oproep: Fliek!

oproep vir stilet.digital uitgawe: Fliek! Filmaanpassing en/in Afrikaanse letterkunde

Daar is hoofsaaklik twee redes waarom talle rolprentvrystellings steeds verwerkings van woordkuns is. Die gebruik van romans of dramas as hulpbronne vir rolprente was aanvanklik ‘n metode waardeur die filmindustrie die status van die nuwe filmmedium probeer verhoog het deur die aandag van die aanhangers van “hoë kultuur” te trek. ’n Ander belangrike rede is ekonomies van aard. Die sogenaamde trefferroman of -drama is dikwels die beste advertensie vir ’n rolprent.

Waar die verhouding film-letterkunde en aanpassing/vertaling ter sprake kom, is filmkritici en akademici dit steeds nie eens hoe dié verhouding daar uitsien nie. Volgens sommige opvattings is die filmmaker ’n vertaler. Hy/sy is besig met ’n intersemiotiese vertaling – dus ’n vertaling van een sisteem na ’n ander. Ander, soos Bluestone (2003), is egter van mening dat aanpassing ’n heeltemal ander ding vervaardig, met verskillende estetiese konvensies, want film is heeltemal verskillend van letterkunde. Dit is daarom vrugteloos om te argumenteer dat film A beter of swakker as roman A is. Elke artefak is outonoom, met sy eie unieke en spesifieke eienskappe. Die filmmaker verwerk alleen ’n parafrase van die woordteks en gebruik slegs die rou materiaal daarvan. Die filmmaker is dus geen vertaler nie, maar ’n nuwe skrywer of skepper.

Film en/in Afrikaanse letterkunde laat onder andere vrae soos die volgende ontstaan:

  • Is alle woordtekste ewe geskik vir verwerking?
  • Kan ’n klassieke woordteks ooit tot ’n “suksesvolle” beeldteks vertaal/verwerk word?
  • Wat is die aard en nut van aanpassing of intersemiotiese vertaling?
  • Waarom word sommige sogenaamde “minderwaardige” romans kommersiële groot films?
  • Indien die verwerking van sommige woordtekste dan meer aanvaarbaar is as ander, is dit nie moontlik om ’n werkwyse te ontwikkel waarvolgens woordtekste verwerk kan word nie?
  • Watter aspekte van die woordteks/beeldteks is bepalend vir emosionele belewing van die leser of kyker, ten spyte van verskille ten opsigte van gender, ras, geloof, ens.?

Dié uitgawe van Stilet, volume 32(3), 2020, handel oor die velerlei wyses waarop:

  1. filmaanpassings/filmvertalings van Afrikaanse letterkunde in akademiese diskoers manifesteer,
  2. Afrikaanse letterkunde in films as intertekste gebruik word,
  3. meer algemene analises oor die verhouding film-letterkunde,
  4. ander aanpassings/vertalings, soos TV-aanpassing en digitale sfeer aanpassing, en
  5. figure soos Jans Rautenbach en Katinka Heyns die Afrikaanse filmwese en -bedryf gerig het.

Een-bladsy bydraevoorleggings word tot einde Junie 2020 ingewag, terwyl finale bydraes (van tussen 6,000 en 8,000 woorde in Afrikaans, Engels of Nederlands) verwag word teen die einde van Februarie 2021. (Met publikasie in mid-2021.)

Voorts moedig ons jonger en ontluikende akademici aan om resensies, onderhoude, of resensie-herbesoeke oor die volgende in te stuur, vir moontlike plasing in die uitgawe:

  • films gegrond op ’n roman/novelle (bv. Triomf of ‘n Pawpaw vir my darling),
  • TV- of radioaanpassings van romans (of selfs TV-reekse soos Deon Meyer se Trackers),
  • tekste oor die Afrikaanse filmwese (soos bv. Leon van Nierop se Daar doer in die fliek, of Martin Botha se Jans Rautenbach. Dromer, baanbreker en auteur).

Vir verdere inligting, kontak Adéle Nel (adele.nel@nwu.ac.za) en Rickus Ströh (rickus.stroh@nwu.ac.za).

 

Verwysings

Bluestone, G.  2003.  Novels into film.  Balitmore: Johns Hopkins University Press.

 

 

Hierdie bladsy is ook in Engels beskikbaar. Die oproep, in pdf-formaat, kan hier afgehaai word, en die CfP, hier.