30(1&2) nota #1

Klik hier vir die PDF-weergawe van hierdie nota

 

I Novum

Diskoers, eggo, herbesoek, stilus. Die afdelings en bydraes in hierdie twee volumes word saamgesnoer deur die konsep novum, wat in dié konteks verwys na ’n stelselmatige bestekopname-as-herposisionering binne die digitale landskap. In die lig daarvan dat vaktydskrifte stelselmatig begin wegbeweeg van die tradisionele drukformaat, verwys novum na opwindend nuwe koerse wat ingeslaan kan word. Dit gee ook spesifiek erkenning aan die wyses waarop kennis in en deur sosiale media vloei: in e-zines, in die kortstondigheid van pop-up-literatuurgeleenthede, flitsklasse, blogs, risomatiese reposting – kortom, in ’n era waarin literêre betrokkenheid toenemend as ’n reeks kortstondige, digitale momente beleef word.

Hierdie vloei van kennis word versnel deur die omvang en hoeveelheid teoretisering wat tans tot ’n vakkundige se beskikking is. In die 30 jaar sedert Stilet geloods is, is literêre navorsing in Afrikaans omtrént aan ’n wye verskeidenheid teorieë uitgelewer: Afrofuturisme, kritiese distopieë, post-humanisme, genderperformatiwiteite, beliggaamde materialiteit, performatiewe burgerskap, verplasing en ontheemding, ontologiese migrasie en tegnorelasionaliteit. Op enkele uitsonderings na (’n effens ont-queer-de en dus a-politiese queerteorie; onkritiese whiteness studies; ʼn belemmerde deursuring van Deleuze & Guattari; en ’n gekwalifiseerde omsigtigheid om die verskil tussen ‘koloniaal’ en ‘postkoloniaal’ te herken), staan teoretisering in Afrikaans (en veral die toepassing daarvan op Afrikaanse tekste) sterk. Die betroubare meerduidigheid van Pascale Casanova verseker dat metamodernisme en transnasionalisme hierdie dekade se liminaliteit, hibriditeit, en grensoorskryding gaan wees.

Die omarming van teorieë en modelle wat vasgestelde idees en verouderde vorms van identiteit probeer omseil, is nie net ’n teken van die tye nie, maar ook ’n aanduiding daarvan dat ’n dieper identiteitspartydigheid aan die ontwikkel is in ʼn poging om erkenning te gee aan die verskillende subjektiwiteite wat post-1994 aan die term Afrikaans gekoppel word. Ook dui dit op ’n voortdurende onderhandeling van die rol van buitelandse instellings en organisasies; soos dié uit Nederland en België byvoorbeeld.

Die doel met dié novum-uitgawe is nie alleen om nuwe roetes vir navorsing oor die Afrikaanse letterkunde te karteer nie, maar ook ’n verteenwoordigende blik te bied op die vlugroetes en vertakkings wat deur hierdie roetes ontplooi (kan) word. Daar is gewis ook ’n affektiewe konnotasie aan novum: Hoe beïnvloed die digitale landskap die wyses waarop ons onsself oriënteer jeens die studie van letterkunde en letterkundeteorie? Watter rol speel iets soos resensies in die vloei van literêre kennis? Watter reaksies (jeens die verlede se diep argief; die skuif na die digitale sfeer; transnasionale teoretisering) is produktief? Watter moontlikhede bied dit om die relatiewe isolasie van die Afrikaanse literêre sisteem te verbreek?

Die kartografie van hernuwing in navorsing oor Afrikaanse letterkunde is ’n ritmiese toewyding, wat kollektief (soos in 2014 met Poolshoogte) en/of individueel aangepak word, en aandui hoe elke generasie navorsers waarskynlik bestem is om hul eie onto-ritmes van hernuwing en introspeksie te herhaal.

