30(1) diskoers: Shawna-Leze Meiring

Eurochronologie in Afrikaanse literatuurgeskiedenis: Voorstel vir ’n alternatiewe bestudering van tekste aan die hand van “fiksiewêrelde van tekste”

Shawna-Leze Meiring

Klik hier vir die PDF-weergawe

Opsomming

In hierdie artikel word die manier waarop literatuurgeskiedenisse volgens ʼn model van eurochronologie ingedeel word, bespreek. Eurochronologie, soos gebruik deur onder meer Eric Hayot (2012:1-2), verwys na die manier waarop Europese modelle van literatuurgeskiedenisse dikwels ‘n sentrale plek in wêreldletterkunde hou. Met ander woorde, die manier waarop ‘n literatuur “behoort” bestudeer te word, is deur Europese literature bepaal. Hierdie benadering is oorgelewer aan “kleiner” letterkundes, soos die Afrikaanse letterkunde. Die navolg van so ‘n model hou ʼn aantal implikasies in vir die bestudering van die Afrikaanse letterkunde in die breër Suid-Afrikaanse konteks. Enersyds word ‘n literêre teks dikwels teen ʼn sekere literêre konteks, of literêre periode, gelees. So ʼn benadering maak dit dikwels nie moontlik om ander interpretasies van ‘n teks te lewer nie. Andersyds kan literêre tekste van verskillende letterkundes nie werklik op gelyke voet vergelyk word nie. In hierdie artikel word een moontlike manier bespreek waarop eurochronologie te bowe gekom kan word, naamlik aan die hand van die “fiksiewêrelde” wat tot stand kom in tekste.

 

Abstract

In this article the way in which literary historiographies have often been based on a model of Eurochronology will be discussed. Eurochronology, as the term is used by Eric Hayot (2012:1-2) as well as in this article, refers to the way in which European models of literary histories often hold a central place in world literature. In other words, the way in which a literature “should” be ordered and studied, has been determined by European literatures. This approach has been carried over to “smaller” literatures, like the Afrikaans literature. The following of such a model involves a few implications that cause difficulties for studying the Afrikaans literature in the larger South African context. The first implication is that a literary critic often interprets literary texts against a certain context or literary period, which does not necessarily allow for other interpretations. The second implication is that literary texts from different literatures cannot truly be compared with each other on equal grounds. In this article one possible alternative is discussed for the model of Eurochronology by analysing the “fictional worlds of texts”.

 

1  Inleiding[1]

Literatuur word dikwels benader aan die hand van ʼn model gebaseer op eurochronologie. Die navolg van so ʼn model in ʼn bepaalde literatuur, soos die Afrikaanse literatuur, hou ʼn aantal probleme in vir literatuurgeskiedskrywing en vir die vergelyking van verskillende literêre tekste in verskillende literature. ʼn Model gebaseer op eurochronologie word ook dikwels in Afrikaanse literatuurgeskiedenisse gevolg, met heelwat implikasies vir die bestudering van dié enkele letterkunde in die groter Suid-Afrikaanse konteks.

In die eerste plek val die fokus van hierdie artikel op ʼn beskrywing van eurochronologie en die manier waarop dié benadering dikwels in literatuurgeskiedenisse voorkom. Die implikasies wat die navolg van so ʼn benadering inhou, word ook bespreek. Rita Felski (2011) maak byvoorbeeld beswaar teen die manier waarop ʼn literêre analise van ʼn teks teen ʼn bepaalde konteks gelewer word. ʼn Ander implikasie is dat tekste nie op gelyke voet met mekaar vergelyk kan word nie, soos wat met die Afrikaanse letterkunde binne die groter Suid-Afrikaanse konteks gebeur. Die gevolg is dat ʼn enkele literatuur dikwels in isolasie bestudeer word.

In die tweede plek word ʼn moontlike manier ondersoek waarop die geïsoleerde bestudering van letterkundes omseil kan word – sonder dat een letterkunde in Suid-Afrika bo die ander bevoordeel word. Met ander woorde, sonder dat byvoorbeeld die Engelse literatuur as model voorgehou word en ander letterkundes dan slegs daartoe kan bydra. Een moontlike manier om eurochronologie te bowe te probeer kom, word deur Eric Hayot (2012) voorgestel aan die hand van die “fiksiewêrelde van tekste”. Hy ondersoek die fiksiewêrelde wat in literêre tekste tot stand kom. Hayot stel ʼn empiries verantwoordbare metode voor, gegrond op besonderhede in ʼn teks, waarmee ʼn enkele teks beskryf kan word. Hayot se voorstel vir ʼn model gaan kortliks beskryf word, waarna ʼn aantal kortverhale uit Die Afrikaanse kortverhaalboek (2012) aan die hand van die model “getoets” word. Hierdie verhale is “Gebet van Tities Tokaan” deur Pulvermacher, “Agterplaas” deur Elsa Joubert en “Anderkant die scrap” deur Dana Snyman.

