30(1) eggo: Liezl Dick

Jan X, Geldpiet, Koos, Jakob, die portapool, ’n motorongeluk, witwees en die geur van vleis en blare: die saamgestelde wit subjek gelees deur ’n assemblageteorielens

Liezl Dick

Klik hier vir die PDF-weergawe

In Loftus Marais se bundel Jan, Piet, Koos en Jakob word die alledaagse op ’n komiese, sardoniese dog ernstige wyse verwoord – ’n verskeidenheid van karakters, objekte en emosies skep ’n netwerk van subjektiwiteite, ruimtes, situasies, affekte en herinneringe. Die bundel maak hierdeur ’n interessante lees van witwees-ervaringe in SA in 2019 moontlik: Gelees deur ’n affektiewe witwees- en assemblageteorielens, kan ’n merkwaardige vervlegging van ras en identiteit soos dit gevorm word in alledaagse ervaringe, waargeneem word.

Witwees kan beskryf word as ’n ingesteldheid wat gekenmerk word deur strukturele bevoorregting binne ’n gerasde orde, waar die bevoorregte blind en/of onkundig is oor die posisie van bevoorregting. Hierdie onkunde vind gewoonlik plaas ten koste van ’n gerasde ander, waar onverdiende, strukturele voorregte as vanselfsprekend aangeneem word en dus nie bevraagteken word nie. Witwees en ’n gepaardgaande bevoorregting word dan beskou as ’n gegewe, normatief en standaard. Wanneer wittes wel insig in hierdie geraste orde en ongeregtigheid verkry, bestaan daar ’n neiging om hierdie rassifisering te relativeer, te regverdig en as ’n gegewe te beskou, terwyl daar vasgehou word aan koloniale aannames van meerderwaardigheid wat wit bevoorregting onderlê (Dick, 2018: 232). ’n Patroon van kognitiewe disfunksionaliteit kom dan tot stand, gebasseer op strategiese epistemologiese onkunde (Steyn, 2012), waar die gerasde ander dikwels vir sosiale en ekonomiese probleme blameer word, sonder om erkenning te gee aan strukturele ongelykheid wat teweeg gebring is deur apartheid se wit-bevoorregtingsbeleid (McEwen & Steyn, 2013: 11).

’n Affektiewe begrip van witwees wil verstaan hoe rassifisering affektief in mikro-ruimtes gebeur, en hoe rasgewoontes uitspeel en vorm. Witwees-studies wil die onsigbare strategieë waarvolgens wit mense hulself en ander rassifiseer en gevolglik op onverdiende voorregte aanspraak maak, ontbloot (Steyn, 2007: 421).

’n Affektiewe siening van rassisme dui aan hoe liggame en ruimtes geras word binne assemblages bestaande uit affekte, intensiteite, materiele elemente en begeerte, en hoe ras-assemblages vorm (Zembylas, 2018: 4). Konsepte soos assemblage en affek is handig om die beoefening van witwees en uitoefening van rassifisering te begryp, juis aangesien rassisme en rassifisering dikwels op nie-verbale, prediskursiewe en onbewuste vlakke plaasvind. Deleuze en Guattari se konsep van assemblage neem materialiteit, beliggaming en verbandhoudendheid ernstig op, en stel ons in staat om rassifisering as iets te verstaan wat liggame doen, terwyl gerasde subjektiwiteit gelees kan word as prosesmatig en relasioneel. Affek kan beskryf word as die prediskursiewe beweging van emosies en intensiteite wat tussen liggame en obekte in ’n assemblage vloei. ’n Affektiewe, prosesmatige verstaan van ras kan bydra tot ’n affektiewe heropvoeding omtrent rassisme – iets wat agterweë gebly het na die aanvang van ons demokratiese bestel (Dick, 2018: 229). So ’n benadering kan lig werp op ons eie onbewuste rasgewoontes en vooroordele, waar hierdie insig en bewuswording moontlik kan bydra tot ander beoefeningsvorme van witwees. Ras en rassifisering is gevolglik iets wat in die hier en die nou gebeur tussen mense en objekte, eerder as ’n inherente, mentale vaste gegewe waaroor ’n liggaam beskik.

