30(1) eggo: Stefan van Zyl

Jan, Piet, Koos en Jakob (en Hennie?): Loftus Marais en queerveroudering

Stefan van Zyl

Klik hier vir die PDF-weergawe

Loftus Marais se derde digbundel kan beskou word as ‘n saamkomplek van verskeie randfigure, maar dit is veral die ouerwordende queer man wat die belangstelling prikkel. Marais se hantering van (queer-)veroudering en intergenerasionaliteit in die digbundel herinner aan die manier waarop ‘n ander belangrike eksponent van die queertematiek in die Afrikaanse letterkunde, by name Hennie Aucamp, dieselfde onderwerpe in sy poësie hanteer het. Die bestudering van queerveroudering is nie noodwendig ‘n nuwe konsep nie, maar die ontwikkeling van die queergerontologie as interdissiplinêre teorie is wel. Jesus Ramirez-Valles (2016:21) beskryf die oogmerk van queergerontologie in Queer aging (2016), soos volg:

The goal is to unmask the ways in which heterosexual dominant norms define what it means to be an older person – from the decline of our bodies to retirement, support communities, and living conditions. It implies making visible same-sex desire, love, and relationships in old age, and documenting the manner in which older queer people live.

Daar is heelwat ooreenstemming wat Marais en Aucamp se tematiek en tegniek betref, insluitend die uitbeelding van manlike identiteit en seksualiteit, intertekstuele verwysings, die belewing van en behoort aan spesifieke ruimtes, die waarneming en parodiëring van Afrikanerkultuur, die ervaring van ouderdom en veroudering, die rol van intergenerasionele verbintenisse tussen (gay) mense en die vermoë om taal effektief te benut.

Dit is veral die parodiese gedig “Studentikoos” (72-73) wat direk met Aucamp op intertekstuele wyse in gesprek tree. Die gedig is gebaseer op Aucamp se gedig “‘n Student skryf aan sy meisie” wat oorspronklik in die bundel Teen latenstyd (1987) gepubliseer is en ook in Suid-Afrikaanse skole voorgeskryf word vir Graad 12 Afrikaans Huistaal. Die titel van Marais se gedig is slim aangesien dit die naam “Koos” bevat wat aansluit by die bundeltitel en terselfdertyd Aucamp se oorspronklike titel betrek. Marais volg in sý weergawe van die gedig die genrekonvensies van die kwatryn wat Aucamp se voorkeurdigvorm was, maar parodieer en verqueer die oorspronklike inhoud. Aucamp se gedig is vanuit ‘n heteroseksuele perspektief geskryf terwyl die spreker in Marais se weergawe self erken dat hy “‘n gay cliché” is.

Die spreker in die gedig beskou homself voorts as ‘n “ouman”, hoewel hy net 36 jaar oud is. Hierdie verwysing na die self as oud op ‘n relatief jong ouderdom is moontlik die gevolg van ‘n kulturele fenomeen onder sommige gay groeperings om gay mans as “oud” te klassifiseer op ‘n heelwat jonger ouderdom as byvoorbeeld heteroseksuele mans:

Because of the gay community’s emphasis on youth, homosexual men are considered middle aged and elderly by other homosexual men at an earlier age than heterosexual men in the general community. Because these age-status norms occur earlier in the gay subculture, the homosexual man thinks of himself as middle aged and old before his heterosexual counterpart does (Bennett & Thompson, 1991:66).

Die gedig handel, nes Aucamp se oorspronklike gedig, oor ‘n verhouding wat op die rotse geloop het – en ook hierdie spreker sit op ‘n plaas waar hy verlang na die jonger millenniër-student wat eens deel van sy lewe was. Daar is ‘n ongesonde obsessie met sy eks wanneer hy voyeuragtig sy doen en late volg op die sosialemediaplatform Instagram. Mense, en in hierdie geval die jong gay man, se neiging om hul voorkoms kuratories te stileer voordat dit in die publieke domein uitgestal word, word deur die spreker beskryf as “die jeug wat jeug verpak”. Die gedig self word egter ook ‘n verpakking van jeug en dit blyk dat, net soos by Aucamp, die skoonheid van jeug en (dig)kuns gebruik word om veroudering en ouderdom te probeer besweer. In Aucamp se geval is dit veral die ekfrastiese sonnette in Hittegolf (2002) waarin hy jeugdige manlike liggaamlike skoonheid “verpak”.