 

2  Die geïsoleerde bestudering van letterkundes in Suid-Afrika

Tradisioneel is die studie van tale en letterkundes op universiteitsvlak verdeel volgens verskillende departemente, byvoorbeeld die Departement Afrikaans of die Departement Engels. Terwyl die sogenaamde isolasie van verskeie tale, letterkundes en kulture lyk na ʼn byna “natuurlike” reaksie op ʼn multikulturele, veeltalige konteks soos in Suid-Afrika, kan die veronderstelde vanselfsprekendheid van so ʼn indeling teruggevoer word na die opkoms van nasionalisme in Europa.

Milan Kundera (2006:35) wys op twee spannings wat met die gebruik van nasionale literatuurgeskiedenismodelle gepaard gaan. Aan die een kant het daar ʼn fragmentering van die geskiedenis van die roman ontstaan omdat daar talle nasionale literatuurgeskiedenisse in Europa bestaan. Hierdie fragmentering van die geskiedenis van die roman hou in dat daar talle verskuiwings en uitbreidings van die roman as genre oor verskillende lande en letterkundes heen strek. Elke nasie slaan immers hoofsaaklik ag op die ontwikkelings in sy eie letterkunde. Aan die ander kant is daar toenemende pogings om in ʼn snel globaliserende wêreld kleiner nasionale letterkundes binne ʼn groter wêreldliteratuur te plaas. Damrosch, Melas en Buthelezi (2009:126) beskryf hierdie poging soos volg:

 

[W]e can read and appreciate a greater range of literatures than ever before, even as globalization threatens to produce a unitary world culture radically different from anything experienced before. The individual scholar has the responsibility, and the opportunity, to counter both the multiplicity of the past and the massification of the present through a blend of intuition, reading and research.

 

Die spanning waarop Damrosch, Melas en Buthelezi wys, om ʼn nasionale letterkunde binne ʼn groter wêreldkonteks te sien as gevolg van globalisering, het ook betrekking op Suid-Afrika. Pogings om ʼn Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis saam te stel word bemoeilik as gevolg van die isolasie van verskeie literatuurgeskiedenisse soos Afrikaans, Engels of Zoeloe. Die probleme rondom die skryf van ʼn Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis word in afdeling 3 bespreek. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die vraag ondersoek: Hoe kan dit moontlik wees om die verskillende letterkundes op gelyke voet met mekaar te bespreek sodat een letterkunde nie bo die ander bevoordeel word nie? Voor enige moontlike oplossings vir hierdie vraag gestel kan word, is dit nodig om op die groter onderliggende probleem te wys.

 

2.1 Die navolg van eurochronologie in literatuurgeskiedenisse

Die voorkoms van “nasionalisme”, waar een letterkunde in ʼn byna geïsoleerde manier beskou word, in iets soos die verdeling van verskillende departemente op universiteite is maar een van die aspekte wat beïnvloed is deur ʼn Europese sienswyse. Die manier waarop ʼn letterkunde in ʼn enkele departement bestudeer word, volg ook op ʼn Europese indeling – ʼn verskynsel wat Hayot in On literary worlds (2012) krities beskou. In die meeste Afrikaanse literatuurgeskiedenisse is die indelings wat gevolg word, gebaseer op periodiese modelle in Europese letterkundes, spesifiek die Nederlandstalige letterkunde (vergelyk onder meer Brink in Van Coller, 2005:31; Van Coller & Odendaal, 2005:2; Koch, 2015:25).

Hayot se kritiek teen ʼn indeling van ʼn literatuurgeskiedenis gebaseer op eurochronologie gaan uit van ʼn letterkundebeskouing en literatuurgeskiedenis wat nie gegrond is op nasionale belang – of een taal of streek se belang – nie, maar op grond van die idee van sogenaamde wêreldletterkunde. Hayot (2012:11-12) redeneer dat die moderne era, wat ingelei is met die Verligting van die sewentiende eeu, gekenmerk word deur ʼn selfbewuste omgaan met die begrip “wêreld”. In die moderne era in Europa is daar op verskeie maniere probeer om  ʼn omvattende, rasionele wêreldbeeld met universele wette te vorm, gebaseer op empiriese waarnemings en rasionele denke.

Die gevolg hiervan was ʼn moderne wêreldbeeld waarteen enige ander wêreldbeelde (kleiner, plaaslike opvattings van die wêreld) as minderwaardig en beperk beskou is omdat die moderne wêreldbeeld bepaal is deur vooroordele, tradisies en opvattings vanuit ʼn Europese oogpunt. Hayot (2012:1-2) verduidelik dat ander “wêrelde” wat buite die Europese raamwerk val as beperkend voorgestel word wanneer dit met die omvattende, moderne wêreldbeeld vergelyk word. Binne hierdie beskouing van moderniteit is alles wat nie Europees is nie daarom eerder beperk en klein, en die verwagting is dat sulke wêrelde uiteindelik geïntegreer sal word binne die groter, moderne Europese wêreld.