Verskeie artikels deur ontluikende akademici in hierdie uitgawe wys hoe sodanige onderhandelinge plaasvind binne die literêre sisteem; transnasionaal, asook binne groter teoretiese raamwerke en globale tendense. As voorbeelde kan Stefan van Zyl se “opdiep” van Hennie Aucamp in ’n queer gerontologiese lees van Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob, die kruisbestuiwende potensiaal tussen queerheid en witheid in David Barnard se bydrae oor dieselfde teks en Shawna-Leze Meiring se herkonseptualisering van kanoniseringspraktyke en eurochronologieë, genoem word. Hoewel elke generasie navorsers sedert 1994 sekerlik die beperkings en verglyding tussen die terme Afrikaans en Suid-Afrikaans moet her-begryp, blyk dit vir hierdie spesifieke generasie selfs nog meer belangrik te wees. Op hierdie oomblik in Stilet se geskiedenis – 30 jaar ná die eerste uitgawe – wil ons graag hierdie begripspoging aktief ondersteun.

 

II Drie dekades

Die eerste uitgawe van Stilet is in 1989 gepubliseer – tóé reeds met die doel om ’n oop en inklusiewe besprekingsruimte daar te stel. In die redakteursnota van die eerste uitgawe skryf uitgaweredakteur E.C. Britz byvoorbeeld:

Stilet probeer almal bereik wat hulle met die Afrikaanse letterkunde besig hou. Die redaksie was gevolglik verheug om bydraes te ontvang wat ‘n verskeidenheid ideologiese oogpunte vertenwoordig, wat gevestigde, maar ook jong ondersoekers betrek en wat sowel die poësie die prosa as die drama aan die orde stel. Die bespreking van ‘n populêre soort teks (Moerbeibos) en die twee artikels oor die representasie van die vrou in die Afrikaanse poësie was ook op die “oop gesprek” waarna ons streef.” (Britz, 1989:121)

Hoewel daar in latere eras van Stilet se publikasiegeskiedenis dalk nie altyd tot dieselfde mate getrou gebly is aan hierdie utopiese en inklusiewe ideaal nie, blyk Britz se wens vir oop gesprek wel opreg. Selfs al betref dit hoofsaaklik gelykheid tussen genres en strukture, herinner die verwysing na die insluiting van ’n verskeidenheid temas en uitbeeldings dat geen publikasie in ’n politieke vakuum ontstaan nie. 1989 hou juis verband met die begin van verandering in Suid-Afrika: dit was die jaar waarin die Harareverklaring onderteken is; ernstige binnegevegte in die NP-koukus tot die onttroning van P.W. Botha en die laaste rasgebaseerde parlementêre verkiesings gelei het; en landswye protes druk geskep en die nuutverkose De Klerk-administrasie gedwing het om die ANC ’n jaar later te ontban.

Dit word alles implisiet geëggo wanneer Britz herinner “[d]ie Afrikaanse letterkunde weerspieël al lank nie meer ’n eksklusiewe Afrikanerwêreld nie” (1989:121). Besinnings oor die rol, funksie en aard van die Afrikaanse letterkunde kenmerk beslis die eerste vyf jaar van Stilet; dié jare tot en met die kritieke waterskeidingsoomblik van 1994. Die eerste uitgawes van Stilet eggo die versigtig-hoopvolle herbesinning en -onderhandeling regoor SA en sluit bydraes in oor herbesinning (“herbevraagtekening, herbesinning en herwaardering”, uitgawe 3.2, 1991:119; “[d]ie herlees van die bekende”, uitgawe 4.2, 1992:99) én inter-sistemiese funksionaliteit (“[d]ie Afrikaanse literatuur in verbinding met ander literature”, uitgawe 4.1, 1992:91).

Bydraes in die uitgawes net voor 1994 bied ’n verhelderende blik op die pragmatiek van heroriëntering: sien P.J. Conradie se besinning oor die eksklusiwiteit van Afrikaans (“Afrikaans: ’n eiland reik uit”, uitgawe 5.1, 1994:1-10), Gunther Pakendorf se poging om Afrikaans binne die raamwerk van Deleuze en Guattari se mineurletterkunde te plaas (“Kafka, en die saak vir ’n “klein letterkunde””, uitgawe 5.1, 1993:99-106), en die ‘UWK-uitgawe’ (uitgawe 6.1 van Maart 1994 met Ampie Coetzee as uitgaweredakteur en met bydraes deur, onder meer, Coetzee, Vernon February, Hein Willemse en Vasu Reddy).

