30(2) diskoers: Franci Greyling

“Ek loop hier in die labirint” Digitale kinderverse in ’n botaniese tuin: performatiwiteit en relasionaliteit

Franci Greyling

Klik hier vir die PDF-weergawe

Abstract

Site-specific digital literature (mobile literature, locative literature) offers a distinctive reading experience that cannot necessarily be understood by existing reading frameworks. In this article performativity is suggested as a possible framework to account for the interwoven interaction characterising site-specific digital literature installations. Working from a material semiotic perspective, four modes of performativity (spatial, embedded, textual and embodied performativity) are investigated and applied to the children’s poems in the Byderhand site-specific digital literature installation in the NWU Botanical Gardens. The article argues for a view of site-specific digital literature as multifaceted, relational, dynamic and performative in nature and that the participant thus plays an integral role in the performance and realisation of the work.

Opsomming

Plekspesifieke digitale literatuur (mobiele literatuur, lokatiewe literatuur) bied kenmerkende leeservarings wat nie noodwendig aan die hand van bestaande leesraamwerke verstaan kan word nie. In die artikel word performatiwiteit as moontlike raamwerk voorgestel om die verweefde wisselwerking kenmerkend van digitale literatuurinstallasies te verstaan. Beskou vanuit ʼn materieel-semiotiese perspektief word vier modusse van performatiwiteit (ruimtelike, ingeplaaste, tekstuele en beliggaamde performatiwiteit) ondersoek en toegepas op die kinderverse in die Byderhand plekspesifieke digitale literatuurinstallasie in die NWU-Botaniese tuin. Die artikel argumenteer dat plekspesifieke digitale literatuur veelfasettig, relasioneel, dinamies en performatief van aard is, en dat die deelnemer ʼn integrale rol in die uitvoering en realisering van die werk speel.

 

  1. “Ek loop hier in die labirint”

Inleiding

Ek loop hier in die labirint

die labirint wat soos ʼn lint

in draaie voor my lê.

In die rondte om en om

om en om, om en om,

in die rondte om en om –

tot in die labirint se

middelpunt.

 

ʼn Labirint van wildeknoffel (Tulbaghia violacea) nooi besoekers aan die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom om die sirkelpad wat ruweg in die middelpunt van die tuin geleë is, te volg. Die botaniese tuin huisves ook die Byderhand Tuinverse – ʼn eksperimentele plekspesifieke digitale literatuurprojek wat spesiaal vir die botaniese tuin geskep is. Die versameling verse wat uit 14 gedigte en 20 kinderversies bestaan, is aangevul met vertalings en voorlesings van die werk, tipografiese animasies, musiekverwerkings en konkrete kunswerke. Dié multimodale tekste is op ʼn digitale internetplatform geplaas; besoekers aan die tuin kan toegang tot die werk verkry deur die QR-kodes wat by spesifieke plekke in die tuin aangebring is, met slimfone of rekenaartablette te skandeer. Die werk kan dan op die toestelle gelees en ervaar word (Greyling, 2017:161). Hierdie konkrete en interaktiewe konteks bied ʼn eiesoortige leeservaring wat nie noodwendig aan die hand van bestaande leesraamwerke verstaan kan word nie. In hierdie artikel word performatiwiteit as ʼn moontlike raamwerk voorgestel om rekenskap te kan gee van die verweefde wisselwerking met betrekking tot plekspesifieke digitaleliteratuur­installasies soos die Byderhand Tuinverse. Die artikel handel in besonder oor die versameling kinderverse en wat ook as ʼn buitelug-versbundel beskou kan word.

Elektroniese (digitale) literatuur vertoon ʼn hibriede karakter en bestaan uit dele van diverse tradisies wat nie altyd noodwendig netjies in mekaar pas nie (Hayles, 2008:4). Lesers kom na digitale literatuur met verwagtinge wat deur die drukkuns beïnvloed is; terselfdertyd word elektroniese literatuur geskep en uitgevoer binne ʼn konteks van ge-netwerkte en programmeerbare media, en word beïnvloed deur die kragte van eietydse kultuur – besonder rekenaarspeletjies, films, animasies, digitale kuns, grafiese ontwerp en elektroniese visuele kultuur (Hayles, 2008:4). Hierdie sone waarin die ontwikkelende media-ekologie voortdurend nuwe moontlikhede vir nuwe kreatiewe vorme en kombinasies bied, behels ook ʼn samekoms van verskillende woordeskatte, kundighede en verwagtinge (Hayles, 2008:4). Multimodale digitale literatuur is reeds wesenlik deel van die leefwêreld van die kind en van kinderliteratuur as sodanig (bv. in die vorm van rekenaar­speletjies). Met die wydverspreide beskikbaarheid van digitale netwerke en mobiele toestelle met raakskerm­tegnologie, word digitale literatuur potensieel binne die bereik van ʼn groot deel van die samelewing gebring. In hierdie dinamiese omgewing is dit noodsaaklik om die tegnologie, literatuurvorme en toepassings­moontlikhede, sowel as die leser se ervaring hiervan, te verstaan en te beskryf. Dit impliseer dat die nodige konsepte en woordeskat wat met die eiesoortige aard van digitale literatuur rekening hou, gevind en ontwikkel moet word (Raley, 2010:301; Hayles, 2008:30). Hayles (2008:3) stel dit immers duidelik dat om digitale literatuur slegs deur die lens van gedrukte teks (drukmedia) te sien, as’t ware inhou dat mens dit glad nie sien nie.

Plekspesifieke digitale literatuur (plekgebonde-, mobiele-, lokatiewe-, alomliggende literatuur; interaktiewe plekgebonde narratiewe; interaktiewe lokatiewe storievertelling) benut die moontlikhede wat digitale media, tegnologie en netwerke, en lokatief-sensitiewe mobiele toestelle bied, deur digitale inhoud op ʼn spesifieke plek beskikbaar te stel en sodoende die teks en die omgewing met mekaar te verbind. Die leser (of deelnemer) word konkreet by dié interaktiewe ervaring betrek. Die meeste van die kinderverse in die Byderhand Tuinverse-projek is geskryf met ʼn spesifieke plek in die Botaniese Tuin in gedagte, asook met die oogmerk om die leser-deelnemer se waarneming en verbeelding te prikkel, en moontlike kognitiewe en fisiese deelname te suggereer. Ten einde die tuinverse te kan ervaar, moet lesers-deelnemers oor die nodige tegnologie beskik en verskeie handelinge in die tuin uitvoer: die verskillende plekke in die tuin vind, die QR-kode wat die betrokke vers aandui met ʼn selfoon skandeer, ʼn keuse tussen die moontlike formate (lees, luister, kyk) maak, en die inhoud in samehang met die tuingegewe en eie liggaamlike ervaring interpreteer. Literêre tekste wat fisiese inspanning – en veral liggaamlike betrokkenheid vereis – lok metafore van opvoering (“performance”) en spel uit (Raley, 2010:301). Performatiewe en spel word ook met kinderpoësie, en veral met kleuterpoësie, vereenselwig. Liggaamlike betrokkenheid, taalspel, klank-, woord- en verbeeldingspel is inherent aan dié genre. Kinders voel spontaan aangetrokke tot rympies wat elemente bevat soos herhaling, klanknabootsing, dialoog, humor, raaisels, uitdrukkings, illustrasies en kleur (Scheepers, Kotzé-Myburg en Smith, 2017:178).