Hierdie opvatting veronderstel dat Europese letterkunde en al die opvattings daaroor – ook die literatuurgeskiedenis en die formele kenmerke van literêre tekste – eintlik bepaal wat “wêreldletterkunde” is (Hayot, 2012:2). Enige ander literature word dan gelees bloot om te sien hoe dit die bestaande Europese opvatting van letterkunde aanvul. Wat literatuurgeskiedenis betref, wys Hayot daarop dat die probleem van eurochronologie uit hierdie opvatting van die moderne letterkunde ontstaan – naamlik dat die moderne letterkunde gekenmerk word deur opeenvolgende periodes van realisme, romantiek, modernisme, postmodernisme en dies meer. Wanneer letterkunde uit enige veronderstelde kleiner, beperkte wêreld soos Asië, Afrika of Suid-Amerika ondersoek word, is so ʼn ondersoek daarop gerig om te bepaal waar kenmerke van die Europese (en mens kan “Noord-Amerikaanse” daarby voeg) realisme, romantiek of modernisme daarin voorkom. Die tekste word uiteindelik by die wêreldletterkunde betrek, nie op grond van hul eie kenmerke of die rol wat hulle in ʼn bepaalde land, streek of taal speel nie, maar op grond van hulle verband met die reeds-aanvaarde moderne letterkunde, meen Hayot (2012:2).

Op hierdie wyse ontstaan die probleem van eurochronologie, volgens Hayot, omdat literatuur uit Asië, Afrika of Suid-Amerika by studies van wêreldletterkunde bloot betrek word as bevestiging van bepaalde opvattings (byvoorbeeld, hierdie digters is die moderniste van Argentinië en die Sestigers is die moderniste in Afrikaans). Die probleem hiermee is dat letterkunde uit die res van die wêreld dus nooit op gelyke voet gelees kan word met die “moderne literatuur” (hoofsaaklik uit Europa, maar tot ʼn mate ook Noord-Amerika,) nie, maar altyd as aanvullende voorbeelde beskou word.

Ook die manier waarop tekste in voorafbepaalde, Europese, periodekodes beskou word, lei aan die een kant tot ʼn statiese beskouing van die literêre periode en aan die ander kant tot statiese interpretasies van tekste. Rita Felski bespreek hierdie problematiek in ʼn artikel “Context stinks!” (2011:573-574), waar sy meen daar is die afgelope jare heelwat gedebatteer aangaande die regverdiging van die “regte” konteks waarin byvoorbeeld literêre werke gelees moet word. Felski verduidelik verder hoe periodes in ʼn literatuurgeskiedenis dikwels as staties kan voorkom as daar bepaalde opvattings oor ʼn periode bestaan wat oorgelewer word van literatuurgeskiedenis tot literatuurgeskiedenis. Die gevolg is dat literêre werke ook as staties gelees kan word omdat dit teen dieselfde, bekende konteks van ʼn periode gelees word.

Maar, meen Felski (2011:574), die geskiedenis kan nie as ʼn netjiese boks beskou word nie. Die gevaar bestaan dat die konteks te veel aandag kry, terwyl die interpretasie van die individuele teks te min aandag geniet. Tekste kan nie net binne een kategorie, oftewel teen ʼn bepaalde konteks, geplaas word om die “regte” lees van ʼn teks te verseker nie. Felski (2011:574) beskryf hoe kritici ʼn teks krities lees en sodoende verskuilde betekenisse van ʼn teks ontrafel en verklaar wanneer dit in ʼn sekere konteks geplaas word (ʼn leestegniek wat beskryf word as die “hermeneutiek van agterdog”). Op so ʼn manier beskou, sal die konteks altyd die teks oorskadu omdat die konteks meer verklaring bied as die teks self. Mens kan byvoorbeeld eerder ʼn geskiedenisboek oor die Tweede Wêreldoorlog lees om iets van die gebeure te verstaan as om ʼn fiksieteks te lees wat deur middel van ʼn verhaal insig kan bied oor sosiale omstandighede.

Eintlik behoort ʼn ander beskouing te bestaan naas die bostaande een, meen Felski (2011:574). Die geskiedenis kan inderwaarheid nie as ʼn netjiese boks beskou word waarin tekste geplaas word nie. ʼn “Ouer” teks soos Die Odyssee het vandag steeds die vermoë om lesers te ontroer, wat dit nodig maak om te ondersoek waarom en hoe hierdie ouer tekste dit regkry (Felski, 2011:574-575). Die vraag bestaan vir Felski (2011:576), en dit sluit aan by hierdie ondersoek, soos volg: Op watter manier kan ʼn teks se uniekheid (singularity) tesame met ʼn teks se belang vir die geheel (die teks se worldliness) gelees word?

Thomas Vaessens se Geschiedenis van de moderne Nederlandse literatuur (2013) toon dieselfde problematiek as Felski aan en beskou die Nederlandstalige literatuurgeskiedenis gevolglik uit ʼn ander perspektief. Vaessens identifiseer transhistoriese rame, of frames, waarmee literêre werke beskryf kan word. Op hierdie manier breek Vaessens in sy literatuurgeskiedenis weg van periodisering en die beperkings wat so ʼn indelingstrategie lewer. Breedweg identifiseer Vaessens vyf transhistoriese rame: realisties, romanties, avant-garde, modernisties en postmodernisties. Vaessens (2013:110) noem hierdie rame juis “transhistories” omdat dit nie aan ʼn spesifieke periode gekoppel word nie, maar leeshoudings is wat in die moderne tyd voorkom (in teenstelling met historiese rame wat gebonde is aan ʼn sekere periode soos dit ontwikkel het in die verloop van moderniteit).

