oproep 34(1) Deon Meyer

Oproep om bydraes vir ’n stilet.digital alternatiewe huldigingsbundel oor die werk van Deon Meyer

 

Stilet 34(1) Huldigingsnommer: Deon Meyer as spilfiguur in die Afrikaanse/Suid-Afrikaanse misdaadfiksie

(Dr. Neil van Heerden & Jonathan Amid, uitgaweredakteurs)

As deel van ’n alternatiewe reeks huldigingsuitgawes, wat parallel tot die Akademie se huldigingsbundels oor Hertzogpryswenners gelees kan word, moedig Stilet medewerkers aan om voorstelle vir artikels oor Deon Meyer voor te lê.

Meyer word beskou as een van die gewildste kontemporêre Afrikaanse skrywers en ’n spilfiguur in die onlangse opbloei van populêre Afrikaanse (en inderdaad ook Suid-Afrikaanse) misdaadfiksie. Goeie verkoopsyfers, plaaslik én internasionaal, sowel as ’n indrukwekkende rits pryse bevestig die gewildheid van Meyer se boeke bo enige twyfel. Sy romans word dikwels geloof vir hul boeiende, spanningsvolle narratiewe, lewensgetroue karakterisering en dialoog, deeglike navorsing en onmiddellik herkenbare uitbeeldings van ’n eg Suid-Afrikaanse landskap/milieu. Die romans sluit egter aan by ’n lang en ryke literêre tradisie, en weerspieël dus die komplekse wisselwerking en oorvleueling van subgenres en konvensies by ’n uiteenlopende en omvangryke genre soos misdaadfiksie.

Meyer se werk geniet klaarblyklik ook heelwat akademiese belangstelling, en daar is diegene wat beweer dat sy romans enige simplistiese onderskeid tussen die “populêre” en die “literêre” ondergrawe of kompliseer. Bowendien blyk misdaadfiksie ’n geskikte voertuig te wees vir die lewering van sosiopolitieke kommentaar, wat sou beteken dat Meyer se romans ook as ’n vorm van “betrokke literatuur” gelees kan word, hetsy vanuit ’n etiese, psigologiese, of postkoloniale hoek. As sodanig, sluit die resepsie van Deon Meyer se werk ook aan by bestaande debatte oor kanonisering, die toekenning van “literêre waarde”, en die plek van populêre genres (soos misdaadfiksie) binne die literêre sisteem.

Meyer se omvattende oeuvre bied ruim moontlikhede vir ondersoek, insluitend (maar nie beperk tot): genrestudies, terminologie en tipologie; sosiale kommentaar, postkoloniale benaderings; kanonisering en sisteemteoretiese benaderings; narratologie, strukturalistiese ontledings; intertekstualiteit; resepsie en lesersgesentreerde benaderings; gender en identiteit; uitgewerspraktyke en vertaling; literêre toerisme.

Een-bladsy bydraevoorleggings word ingewag tot einde 2020, terwyl finale bydraes (van tussen 6 000 en 8 000 woorde; in Afrikaans, Engels of Nederlands) verwag word teen November 2021 (met publikasie vroeg in 2022).

Navrae kan direk gerig word aan die uitgaweredakteurs by vheern@unisa.ac.za en theonetheonlyjono86@gmail.com.