Die vraag wat in die artikel ondersoek word, is of die konsepte van performatiwiteit, performatiewe handeling en relasionaliteit kan bydra tot ʼn beter verstaan van plekspesifieke digitale poësie, en in besonder van die ervaring van die kinderverse in die Byderhand Tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin. Die eerste gedeelte van die artikel dien as kontekstualisering van konsepte van performatiwiteit en relasionaliteit met besondere toepassing op plekspesifieke digitale literatuur, waarna Byderhand Tuinversies in die tweede gedeelte aan die hand van modusse van performatiwiteit bespreek word.

 

  1. “… die labirint wat soos ʼn lint in draaie voor my lê”

Teoretiese raamwerk: performatiwiteit en relasionaliteit

Performatiwiteit en opvoering (“performance”) is interdissiplinêre konsepte wat ontstaan het in linguistiek en taalfilosofie, in die uitvoerende kunste, literêre studies, asook in etnologie, sosiologie en kulturele studies (Berns, 2012). Die terme “performatiwiteit” en “performance” is afgelei van die werkwoord “to perform” en verwys na die vermoë om ʼn handeling uit te voer, om iets werklik en deeglik uit te voer, asook om dit volgens ʼn voorgeskrewe ritueel te doen (Berns, 2012). Om op te voer verwys ook na “opvoering” van kunswerke, soos om in ʼn toneelstuk te speel, ʼn instrument te speel of om te sing of te dans (Berns, 2012). Die konsepte van opvoering en uitvoering hou dus verband met handeling – iets wat geaktiveer word, uitgevoer of deurgevoer word. J.L. Austin (1955) se taalhandelingsteorie en Judith Butler (1990) se teorie oor liggaamlike performatiwiteit en genderteorie het veral bygedra om die konsepte van performatiwiteit in die geesteswetenskappe te vestig. ʼn Toename in navorsing rondom die idee van “performance” vanaf die middel van die 1980’s het tot die sogenaamde performatiewe wending in literêre en kultuurstudies gelei. Die verwysing na ʼn wending laat volgens Linde (2018:113) ruimte vir verdere uitbreiding en ontwikkeling van bestaande terme; elke navorser sal derhalwe sy of haar eie kleur tot die verstaan van die spesifieke terme kan voeg (vgl.ook Tronstad, 2014: 390, se waarnemings in dié verband).[i] Linde (2018:257) stel die term “relasionele performatisme” voor as “ʼn metamodernistiese strategie waarvolgens kunsuitinge bestudeer word as talig en liggaamlik performatief”. Vanuit ʼn ander perspektief redeneer Von Hantelmann (2014) ook dat alle kuns performatief van aard is; sy verkies egter die term ervaringswending (“experiential turn”) vir die beskrywing van die skep en vorming van ervarings wat sedert die 1960’s ʼn integrale deel van die konseptualisering van kontemporêre kunswerke geword het. Met die ontwikkeling van digitale media het die moontlikhede en doelbewuste skepping van ervarings vir die “gebruiker” met rasse skrede toegeneem, sodat dit as een van die onderskeidenhede kenmerke van die digitale era beskou kan word.

Digitale kulture is in wese performatiewe kulture, en digitale media hou op verskillende wyses met opvoering (performance) en performatiwiteit verband (Leeker, Schipper & Beyes, 2017:10; Miller, 2011; Tronstad, 2014:390). Die alledaagsheid en deurdringendheid van digitale media en ge-netwerkte infrastrukture het volgens Leeker et al. (2017:10) die wyses waarop en style waarin performatiwiteit voorkom en vertoon, ingrypend beïnvloed. Dié skrywers is veral geïnteresseerd in hoe tegno-sosiale performatiwiteit die wêreld waarin ons leef, beïnvloed (Leeker, Schipper & Beyes, 2017:10). In ʼn besinning oor digitale kultuur redeneer Miller (2011:30) dat, as gevolg van die veranderlike en transformatiewe aard van digitale media, nuwe media-produkte as prosesse of gesprekke beskou word eerder as materiële voorwerpe. Hierdie verskuiwing na nuwe media as ʼn proses behels ook die transformasie van die gehoor of gebruiker van die statiese rol van kyker in die aktiewe, mobiele gebruiker of deelnemer binne die skepping (Miller, 2011:30). Dié prosesmatige karakter van die literatuur en die aktiewe rol van die deelnemer is integraal aan digitale literatuur, soos ook blyk uit Hayles (2006:182) se beskrywing van digitale poësie:

In digital media, the poem has a distributed existence spread among data files and commands, software that executes the commands, and hardware on which the sofware runs. These digital characteristics imply that the poem ceases to exist as a self-contained object and instead becomes a process, an event brought into existence when the program runs on the appropriate software loaded into the right hardware. The poem is “eventilized,” made more an event and less a discrete, self-contained object with clear boundaries in space and time.

 

In Performing Digital Literature beredeneer Fletcher (2015) onder meer met verwysing na Hayles se waarnemings dat opvoering en performatiwiteit die effektiefste konseptuele gereedskapstuk is om ʼn volle en ryk rekenskap van digitale literatuur te gee. Digitale literatuur is veel meer as ʼn vorm van taal wat op ʼn skerm of via projeksie verskyn, maar behels inderdaad ʼn hele apparatus waardeur digitale tekste geproduseer en vertoon word (Fletcher, 2015:19). Die “apparatus van digitale literatuur” is ʼn heterogene ensemble van hardeware, sagteware (kode, programmeringstale en bedryfstelsels), die koppelvlak en modusse van interaksie, die literêre taal, die opvoerder/s van die teks, die plek waar die opvoering plaasvind en die sosio-ekonomiese impak van al die voorafgaande elemente. Die komplekse samestelling (assemblage) van verwante elemente – materieel, ruimtelik, linguisties, performatief, tekstueel, kultureel, en sosiaal – is elk interafhanklik en verspreid (Fletcher, 2015:19). Met verspreid bedoel Fletcher (2015: 20) dat al die elemente op verskillende plekke en in verskillende vorme gestoor of geplaas is en dat die werk eers op die oomblik van instansiëring tot stand kom om die digitale werk te vorm (op te voer):

It is only at the moment of instantiation that the various elements of the assemblage come together to (per)form the work of digital literature. At any other moment, the work simply doesn’t exist. Or rather, it exists in such an exploded form that it would be impossible to tell whether the individual elements are part of the work or not. This is why the notion of performativity is central to digital literature. A digital literature work only comes into being at the moment when all its elements are assembled in performance. It exists for a certain period of time and then it disperses.