Wat aktualiseer Jan, Piet, Koos en Jakob, wanneer die bundel deur ’n lens van witwees as affektief, en gerasde subjektiwiteit as die newe-produk van ’n assemblage, gelees word? Die gedigte leen sigself  tot die lees van die subjek as saamgesteld deur materiele en nie-materiele elemente binne ’n affektiewe assemblage; mens koppel in die gedigte met ander mense en objekte binne ruimtes terwyl emosies, herinneringe, beelde en intensiteite deur hierdie menslike en nie-menslike entiteite vloei: “hoekom bly die kougom-reënjas-tupperware-sintetika/ van portapool my by as middelpunt van daardie dor land?/en die afslaan/oppak met die huis toe gaan, die dooie gras as res,/etterig die kleur daarvan, or eerder: entmerk op die grasperk/ nes die ene op my pa se skouer? nee, die reuk van lou plastiek/ so teen die werf se geur van vleis en droë blare, is ‘onthou’”

Sodoende word die saamgestelde subjek prosesmatig gevorm, binne ’n masjinistiese assemblage waar geen hiërargie of mediëring tussen die koppelende entiteite bestaan nie. Die gedigte demonstreer hoe passies, intensiteite en emosies asook interaksie met mense en objekte bepalend is vir die subjektiveringsproses. Ons word bewus van hoe subjektivering prosesmatig plaasvind, en ontvou, gedig na gedig. ’n Prosesmatige begrip van subjektiwiteit maak dit dus moontlik om onsself en identiteite te verstaan as verbandhoudend. Identiteit is iets wat beoefen word, iets wat gebeur soos wat dit prosesmatig en affektief ontvou deur die koppeling van materiele en nie-materiele elemente.

Die saamgestelde subjek maak gevolglik ’n ander lees van rasidentiteite moontlik: ras word beskou as die ontluiking van koppelende, heterogene entiteite in ’n affektiewe assemblage waar materiele elemente soos fenotipe, eiendom, grond en besitting nie-hiërargies aan immateriale elemente soos  toegeneentheid, haat of vrees masjinistiese (dus direk en ongemedieerd) koppel. Liggame met soortgelyke fenotipe word stadiger en taai weens die vloei van affekte en intensiteite soos vrees, haat, stereotipering en gewoontevormende denke, wat dan die vorming van rigiede homogene ras-assemblages tot gevolg het, waar herhalende gedrag ingebed in gewoontevormende ras-denke, spesifieke refreine van gerasde identiteite konstitueer. Gerasde subjektiwiteite word dus gevorm in ras-assemblages, waar soortgelyke liggame aan mekaar kleef, en sekere entiteite en affekte dan aan gerasde liggame kleef (Saldanha, 2006).

Gelees deur ’n witweesstudies-lens, dien die bundel boonop as artefak van die sosiale dinamika van gerasde identiteite in ’n 2019 Suid-Afrikaanse konteks. Witwees, soos wat dit verskyn in die bundel, is soms ’n terloops en onbewuste gegewe, terwyl gerastheid met tye meer prominent in die gedigte deurbreek;  ’n gegewe wat voordurend onder die oppervlakte van ons alledaagse bestaan uitloer, dan weer terugsink. Die hardnekkigheid van ons gerasde, “skreiende identiteite” (p.57), die onvermoë om meer (of minder) te word as gerasde subjektiwiteite, slaan tussen die versreëls deur.

By die lees van “Plaasherinneringe” (p.10) sien ons hoe subjektiwiteit gevorm deur die masjinistiese koppeling van ’n plaaslandskap, die reuksensasie van vleis, blare en lou plastiek, herinneringe van ’n pa en kind in ‘n portapoolswembad, vervleg met hitte en emosies oor politieke gebeure in die ’90’s. Ons neem ’n sekere sentiment van Suid-Afrikaanse witwees hier waar, waar sorgeloosheid, landskap en ’n vae bewustheid van ’n bedreigende oproerigheid in ’n kindergemoed vorm. Die kind beskou homself nog nie hier as “wit” nie; ras is vanuit ’n witweesperspektief iets wat aan die gerasde ander toegeskryf word, en wittes is blind vir hierdie geraste dinamika, aangesien witwees as die norm en die standaard beskou word. Witwees word hier nie pertinent genoem as aspek van die subjek nie, maar ons weet dat dit alreeds deel vorm van die subjektiveringsproses: “’n lilo word gestuur op wind vol/ braai en radio: roxette, kodesa-nuus, die vroeë 90’s/ se ‘ons was amper moertoe’-kitsch in my geheue nou saam/ met middernag en slapeloos van hitte kaal swem met my pa”