Op dié wyse hou Stilet se vroeë argief tred met die sosio-kulturele en politiese veranderinge van die vroeë 90’s en wys dit vooruit na die daarstel van ‘n demokratiese bestel in Suid-Afrika. Om novum as ’n oomblik van hoopvolle herbesoek te sien, bied die geleentheid vir ’n herbesinning oor wat Stilet die afgelope 30 jaar vermag het; met ander woorde ʼn oorsig oor die tydskrif se waarde, relevansie, omvang en tekortkominge. Dit is veral nodig aangesien die vroeë argief nou, deur e-argivering en digitalisering, deel word van die aanlyn-landskap.

Om verder uitvoering aan dié idee van novum te gee – nie soseer as ’n innoverende manier om te sien nie, maar eerder (à la Darko Suvin) as ’n manier van re-relating tot dit wat rééds bekend is – nooi ons besinnings (in die vorm van navorsingsgebaseerde bydraes, opiniestukke of meer kreatiewe bydraes) uit oor die argief, die affektiewe en die materiële geskiedenisse van Stilet, asook van die wyses waarop “ons” die tydskrif benut het om spesifieke oriënterings jeens die Afrikaanse literêre sisteem te bewerkstellig. Hoewel hierdie nota nie deel uitmaak van ’n amptelike oproep vir ’n tematiese uitgawe nie, maar ’n meer algemene oproep vir besinning oor die rol van Stilet sedert 1989 is, glo ons tog dat dit belangrik is om antwoorde op die volgende vrae te vind: Wat, byvoorbeeld, is die voortgesette rol van die geesteswetenskappejoernaal in ’n gedekoloniseerde ruimte? Hoe aktualiseer akademiese werk in Afrikaans kwessies rondom in- en uitsluiting? Tot watter mate beïnvloed ’n bewustheid van die historiese oomblik hoe ons artikels vanuit Stilet se vroeë argief lees?

 

III Koerskry in ’n digitale landskap van reposts, reboots, hertwiets

Die jare sedert 1989 het sowel omvangryke sosio-politieke as tegnologiese vernuwing meegebring. Ofskoon die gedrukte media toenemend finansiële uitdagings ervaar, begin literêre publikasies dikwels al hoe meer op glans-vliegtuigtydskrifte lyk, terwyl ander platforms op heel oordeelkundige wyse die kulturele kapitaal van ’n strategiese literêre verwysing (vergelyk byvoorbeeld Ambassadeur se Sewe dae by die Silbersteins-Gucci-fotoreeks) ontdek. Aanlyn beklee opinies dikwels dieselfde aansien as feite. Bloggers is nou outeurs, resensente én meningsvormers. Hierteenoor bewys die skielike opbloei en (ewe skielike) ondergang van webwerwe soos medium.com dat ’n kritiese leserskap se lojaliteit ook net só vêr strek. (Of bloot dat ’n paywall noodlottig kan wees.)

Wat is die volgende kuber-lit-foefie? Wag ons almal bloot op ’n literêre Quibi? Die atomisering van die omgaan met die letterkunde, tesame met goedkoper druk- en bemarkingkostes, eis dat die uitgewersbedryf reageer: outeurs het podsendings ontdek en meer diffuse modelle seëvier (soos uitgewers se gebruik van crowdsourcing). Boonop kan ’n mens skaars tred hou met die aantal tematiese bloemlesings wat in aller yl aanmekaar geslaan word, dikwels met titels wat die trefwoorde van die dag soos lokaas inspan. En álmal is digters (en boonop gepubliséér – aanlyn).

Digters, outeurs en dramaturge het die plesier én voordeel van selfbemarking ontdek; hul hande gesteun deur die koste van pasklaar webwerwe, boekbekendstellings en boekfeesverskynings, en selfs gigs by stowwerige musiekfeeste. Om oomblikke van digitale resonansie daar te stel, is byna so belangrik soos om ’n teks daar te stel wat mense wil lees. Voorts vervaag die onderskeid tussen publikasie en ydelheidspublisering vanweë ’n vermenigvuldiging van ‘drukname’, ten spyte daarvan dat die frase “’n sterker redakteurshand word benodig” ’n alomteenwoordige refrein van kritiek in boekresensies geword het.

Dít word vererger deur hoe dié digitale wending ook ‘n invloed uitoefen op die uitgewersbedryf en die popakademiese, soos te siene in die toenemende gewildheid van e-podia soos die Johannesburg Review of Books en africaisacountry.com. Dit het dus noodsaaklik geword om digitaal op hierdie veranderinge te reageer en daar heers ’n bepaalde gevoel van dringendheid om uit te vind hoe dit op ’n verantwoordelike en produktiewe manier gedoen kan word. (Dit is sekerlik ‘n teken van die tye dat selfs NALN ’n Facebook-teenwoordigheid het.)