 

Fletcher (2015:19) gebruik die term performatiwiteit as sambreelterm om ʼn verskeidenheid modusse van opvoering in samehang met die digitale teks apparatus te bespreek; insluitende: die lewendige uitvoering van digitale teks, performatiewe interaksie met die skerm (mens-rekenaar-koppelvlak), kode-opvoering (“code performance”), masjinistiese, kulturele, sosiale, linguistiese en beliggaamde opvoering. Hy (Fletcher, 2015:38-39) kom tot ʼn aantal voorlopige gevolgtrekkings. Veral van belang vir hierdie artikel is sy waarneming dat opvoering en performatiwiteit integraal tot die digitale mode van skryf is; tyd en plek ʼn invloed op digitale tekste uitoefen, en veelvoudige opvoerings terselfdertyd plaasvind.

Aangesien plekspesifieke digitale literatuur op bepaalde plekke beskikbaar gestel word en die liggaamlike teenwoordigheid van die “leser” veronderstel, kan dit as ʼn vorm van digitale literatuur-installasie beskou word. Wat digitale literatuur-installasies van ander digitale literatuur onderskei, is volgens Leahy (2007:302) nie die inhoud, styl, genre of skryfmodus nie, maar hoe die teks fisies, ruimtelik, liggaamlik en sosiaal deur die leser teëgekom en ontvang word. Hierdie leeshandeling word gekenmerk deur verskeie wisselwerkende verhoudings en prosesse:

The action of reading installed digital literature involves the reader’s body in relation to other bodies, recognizes that where we read is an element of our act of reading, and makes evident the site of reading as part of its materiality. As it offers a resistance to the absorptive immaterial immediate text, the installed text locates the reading in a socially mediated space of human (inter)action. (Leahy, 2007:315)

 

Alhoewel Leahy (2007:312) in sy bespreking na liggaamlike beweging van die leser verwys, gaan dit vir hom hoofsaaklik oor die beweging om aspekte van die installasie te aktiveer of om toegang tot gedeeltes van die teks te verkry. Sedert die eerste publikasie van Leahy se artikel in 2007, het die eksponensiële ontwikkeling en deurdringendheid van mobiele tegnologie en programmeringsisteme (spesifiek slimfoontegnologie) en ligginggebaseerde dienste (Carter, 2016:206) die toepassingsmoontlikhede vir digitale literatuur en digitale-literatuurinstallasies aansienlik uitgebrei. Digitale tekste kan nou die lesers “vergesel” op ʼn reis deur verskillende plekke, of ontwerp word om op spesifieke leidrade te reageer wanneer die plekke bereik word, en uitsette verskaf of genereer wat die besondere eienskappe van hierdie plekke op verskillende wyse interpreteer (Carter, 2016:206). Raley (2010:303) identifiseer beweging saam met ervaring en omgewing as die sleutelterme vir mobiele narratologiese praktyk. Hierdie terme is terselfdertyd temas, strukturele kenmerke en wyses van betrokkenheid:

To “read” mobile narrative in these terms is to recognize that critical engagement requires a range of cognitive and bodily activities, only one of which is reading in the sense of the visual processing of linguistic signs. That is, reading in the physical environment particular to mobile media quite often also involves seeing, moving, listening, touching. Participating in a mobile narrative is then precisely that – physical participation that is also understandable as performance.

 

Dit is opmerklik dat die skep, sowel as die ervaring van plekspesifieke digitale literatuur, dikwels in terme van opvoertekste beskryf word; byvoorbeeld as gekomponeerde ervaring, draaiboek en improvisasie, program en uitvoering, kaart, gebruikersgids, stel instruksies en uitvoering van die instruksies (Raley, 2010:304). Die skepper (rhetor) van plekspesifieke digitale literatuur bied, deur die gebruik en kombinasie van verskeie elemente en tegnieke, die geleentheid vir aktiewe deelname van die leser/deelnemer/speler/gebruiker/ervaarder in die totstandkoming van die werk (vgl. Raley, 2010:301, 313; Greyling, Du Plessis & Tempelhoff, 2017:2).Trouens, Fletcher (2013:13) stel dat die woord “performer” as term gebruik kan word wat die gebruik, lees, skryf en opvoering self beskryf, sowel as die aksies wat aangevuur word deur die hardeware en die kodes.

Soos uit die voorafgaande afgelei kan word, manifesteer lokatiewe tekste slegs wanneer spesifieke tydruimtelike parameters deur die leser vervul word (Carter, 2016:206). Die resultaat van die proses is egter tydelik en vervlietend – onder andere omdat daar soveel veranderlikes betrokke is (vlg. Miller, 2011:30; Fletcher, 2015:20; Carter, 2016:206; Hayles, 2006:183). Hierdie veranderlikes word egter ook, soos Carter (2016:206) beredeneer, ʼn belangrike bron van variasie – die verskuiwende patrone van aktiwiteite in die omgewing het byvoorbeeld ʼn beduidende invloed op die konteks waarin die ontmoeting as ʼn geheel waargeneem en geïnterpreteer word. Die ervaring van die tuinversies in die Botaniese Tuin word onder meer beïnvloed deur die tyd van die dag, die dierelewe, medebesoekers, omliggende verkeer en wisselende seisoene. Die verskuiwing van die versies na ander plekke in die tuin of na ander tuine sal nuwe kontekste en ervarings meebring. Indien lesers lokatiewe werk slegs aanlyn sou ervaar, sal die afwesigheid van die lokatiewe faktore ʼn heel verskillende en verskaalde ervaring tot gevolg hê (Carter, 2016:206). Carter (2016:207) argumenteer dat die kortstondigheid, spesifisiteit en agensiële bewustheid (“agential contingency”) van lokatiewe literêre ontmoetings ʼn wesenlike aspek van die uitdrukkingsmoontlikhede daarvan vorm. Alhoewel hierdie kenmerke deel is van die dinamika van alle digitale literatuur, is dit des te meer betekenisvol in lokatiewe literatuur waar die leser met sy of haar onmiddellike omgewing rekening moet hou. ʼn Performatiewe kritiese raamwerk is om hierdie redes vir Carter (2016:207) besonder geskik vir die beskrywing van lokatiewe literatuur as ʼn netwerk van ineengeskakelde agentskappe.

Die komplekse samestelling en dinamika kenmerkend van plekspesifieke digitale literatuur word ook in Greyling (2017:175) se multimodale ensemble vir plekspesifieke digitale literatuur weerspieël. Hierdie ensemble maak naamlik voorsiening vir ʼn onderliggende konseptuele raamwerk, die komponente van plekspesifieke digitale literatuur (teks, liggaam, plek, infrastruktuur, materiële toestelle, en ervaringskoppelvlak), kommunikatiewe praktyke en tegniese prosesse, en meelewende ervarings. Greyling (2017:175) argumenteer dat die toegang tot die potensiële ervaring die ontwerp van ʼn ervaringskoppelvlak impliseer waardeur die verskillende komponente en kommunikatiewe praktyke en tegniese prosesse gekombineer word, en aan deelnemers die geleentheid bied om ʼn aktiewe medeskeppers van die meelewende ervarings te word. Performatiwiteit en relasionaliteit is wesenlik aan die ensemble.