Wanneer “Die groot digteres parkeer”, sien ons hoe rassifisering beoefen word deur ’n affektiewe en materiele diskoers van ras-klassifisering, en die wyse waarop gerastheid manifesteer in aanspreekvorme en narratiewe. Wanneer “koos die karwag skree…‘ek checkit vir jou my miesies!’”, weet ons dat Koos waarskynlik volgens Suid-Afrikaanse rasseklassifiseringsbeleid as bruin of kleurling geklassifiseer word, terwyl die Hertzogwenner wit is. Hier lees ons tog iets raak oor witwees, ras-hiërargieë en die instandhouding van apartheid ras-kategoriee via diskursiewe praktyke, kanonisering en beliggaamde beoefening van ras. Die hardnekkige verband tussen ras en klas, skemer ook deur.

In “Wit man” (p. 16) word ’n meer clichéd, gerasde identiteit en fenotipe pertinent onder die soeklig geplaas wanneer slawerny, naamgewing en besitting gekontempleer word, en word velkleur pertinent deel van die bundelsubjektiveringsassemblage. Naamgewing as koloniale totaliseringspraktyk waar die subjek tot objek gemaak word: “die eienaars kan nie/name soos chachista of towaijo uitspreek nie/ noem hul slawe januarie of fortuin”

Vraag: Wat gebeur met die saamgestelde subjek wanneer gerasde, objektiverende verontmenslikende affekte en intensiteite deel vorm van die wordingsproses? Antwoord: Hierdie verontmensliking resoneer 200 jaar later steeds deur gesamentlike (ont)wordings en ras-assemblages. ’n Kenmerkende aspek van witwees is die kognitiewe dissonansie en die wyse waarop wit onkunde neerslag vind op mikro en makro vlak in SA, waar die wit mens meegesleur is deur én ingekoop het in bevoorregting en strukturele onkunde.  Ons lees hoe dissonante subjektiwiteite vorm waartydens skeppende handwerk, plesier en alledaagsheid versteur word deur refreine van politieke onstabiliteit met ’n aanslag op Verwoerd se lewe. Ons lees hier ook iets oor die prys van ongeregtigheid en strukturele wit bevoorregting, en die tol wat dit op die wit psige eis: “Hoekom hou ek daarvan om my oom/ te haat? Hy, op sy dag atleet en republieksoldaat/ vandag ’n alkoholis en vroueslaner/”. Die projek van wit bevoorregting ten koste van ’n gerasde ander was nie moreel of ekonomies volhoubaar nie, en die wit subjek vind steeds hierdie ineenstorting en verlies emosioneel en psigies uitdagend. “geskiedenis/banaal en boos en naby soos familie”. En in jou velkleur, wil mens byvoeg, want die onreg van die verlede is naby en in die hede en in ons velle. So wat bly oor?, vra die digter. ’n Trae poging tot selfverset, of dalk ’n opsê, waar die name van die gerasde en geobjektiveerde ander by ons aanhou spook? Om betekenisvol om te gaan met ons wit gerasde identiteite en die reperkussies daarvan, is besonder uitdagend. Die sondes van die (voor)vader(s) resoneer steeds affektief deur ons wordinge, en die queer seun se oriëntasie jeens dit wil-wil neig na ʼn mate van erkenning en regstelling van die wit vergrepe van die verlede. Kan ons ander maniere van witwees beoefen, en hoe vloei queerwees en rassigheid saam? Hoe neem ons verantwoordelikheid vir wie ons geword het, die bestaanswyses onderhewig hieraan (Gatens & Lloyd, 1999: 81) en wat maak ons met die koordinate van subjektivering waar queerwees en rassigheid ontmoet?

Die refreine van witwees, wat vorm deur taal, rasgewoontes en bestaanswyses, se wanklanke weerklink deur ons verbandhoudende subjektiwiteite. In “Botsing” (p.17) sien ons hoe affekte van rassisme intensifiseer in konflik situasies, en hoe maklik ons ras-stereotipes oproep ten einde voorbehoud teenoor die gerasde ander te regverdig. Die leser kry ook ’n idee van hoe deurspek ons daaglikse interaksie is met rasdenke; die Indiër in wie vasgery word, is ’n doos, maar die wit panelbeater is ook ’n doos. Gerasde vooroordeel en stereotipering word voortdurend met ’n gewetenswroegende gemaal-en-delery uitgekanselleer of geregverdig.