Ons skets dus die vluglyne vir ’n stilet.digital-vyfvolumebenadering wat dié wending na die digitale omhels. (Vir meer oor ons redaksionele benadering tot uitgawes 30-34, sien gerus Novum redakteursnota, deel 2.) Binne die noodsaak-topografie van sodanige innovering, dink ons opbouend oor die voortdurende waarde van die gedrukte vaktydskrif. Meer spesifiek: Wat is die sistemiese of strukturele voordele verbonde aan ‘n gedrukte weergawe? Watter voordele hou ’n webwerf en sosiale media-blad vir die bekendstelling van ontluikende navorsers in? Wat gebeur met die joernaal se digitale voetspoor wanneer geleentheid vir risomatiese herplasing geskep word? Hoe word oproepe om bydraes in hierdie digitale landskap versprei? Hoe bewerkstellig die digitale infrastruktuur van die joernaal selfadvertering binne akademies-etiese prosesse vir die akademiese bydraer tot Stilet, wat reeds metageletterdheid moet navigeer en haas roofsugtige publiserings-lokvalle moet vermy?

2019 is die naaste wat ons in dekades daaraan kom dat ’n innoverende formaat tematiese innovering komplementeer en die joernaal se infrastruktuur móét tred hou hiermee.

 

IV Die resensie herbedink

Die novumsoomblik sinjaleer hoeveel van die “veranderinge” in stilet.digital eintlik reeds deel van die geometrie van Stilet se metdologie in die verlede was. Een nuwe benadering is egter die bekendstelling van die stilet.eggo- en stilet.herbesoek-afdelings waarin daar doelbewus nuut gedink word oor die waarde, rol en funksie van die resensie in die breë.

Die aard van die resensieindustrie – naamlik dat een of twee resensies onmiddellik ná die publikasie van ’n teks verskyn, maar daarna heel weinig – maak nie noodwendig voorsiening vir volgehoue en volhoubare gesprek rondom ’n teks nie. Een of twee outeurstemme spreek as ’t ware waarheid oor die teks wat kristalliseer in ’n gemoduleerde respons/ontvangs. Een van die min geleenthede vir die peiling van aanvanklike resensies, is dié tydens die prysuitdelingseisoen, selfs wanneer die evalueringstoon in commendatio’s en prysverslae selde van aanvanklike resensies verskil.

In ’n seminale resensie-artikel sit Neil Cochrane in 2016 al sy vinger op die pols van die kommerwekkende stand van Afrikaanse resensies. Sulke kritiese en eerlike selfbesinnings is skaars (lees terloops tog weer Joan se “Hekwagters en oop hekke”, dalk vandag selfs meer relevant as in 2014). ’n Kommerwekkende gedagte indien in ag geneem word dat resensies met ewe veel ywer (of minagting) as ander bronne in talle MA en PhD-studies aangehaal word.

Ons stel belang in meer as net ’n antwoord op die vraag na die waarde van ’n 800-woord subjektiewe opinie in ’n reeds oorversadigde medialandskap. Ons sou ook graag wou vasstel In watter mate huidige resenseringspraktyke op identiteitsbelange fokus, ten koste daarvan om tekste as kulturele of estetiese produkte te beskou. Fokus ’n resensie eerder op dit wat ’n teks doen, as wat die teks beteken? Wat is die afbakening (of selfs net die definisie) van ’n resensie-artikel? Hoe verskil ’n resensie-artikel van ’n resensie of van ’n resensie-essay? Is resensie-essays meer bruikbaar in die letterkundeklaskamer? (In watter mate is die resensie-essay met visuele elemente hier besonder nuttig?) En wat die groter sisteem betref: Wat is die effek van grootprys-toekennings vir ‘beste resensie van die jaar’ (in Afrikaans geskryf oor ’n Afrikaanse teks) op die industrie?