Ten slotte kan die veelfasettige, relasionele, dinamiese en performatiewe aard van plekspesifieke digitale literatuur en die beskrywing daarvan as ʼn netwerk van ineengeskakelde agentskappe, met Bruno Latour se akteur-netwerk teorie in verband gebring word. Die akteur-netwerk teorie (ANT) is ʼn teoretiese en metodologiese benadering tot sosiale teorie waar alles in die sosiale en natuurlike wêreld in voortdurende netwerke van verhoudings bestaan (Law, 2008:141). Die benadering word deur ʼn materieel-semiotiese rasionaliteit en bewussyn gekenmerk. Dit is veral die konsep van die akteur (of aktant) wat vir die doeleindes van hierdie artikel belangrik is. Akteur of aktant verwys naamlik na enige iets – hetsy menslik of nie-menslik – wat ʼn verskil kan maak en die stand van sake in ʼn netwerk kan verander (Felski, 2015:163). Die uiteenlopende soorte akteurs waartussen onderlinge verhoudings gevorm word, sluit in voorwerpe, onderwerpe, mense, masjiene, diere, natuur, idees, organisasies, ongelykhede, skaal en grootte, geografiese samehang, ensovoorts (Law, 2009:141).[ii] Law (2009:141) beklemtoon dat akteur-netwerkteorie nie ten doel het om verskynsels te verklaar nie, maar eerder om verhoudings en wisselwerking tussen die heterogene akteurs wat die netwerke of verhoudings genereer, te verstaan en te beskryf. Resenter ontwikkeling van die benadering behels ʼn verskuiwing na performatiwiteit: “We are no longer dealing with construction, social or otherwise […] rather we are dealing with enactment or performance. In this heterogeneous world everything plays its part, relationally” (Law,2009:151). Relasionaliteit en die betrokkenheid van menslike en nie-menslike agente is inherent in die totstandkoming van digitale tekste, soos Hayles (2006:183) dit duidelik stel: “The fact that all texts performed in digital media are coded implies that reader and writer functions are always multiple and include actions performed by human and nonhuman agents”. Met betrekking tot plekspesifieke digitale literatuur kan die sodanige menslike en nie-menslike agente/akteurs/aktante, die elemente, kenmerke en komponente insluit wat geïdentifiseer word in o.a. Fletcher (2015) se apparatus van digitale literatuur, Leahy (2007) se kenmerke van digitale literatuur-installasies en Greyling (2017) se multimodale ensemble vir plekspesifieke digitale literatuur. Verder kan die talle veranderlikes wat in elke individuele projek, plek en situasie voorkom, ook as nie-menslike akteurs figureer en die ervaring op een of ander wyse beïnvloed.

 

  1. “In die rondte om en om… ”

Byderhand Tuinversies: Modusse van performatiwiteit

Vervolgens bespreek ek verweefde modusse van performatiwiteit – spesifiek ruimtelike, ingeplaaste, tekstuele en beliggaamde performatiwiteit – met verwysing na die Byderhand Tuinversies. My materieel-semiotiese bewussyn is o.a. deur die eerstehandse ervaring en waarneming as skrywer-navorser binne ʼn praktykgebaseerde navorsingskonteks gevorm.

 

3.1 Ruimtelike performatiwiteit

Die skepping van plekspesifieke literatuur en kuns impliseer in die eerste instansie die oorweging van plek (plek, landskap, ligging), insluitende die materiële, sosiale en kulturele, en die subjektiewe dimensies (Buell, 2005:63) daarvan. Dié verweefde dimensies en die bewustheid van die gelaagdheid van plek (sin van plek) is ʼn intrinsieke deel van die proses of gesprek tussen die kunstenaar, die plek, die kunswerk, en toeskouer (Greyling, 2015:349; Smith, 2012:898; Cabuz, 2017:13). Plekke as sodanig kan beskou word as performatief, soos o.a. Casey (1996:44) beredeneer in sy verwysing na plek as gebeure: “… an exploration of place-as-event allowed us to see how places, far from being inert and static sites, are themselves continually changing in accordance with their own proper dynamism”. Die skepper van plekspesifieke kuns en literatuur ontdek en ontgin hierdie inherente ruimtelike performatiwiteit van ʼn plek ten einde moontlike ervarings aan die kyker/leser/deelnemer te bied, byvoorbeeld om deur die belyning van die narratiewe teks en die landskap ʼn bepaalde roete aan die deelnemer te suggereer. ʼn Kunstenaar kan egter ook doelbewus gebruik maak van die omgewing as akteur. In die geval van landkuns kan die vorm of effek van ʼn kunswerk byvoorbeeld verander deur lig en skadu of a.g.v. die blootstelling aan elemente.

Tuine, en in hierdie geval, ʼn botaniese tuin, is op sigself ʼn vorm van kuns. Deur die seleksie en ordening van verskeie elemente, die uitleg, die keuse van plante en materiaal, en die versorging van die tuin, bereik die tuinbouer ʼn bepaalde doel en fasiliteer moontlike ervarings. Smiley (1999:25) verwoord die wisselwerking en die performatiewe en poëtiese aard van tuine as volg:

In a more conventional kind of making, the garden as a specific type of place is created poetically, much as a poem is created: as out-of-the-ordinary composition that brings human consciousness into a different mode of awareness. The garden is intentionally aesthetic; in other words, it is a work of art, a thing made for purposes other than the purely pragmatic. Yet the garden is not only made, but poetically remade, as the processes of nature work upon it as much as does the gardener, and as the garden expresses itself, made new in every encounter with it.

Botaniese tuine – soos in die geval van ander kuratoriale ruimtes soos museums en kunsgalerye – is toegewys vir die uitstalling van versamelings; ruimtes wat reflektiewe deelname van besoekers uitlok. Die NWU Botaniese Tuin is ingerig as ʼn multifunksionele ruimte en vervul talle funksies in die Skool vir Biologiese Wetenskappe en die plaaslike gemeenskap, onder andere die verskaffing van praktiese materiaal vir studenteopleiding, die bewaring van skaars en bedreigde plante, navorsing en navorsingsondersteuning, vir omgewingsopvoeding en ontspanning. Hierbenewens huisves die botaniese tuin ʼn kunsgalery en verskeie permanente en tydelike kunswerke (Plantekunde: Botaniese tuin, 2018). Die NWU-Botaniese tuin en galery vorm ook deel van die kunsroete by die jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees. Kunstefeeste, as liminale ruimtes (Lucas en Wright, 2013), kan ook in terme van kontekstuele en ruimtelike performatiwiteit verstaan word. Dié gedagte word goed geïllustreer met dié dat ʼn gedeelte van Potchefstroomvir die duur van die Aardklop kunstefees omskep word in ʼn performatiewe ruimte vir ʼn verskeidenheid formele en informele opvoerings en verwante aktiwiteite. Die Byderhandprojek, wat Byderhand Tuinverse insluit, is aanvanklik as ʼn woordkunsproduksie by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees 2015 aangebied; sedertdien is die tuinverse ʼn permanente installasie in die Botaniese Tuin waar dit deur die algemene publiek besoek kan word, asook vir bewusmaking, navorsing en onderrigdoeleindes benut word.

