30(1) eggo: Rickus Ströh

“my stad kan wel vertrou word”: stad as ruimte in Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Rickus Ströh

Klik hier vir die PDF-weergawe

Die stad as ruimte is ’n tema wat sterk in Loftus Marais se bekroonde debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) en die daaropvolgende bundel Kry my by die gewone plek aguur (2012) met die veelseggende subtitel, Kaapstadse gedigte, voorkom. In Marais se derde bundel Jan, Piet, Koos en Jakob (2019) word die tematiese verkenning van die stad as ruimte voortgesit. Die vernaamste verskil egter is dat die stad wat die meeste aandag in die nuwe bundel geniet, nie Kaapstad is nie, maar Johannesburg. Eksplisiete verwysings na merkers soos Malibongwe-weg (“Botsing”, 17), Parkhurst (“Kostumering”, 56) en die “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (52) bevestig die Johannesburgse ruimte vir die leser, alhoewel Kaapstad ook sy verskyning maak met verwysings na die Suidoosterwind (“Jantjie Skuinsdwars”, 11) en die Virgin Active Tyger Valley (“Heet”, 51). Net soos in die vorige bundels word die stedelike ruimte ook hier ingespan vir meer as net geografiese plek.

Die titel van die bundel is reeds deur ’n aantal resensente bespreek (onder meer Louise Viljoen, Joan Hambidge, Charl P. Naudé en Marius Crous). Simbolies dui die titel op argetipiese Afrikanermanlikhede en aktiveer ook die uitdrukking “elke Jan Rap en sy maat” wat anonimiteit en veralgemening onderskraag, en dien as sleutel tot die ontsluiting van talle gedigte in die bundel. Die titel beklemtoon by implikasie die ruimtelike opset waarin elke Jan Rap en sy maat homself bevind, naamlik spesifiek die stad as ruimte. Eerstens gaan dit oor die stad as ruimte waarin Afrikanermanlikeid en seksualiteit beproef of bevestig word, en tweedens die opvatting dat die stad ’n ruimte is van heterogeneïteit en seksuele bevryding.

Van Coller (2006) se seminale artikel oor die Afrikaner se besondere verhouding met die stad en die plaasruimte as bevestiging van Afrikaneridentiteit, word in sommige van Marais se verse ondersoek. In die titel van die tweede gedig in die bundel (“Plaasherinnering”, 10) word die plaasruimte opgeroep, en die herinnering daaraan as die byna les van ’n soort dors. In die verse wat volg word die ruimte egter verplaas na die voorstede van Kaapstad en Johannesburg waar die plaas as onderbewuste steeds by die spreker bly, en die voorstedelike tipeer word as ‘n “nuwe” ruimte waarin Afrikanermanlikheid homself bevind. In ’n vers soos “Piet X” (19) word ‘n stereotipiese (of prototipiese) vergestalting van Afrikanermanlikheid satiries beskryf as ’n middeljarige man wat ongeduldig (hy toet vir learner drivers), en egoïsties (hy dink ‘n double cab is ‘n familiemotor) is, met ’n sekere sosio-politieke opvatting. Tog, in die privaatheid van sy Noord-Pretoriaanse huis bewonder hy op ’n byna kinderlike wyse die misterie van diepsee klanke. Die spreker laat dit aan die leser oor om self die vraag wat sê dit dat ’n wese soos piet x / geroer word deur die tjanke van verbeelde seemonsters? te antwoord.

“Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (52) kan as ’n sleutelgedig vir die bundel beskou word. In hierdie gedig word die stereotipiese Afrikanerman weereens die fokus, wie se ouer liggaam observeer word in ’n gimnasium se stoomkamer.

            ek sien die ou oom stut homself so teen sy

            sluitkas, onvas soos hy sy checkhemp uittrek

            en sy vel ‘n spatsel van verdagte moesies

 

            later stap hy stoom-in sonder uitdrukking, asof

            hy ’n gewone kamer inloop, maar sy heup gee ligte

            moeilikheid, plof sitvlak op ’n persblou handdoekie

 

            en meer as uit sy grysheid kom sy soort

            gelouterdheid vanuit die kromte van sy rug,

            hy maak geselsies, dis net ek en hy

Tydens die handeling word dié ruimte ’n homososiale ruimte waar gesels word oor politiek en sosiale kwessies, en waar die spreker onwillig homself aan hegemonie onderwerp deur op ’n ewig en ordentlik afrikaner manier te antwoord “o ja, oom”. Die spreker is egter geïrriteerd met die man wat onbewus is van die eintlike doel van die stoomkamer:

            ek is geïrriteerd, dié meneer is onbewus dit is

            ’n cruising spot, net stil vanmiddag, my bad luck

Die gimnasium as stedelike ruimte vervul ook ’n ander funksie en sluit aan by Marais se ontginning van die stad as diverse ruimte met betrekking tot ras, geslag, geloof en seksualiteit. Hubbard (2012) beskryf die stad as ’n ruimte vir sosiale en seksuele bevryding weens die heterogeneïteit van die inwoners van ’n stad wat anonimiteit, en ’n wegbreek van kloustrofobiese sosiale verhouding van ‘n klein dorp of die platteland, impliseer. Die diverse beeld van Johannesburg ten opsigte van ras, geloof, seksualiteit, en sosio-ekonomiese klas vind neerslag in verse soos “Botsing” (17), “Johannesburg” (55) en “Kostumering” (56). Laasgenoemde gedig is ’n humoristies blik op die inwoners van ’n ryk buurt (Parkhurst) in Johannesburg tydens Allerheiligeaand waar kinders met name soos “Geràrd” en “Tammy” (en nie tradisioneel Afrikaanse name soos “Jakobus” of “Jana” nie) in kostuums rondloop. Daar word ook stereotipies verwys na moffies (met yorkshire terriers) en ’n drawwer met oefenklere.

