpartytjie, besef Coetzee dat dié karakter, Danie, se ywerigheid om met haar oor Afrikaans te praat, alles te make het met sy uiteindelike vraag: “Het jy ’n boyfriend?” (Coetzee, 2019:81). Die beskrywing van Danie se hand wat hy strategies ter “uitnodiging” (Coetzee, 2019:81) op haar been plaas, haar opmerkings oor die druk wat op vrouens geplaas word om ’n man te kry, sowel as die ongemak waarmee sy Suid-Afrika navigeer weens die “alomteenwoordige bedreiging van seksuele geweld” (Coetzee, 2019:166), maak die leser bewus van die skrywer se spesifiek feministiese perspektief. Dit is egter interessant dat Coetzee juis haar reis na Nederland konstrueer teen die beskrywing van haar verhoudings met die twee manlike karakters, C en die Nederlander. Eerder as beskrywings van die Nederlandse landskap, stedelike ruimtes of ander tradisionele beskrywings van besienswaardighede, funksioneer die manlike liggaam in hierdie verhaal metonimies vir die ontdekkingsreistog van die buiteland (en sodoende ook van haar vaderland) wat die vroulike protagonis aanpak.

Hierdie metonimie het ’n doelgerigte uitwerking. Met die beskrywings van manlike liggame word daar klem geplaas op beide vroulike seksualiteit en subjektiwiteit. Deur die klem te plaas op vroulike subjektiwiteit en seksualiteit, verwerp die skrywer die patriargale ideologie dat vrouens minder seksueel is as mans. Hierbykomend ondermyn hierdie beskrywings die assosiasie wat in tradisionele reisverhale tussen die landskap en die vroulike liggaam gemaak word. Sy beskryf byvoorbeeld haar ontmoeting met die Nederlander aan die hand van verwysings na sy liggaamlikheid (Coetzee, 2019:83). Die boek word ook ingelei deur ’n beskrywing van ’n “mooi jong Nederlander – tipies van sy soort: lank en slank, met ’n golwende blonde kuif en ’n ironiese glimlag” (Coetzee, 2019:7). Eerder as ’n waardering vir en beskrywing van landskappe, waardeer en beskryf Coetzee die manlike liggaam, en sodoende ook haar intiem-persoonlike seksualiteit. Dit is egter ook moontlik om hierdie metonomie te problematiseer, veral wanneer daar in ag geneem word dat die vroulike reisiger se reis slegs gekenmerk word deur haar verhouding met die manlike figuur. Sy erken gelukkig hierdie problematiese voorstelling, en voer aan dat sy eers veel later bewus word van haar “gebrek aan verbeelding” (Coetzee, 2019:65) om onafhanklik van ’n manlike figuur te kan “tuishoort” (Coetzee, 2019:65). Mens sou selfs verder kon gaan om die vraag te vra of die vroulike subjek wel kan “tuishoort” in ’n vaderland.

In my vel bied dus ’n bepaalde vroulike subjek se perspektief op die manlike liggaam, seksualiteit, en nasionalisme aan. In my vel bied egter ook ’n bepaalde vroulike subjek se perspektief op witheid aan. Deur die opvattings van beide haar persoonlike vriende en publieke (politieke) figure te verweef, kry die leser ’n interessante blik, naamlik dié waar die persoonlike en die politieke oorvleuel. Dit is juis weens hierdie oorvleueling tussen persoonlike en politieke narratiewe dat witheid (en terloops ook haar vroulike subjektiwiteit) in In my vel geproblematiseer en gekompliseer word. Coetzee se beskrywings van die manlike liggaam en van vroulike seksualiteit problematiseer, maar vier ook, vroulike subjektiwiteit. Met haar terugskouende, self-reflektiewe blik, sowel as die weglating van datums wat so kenmerkend van tradisioneel manlike reisverhale is, sluit In my vel aan by die tradisie van vroueskrywers, soos dié van Virginia Woolf en Elsa Joubert, waarin narratiewe losgemaak word van die (Westerse) konvensionele skryfstyle in reisverhale.

In teenstelling met die reisverhale van byvoorbeeld Snyman of Rautenbach, kry Coetzee geen antwoorde op haar vrae nie. Die leser kry eerder ’n soort stroom van bewussyn wat goed bymekaargebring word deur die struktuur van ’n feministiese reisjoernaal. Sy neem die leser saam met haar op reis: vanaf haar voorouers, deur haar eie verlede, tot by haar terugkoms in Suid-Afrika. Deurgaans bevraagteken sy haar eie posisie in beide Nederland en postapartheid-Suid-Afrika, maar verhoed geykte stereotipes van witheid deur beide die politieke, sowel as die intiem-persoonlike beskrywings van vroulike subjektiwiteit in haar joernaal te verweef. Deur hierdie reisjoernaal opper Coetzee ’n bepaalde wit, vroulike stem as ’n soort teenstand teen die “doodstil wit Afrikaner” (Coetzee, 2019:159) wat vasklou aan ’n fabelagtige Europese herkoms.

 

 

Verwysings

Coetzee, A. 2019. In my vel. Kaapstad: Tafelberg.

Forrester, V. 1976. What women’s eyes see. (In Eagleton, M. 2011. Feminist literary theory: A reader. Hoboken: Wiley-Blackwell. p. 50-51).

La Vita, M. 2007. Stories is groter as mense. Die Burger, 4 Mei, p. 17.

Pereira, P.N. 2010. Om die verlede te bemeester: geheue en identiteit in die prosa van Dana Snyman. (Ongepubliseerde MA-Verhandeling). Pretoria: Unisa.

Thompson, C. 2011. Travel writing. New York: Routledge.

Viljoen, L. 2009. Die dagboek as narratiewe strategie in Marlene van Niekerk se Agaat. Stilet, 21(2):69-90.

West, M. 2009. White women writing white: identity and representation in (post)-apartheid literatures of South Africa. Claremont: David Philip Publishers.

Willoughby-Herard, T. 2015. “I’ll give you something to cry about”: The intraracial violence of uplift feminism in the Carnegie Poor white study volume, The mother and daughter of the poor white family. (In Waste of a white skin: the Carnegie corporation and the racial logic of white vulnerability. California: University of California Press).