Aucamp se oeuvre word gekenmerk deur eksistensiële eensaamheid, veral soos ervaar deur ‘n ouer gay man, en hoewel die spreker in Marais se gedig nie werklik só oud is nie, beklemtoon hy dat eensaamheid nie beperk kan word tot ‘n sekere ouderdom nie. Die gay man alleen op die Karooplaas is egter meer geïsoleerd vanweë die swak selfoonsein wat hom in effek gedeeltelik afsny van die buitewêreld – net soos die arme student in Aucamp se gedig moet staatmaak op briewe wat lank neem om hul bestemming bereik.

Met studentikose woorde en frases soos “woke”, “on fleek”, “whiteness”, “trans rights”, “PrEP”, “cardi b.” en “millenniale” evokeer Marais die moderne wêreld van jonger (gay) mense en vertaal hy as’t ware die metafore en beelde wat Aucamp gebruik het na meer hedendaagse beeldspraak. Sodoende word die gedig ook op taalvlak meer toeganklik gemaak vir ‘n moderne lesersgehoor.

Dit is interessant dat “Studentikoos” gevolg word deur ‘n gedig getiteld “Retro cruising” (74) waarin ‘n gay cruise-ervaring met ‘n “Oom” “aan die geslete kant van vyftig” beskryf word. Die aannames wat die spreker oor die man maak blyk egter aan die einde van die vers omvergewerp te word wanneer sibilante s-klanke in sy afskeidswoorde enige idees dat hy ‘n “ruie” Calvinistiese rugbyspelende boere-“pappa” is aan skerwe laat spat. Marais gebruik dieselfde tegniek in sy gedig “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (52) wanneer hy aanvanklik die idee van ‘n cruise-ervaring tussen ‘n ou oom, genaamd Koos, en die spreker skep, maar dan teen die leser se verwagtings inskryf wanneer die spreker net ‘n platoniese gesprek met die Afrikaner-oom voer. Die ouer mans in Marais se bundel tree ook as seksuele mentors op soos in “Jannie” (70) waar die ouer man geamuseer is deur die jonger man se “gretigheid” tydens hul seksuele samesyn. Hierdie gedigte herinner ook aan die cruise-gedigte van Aucamp (en onvermydelik Johann de Lange) waar die ouer man dikwels deur ‘n jonger man seksueel bevredig word – weliswaar soms om (selfs net tydelik) verlore jeug te probeer herwin.

Benewens die enkele queer gedigte wat vlugtig hier bespreek is, word heelwat ander portrette van mense en ervarings in die bundel geskets wat die leser met ‘n Aucampeske gevoel laat. In hierdie verband is dit veral verwysings na die pa-, oom-, en oumafigure; die ouerwordende kunstenaar in die vorm van ‘n “bejaarde digteres”; ‘n aantal middeljarige mans; verwysings na “ou koos” en “ou piet”; woorde soos “pederas” wat intergenerasionele homoseksualiteit bevestig; en verwysings na die verouderende manlike liggaam, soos “oumanbalhaar” en “oumanpens” wat opval. Jan, Piet, Koos en Jakob is ‘n treffende digterlike inventaris van name en gepaardgaande assosiasies waarmee Loftus Marais weereens op uitsonderlike wyse die alledaagse tot intellektuele, dog uiters toeganklike, poësie verhef.

 

Verwysings

Bennett, K. C. & Thompson, N.L.  1991.  Accelerated aging and male homosexuality: Australian evidence in a continuing debate.  Journal of homosexuality, 20:65-75.

Ramirez-Valles, J.  2016.  Queer aging. The Gayby Boomers and a new frontier for gerontology.  New York: Oxford University Press.

 

stilet.eggo-resensie deur Stefan van Zyl vir 30(1&2) Novum

 

Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Loftus Marais

Kaapstad: Human & Rousseau, 64 pp.

ISBN: 9780798177177