Die kompleksiteit van die wit heteroseksuele manlike subjek kom egter ook in “Piet X” (p. 19) onder die loep. Piet is jou tipiese “noord-pretoriase donder”. Hy is middeljarig, harig, ongeduldig, klassisties en ondersteun Solidariteit. Piet klink onaangenaam, soos daardie oom of neef wat elkeen van ons om die Kersfeestafel probeer vermy. Saans, wanneer die skemer daal, raak Piet X egter emosioneel en meegevoer deur onverklaarbare diepsee-klanke. “wat sê dit dat ’n wese soos piet x/geroer word deur die tjanke van verbeelde seemonsters?” vra die digter. En die leser wonder inderdaad: wat maak mens met die kompleksiteit van wit, hetero-normatiewe rassisme?

Die resultaat van wit strukturele bevoorregting en wit onkunde, en die mate waarin hierdie wit manlike subjektiwiteit gevorm word deur affekte van meerderwaardigheid, word verpersoonlik in “Geldpiet” (p. 39). Geldpiet ervaar welvaart, beskik oor aansien, behoort aan ’n eietydse broederbond, beweeg met gemak tussen kontinente en is ver verwyderd van die deurleefde ervarings en uitdagings van sy gerasde swart medelandsburgers. Wit bevoorregting word as vanselfsprekend aanvaar. “en hy glimlag as hy lees oor stakings/ in ’n land vol werkloosheid – weet die mense nie hoe werk die wêreld nie?” Die toe-eiening van bevoorregting, wat as ’n gegewe en natuurlik beskou word soos die vanselfsprekendheid van ’n wit vel, word produktief hier uitgebeeld. Want wit bevoorregting maak die witmens blind vir die voorregte van ’n wit vel hê, en dus word strukturele ongelykheid ook onsigbaar. Geldpiet beskik oor ’n bewussyn wat nie verder wil dink as die gegewendheid en vanselfsprekendheid van wit bevoorregting nie. So, hoe lyk Geldpiet as saamgestelde wit subjektiwiteit? Eiendom, geld, geleenthede, onkunde, apatie, meerderwaardigheid, luukshede en gemak kleef hier aan Geldpiet se wit vel. Hy bevind hom in homogene wit ras-assemblage wat ondeurdringbaar is vir ander fenotipes of klasse. Soortgelyke wit liggame groepeer saam, resoneer, vorm rituele en skep ’n ras-assemblage wat vaste gerasde wit subjektiwiteite tot gevolg het. Die ekonomiese en sosiale uitdagings van swart en bruin landsburgers dring nie hierdie wit ras-assemblages binne nie, behalwe wanneer dit manifesteer in misdaad en geweld. Witwees en bevoorregting word bewaak, en die gerasde ander breek slegs Geldpiet en garde se bewussyn binne as staker en onkundige gerasde ander wat nie weet “hoe werk die wêreld nie” (p.39).

In “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (p. 52) sien ons die produk van “70 jaar se wit bevoorregting” in sy adamsgewaad. Die digter wil-wil met afgryse vervul word deur die oom se “pap wit vel”, maar “’n muistepel op byna die presiese plek as ek” laat ’n oomblik van (h)erkenning toe. Want sien ons nie maar tog dikwels iets van ons eie witwees in ander wittes nie? In “Johannesburg” (p. 55) lees ons van “die wit mense wat nie die taxihandtekens sal ken nie”, wat dui op die verskillende deurleefde ervarings van Suid-Afrikaners, waar Uber die naaste is wat meeste gerasde wit subjektiwiteite aan publieke vervoer sal kom. “Die wasvrouens, Pieter Clarke” (p. 57) lewer kommentaar op die wyse waarop skoonmaakdiens en huiswerk aan swart liggame, en spesifiek die swart vrou, se liggaam kleef; ’n wêreld waar jou velkleur dit wat jy kan word en wees, steeds beperk, en ons vasgevang bly in “die hulsels van ons skreiende identiteite”. In “Studentikoos” (p.72) word daar sydelings sardonies verwys na die woke millennial se “kursusse in whiteness”. Dit dui op ’n interessante verwikkeling in die saamgestelde wit subjektiveringsproses, wanneer jongelinge gerasde identiteite begin ondersoek en bevraagteken. Is dit wat hier gebeur? Of sou dit ’n terloopse steek na witweesstudies en performatiewe, oppervlakkige wokeness en politiese korrektheid wees?