Soos uit die voorafgaande afgelei kan word, is hier sprake van verskeie ingebedde kontekste en performatiewe ruimtes wat die skrywer of skepper van plekspesifieke digitale literatuur beïnvloed, en wat vanselfsprekend ook ʼn invloed op die leser-deelnemer se ervaring en eie performatiewe handeling sal hê. Indien die plek van ʼn digitale installasie ʼn instelling, ʼn museum, ʼn galery of universiteit is, kan die gehoor na die installasie kom met spesifieke verwagtinge van vermaak, estetiese of formele betrokkenheid, en inligting (Leahy, 2007:314). Verder bied die omheinde tuin as deel van die universiteitskampus ʼn veiliger en beskermende omgewing vir verkenning en deelname. Binne bogenoemde ingebedde kontekste en ruimtes kan die deelnemer met vrymoedigheid bepaalde performatiewe handelinge uitvoer sonder dat dit as vreemd of ongewoon beskou word. Vir kinders bied die tuin met welige plantegroei, ʼn verskeidenheid voetpaadjies en waterpoele, ʼn rotsrantjie, en voël-, insek- en dierelewe, veel om te verken en te ontdek – ʼn plek om te speel en te ervaar, ʼn ruimte waar die verbeelding vrye teuels het.

 

3.2 Ingeplaaste performatiwiteit

Aangesien die skep van plekspesifieke installasies en lokatiewe literatuur verskeie pragmatiese en estetiese oorwegings impliseer (Packer et al., 2017), is dit vanselfsprekend dat die kunstenaar/skrywer/produsent se konkrete, fisiese ervaring van die plek ʼn integrale deel van die skeppende proses uitmaak en die kunstenaar en kunswerk op wisselwerkende wyse beïnvloed. Hierdie betrokkenheid van die kunstenaar kan as ʼn ingeplaaste skeppingshandeling (performatiwiteit) verstaan word. Die konsep van ʼn ingeplaaste skryf- en leeshandeling binne die ekopoëtiese skryfpraktyk is deur Smit (2012) voorgestel met verwysing na Buell (2005:53) se plekdimensies, en is later deur Greyling (2015:350) uitgebrei om voorsiening te maak vir ʼn ingeplaaste skeppingshandeling:

ʼn Ingeplaaste skeppingsaksie veronderstel: eerstens die materiële, fisiese geplaastheid van die kunstenaar in ʼn spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die kunstenaar met plek waardeur die kunstenaar in tweegesprek met plek tree; en die term maak verder ook voorsiening vir ʼn taalbewuste skeppingsaksie, waardeur taal, beeld, vorm, klank, musiek en beweging as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrumente ingespan word en daardeur die sosiale dimensie van taal (in die wyer sin beskou) aktiveer.

 

Die konkrete ingeplaaste teenwoordigheid van die kunstenaar, en die oorweging van die essensie, instaatstellingsmoontlikhede (“affordances”) en beperkings van ʼn plek, kan ook geïnterpreteer word as die “opvoering” van die handeling van ontwerp en plekskepping (“place making”). Die ontvangs van die tekste impliseer verder ook ʼn ingeplaaste leesaksie of ervaring, wat ek in volgende afdelings as beliggaamde performatiwiteit bespreek.

Die oorkoepelende konseptualisering en ontwerpproses van die Tuinverseprojek het van meet af aan ingeplaaste skeppingsinghandeling of performatiwiteit behels. Die ontwikkelingspan het die tuin by herhaling besoek, die tuin leer ken en die instaatstellings­moontlikhede ondersoek. Die bestaande uitleg van die tuin was rigtinggewend in dié verband en die bestaande tuinbanke in die tuin is bv. as nodusse (plekke) vir die tuinverse (lexia) geïdentifiseer. Vervolgens is beeldmateriaal van die tuin aan digters verskaf en is hulle uitgenooi om verse te skryf wat digitaal by die verskillende plekke beskikbaar gestel sou word. Deurdat spesifiek digters met Potchefstroomverbintenisse genooi is, het dit reeds ʼn bepaalde ingeplaastheid geïmpliseer. Die voorgesette proses het egter ook behels dat van die individuele digters, sowel as medekunstenaars en die produksiespan, op verskillende geleenthede die tuin besoek het met die oog op die kreatiewe proses of die praktiese implementering van die projek.

As een van die digters in die projek het ek ʼn versameling kinderverse geskryf met spesifieke aspekte van die tuin en moontlike reaksies van en aktiwiteite vir die jong deelnemers in gedagte. Die skepper van lokatiewe narratiewe moet immers besin óór en beplan hóé die liggaamlik teenwoordige deelnemer in die konkrete ruimte deur ʼn verskeidenheid media, aktiwiteite en deelname, betekenis kan skep en bepaalde ervarings kan beleef (Greyling, du Plessis en Tempelhoff, 2017:12). Die meeste van hierdie versies het in die tuin ontstaan n.a.v. my waarnemings en ervarings alhier. Enkele reeds bestaande versies is ook gebruik omdat dit so goed by die tuingegewe gepas het. Benewens die tuinversies by die banke het ek ook verse op ander plekke in die tuin geplaas om die potensiaal van die plekke te ontgin en by te dra tot die avontuurlike en speelse ontdekking van die versies en plekke in die tuin. Voorbeelde van die stimuli en plekke waar versies geplaas is, is versies oor voëllewe: “Wie kwetter so” by ʼn waterpoel tussen met bome met vinknessies aan die takke, en “Geelbekbosduif” onder die koeltebome aan die bo-punt van die waterval. Die versie “Platanna” is langs ʼn dam geplaas waar volgens ʼn inligtingsbord by die dam, navorsing oor platannas gedoen word. Versies oor die plantelewe sluit in: “Heuningklokkiesbos”, “Taaibos”en “Boomklimboom”. Paadjies, roetes en stapervarings figureer in “Sagtrappad”wat verwys na ʼn voetpaadjie bedek met dennenaalde, “Klippepad” aan die bo-punt van ʼn klippepad teen ʼn rantjie op, en “Labirint”.[iii] Deur die keuse en die kombinasie van versies en plekke word die individuele plekke onderling verbind. Dié onsigbare netwerk mag vir besoekers moontlike assosiasies en ervarings suggereer.

Die produksie van die tuinversies het ook vertolkings en remediasies na ander media behels. Elke kinderversie is vertolkend voorgelees deur ʼn stemkunstenaar: dié klank­opnames is vervolgens aan die animeerders verskaf met die doel om tipografiese animasies van die versies te skep. Die gedagte met die tipografiese animasie was spesifiek dat die woordteks prominent moet figureer en die betekenis van die teks, met inagneming van die omgewing, moet ondersteun; die animeerders het egter kreatiewe vryheid gehad m.b.t. die remediasie van die verse. Die verskillende weergawes van die versies is deur die multimedia-ontwerper op die doelgemaakte Byderhandplatform (databasis) gepubliseer. ʼn Mobiele gebruikerskoppelvlak is ontwerp waarop deelnemers ʼn keuse kan uitoefen oor watter weergawe/s van die teks hulle wil ervaar, hetsy om die versie op die selfoonskerm te lees, daarna te luister, dit te lees en terselfdertyd na die voorlesing te luister, of na ʼn tipografiese animasie van die vers te kyk.

