30(1&2) herbesoek: Benito Trollip

Meer as een lees van meer as een relaas: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2018)

Benito Trollip

Klik hier vir die PDF-weergawe

Charl-Pierre Naudé se debuutroman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (hierna slegs Dirkie Verwey) het aan die einde van 2018 verskyn. Die verhaal kan opgesom word as ’n verslag of memoire van ’n plaaslike verslaggewer van die Lyksovlakte, Hermanus Verdomp. Gegewens in die roman strek oor om en by vier dekades en sluit ’n verskeidenheid mededelings in wat in aard wissel van persoonlik, tot verbeeld, tot meer geskiedkundig. Die geskiedkundigheid van sommige gegewens in die roman is “waar” in soverre die Lyksovlakte in die teks en in ’n ewe-Suid-Afrika bestaan, en die roman is gesentreer rondom kernkarakters en hul lewens (soos waargeneem deur Hermanus) in en rondom dié vlakte. Die roman se fokus verskuif egter toenemend na hul lewens elders: In die roman word gepraat van ewelewens. Dit is dus ’n roman waarin Hermanus ’n aantal verhale (wat syne insluit) kruisbestuif in ’n poging om meer as een karakter se meer as een storie te vertel.

Invalshoeke vir ’n bespreking of resensie van hierdie roman is soos die weduwee se kruik – sodra jy begin soek, kom jy agter die moontlikhede is eindeloos. Die verweefdheid van die roman hang bes moontlik saam met die feit dat dit Naudé se voorlegging vir sy magistergraad in kreatiewe skryfkuns was. Weens die hoeveelheid intertekstuele verwysings, die vervlegting van genres, en die onbetroubaarheid van die verteller, bied dit aan enige ontleder ’n smorgasbord van ondersoeksmoontlikhede. Vir doeleindes van hierdie resensie het ek besluit op twee elemente in die roman: Die gebruik van ikonisiteit om betekenis te verryk en die rol wat kennis speel.

Ikonisiteit in sowel die letterkunde as die taalkunde verwys na die verskynsel waar ’n teken/simbool wat na iets verwys, ooreenstem met ’n aspek daarvan soos dit in die werklikheid gestalte vind (Van Langendonck, 2007:395). Ikonisiteit vorm deel van die semiotiek, oftewel die algehele bestudering van tekens. Neem as voorbeeld uit die roman sjwie-sjwie (236) – die verteller verwys na die klank van sproeiers soos dit oor ’n grasperk beweeg. Hierdie woord stem tot ’n mate ooreen met die klank van die sproeier (en ook die herhaling van die beweging deur die herhaling van die woord) en is daarom ikonies. Ikonisiteit is egter nie beperk tot klanknabootsing nie en kan ook gesien word in die lig van Lakoff & Johnson (1980:127-128) se geïdealiseerde kognitiewe model van “meer vorm vir meer betekenis”. Akkurater sou wees om te praat van afwykende (ook genoem gemarkeerde) vorm wat op afwykende betekenisinhoud dui. In Dirkie Verwey is ’n voorbeeld van hierdie tipe ikonisiteit die verkleining of nieverkleining van die hoofkarakter se naam. Dit is opvallend omdat daar in die meerderheid gevalle (soos ook in die titel) verwys word na “Dirkie” eerder as (die verkleininglose) “Dirk”. Daar word in een van Dirk se ewelewens – die een waarin hy ’n rebel teen die apartheidsregime is – (byna) eksklusief na hom as “Dirk” eerder as “Dirkie” verwys. Die ander lewe gaan op hierdie manier gepaard met ’n ander/onverkleinde naam. Naudé maak oordeelkundig gebruik van sulke en ander taalmiddele om betekenis in die roman te genereer.

Voetnote en foto’s met onderskrifte word ingespan en funksioneer ook ikonies in soverre meer gegewens in die teks meer inligting (hetsy akkuraat of minder so) aan die leser begin bied. Dit dra enersyds tot ’n teenwerking van Hermanus as onbetroubare verteller en andersyds tot die ontginningsmoontlikhede van gegewens in die roman by. Die gebruik daarvan is sorgvuldig: Vergelyk in hierdie verband die eerste voetnoot op bladsy 71 en die gebrek aan voetnote in hoofstuk 52 (290-293). In die eerste geval lê Naudé ’n verwarrende pleknaam in Hermanus se weergawe uit, in die tweede geval word die leser se aandag glad nie op ander onakkuraathede gevestig nie. Hierdie strukturele elemente doen op hierdie manier dubbeldiens: Dit werk onbetroubaarheid plek-plek teen én dit laat sommige onbetroubare gegewens voortstoom bloot as deel van die verteller se weergawe van gebeure.

’n Verdere kenmerk wat opvallend is in Dirkie Verwey is die manier waarop kennis benader word. Buiten die uitdruklike verwysings na kennis, is daar ’n reisende biblioteek, ’n plek/streek genaamd “Kennisveld”, en ’n aantal soekers – versoekers, besoekers, en ondersoekers – in die roman. Myns insiens beklemtoon Naudé hiermee ’n algemene waarheid van kennis as mag (hetsy in die lees van ’n fiksionele werk of deur meer te wete kom oor ’n bepaalde onderwerp of situasie). Op bladsy 283 verwys Anna, in een van haar vele briewe aan Hermanus, na hoe dit voel om iemand met kennis te wees: “Dis nie maklik om ’n draer van kennis te wees nie, ’n lantern, Hermanus, ’n fakkel in die donker. Dis uiters moeilik. Jou lig raak weg.”

Hierdie aanhaling verwys enersyds na die tipe kennis wat Anna as biblioteekmeisie in die reisende biblioteek versamel, en andersyds herinner dit ook aan kennis in die algemeen. Die leser word aangepor om te dink aan die wyse(s) waarop die opdoen van kennis jou lees van Dirkie Verwey algaande rig. Hierdie tema herinner ook aan Schoombie se Boomkastele, ’n roman waarin ’n soortgelyke (ontnugterende) ingesteldheid jeens kennis by een van die karakters voorkom: “Dis wat alle mense dryf van geboorte tot dood, verklaar hy, die drang na kennis. Kennis rig. Kennis bou. Kennis bevrug, verryk, bevry. Maar ook: kennis bedonner. Kennis ondermyn. Kennis vernietig. Nooit kry mense genoeg van kennis nie. Kennis is verslawend. Dis nuus. Dis vermaak. Dis stories. Dis teologie en filosofie. Dis waar en dis vals. Dis lig en dis donker.” (Schoombie, 2015:242)

Dirkie Verwey bied verskillende geleenthede vir verskillende lesers en dit is deel van sy bekoring: Jy bly op jou hoede, omdat jy nie weet hoeveel van die kennis wat aan jou opgedis word, ingeneem moet word nie. Naudé se gebruik van ikonisiteit en deurlopende verwysings na kennis lei tot ’n digte roman wat ’n herlees of twee regverdig. Gelukkig kan enige leser daarby berus dat hy nooit alles gaan weet nie – nie van Dirkie Verwey of van enige iets nie.

 

Verwysings

Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors we live by. Chicago/London: The University of Chicago Press.

Schoombie, S. 2015. Boomkastele. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Langendonck, W. 2007. Iconicity. (In Geeraerts, D. & Cuyckens, H., eds. The Oxford handbook of cognitive linguistics. Oxford: Oxford University Press. p. 394-418).

 

stilet.herbesoek-resensie deur Benito Trollip vir 30(1&2) Novum

 

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2018)

Charl-Pierre Naudé

Kaapstad: Tafelberg, 480 pp.

ISBN: 9780624084341