oproep 33(2) Hyg!

stilet.digital
oproep 33(2) ;Hyg! Populêre romantiese fiksie in die Afrikaanse literêre sisteem & Cecilia Britz as baanbreker

Uitgaweredakteurs: Martina Vitackova & Ilse de Korte

 

Suid-Afrikaanse navorsing oor populêre kultuur (veral binne ’n feministiese raamwerk) beleef die afgelope
tyd ongekende groei. Twee toegewyde joernaalnommers is enkele maande uitmekaar aan die onderwerp
gewy: ’n spesiale nommer van die Suid-Afrikaanse feministiese joernaal Agenda getiteld “Gender and
popular imaginaries in Africa” (Oktober 2018) – waarin die redakteurs dit raakvat dat “despite the wide
recognition of popular art forms as invaluable sources of insights into societies, these cultural productions
remain haunted by scholarly anxieties about their indiscipline; their transgressiveness; their contradictory
impulses and general refusal to cohere with canonised perspectives and modes of thought” (Spencer, Ligaga
& Musila, 2018:3) – en ’n nommer van Feminist Theory oor “Chick-lit in a time of African cosmopolitanism”
(April 2019), wat by die groeiende akademiese belangstelling in populêre literatuur aanhaak en doelbewus
die genre wil uitdaag verder as “its Anglo-American origins and give it landscape, texture, colour and affact,
by engaging the growing number of chick-lit writers and novels based in and on the continent of Africa”
(Frenkel & Gupta, 2019:123).

Die huidige herwaardering (en herposisionering) van populêre romantiese fiksie wat daarmee saamval, kan
toegeskryf word aan o.a. ’n refleksie van sosiaal-strukturele veranderings in die samelewing; veranderende
diskoerse rondom “hoë” en “lae” kultuur (en letterkundes); die funksionele herbeskouing van die waarde
van genrefiksie; en ’n globale herbegrip van hoe letterkunde sosiale verandering kan weerspieël (of selfs
teweeg kan bring). Genrefiksie word dan ook al meer erken as draer van sosio-politiese betekenis, op soortgelyke
wyse as wat betrokke literatuur voorheen was. Daar is egter steeds indringende vrae wat gevra moet
word oor die maniere waarop genrefiksiestudies in die Afrikaanse akademie beskou en benader word en
hoe dit stelsematig akademiese status verleen word.

Om bogenoemde aan te spreek, word bydraes ingewag vir ’n dubbele uitgawe van stilet.digital oor die
huidige stand van (die studie van) Afrikaanse populêre romantiese fiksie en ’n herwaardering van die rol en
impak van Cecilia Britz.

Hierdie uitgawe verskyn 25 jaar ná die publikasie van Stilet 9(1) – destyds die eerste temanommer
(van ’n Suid-Afrikaanse vaktydskrif) in die geheel gewy aan die bespreking van populêre
fiksie. Dié nommer het gevolg op ’n voldagseminaar in 1996 waartoe akademici, uitgewers, en outeurs
en lesers van populêre romanse uitgenooi is tot deelname. So ’n “gemengde” metode – indertyds
ongekend – het bygedra tot destigmatisering van populêre romanse (vir sowel die leser as die akademikus).
Die datum van die seminaar, maar twee jaar Suid-Afrika se ontluikende demokrasie in, is nie
toevallig nie. Sosiale verandering was volop in die jare ná 1994, en ’n merkbare post-1994-tekstuur is vandag
te bespeur in sowel die samelewing as die kulturele produkte van dié tyd, waaronder die populêre romanse.
Ten spyte van groeiende akademiese aandag aan die wyses waarop populêre romantiese fiksie
sosiale verandering reflekteer, blyk die studie van dié genre steeds agterweë te gebly het. Dit moet
nie bloot op kulturele onderskeid tussen hoë en lae kultuur dui nie: ofskoon daar tog navorsing oor
populêre misdaadsfiksie in Suid-Afrika verskyn (meesters- en doktorale studies word daaraan gewy,
en Deon Meyer as misdaadsfiksieskrywer word by die literêre kanon ingesluit), word die populêre
romansegenre dikwels tot die marges van die akademie verskuif, moontlik grootliks weens die
gegenderde aard daarvan. Sulke drievoudige marginalisering – Frantz en Sellinger verwys daarna as die
“triply shameful” (2012:2) aard van navorsing oor populêre romanse – is veral in die Afrikaanse akademie
te bespeur.