 

3.3 Tekstuele performatiwiteit

Die gedagte van tekste as performatief en dat ʼn teks as ʼn “draaiboek” vir lesershandeling kan dien, is nie uniek tot interaktiewe plekgebonde narratiewe nie. Met fokus op die narratologie wys Bell (2008:73 – in Linde, 2018:126) daarop dat verskillende tipes tekste – soos ʼn gedig, roman, kortverhaal, maar ook ʼn dramateks, ʼn stuk bladmusiek of die bloudruk vir ʼn gebou – as “guide(s) or set(s) of directions for the performer”optree. In haar bespreking van performatiwiteit in die narratologie onderskei Berns (2012) tussen nie-liggaamlike of geskrewe narratiewe (performatiwiteit II) en die beliggaamde weergawe van gebeure voor ʼn gehoor (performatiwiteit I); beide performatiwiteit I en II behels verdere vlakke van performatiwiteit in onderskeidelik die storie (die inhoud – i) en diskoers (aanbiedingswyse – ii). Die performatiwiteit in ʼn teks het ʼn uitwerking op die leser of toeskouer. Hierdie uitwerking wat as performatiewe handeling verstaan kan word, word beïnvloed deur bepaalde modusse, media en genres. “When performativity evokes action in the mind of the reader or viewer, the demands it makes on the audience’s imagination vary according to the media in which that action is presented” – aldus Berns (2012). In liriese poësie, kan performatiwiteit bv. nagespeur word in die visuele uitleg (soos lynlengtes en strofes) wat die orale opvoering van die gedig struktureer, sowel as in die akoestiese potensiaal of musikaliteit van die taal (Berns, 2012 met verwysing na Wolf, 2003:78 en Hühn en Sommer, 2012).

Berns (2012) se onderskeid tussen verskillende modusse waarop handeling aangebied of uitgelok word, maak egter nie voldoende voorsiening vir die unieke aard van digitale literatuur, die verwikkelde en verweefde dinamika met betrekking tot die multimodale tekste, die liggaamlike deelname van die leser, en die konteks van plekspesifieke digitale literatuur nie. Tekstuele performatiwiteit in digitale tekste hou nie slegs verband met die inhoud, genre, media en konteks nie, maar ook met die dinamiese aard van die werk as sodanig. Digitale literatuur behels terselfdertyd ʼn literêre en tegniese produksie, soos Hayles (2008:5) aandui: “(E)lectronic text remains distinct from print in that it literally cannot be accessed until it is performed by properly executed code. The immediacy of code to the text’s performance is fundamental to understanding electronic literature, especially to appreciating its specificity as a literary and technical production”. Tekstuele performatiwiteit behels daarom tegniese sowel as literêre performatiwiteit.

Digitale literatuur word onder meer gekenmerk deur die groot verskeidenheid nuwe formate en genres, en ʼn verskuiwing van stabiele na dinamiese tekstualiteit. Fletcher (2015:38) beklemtoon voorts dat taal en skryf in digitale tekste nie ʼn voorwerp is nie, maar ʼn gebeurtenis. Digitale tekste is nooit ʼn enkele teks nie, maar veelvuldige tekste met veelvuldige skrywers; elkeen van die tekste is op sigself performatief (Fletcher, 2015:38-39). ʼn Teks in digitale formaat kom telkens tot stand deur die samekoms in die opvoering van al die elemente van die assemblage wat ʼn groot verskeidenheid aktante insluit soos sagteware, hardeware, toestelle, rekenaarstelsels, internet, netwerke, kragbronne, ensovoorts (Fletcher, 2015:38-39). Verder word digitale tekste op wyses wat nie met boekgebaseerde tekste die geval is nie deur sowel tyd as plek bepaal. ʼn Digitale teks sal bv. op ʼn ander masjien of toestel en met ander sagteware anders “perform” (optree) en ervaar word. Wat betref die totstandkoming van die digitale teks, vind daar verskeie opvoerings plaas, waarvan sommiges sigbaar op die oppervlak is, terwyl ander onsigbaar of binne-in die toestel is (Fletcher, 2015:39). Hierdie verstrengelde aspekte van tegniese tekstuele performatiwiteit kan verduidelik word aan die hand van die tuinversies, en spesifiek die versie “Labirint”.

http: //byderhand.net/byderhand_inter/bh_tv/bh_ktv/bh_op_ktv_labirint.html

Figuur 1: QR-kode en URL van “Labirint”

 

In vergelyking met ander vorme van digitale poësie waar die inhoud voortdurend kan verander (bv. interaktiewe poësie en kodepoësie), is die tuinversies betreklik eenvoudig aangesien die inhoud en vorm self nie verander nie. Die tegniese produksie en die korrekte vertoning van die werk veronderstel egter ook die akkurate uitvoering van verskillende vlakke van kodering. Die Byderhand tuinverse-installasie se gebruikerskoppelvlak is ontwikkel met die gedagte dat die multimodale tekste via mobiele toestelle op ʼn aangewese plek gelees en ervaar moet word. Dit is egter wel moontlik om die tekste op ander toestelle en groter skerms (soos tafelrekenaars) te kan lees; die gebruikers­koppelvlak en teks vertoon in hierdie geval verskillend. Nadat die leser via die skandering van die QR-kode (figuur 1) toegang tot die teks op die internet verkry het, verskyn die eerste gebruikerskoppelvlak op die skerm, met die aanduiding van die titel, skrywer, en ʼn keuselysie waar die leser tussen verskillende ervarings kan kies, naamlik “lees en luister” en “kyk” (en waar dit beskikbaar is, ook keuses in ander tale).

Figuur 2: Skerm 2 van die digitale koppelvlak van “Labirint”

 

Sodra ʼn keuse uitgeoefen is, verskyn ʼn volgende skerm waarop die versie vertoon (figuur 2). Die keusebalk op dieselfde skerm as die versie, bied verdere interaktiewe moontlikhede, naamlik om die klanklêer (voordrag) te aktiveer, te herspeel of te laat stop, asook om die lettergrootte te verander. Die keuse om te “ervaar”, bied toegang tot ʼn animasie wat op ʼn eksterne platform, YouTube, geplaas is. Wanneer ʼn keuse uitgeoefen word, word die elemente van die apparatus wat in verskillende datalêers (en selfs op verskillende platforms) gestoor is, geaktiveer om die werk te “(per)form” (Hayles, 2006:182; Fletcher, 2015:19) – die gedig word derhalwe ʼn “proses” (Hayles 2006:182; Hayles, 2005:101). Waar die woordteks skynbaar eenders vertoon in die gedrukte formaat as op die digitale skerm, is die verskil tussen die twee media duidelik deur die interaktiewe toegang en multimodale keusemoontlikhede.