Die werklikheid van die Suid-Afrikaanse samelewing word eerlik verwoord in die gedig “Johannesburg” (55):

            my stad kan wel vertou word.

            bergelose landskappe is eerliker.

            die hede onverdoesel shacks en melrose arch

            as dit-is-nou-maar-dit.

            nog altyd botsing, meteorietgebied.

            die wit mense wat nie die taxihandtekens sal ken nie.

            rykgatvroue groet mekaar soos hadidas

            in hyde park corner: “hâi! hâi girl! hâ yu?”

            met huis toe ry bekyk die sakemanne lamppale

            as obelisk gecartouche met penis

            enlargements- én abortion-selnommers, langs bedelaars.

            die nood wat uitkrink in sirenes en

            oranje stof en moegheid en kliniektoue.

            hoe hoek en straat mens al die opgestampte, uitgemynde

            dinge van ’n plek? mens kan nie.

            en die dag verfladder in sy rommel.

            maar die middelklas se psige strek ver noord:

            die watertorings lyk soos golf tees van die gode!

            vroegaand tril ’n dronkgeslaande son deur

            mengsels lugbesoedeling en vrees

            asof self hemelliggame verstom kan hang

            oor hoe blatant die werklikheid kan wees.

Ander verse beskryf weer die belewing van gay seksualiteit en intimiteit soos “Hakskeen” (40), “Jannie” (70) en “Heet” (51). In laasgenoemde word die stad tipeer as ’n cruising ruimte waar mans mekaar optel vir kortstondige seksuele ervarings. Die aanvanklik naamlose en anonieme cruiser neem die spreker na sy woonstel waar sy getroude, heteroseksuele privaatlewe ontbloot word, terwyl hy ironies nie sy naam bekend wil maak nie, lees die spreker dit in die Bybel langs sy bed raak: goeie seuns skryf in hul bybels mos hul name.

Dit is opvallend hoe veral die gimnasium as cruising ruimte beskryf word in “Heet” (51) en “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (52), teenoor die meer tradisionele donker stegies en parke. In “Retrocruising” (74) word die cruising ruimte wel verplaas na ’n donker stegie waar die spreker ’n man aan die geslete kant van vyftig optel vir seks. Tydens die ervaring word verskeie tradisionele Afrikanermanlikhede en die plaas as onderbewuste ruimte opgeroep: ’n diaken se moestas, blomkoolore, wydsbeensit om braaivleisvuur, uitgewaste pt-broekies, toksgekletter, en die spreker wat die Oom (let op die gebruik van die hoofletter terwyl alle ander eiename in die bundel in kleinletters voorkom) summier klassifiseer as Calvinisties. Die gedig eindig met die man wat die spreker op ’n sissende manier in Engels antwoord: sso needed that, yess, thankss.

Hubbard (2012:125) vereenselwig die handeling van cruising met dié van die flaneur, ’n figuur wat vrylik deur die stad beweeg met ’n subjektiewe manlike blik. In die bundel word die blik egter nie net tot die stedelike ruimte beperk nie, maar word ook gerig op manlike liggame binne die stedelike ruimte soos in “Piet Pectoral” (54) wat weereens binne ’n gimnasium afspeel, “Jan Pikbroek” (12) wat ’n verwysing is na die Finse kunstenaar Tom of Finland se homoërotiese afbeelding van ’n matroos. Hierdie vers herinner aan Johann de Lange se verse soos “Sonbaaier” (De Lange, 2012:42) waar die manlike liggaam as seksuele objek beklemtoon word. Die digitale ruimtes van Skype en Instagram word ook ingespan as cruising ruimte in verse soos “Piet Pixel” (32) en “Studentikoos” (72).

In Jan, Piet, Koos en Jakob verryk Marais die Afrikaanse poësie met ’n verfrissende blik op die eietydse stedelike samelewing waar Jan Rap en sy maats Piet, Koos en Jakob in die stad bymekaar kom en ’n volledige Suid-Afrikaanse beeld vir ons gee, soos die voorblad van die bundel suggereer.

Verwysings

De Lange, J.  2012.  Vaarwel, my effens bevlekte held.  Kaapstad: Human & Rousseau.

Hubbard, P.  2012.  Cities and sexualities.  New York: Routledge.

Van Coller, H.P.  2006.  Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa.  Stilet 18(1), Maart:90-121.

 

stilet.eggo-resensie deur Rickus Ströh vir 30(1&2) Novum

 

Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Loftus Marais

Kaapstad: Human & Rousseau, 64 pp.

ISBN: 9780798177177