Deur in die eerste uitgawe meer as een resensie oor Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob in die stilet.eggo-afdeling te plaas, hoop ons om sommige van bogenoemde beperkings te omseil. Die agt bydraes neem verskillende vorms aan: sommige is nader aan die meer tradisionele resensieformule, terwyl ander eerder ’n spesifieke aspek wat in die teks manifesteer (soos stadskappe, maskuliniteite, of ekfrasis), onder die loep neem of selfs deur ’n spesifieke leesbenadering (witheid en Afrikaanse queerheid onderskeidelik) geaktualiseer word. Saam gelees, besin hierdie bydraes krities oor die teks se potensiaal vir sosiale omvorming, maar ook die status daarvan as estetiese produk.

Ons sien ook ander voordele aan hierdie benadering: Dit is ’n organiese proses wat die bekendstelling van meerstemmigheid fasiliteer, wat met verteenwoordiging te make het of kan hê (ook wat betref toegang deur navorsers buite die veld van literêre studie), wat afwisseling verseker en horisontale diskoers aanmoedig en omhels.

Die volgende kollegas werk reeds aan die volgende uitgawe se stilet.eggo-afdeling oor Azille Coetzee se In my vel: ’n Reis: Bettina Wyngaard, Adean van Dyk, Delia Rabie, Elizabeth van Rensburg, Liezl Dick, Bibi Slippers en Mercy Kannemeyer. In ’n sekere sin nooi Marais en Coetzee se tekste ’n veelvlakkige en multidissiplinêre leesbenadering uit, aangesien hulle ten nouste gemoeid is met die raakpunte tussen ‘Afrikaans’ en talle stelle identiteitsmerkers en -kodes.

’n Tweede nuwe afdeling is stilet.herbesoek waarvoor outeurs uitgenooi word om in gesprek te tree met tekste wat vóór 2019 gepubliseer is – in dié spesifieke geval Willie Burger se handleiding Die wêreld van die storie) en Charl-Pierre Naudé se roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Ons verwelkom terugvoer op sowel die metode as die individuele bydraes van stilet.eggo en stilet.herbesoek.

 

V stilet.diskoers

Die afdeling stilet.diskoers bevat ’n wye verskeidenheid geakkrediteerde navorsingsartikels wat ’n volledige eweknie-beoordelingsproses ondergaan het. Die artikels in die twee nommers van hierdie uitgawe werp telkens nuwe lig op die konsep van novum soos hierbo verwoord. Ons wil beklemtoon dat hierdie artikels knooppunte in ’n risomatiese diskoers en voortgaande proses verteenwoordig  – nie selftevrede cul de sacs van kennis op sigself nie. ’n (H)erkenning dus dat diskoers deur verskillende lae van kennisskepping opgebou word, waarvan akademiese uitsette maar een aspek is.

In dié uitgawe verskyn daar twee artikels wat op kanoniseringspraktyke en -prosesse fokus. Shawna-Leze Meiring ondersoek in haar artikel “Eurochronologie in Afrikaanse literatuurgeskiedenis: Voorstel vir ’n alternatiewe bestudering van tekste aan die hand van ‘fiksiewêrelde van tekste’” die wyse waarop Europese modelle van literatuurgeskiedskrywing die taksering van wêreldletterkunde, en dan spesifiek ook ’n kleiner letterkunde soos die Afrikaanse letterkunde, onderlê. Sy wys veral op twee tekortkominge van so ’n benadering, naamlik dat (i) ’n teks dikwels ten koste van ander interpretasiemoontlikhede by voorkeur teen ’n sekere literêre konteks of periode gelees word en (ii) dat literêre tekste van verskillende letterkundes nie werklik op gelyke voet vergelyk kan word nie. As een moontlike oplossing om eurochronologie te bowe te kom, verwys sy na sogenaamde “fiksiewêrelde” wat in tekste tot stand kom.