Die literêre produksie (Hayles, 2008:5) kan in die argument beskou word as literêre tekstuele performatiwiteit. Wanneer die vorm en inhoud van die versie aan die hand van Berns (2012) se indeling beskou word, kan die direkte uitbeelding van die handeling in die woordteks, naamlik die ervaring om in ʼn labirint te loop, verstaan word as performatiwiteit II.i. Die eerstepersoonsverteller wat aan die woord is en wat dui op ʼn verteller se agentskap en mediasie van die narratief (diskoers), kan verstaan word asperformatiwiteit II.ii. Saam met verstegniese middele soos woordkeuses, herhaling, rym, enjambement, lynlengte, en metafore, word beweging en musikaliteit bewerkstellig, en word die teks ʼn opvoerteks vir ʼn orale vertolking. In die geval van die Byderhand Tuinversies is dié potensiële orale opvoering verwerklik deurdat al die versies deur ʼn stemkunstenaar vertolk is, wat, deur stemgebruik, beklemtoning, metrum, ritme, ensovoorts, ʼn bepaalde interpretasie van die versie bied. Die vertolking van die teks deur die stemkunstenaar sou as ʼn liggaamlike daad van vertelling beskou word, m.a.w. performatiwiteit I.ii. Berns (2012) se konsep van performatiwiteit I is egter beperk tot opvoerings wat die liggaamlike teenwoordigheid van sowel die akteur en die toeskouer behels; formate soos film en cartoons word as performatiwiteit II geklassifiseer. Die opgeneemde voordragte en tipografiese animasies sou volgens dié raamwerk as performatiwiteit II verstaan word.

Die remediasie na ʼn tipografiese animasies is ʼn volgende vlak van die produksie waarin verskillende modusse, media en semiotiese sisteme saamgebring is. Die animeerkunstenaar het – deur die oorweging van die inhoud van die teks, die vertolking van die stemkunstenaar (veral die ritme en beklemtoning) en kenmerkende elemente in die omgewing – woordteks, klank, visuele uitbeelding en beweging versmelt en sodoende betekenis oorgedra en versterk. Visuele semiotiek soos beeld- en die kleurgebruik, bv. die motief van ʼn labirint op ʼn pers agtergrond, dra by om die ruimtelike elemente te beklemtoon. Dit is egter veral deur die beweging van die woorde en sinne in vloeiende sirkelbane dat die inhoud verkonkretiseer word. In die besondere aanbieding word dit ook ʼn konkrete gedig. Die animasie word derhalwe op verskeie wyses ʼn opvoering.

In die geval van kinderverse is die tekstuele performatiwiteit egter nie beperk tot die aanmoediging van kognitiewe handeling (denke en verbeelding) nie, maar word inderdaad ook vervleg met die uitnodiging tot performatiewe handeling. Tegnieke in kinderverse word dikwels doelbewus ingespan om deelname aan te spoor, byvoorbeeld om die waarneming te stimuleer, verbeelding te prikkel, klank- en woordspel uit te lok, en fisiese aktiwiteite aan te moedig. In die tuinversies word die “leser” op verskeie wyses uitgenooi word om op die teks te reageer. Die tema en inhoud kan die leser se verbeelding en voorstellingsvermoë stimuleer; klankaspekte (soos ritme en metrum) kan daartoe bydra dat die leser of luisteraar die versie saam wil opsê; taal soos woordspel, rym en humor kan die leser aanmoedig om self ook met woorde te speel en die inhoud kan aanleiding gee tot liggaamlike aktiwiteite soos nabootsing en ontdekking. Hierdie is alles tegnieke wat ek aangewend het in die versameling tuinversies. Dié potensiaal kan egter slegs ten volle realiseer deur die fisiese teenwoordigheid van die leser-deelnemer in die tuin – m.a.w. binne die konteks van die ruimtelike performatiwiteit. Die aktiewe, deelnemende, en fisiese betrokkenheid van die leser-deelnemer in die tuin is terselfdertyd ingeplaaste en beliggaamde perfomatiwiteit.

 

3.4 Beliggaamde performatiwiteit

 

Die “draaiboek” of ervaringskoppelvlak van die Byderhand Tuinverse impliseer verskeie deelnemende modaliteite, insluitende liggaamlike, sensoriese, kognitiewe en sosiale handelinge. Die deelnemer moet deur die tuin stap, die verskillende plekke en QR-kodes vind en met ʼn mobiele toestel skandeer, die gekose weergawe via die gebruikersvlak aktiveer, die multimodale inhoud ervaar en in samehang met eie waarneming en die tuingegewe interpreteer en ervaar.

Fenomenologiese perspektiewe beklemtoon dat ruimte gelyktydig gekonstrueer word met ons ervaring van beliggaming (Farmen, 2012:18; Casey, 1996:18). Waarneming is primêr sinesteties van aard en behels die verhouding van die hele liggaam as ervarend en bewegend (Casey, 1996:18). Die term haptiese persepsie word gebruik vir die holistiese en liggaamlike wyse waarop driedimensionele ruimte verstaan word. ʼn Holistiese stelsel van omgewingspersepsie behels ‘n komplekse geografiese ervaring wat die integrasie van baie sintuie inhou, waaronder posisionele bewustheid, balans, klank, beweging en die herinnering van vorige ervarings (O’Neill, 2001:4). Sulke kombinasies van sensitiwiteit word as gelyktydige waarneming beskou. Interaktiewe plekgebonde narratiewe funksioneer in samehang met dié verweefde liggaams- en plekbelewing. “Lees” word sodoende ʼn kinestetiese, haptiese en propreseptiewe lewendige ervaring wat nie net die serebrale aktiwiteit van dekodering behels nie, maar ʼn liggaamlike wisselwerking met die multimodale literatuur in die ruimteinhou (Hayles, 2010:13). Hiermee saam is die gebruik van die selfone om toegang tot die literatuur te kry ook ʼn vorm van beliggaming, soos Evans en Saker (2017) dit stel: “We are always embodied in space, and our use of these computational devices is always embodied”.

Waarneming van besoekers aan die Byderhand Tuinverse Installasie in die botaniese tuin dui daarop dat deelnemers op diverse wyses met die mobiele toestelle werk en dat die opvoering in samehang met ander deelnemers plaasvind. Hierdie ervaring kan as  “openbare lees”, waarin die leser beide toeskouer en akteur is, beskou word (Leahy, 2007:313 met verwysing na Bootz, 2004).Dit is byvoorbeeld sprekend hoe die digitale toestelle op verskeie wyses met ander gedeel word, bv. om saam na die skerm te kyk of saam na ʼn voorlesing te luister. Wat verder opval, is met hoeveel gemak deelnemers digitale toestelle gebruik, sodat dit inderdaad as ʼn verlengstuk van die liggaam en sintuiglike waarneming beskou kan word. Met verskeie eksterne faktore wat die deelnemer se hantering van die tegnologie en die ervaring kan beïnvloed – bv. die mate van vertroudheid met die tegnologie, die kwaliteit van internetontvangs, en talle veranderlikes in die tuin – moet die deelnemer voortdurend aanpassings maak. Skerp sonlig kan bv. meebring dat ʼn deelnemer die selfoon afskerm; steurende agtergrondgeluide kan meebring dat die toestel nader aan die oor gehou word, en dat dit derhalwe onmoontlik is om die teks terselfdertyd te kan lees; swak netwerkopvangs kan verwringing veroorsaak, ensovoorts. Deelnemers se hantering en navigering van die toestelle in die besondere omstandighede dui op ingeplaaste beliggaam­de performatiewe handeling.