Terwyl die rame nie periodies van aard is nie, volg dit steeds ʼn (vernaamlik Europese) Westerse denkwyse omdat dit juis leeshoudings beskryf wat na vore gekom het as gevolg van periodisering in die Europese letterkundes. Vaessens se gebruik van rame toon daarom nie ten volle ʼn wegdoen met eurochronologiese indeling nie. Hayot (2012:54) bied die ondersoek na die “fiksiewêrelde van tekste” aan as ʼn meer haalbare oplossing om van die eurochronologiemodel te ontkom.

ʼn Voorstel soos dié van Hayot maak vergelyking van tekste op gelyke voet moontlik op grond van die fiksiewêrelde wat in die verskillende tekste tot stand kom eerder as op die tegnieke wat aangewend word volgens tradisionele periodisering, sowel as die indeling volgende Europese chronologiese tydperke. Hayot se voorstel bied ook die moontlikheid om ander leesmoontlikhede vir tekste oop te maak.

 

3  ʼn Ondersoek na die “fiksiewêrelde van tekste”

Oliphant (2004:19-20) wys daarop dat daar in die Suid-Afrikaanse konteks geen nasionale letterkunde bestaan nie. In ʼn land waarin verskeie tale en gepaardgaande letterkundes en literatuurgeskiedenisse voorkom, is dit moeilik om letterkundige werke op gelyke voet met mekaar te bespreek. Daar was al verskeie voorstelle om ʼn Suid-Afrikaanse literatuur­geskiedenis saam te stel, byvoorbeeld Attwell en Attridge se The Cambridge history of South African literature (2012). Hierdie literatuurgeskiedenis bevat ʼn paar inskrywings waarin die oorsprong van die Afrikaanse letterkunde, die Dertigers en die plaasroman, die Afrikaanse letterkunde van 1948-1976, en die Afrikaanse letterkunde na 1976 bespreek word. Die besprekings vorm deel van ʼn groter bespreking van die literature wat in Suid-Afrika gevind word, en daar word nie uitsluitlik op die Afrikaanse letterkunde gefokus nie.

Die poging om ʼn Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis soos Attwell en Attridge sʼn te skryf, lewer egter heelwat probleme op. Daar is byvoorbeeld min mense wat al die tale in Suid-Afrika kan lees en daarom nie werklik toegang het tot al die literature nie. Die gevolg is dat die letterkundes in verskillende tale in Suid-Afrika meestal in afsonderlike hoofstukke in Attwell en Attridge se literatuurgeskiedenis aan bod kom en dat dit uiteindelik nie regtig ʼn geïntegreerde, enkele verhaal van die Suid-Afrikaanse letterkunde vertel nie.

Nog ʼn probleem is dat die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes se periodiserings dikwels nie ooreenstem nie. Die navolg van ʼn eurochronologiemodel lei byvoorbeeld daartoe dat daar gesoek word na Zoeloe se modernisme of Afrikaans se modernisme om in dieselfde periode as Engels se modernisme bespreek te word, vergelyk byvoorbeeld Chapman se Southern African literatures (1996) en Attwell en Attridge se The Cambridge history of South African literature (2012). Om ʼn literatuurgeskiedenis op so ʼn manier saam te stel kan problematies wees, soos in afdeling 2.1 bespreek is. Daarom bied die voorstel van Hayot, wat die fiksiewêrelde van tekste ondersoek, moontlik ʼn haalbare metode om die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes sáám te kan bespreek. Hayot se model verg nie dat tekste binne historiese konteks geplaas moet word nie, maar bloot volgens die fiksiewêrelde wat in die tekste tot stand kom, gegroepeer kan word en met mekaar vergelyk kan word. Die bestudering van die fiksiewêrelde van tekste lewer daarom ʼn moontlike oplossing om ʼn Suid-Afrikaanse bespreking van literêre tekste saam te stel wat bo-oor die grense van taal, genre, nasionale groeperings en ideologie strek.

Hayot (2012:7) ondersoek die “gewêreldheid” (worldedness) van literêre werke deur ʼn aantal meganismes en modusse te identifiseer waarmee ʼn enkele teks beskryf kan word. Daar is min empiriese navorsingsmoontlikhede waarmee ʼn literêre teks ondersoek kan word en die gebruik van meganismes en modusse is nuttig omdat dit juis ʼn meer empiriese manier bied om literêre tekste mee te bespreek. Met ander woorde, ʼn teks se wêreld kan beskryf word op grond van die inligting en detail wat in die betrokke teks voorkom.

 

3.1 Die “fiksiewêrelde van tekste”

Hayot redeneer dat daar in die sogenaamde fiksiewêreld van ʼn teks eintlik drie soorte wêreldbeskouings, of modusse, uitgedruk word (soms is daar meer as een modus in dieselfde teks). Hayot gebruik die terme Romantiek, Realisme en Modernisme om hierdie drie soorte wêrelde te beskryf, maar die betekenis van hierdie woorde word losgedink van die konvensionele opvattings daarvan. Die wêrelde wat hy só benoe het te doen met die aard van die fiksiewêreld van ʼn individuele teks.