Anders as Meiring, wat krities staan ten opsigte van literêr-hitoriese oorwegings wanneer dit by die waardebepaling en vergelyking van tekste kom, beskou Van Coller die inagneming van die tydsgewrig waarin ’n bepaalde literêre teks tot stand kom, juis as deurslaggewend. In sy artikel “Jan Wolkers. ’n Nuwe Nederlandse literatuurgeskiedenis in Afrikaans as kanoniseringsinstrument” dui Van Coller byvoorbeeld aan dat hoewel Jan Wolkers in die jare sestig hoog aangeslaan is in Nederland, sy literêre glans in meer onlangse literatuurgeskiedenisse – in Nederland sowel as Suid-Afrika – verdof het. Aan die hand van ’n kritiese bespreking van die kanoniseringspraktyke wat deur verskillende literatuurgeskiedskrywers ten opsigte van Wolkers se werk aangelê is, wys Van Coller op die winste wat ’n literatuurhistoriese plasing en beoordeling van ’n skrywer met inbegrip van sy plek binne ’n bepaalde tydsgewrig kan oplewer. Hy kom naamlik tot die gevolgtrekking dat Wolkers se beeld van ’n jeug in die sogenaamde krisistyd van 1930-1939 en sy weergawe van ’n bepaalde soort ervaring van die Tweede Wêreldoorlog dalk genoeg rede is om vir Wolkers ’n meer permanente plek binne die literêre kanon te waarborg.

Liggaamlikheid en geweld vorm die fokus van Rudolf Stehle se artikel “Die groteske liggaam in die uitbeelding van geweld in Blood Meridian deur Cormac McCarthy en Buys deur Willem Anker”. Aan die hand van ’n vergelykende lees van Anker en McCarthy se romans in terme van ’n enkele aspek van Mikhail Bakhtin se teorie van die karnivaleske, naamlik die groteske liggaam, stel Stehle ondersoek in na die aard en effek van beelde van die groteske liggaam in geselekteerde geweldstonele in die twee romans. Hoewel dit aanvanklik voorkom asof geweld in hierdie tonele verestetiseer word, doen hy aan die hand dat dié “verestetisering” funksioneel is, aangesien dit ’n etiese doelwit verwesenlik.

In haar artikel “Om deur die grense van genre te lees: ’n Besinning oor die Gotiek en ’n (Suid-) Afrikaanse gruwelgenre” toon Mariëtte van Graan oortuigend aan dat die onderrig van ’n literêre teks deur die lens van ’n spesifieke genreteorie verskralend kan inwerk op beide studente en dosente se interpretasie van die gegewe teks. Deur gebruik te maak van die Gotiese genre met sy vele literêre vertakkings verken sy die bruikbaarheid en noodsaaklikheid van sodanige genre-kategorisering en voorafbepaling aan die hand van interessante teksvoorbeelde.

Franci Greyling wys in haar bydrae “‘Ek loop hier in die labirint’. Digitale kinderverse in ’n botaniese tuin: performatiwiteit en relasionaliteit” daarop dat plekspesifieke digitale literatuur leeservarings bied wat nie noodwendig aan die hand van bestaande leesraamwerke verstaan kan word nie. Sy stel performatiwiteit as moontlike raamwerk voor waarvolgens die verweefde wisselwerking van digitale literatuurinstallasies verstaan kan word. Vier modusse van performatiwiteit – te wete ruimtelike, ingeplaaste, tekstuele en beliggaamde performatiwiteit – word ondersoek en op die kinderverse in die Byderhand-installasie in die NWU-Botaniese Tuin toegepas. Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat plekspesifieke digitale literatuur ’n besondere leeservaring bied in die opsig dat dit veelfasettig, relasioneel, dinamies en performatief van aard is.

Burgert Senekal stel in sy artikel ’n woordkovoorkomsnetwerk van Joan Hambidge se gedig “Die dubbele nie” saam en ontleed dié netwerk dan kwantitatief ten einde ’n alternatiewe lees van die gedig te bemiddel. Aan die hand van nege sentraliteitsaanduiders (graad-, ingraad-, uitgraad-, gewigte graad-, gewigte ingraad-, gewigte uitgraad- nabyheid-, tussenligging- en PageRank-sentraliteit) én ’n visuele uitleg word aangetoon dat die semantiese ook in die strukturele van die gedig neerslag vind. Verder dui hy ook aan op watter wyse die strukturele aspekte van die gedig bykomende betekenismoontlikhede ontsluit.