Hoewel Afrikaanse populêre romanse ’n betreklik groot en getroue leserskap het, met beduidende
publikasie en verkoopsyfers, is die enigste akademiese studie daarvan die 2011-artikel “Leser en konteks: ’n
resepsiestudie oor Afrikaanse romanlesers” van Snyman en Penzhorn. Onlangs het Martina Vitackova die
Afrikaanse populêre romanse begin navors, en haar werk toon ’n bespeurbare ontwikkeling in die rigting
van meer inklusiewe verteenwoordigings wat nader lê aan die ervarings van Suid-Afrikaners se sosiale werklikhede
(bv. Vitackova, 2018). Dit dra by tot bevestiging van wat ander literêre sisteme wys: dat die romanseteks
’n plek is van “proactive exploration and resistance as well as the locus of a discourse that none of us
can escape” (Riley & Pearce, 2018:116).

Hierdie tendens vat stuk-stuk pos in Afrikaanse populêre romanse en bevestig die tendens van verdere
diversifiëring in ’n groeiende genre en die betrokkenheid daarvan by die sosiale en historiese posisionering
van Afrikaners en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

So gesien, beskik die genre van Afrikaanse populêre romanses oor potensiaal as weerspieëling van identiteitskonstrukte
binne plek- en betekenisraamwerke: Hoe, byvoorbeeld, konstrueer Afrikaanse lesers nuwe
identiteite in ’n demokratiese Suid-Afrika? In watter mate sien en herken Afrikaanse lesers, nog grootliks
geassosieer met baie spesifieke vorms van vroulikheid, heteroseksualiteit, witheid en ’n middelklasposisionering
(Van der Westhuizen, 2017:4), hulself in resente populêre romantiese fiksie? Tot watter mate kan
populêre romantiese fiksie (of enige populêre genrefiksie) dui op veranderende idees van Afrikanerskap?

Dit is alles vrae wat antwoorde verdien, en stilet.digital nooi dus oorspronklike navorsingsbydraes oor how
politiese en sosiale ontwikkelinge in postapartheid-Suid-Afrika weerspieël of ondermyn word in Afrikaanse
populêre romanse; asook oor:
• die verhouding tussen populêre genres, genrefiksie en die Afrikaanse akademie;
• hoe die uitgewersbedryf reageer op sosiale verandering(e);
• nuwe teoretiese lense (bv. ekokritiek en die posthumanisme) en populêre romantiese fiksie;
• erotika, seks, polyamorie, S&M en populêre romantiese fiksie;
• dekolonisering van dié genres en die verteenwoordiging van “die Ander”; en
• pastiche, herskrywing en queering van Afrikaanse populêre romantiese fiksie.

Ons verwelkom voorstelle vir interdissiplinêre akademiese werk, profiele, resensies en onderhoude in
Afrikaans, Engels, en Nederlands. Ook streef ons daarna om artikels en inhoud in enige van die amptelike
Suid-Afrikaanse tale te plaas – insluitende Suid-Afrikaanse gebaretaal via video by https://stilet.digital/SASL.
Hierdie uitgawe het ’n dubbele fokus: eerstens kom die maniere aan bod waarop sosiale verandering reflekteer
word in Afrikaanse populêre romantiese fiksie; tweedens, dien dit as manier om die baanbrekerswerk
van Cecilia Britz te herdenk. Britz het, in haar tyd by Perskor, Huisgenoot en LAPA, die genre van populêre
romantiese fiksie bekendgestel aan die Afrikaanse lesersgemeenskap. Daar was weliswaar romantiese fiksie
voor Britz se leiding, maar sy het die skryf en publikasie van die genre in Afrikaans verstewig, en die moets
en moenies van die genre se formule binne die spesifieke konteks van ’n Afrikaanse (en Afrikaner-) umwelt
uitgekerf.

Die beperkte kritiese aandag wat Britz dusvêr as baanbreker ontvang het, is sonder twyfel danksy die “drievoudige
beskaming” van die genre. Nes Cecilia Britz die genre van die populêre romanse in Afrikaans
gevestig het, poog hierdie spesiale uitgawe om navorsing oor die populêre romanse as ’n geldige onderdeel
van die Afrikaanse literêr-akademiese onderneming te vestig.

Bydraevoorleggings kan aan Martina (AfrikaansRomance@gmail.com) gestuur word tot en met die
einde van 2020, en finale artikels word tot 31 Maart 2021 aanvaar. Publikasie geskied laat in 2021.
Alle bydraes is onderhewig aan dubbelblindkeuring.

Ontluikende navorsers word aangemoedig om resensies, resensie-herbesoeke, essays of onderhoude oor
die tema in te stuur. Kreatiewe werk, sowel as visuele en oudiovisuele inhoud, kan ook vir oorweging
ingestuur word. Ons nooi ook resensies van resente populêre romansetekste, herbesoeke aan ouer tekste,
en herwaarderings van tekste of outeurs wat oor die hoof gesien is/word. Algemene navrae kan gerig word
aan wemar@stilet.digital.