Die Realistiese modus bevestig ʼn sekere wêreldbeskouing. Dit wil sê die wêreld lyk herkenbaar, is knus en volledig en die karakters het ʼn gedeelde ervaring van die wêreld. Die karakters beleef hulle wêreld almal op dieselfde manier. Die Romantiese modus verbeel ʼn wêreld anders. In so ʼn teks, sal die wêreld aan die een kant steeds herkenbaar wees, maar aan die ander kant op ʼn ander manier voorgestel word. Dikwels kan die wêrelde ʼn utopiese of distopiese visie hê. Hayot noem hier dat fantasieverhale en wetenskapfiksieverhale by hierdie modus sal pas. Die Modernistiese modus ondermyn die indruk dat daar een gedeelde ervaring in ʼn wêreld is. Kommunikasie in hierdie tipe wêreld word tussen karakters bemoeilik omdat die wêreld dikwels in chaos verkeer.

Terwyl die benoemings van hierdie modusse nog steeds ooreenkomste toon met hulle gelyknamige historiese periodes, word die begrippe egter op ʼn ander manier gebruik as die konvensionele betekenisse daarvan. Hayot (2012:126) probeer inderwaarheid nuwe betekenisse aan bekende historiese praktyke gee.

Om die wêreldinhoud van ʼn enkele teks mee te beskryf, identifiseer Hayot (2012:54) ook ʼn aantal meganismes (dit is nie noodwendig nodig om al die meganismes by ʼn teks te identifiseer nie). In hierdie artikel word ʼn aantal kortverhale uit Die Afrikaanse kortverhaalboek (2012) aan die hand van Hayot se meganismes bespreek. Na aanleiding van die bespreking van die meganismes word dit moontlik om die verhale in Hayot se modusse te groepeer.

Die gebruik van kortverhale om Hayot se meganismes en modusse te toets, is ʼn praktiese oorweging. Hierdie afbakening maak dit moontlik om verhale uit sommige van die vernaamste tradisionele periodes in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis te ondersoek. Weens praktiese beperkings vir hierdie artikel, word slegs Afrikaanse kortverhale bespreek. Die toets is egter om te bepaal of ʼn ondersoek na die fiksiewêrelde van tekste dit moontlik maak om tekste buite hulle tradisionele periodes te lees en wat die winste daarvan kan wees. Indien ʼn model soos dié van Hayot geslaagd is, kan daar vergelykings gemaak word tussen verskillende letterkundes, byvoorbeld die Afrikaanse en (Suid-Afrikaanse) Engelse letterkundes.

Die gebruik van Hayot se voorstel moet egter nie die indruk wek dat die bestaande literatuurgeskiedenisse deur die voorgestelde benadering van tekswêrelde uitgedien gemaak word nie. Bestaande narratiewe literatuurgeskiedenisse vanuit verskeie benaderings is waardevol. Die moontlikheid om konvensionele periodisering uit te daag deur die klem op tekswêrelde te plaas, moet eerder as ʼn aanvullende benadering tot literatuurgeskiedenis beskou word. Sodoende kan bewustheid van die tekortkominge van verskeie ander benaderings tot periodisering en literatuurgeskiedskrywing aangedui word. Terselfdertyd kan ʼn fokus op tekswêrelde ook moontlikhede oopmaak vir ander beskouings van die tekste wat bespreek word.

Om te bepaal of tekste wegbreek van hulle tradisionele periodiese indelings is dit eers nodig om die betrokke periodes waarby verhale gegroepeer word uit te lig (ʼn breedvoerige beskrywing van die periodes word nie gegee nie). Twee vername literatuurgeskiedenisse, J. C. Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (2005) en Henriette Roos se prosaoorsig in Perspektief en profiel (2015) word gebruik vir ʼn indeling van die vernaamste literêre periodes. Die verhale in Die Afrikaanse kortverhaalboek is chronologies gerangskik volgens outeurs se eerste gepubliseerde verhale. Hierdie indeling bied ʼn afbakening waarvolgens verhale in die periodes wat Kannemeyer en Roos gebruik, verdeel kan word. In hierdie artikel word daar slegs kort besprekings van enkele kortverhale gedoen. Die volgende kortverhale en hulle tradisionele groeperings word bespreek:

  • “Gebet van Tities Tokaan” (±1893) deur Pulvermacher, wat volgens Kannemeyer se kategorisering by die periode van die Eerste Afrikaanse beweging ingedeel word.
  • “Agterplaas” (1980) deur Elsa Joubert, wat volgens Roos se kategorisering by die periode van betrokke literatuur ingedeel word.
  • “Anderkant die scrap” (2006) deur Dana Snyman, wat volgens Roos se kategorisering by die periode van verkenning en ontvoogding (rondom 1990-hede) ingedeel word.