Twee pedagogies-gerigte bydraes – wat saam met dié van Meiring hul oorsprong in 2018 se Unlaagering-kollokwium het – voltooi die stilet.diskoers-afdeling. In albei word leerhulpmiddels in die taal- en letterkundeklaskamer in Afrikaans onder die vergrootglas geplaas. In hulle artikel wys Earl Basson en Michael le Cordeur – met spesifieke verwysing na die beginsels van sogenaamde “deelnemende aksienavorsing” – op watter wyse en met watter sukses Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings as hulpmiddel gebruik kan word ten einde ’n meer inklusiewe ruimte binne die Afrikaanse huistaalklaskamer te skep; veral in daardie gevalle waar leerders Kaapse Afrikaans as integrale deel van hulle identiteit beskou. Jako Olivier ondersoek in sy artikel die moontlikhede wat selfgerigte leer deur middel van oop opvoedkundige hulpbronne bied met betrekking tot letterkunde-onderrig in Afrikaans. Ten einde selfgerigte leer te ondersteun en te bevorder, is dit volgens Olivier belangrik dat leerders sentraal tot die onderrigkonteks gestel behoort te word. Aspekte soos aktiewe leer, koöperatiewe leer, motivering, metakognisie, probleemoplossing en die verdere uitbreiding van oop opvoedkundige hulpbronne behoort ook in oorweging geneem te word.

Die Unlaagering-artikels word in hierdie Novum-uitgawe ingesluit aangesien dit oorkruis met die idee van herbesinning tydens die Unlaagering-geleenthede, en as herinnering dien dat baie van die energie wat bestee word aan literêre studie die onderrig van Afrikaans in klaskamers beïnvloed.

 

VI stilet.stilus

Stilet se stilus-afdeling het met die jare verskillende benaderings tot kreatiewe skryfwerk gevolg, maar altyd gepoog om ’n saamwerkruimte tussen outeurs, digters en akademici te skep. In ’n era waar hapgrootte stories en mikronarratiewe, transgenre-werk en plekspesifieke en multimodale digitale narratiewe floreer, wil ons spesifiek ook ruimte skep vir kreatiewe werk wat konvensionele grense problematiseer en selfs uitdaag.

Die kreatiewe bydraes in hierdie uitgawe se stilet.stilus werk deurgaans téén generiese konvensies en verwagtings in. In die novum-uitgawe verskyn Joan Hambidge se digitale kubervervolgverhaal “Begeerte”. Die eerste episode van dié verhaal speel af oor landsgrense en tekstipes heen, in ’n toonaard wat wissel tussen die elegiese en die selfparodiërende en met ’n intense bewustheid van hoe mens in die digitale sfeer ’n teks ervaar. Boonop gee die vervolgformaat – met ’n aantal episodes oor volgende uitgawes versprei – ook iets weer van die immer-uitgestelde aard van begeerte.

Die wyses waarop vorm en struktuur ingespan word om ’n konvensionele lesing uit te daag, is ook merkbaar in Alfred Schaffer se “een opvallend kenmerk van de huid is de kleur. dankzij huidskleuren kan de mens zich in verschillende klimaten handhaven. [werktitel]”, waarin die aksiomatiese, die hiperskakel en die intermezzo mekaar met versengende kumulatiewe effek afwissel. ’n Vorige, korter weergawe van Schaffer se bydrae het reeds in 2017 in nY#34 verskyn, en die bygewerkte weergawe verklap veel van die digter se affektiewe ervarings sedertdien.

Hierdie stuk val, soos Schaffer se poësie in die algemeen, nie slegs op vanweë die manier waarop dit die leser oor meer as 300 reëls boei nie, maar ook vanweë die skroeiende eerlikheid waarmee dit die kontoere van rassigheid in Suid-Afrika karteer. Dit is ook die geval in Alwyn Roux se twee bydraes tot hierdie uitgawe: ’n olfaktoriese vertaling van die Australiese digter Les mUrray se “Two Dogs” en “Om die gode te verleer”; ’n assossiatiewe improvisering na aanleiding van Robert Hass se “After the winds”. In laasgenoemde traseer die digter beleefde ervaring op subjektief-politiese ruimtelikheid op innoverende maniere (met Hass se Berkeleystraat wat Roux se Brooklyn Mall word) in ‘n gedig wat voel soos’n credo vir ’n hele generasie se belewing.

Vyf visuele stukke uit Eben Venter se Translate Yourself-uitstalling voltooi die stilet.stilus-afdeling. Hoewel elke stuk vergesel word deur ’n aanhaling uit die outeur se nuutste roman, Green as the sky is blue, verwerklik dit ook spesifieke affektiewe resonansies in die groter Venter-oeuvre (die Divine kameerol in Foxtrot van die vleiseters; Lucky Marais; en die vernietiging van die familiebegraafplaas in Horrelpoot).