Marais se bundel, gelees as ’n assemblage waar Jan X, Geldpiet, koos die pispot (p. 27) wat droom van beter inkarnasie en Jacob Zuma (p. 64), onder andere, affektief koppel met mekaar en ander menslike en nie-menslike entiteite, laat blyk iets van die saamgestelde subjek soos wat dit prosesmatig vorm. Gelees deur ’n affektiewe witweesslens, word daar iets gesê oor die wyse waarop wit ras-assemblages werk en witwees beoefen en in stand gehou word. Ras en witwees temas is egter oënskynlik afwesig in gedigte wat oor die liefde of seks handel, en verskyn meerendeels eerder in sosiale interaksie beskrywinge of waarnemings. Wat sou dit oor die teenwoordigheid van taai ras-assemblages sê in die wit queer subjek se intieme lewe? In die bundel is die wit queer subjek geneig om die problematiek van witwees toe te skryf aan soms ouer en meestal heteroseksuele manlikheid, en as ’n probleem wat buite sy intieme lewe afspeel. Sien bv. “Wit man” (p. 16) , “Piet X” (p. 19) , “Geldpiet” (p. 39), “Virgin Active-stoomkamer, Randburg” (p. 52). Bestaan daar ’n spanning hier tussen die verbandhoudende utopiese ideale van queerwees en die eksklusiwiteit van die wit queer subjek se intieme lewe? En sou die wit queer subjek dalk queerwees as verskoning gebruik om nié daadwerklik om te gaan met die witweesproblematiek nie? Die verknoping van queerwees en witwees noodsaak verdere ondersoek, asook die wordingsmoontlikhede, al dan nie, wat ’n wit queer subjektiwiteit in SA in 2019 inhou.

Die vaste ras-assemblages in intieme ruimtes lewer voorts kommentaar op ’n gebrek aan ras-geïntegreerdheid binne ons diverse samelewing. Wit en swart ras-assemblages bly meestal taai, homogeen en ondeurdringbaar, en geraste SA’ners dring mekaar se lewens hoofsaaklik binne deur motorongelukke, situasie van geweld of misdaad, in ’n baas-en-klaas-dinamika en altyd alreeds as gerasde stereotipes.

 

Verwysings

Deleuze, G. & F. Guattari. 2008. A thousand plateaus – capitalism and schizophrenia. Londen: The Continuum Publishing Company.

Dick, L. 2018. Assemblage-teorie, affek en witwees. ’n Alternatiewe blik op die werking van witwees. LitNet Akademies, 15(2): 229-248.

Gatens, M. en G. Lloyd. 1999. Collective Imaginings: Spinoza, Past and Present. London: Routledge.

McEwen, H. & M. Steyn. 2013. Hegemonic epistemologies in the context of transformation: Race, space, and power in one post-apartheid South African town. Critical Race and Whiteness Studies, 9(1). https://acrawsa.org.au/wp-content/uploads/2017/12/CRAWS-Vol-9-No-1-2013.pdf

Saldanha, A. 2006. Reontologising race: the machinic geography of phenotype. Environment and Planning D: Society and Space, 24(1):9–24. http://doi.org/10.1068/d61j

Steyn, M. 2007. As the postcolonial moment deepens: A response to Green, Sonn, and Matsebula. South African Journal of Psychology, 37(3):420–24.

Steyn, M. (2012). The ignorance contract: recollections of apartheid childhoods and the construction of epistemologies of ignorance. Identities, 19(1), 8–25.

Zembylas, M. 2018. Affect, race, and white discomfort in schooling: Decolonial strategies for “pedagogies of discomfort”. Ethics and Education. https://doi.org/10.1080/17449642.2018.1428714

 

stilet.eggo-resensie deur Liezl Dick vir 30(1&2) Novum

 

Jan, Piet, Koos en Jakob (2019)

Loftus Marais

Kaapstad: Human & Rousseau, 64 pp.

ISBN: 9780798177177