 

3.2 Hayot se meganismes en ʼn bespreking van enkele Afrikaanse kortverhale

 

3.2.1 Omvang (of amplitude): Enige fiksiewêreld fokus op spesifieke elemente. Die protagonis se handelinge kan omvattend beskryf word of die ruimte kan in groot besonderhede uitgelig word – hierdie elemente staan dan op die voorgrond. ʼn Vertelling kan ook weinig besonderhede oor byvoorbeeld die ruimte gee, dit kan bloot gesuggereer word. Die ruimte staan dan in die agtergrond. Op hierdie manier kan die verskil tussen voorgrond en agtergrond aan ʼn leser uitgelig word, waar die verskil beskryf kan word as die omvang van die wêreld wat in die verhaal bestaan.

In die kortverhaal “Gebet van Tities Tokaan” (± 1893) deur Pulvermacher bestaan daar ʼn groot gaping tussen die voorgrond en die agtergrond. Op die voorgrond word ʼn herkenbare, landelike omgewing geskets. Op die agtergrond staan beginsels en opvattings van veral Calvinisme, wat deur Tities Tokaan en Jeremias, die fokaliseerder, in die verhaal bevraagteken word. Dit dui uiteindelik aan dat daar ʼn groter wêreld buite die herkenbare, klein wêreld bestaan. Die verhaal is ʼn belangrike verteenwoordiger van die ouer werke wat geassosieer word met die realisme en sogenaamde Afrikanernasionalisme wat uit die laat 1800’s dateer. Die teologiese vraagstuk wat egter in die verhaal voorkom, dui aan dat die verhaal in Hayot se Moderne modus gegroepeer kan word. Jeremias se teologiese vraagstuk skep die gevoel dat die karakters se bekende wêreld tog nie die enigste werklikheid is nie.

In die verhaal “Agterplaas” (1980) deur Elsa Joubert bestaan daar ook ʼn groot gaping tussen besonderhede op die voorgrond en die agtergrond. Die wit, vroulike verteller kan die binneruimte van haar woning in heelwat detail beskryf, maar daar is ʼn merkbare gebrek aan besonderhede oor die agterplaas, die buiteruimte, waar die swart huishulp woon. Soos aangedui kan hierdie verhaal by die sogenaamde periode van betrokke literatuur gegroepeer word, waar daar ʼn bewussyn van die sosiopolitieke konteks in literêre tekste is.

Die gaping tussen besonderhede op die voorgrond en die agtergrond dui op hoe onvolledig die verhaal se wêreld is, iets wat reeds deur die verhaal se openingsin aangeraak word: “My lewe beweeg op die periferie van ʼn bestaansvlak wat ek nie ken nie” (Joubert, 1980:276). Die verteller dui hiermee self aan hoe haar leefwêreld wat volledig voorkom, eintlik onvolledig is. Hierdie idee bly in die hele verhaal teenwoordig, en uiteindelik sluit die slotsin ook by die openingsin aan. Die gevoel dat daar ʼn groter wêreld buite die verteller se bekende binneruimte bestaan, veroorsaak dat hierdie verhaal ook in Hayot se Moderne modus gegroepeer kan word.

 

3.2.2 Volledigheid: Hayot beskryf hoe fiksiewêrelde altyd inherent onvolledig is. Daar is sekere besonderhede oor ʼn fiksionele wêreld wat nie noodwendig opgeneem word, of selfs opgeneem kán word, as gevolg van die lengtebeperkings van ʼn bepaalde genre nie. Hoe die verhaal met die volledigheid, of onvolledigheid, omgaan, lewer bepaalde insigte oor die wêreld. Die verhaal “Anderkant die scrap” (2006) deur Dana Snyman word verder bespreek. Volgens  Roos se prosaoorsig in die jongste Perspektief en profiel kan die breër beweging van postmodernisme, wat baie vrae opper te midde van onsekere tye, in Snyman se werk nagevolg word. Dit vind veral neerslag in die besinning oor die Afrikaner se plek in Suid-Afrika.

In die verhaal word ʼn bekende, landelike wêreld van die verlede in groot besonderhede beskryf om uiteindelik ʼn volledige wêreld te skep. Hierdie volledige wêreld staan in kontras met die hede, wat ʼn gevoel van onsekerheid by die verteller skep. In die wêreld van die hede is daar meer scrap, en die verlede se gevoel van geborgenheid en veiligheid bestaan nie meer nie. Tussen hierdie twee wêrelde bestaan daar uiteindelik ʼn gaping wat dui op ʼn onvolledigheid wat die verteller in die hede ervaar. Eindelik is daar tog hoop op ʼn toekoms wat dalk iets van die volledigheid, die veiligheid, van die verlede kan bevat. Die verhaal sluit daarom by die Romantiese modus aan, wat ʼn sekere wêreld, in hierdie geval ʼn bekende landelike wêreld, bevestig terwyl dit dié wêreld ook anders verbeel. Die vooruitsig op hoop wat in die slotparagraaf gestel word, ondersteun die Romantiese modus se funksie om die wêreld op ʼn ander manier te verbeel – ʼn wêreld wat herinner aan die gevoel van geborgenheid wat in die verteller se wêreld van ouds uitgebeeld is.