Met die oog op volgende uitgawes nooi ons medewerkers uit om kreatiewe werke voor te lê; veral ook dié wat gedy op die grense tussen vorm, struktuur en genre. Ons sien veral uit na bydraes wat fokus op die potensiaal van die kreatiewe daad in die digitale sfeer.

 

VII  ’n Aktiewe poging tot meer inklusiewe gesprek

Om ‘n tydskrif binne drie dekades se publikasiegeskiedenis te plaas, insluitende die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika en die wending na die digitale sfeer, én ons affektief daarjeens te posisioneer, is nie iets wat ons alleen kan doen nie. Daarvoor word medewerkers benodig.

Benoemings vir stilet.digital se redaksionele werksgroep (voorheen die Stilet-skakelredaksei) is van regoor die dissiplinêre spektrum ontvang en die volgende sewe kollegas is vir ’n driejaartermyn aangestel: Adéle Nel (NWU), Bibi Burger (UP), Chantelle Gray van Heerden (UNISA), Jean Meiring, Martina Vitackova, Quentin Williams (UWK) en Siseko H. Kumalo (UP).

Verder tree verskeie kollegas as gasredakteurs op vir opvolguitgawes: Tildie Smit (UVS), Janien Linde (NWU), Danai Mupotsa (Wits), Rickus Ströh (NWU), Neil van Heerden (UNISA), en Jonathan Amid.

Met die oog op transnasionale gesprek nooi stilet.digital voorts ook artikels en resensiestukke in Engels en Nederlands uit. In 2001 het die eerste volledig-Engelstalige uitgawe van Stilet (13(2)) verskyn, waarin bydraes ingesluit is gebaseer op referate gelewer tydens ’n seminaar oor Afrikaanse literatuur tydens die 2000 ICLA-kongres in Pretoria. In ’n inleiding tot daardie uitgawe word Jerzy Koch (dalk half tong-in-die-kies) soos volg aangehaal: “Afrikaans is too important to be left solely in the care of the Afrikaners”.

Dié uitnodiging van Engelstalige en Nederlandse bydraes beteken nie dat die rug op Afrikaans gekeer word nie. Dit is eerder ’n produktiewe ‘oopmaak’ met die oog op ’n breë transnasionale gesprek – ’n saam-praat-met. ’n “Oop gesprek” oor die Afrikaanse letterkunde kan toegang tot globale gesprekke bevorder – met as bewys van die nut daarvan die werk van Rita Barnard, Mark Sanders, Andrew van der Vlies, Carli Coetzee, Jeanne-Marie Jackson en ander wat oor die Afrikaanse literatuur skryf sonder om hul in dié sisteem te bevind. Met die oog hierop sal stilet.digital in die volgende vyf uitgawes Engelse vertalings van baanbrekersartikels (wat oorspronklik in Afrikaans verskyn het) uit ons argief publiseer. Die eerste twee, Marius Crous se “Nelson Mandela: Krog se “heelmaker van mense” en Soyinka se “spactator of our Brave New World” (uitgawe 10.2, September 1998) en Pieter Conradie se “Estetiek eiendomsbeperk: die politiek van die liggaam” (uitgawe 6.1, Maart 1994) – albei oor die werk van Antjie Krog – sal in die komende Krog-uitgawe verskyn.

Hiernaas sal ’n Engelse weergawe van elke uitgawe se redaksionele nota op stilet.digital beskikbaar wees. Geen van hierdie byvoegings wil die werk wat in Afrikaaans verrig word, vervang nie. Ons beskou dit eerder as ’n bykomende, komplementêre stap. Om die produktiewe potensiaal van ’n wyer, transnasionale en meer omvattende gehoor vir stilet.digital te omhels, behels nie dat lojaliteit aan die bestaande korpus navorsing in Afrikaans oor die Afrikaanse letterkunde afgewater word nie; ook beteken die verwelkoming van ’n meer diverse groep gespreksgenote nie dat mens oorgee aan ’n hol politiek van pragmatisme nie. Hierdie omhelsing maak eerder ’n meer omvattende gesprek moontlik, veral met die oog op die toekoms.

Kom praat dus gerus saam.

Thys en Wemar