 

3.2.3 Metadiëgetiese struktuur: Hierdie meganisme maak die interpretasie van tekste moontlik deurdat bepaalde leidrade in die wêreld, wat tot ʼn interpretasie sal lei, nagegaan kan word. Hayot identifiseer ʼn aantal metadiëgetiese strukture soos die figuurlike, narratiewe en logiese strukture. Die manier waarop enige objek, karakter of gebeurtenis binne die groter diëgetiese struktuur funksioneer, sal dui op die tipe struktuur van ʼn literêre werk.

In “Gebet van Tities Tokaan” het die verhaal ʼn figuurlike metadiëgetiese struktuur. Dit lei daartoe dat die verhaal allegories gelees kan word. Dit word veral duidelik deur die vraag wat Tities Tokaan aan God stel. Tities vra wat sou gebeur het as die rolle van Jeremias en God omgekeer was. Sou Jeremias dieselfde aan God gedoen het? “Perbeer nou Heere, Jeremias was in jou plek gewees: Wat het hy gemaak, zal hy jou kinders en jou melkbokke doodgeschiet het? … Maar Heere ons moet volgens jou wette handel, en malkander al die foute vergeeve. Halluja!” (Pulvermacher, 2012: 11). Hierdie vraag dra daartoe by om die opvattings van die bekende Afrikaner­gemeenskap te ondermyn en die klein, bekende wêreld groter oop te stel. Dit is veral duidelik in die ironiese “Halluja” waarmee Tities die verhaal eindig. Dit word moeiliker om ʼn God te aanbid wat nie baie genade betoon teenoor iemand soos Jeremias wat nou goed probeer doen volgens die voorgeskrewe wette nie. Hiermee word gewys hoe die mens uitgelewer is aan ʼn onpeilbare God en hoe die mens eintlik nie ʼn sê het in die uitloop van sy omstandighede nie.

 

3.2.4 Samehang: ʼn Fiksionele wêreld in ʼn literêre werk staan dikwels in verhouding tot die konkrete wêreld. In ʼn fiksionele wêreld sal die leser agterkom dat daar sekere goedere, mense en idees is wat met mekaar verbind word, dikwels sonder enige narratiewe aanduiding daarvan. Hayot (2012:74) noem dit: “The idea of the world as an unbroken surface; a theory of a world infinitely connectable …” Enige teks toon eksterne samehang met elemente of geskiedkundige gebeure buite die verhaal. In hierdie opsig is ʼn teks wel verbind aan die konteks waarin dit geskryf is. ʼn Teks toon ook interne samehang tussen elemente soos die karakters en ruimte in die verhaal, om ʼn genetwerkte wêreld te skep.

In “Anderkant die scrap” word die interne samehang aangedui in die manier waarop die verteller ʼn vervloë wêreld oproep deur heelwat besonderhede te bied. Die gebruik van sterk sintuiglike beskrywings, soos die noem van handelsname, klanke en verwysings na volkstradisies, skep so ʼn interne samehang. Dit dui ook op ʼn eksterne samehang omdat dit in die konkrete wêreld by ʼn sekere groep Afrikaanssprekendes nostalgiese herinneringe kan oproep (Burger, 2018:49).

 

3.2.5 Karaktersisteem: Die karaktersisteem dui twee aspekte aan. Eerstens, die hoeveelheid aandag wat aan ʼn karakter toegestaan word (byvoorbeeld hoofkarakter of bykarakter). Tweedens word die karakter(s) se toegang tot narratiewe merkers aangedui, soos die geleentheid om spreekbeurte te kry om hulle gedagtes en opvattings weer te gee.

In “Agterplaas” is daar ʼn wit vrou as eerstepersoonverteller. In die verhaal beskryf die verteller die problematiek rondom die “ken” van ander groepe mense – spesifiek vir wit mense om swart mense se binnewêreld te ken. Die verteller beskryf dat sy haar huishulp nie op haar regte naam noem nie omdat dit haar ongemaklik laat voel. Die gevolg is dat die huishulp nie “ʼn binne-verbintenis” met haar naam het nie (Joubert, 2012:277). ʼn Verdere implikasie met die gebruiksnaam wat aan die huishulp gegee word, is dat sy dan ook nie heeltemal by die wêreld van wit mense pas nie. Die verteller noem dat die huishulp byna soos ʼn suster vir haar is, maar die spanning rondom so ʼn verhouding word uitgelig. Die verwydering tussen die twee vroue se leefwêrelde wys uiteindelik hoe dit nie werklik moontlik is om so ʼn hegte verwantskap te hê nie.

 

3.3 Samevatting    

ʼn Bespreking van enkele kortverhale aan die hand van Hayot se meganismes wys op ten minste twee implikasies. Ten eerste toon sommige van die verhale ʼn wegbreek van die periodes waarby hulle in tradisionele literatuurgeskiedenisse gekategoriseer word.

Een van die vroegste kortverhale in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Pulvermacher se “Gebet van Tities Tokaan”, toon ʼn wegbreek van die verhaal se tradisionele realistiese groepering. Die karakters bevraagteken hulle bekende, realistiese wêreld. Volgens ʼn groepering van Hayot se modusse dui hierdie bevraagtekening ook op ʼn aansluiting by die Moderne modus.

“Anderkant die scrap” deur Dana Snyman breek ook weg van die verhaal se tradisionele literêre groepering. Aan die een kant beskryf die verteller hoe chaoties die hede is. Aan die ander kant is dit nie slegs ʼn verwarrende wêreld, soos dit dikwels by die beweging van postmodernisme voorkom, wat voorgestel word nie. Alhoewel die hede as ordeloos voorgestel word, bestaan die moontlikheid dat daar ʼn ander, nuwe en hoopvolle wêreld in die toekoms kan bestaan. Op hierdie manier sluit die verhaal by Hayot se Romantiese modus aan.

Ten tweede bestaan die moontlikheid dat die verhale met mekaar vergelyk kan word. Die verhale word nie in hierdie artikel vergelyk nie, maar “Gebet van Tities Tokaan” en “Agterplaas” kan met mekaar in gesprek geplaas word deurdat albei verhale aansluit by Hayot se Modernistiese modus. In albei verhale bestaan die gevoel dat daar veel ruimer wêrelde in die agtergrond is. Die waarde in die bespreking van hierdie verhale is dat ʼn verhaal wat vermoedelik rondom 1893 gepubliseer is en ʼn ander verhaal wat in 1980 gepubliseer is, met mekaar in gesprek kan tree.

 

5  Gevolgtrekking     

Die model van eurochronologie wat dikwels gebruik word om literatuurstudie mee te bestudeer,  lewer bepaalde uitdagings. Hayot belig die kritiek teen die gebruik van hierdie model in On literary worlds (2012). Hy stel ook aan die hand van die fiksiewêrelde van tekste ʼn alternatief voor waarop tekste bestudeer kan word. Die alternatiewe indeling, wat gebaseer is op sekere meganismes en modusse, bied  ʼn wegbreek van eurochronologie aan.

Die bostaande bespreking van kortverhale aan die hand van Hayot se model toon aan dat daar wel weggebreek kan word van die tradisionele indelings van hierdie verhale wat gebaseer is op periodisering volgens eurochronologie. ʼn Fokus op die fiksiewêrelde van tekste maak dit moontlik om verhale buite vaste, historiese kontekste – wat dikwels ʼn statiese beskouing van tekste veroorsaak – te benader. Terwyl hierdie artikel nie Hayot se model op Suid-Afrikaanse verhale in geheel “getoets” het nie, blyk so ʼn model reeds belowend te wees op die toepassing van verhale in Afrikaans. Hayot se model kan dus in teorie ook toegepas word op meerdere Suid-Afrikaanse letterkundes in ʼn poging om die isolasie van sogenaamde nasionale letterkundes te bowe te kom.

 

Verwysings

Attwell, D. & Attridge, D. 2012. The Cambridge history of South African literature. Cambridge: Cambridge University Press.

Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Van Schaik: Pretoria.

Chapman, M. 1996. Southern African literatures. London, New York: Longman.

Felski, R. 2011. Context stinks! New Literary History, 42(4):573-591.

Hayot, E. 2012. On literary worlds. New York, NY: Oxford University Press.

Joubert, E. 2012 [1980]. Agterplaas. (In De Vries, A.H., red. Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau).

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Human & Rousseau.

Koch, J. 2015. A history of South African literature. Afrikaans literature 17th-19th centuries. Pretoria: Van Schaik.

Kundera, M. 2006. The curtain. London: HarperCollins.

Oliphant, A. 2004. Fabrications and the question of a national South African literature. JLS/TLW, 20(1-2):5-24.

Pulvermacher. 2012 [±1893]. Gebet van Tities Tokaan. (In De Vries, A.H., red. Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau).

Roos, H. 2015. ʼn Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010. (In Van Coller, H.P., red. Perspektief en profiel: ʼn Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: Van Schaik).

Snyman, D. 2012 [2006]. Anderkant die scrap. (In De Vries, A. H., red. Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau).

Vaessens, T. 2013. Geschiedenis van de moderne Nederlandse literatuur. Nijmegen: Van Tilt.

Van Coller, H.P. 2005. Revisiting the canon and the literary tradition: A South African case study. JLS/TLW, 21(2):29-47.

Van Coller, H.P. & Odendaal, B. 2005. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 1: Oorwegings vir ʼn beskrywende model. Stilet, 17(3):1-17.

[1] ʼn Weergawe van hierdie artikel is gelewer as referaat by die Ontlaering-kollokwium in 2018 se ondersoek na strukturele rekonseptualiserings: onderrig oor die kanon, spesifieke genres en subgenres, en periodisering. Die voorstel vir die hersiening van literatuurgeskiedenis in die artikel dra ook by tot ontlaering. Hayot se model kan toegepas word op meerdere Suid-Afrikaanse letterkundes in ʼn poging om die sogenaamde isolasie van individuele letterkundes, soos die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde, te bowe te kom sodat tekste met mekaar in gesprek gebring kan word op ʼn manier wat bo-oor grense soos taal strek.