Waar Berns (2012) veral verwys na die kognitiewe aspekte van performatiwiteit soos deur die uitwerking op die denke en verbeelding van die leser of kyker, beklemtoon Raley (2010) die aktivering van liggaamlike performatiwiteit. Die aktivering van die literêre verbeelding word as’t ware ʼn uitnodiging of instruksie tot opvoering: “To invite a participant in a mobile narrative to ‘act and imagine’ is to ask her to perform and to activate her literary imagination. An invitation, then, is also implicitly an instruction”. Hierdie gekomponeerde ervaring is nie ʼn ten volle geprogrammeerde ervaring nie, maar bied ʼn interpretatiewe gaping tussen instruksie en uitvoering. Die gaping is die plek van ambivalensie, die onsekerheid van betekenis, en dus oop vir improvisasie en eksperimentering (Raley, 2010:307). Wanneer ʼn deelnemer ʼn teks ontvang wat haar beveel om rond te kyk, kan die opdrag meer oop as geslote wees, en ʼn interpretatiewe gaping tussen opdrag en uitvoering daarstel (Raley, 2010:307).

Hierdie interpretatiewe gaping tussen instruksie en uitvoering, die ambivalensie en oopheid vir improvisasie en eksperimentering, kan op verskeie vlakke van die Byderhand Tuinversies-installasie waargeneem word: vanaf die oorkoepelende ervaring van die Byderhandtuinverse tot by die individuele tuinversies en die keuse en kombinasie van verskillende weergawes en media. Só is die versies byvoorbeeld deur die tuin versprei sodat dit vanaf verskeie rigtings en op verskeie wyses ontdek kan word. Deelnemers kan self ʼn roete, en dus ook die volgorde waarin die versies ervaar word, kies. Die deelnemer kan byvoorbeeld op die labirint in die tuin afkom en daarin stap voordat hy of sy die QR-kode wat op ʼn muurtjie langs die labirint aangebring word, ontdek, die versie aktiveer, daarna luister en die ervaring van die vers (in een of meer van die media) met die eie stapervaring verbind. Eweneens mag die deelnemer eers die versie lees, luister of kyk en daarna die handeling wat in die verskillende media uitgebeeld word, eerstehands ervaar deur self in die labirint te loop. Dalk sou die deelnemer in die proses ook grepies uit die versie opsê? Of dalk kan die deelnemer na die versie luister terwyl hy of sy die sirkelpad volg. ʼn Somer-ervaring tussen welige knoffelplante met opvallende pers blomstele kan in verband gebring word met die pers agtergrond van die animasie, terwyl ʼn winter-ervaring tussen valerige plante in kontras daarmee kan staan. Verder kan die wisselwerking met medelesers, die ervaring op verskeie wyses beïnvloed. Die konkrete tuingegewe, die inhoud van die versie, die eie ervaring, wisselwerking met ander, ensovoorts kan onbeperkte kognitiewe en liggaamlike aktiwiteite (opvoerings) tot gevolg hê.

 

  1. “tot in die labirint se middelpunt”

Slotsom

In sy elegante besinning oor die ooreenkoms tussen tuine en poësie, maak Smiley (1999:254) gebruik van metafore wat met performatiewe handeling verband hou:

Both poetry and the garden are art forms that invite or entice one away from the non-sensual, anaesthetic mode of being. A walk in the garden can therefore be like reading a poem, a way of doing that engages us with a world of images and connections. The garden and the poem are wholes, but we experience them by moving through them one image at a time, or by pausing to absorb whatever captures the imagination along the way. Beyond taking in the experience in Bachelard’s sense of participation the joy of creation: the being of the poem or the garden keeps emerging in our reading, our walking. The next line, the next image around the bend, becomes as we join in. In a lifeworld where we are emplaced, I am not separate or detached from that becoming, so I too become. Emplaced, we become, place and I.

 

Smiley (1999:18-19) meen dat ʼn suksesvolle gedig en poëtiese ontmoeting nuwe denkpatrone en ervarings skep: “Poetics is a drawing-out, in several senses. Poetic language draws the birds, flowers, or salt spray into awareness, while also drawing the reader out of the armchair into a poetic world, by way of imagination”. Tuine is poëties omdat dit soortgelyke “drawing-out”-ervarings bevorder – aldus Smiley. In die geval van die Byderhand Tuinverse is daar sprake van ʼn verdigte poëtiese ervaring deurdat die deelnemer die gedig en die tuin tesame beleef. Die jong ontdekker van dié buitelug-versbundel in die NWU Botaniese Tuin word handelend en interaktief deel van ʼn geïntegreerde ingeplaaste poëtiese ervaring.

In hierdie artikel het ek gepoog om dié aktiewe en konkrete leeservaring kenmerkend van plekspesifieke digitale literatuur aan die hand van ʼn performatiewe en relasionele raamwerk aan te dui. Beskou vanuit ʼn materieel-semiotiese perspektief is daar vier modusse van performatiwiteit (ruimtelike, ingeplaaste, tekstuele en beliggaamde performatiwiteit) ondersoek en toegepas met voorbeelde uit die Byderhand Tuinversies. Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat plekspesifieke digitale literatuur ʼn besondere leeservaring bied in die opsig dat dit so veelfasettig, relasioneel, dinamies en performatief van aard is en dat die leser-deelnemer ʼn integrale rol in die opvoering en realisering van die werk speel. Performatiwiteit, soos beskryf en verstaan aan die hand van Fletcher (2015), Raley (2010) en Hayles (2006) se beskrywings daarvan, sou dus as handig beskou kon word om die verweefde wisselwerking en relasionaliteit in plekspesifieke digitale literatuur te bestudeer en om reg aan die unieke literatuurvorm te kan laat geskied.

 

 

 

 

VERWYSINGS

 

BERNS, U.

2012 (2014). Performativity. (In Hühn, P., Pier, J., Schmid, W. & Schönert, J., eds. The living handbook of narratology. Hamburg: Hamburg University. http: //www.lhn.uni-hamburg.de/article/performativity Date of access: 1 Nov. 2018).

 

BUELL, L.

  1. The future of environmental criticism: Environmental crisis and literary imagination. Malden, MA: Blackwell Publishing.

 

CARTER, R.A.

  1. Textual entanglements: A performative approach towards digital literature. University of Exeter: Thesis for the degree of Doctor in Philosophy in English.

 

CASEY, E.S.

  1. How to get from space to place in a fairly short stretch of time: Phenomenological Prolegomena. (In Feld, S. & Basso, K.H., eds. Senses of place. Santa Fe: School of American Research Press).

 

EVANS, L. & SAKER, M.

  1. Location-based social media: Space, time and identity. Palgrave Macmillan. DOI 10.1007/978-3-319-49472-2

 

FARMEN, J.

  1. Mobile interface theory: Embodied space and locative media. New York & London: Routledge, Talor & Francis Group.

 

FELSKI, R.

  1. The limits of critique. Chicago and London: The University of Chicago Press.

 

FLETCHER, J.

  1. Introduction. Performance research. 18:5. 1-3. DOI: 10.1080/13528165.2013.867168

 

  1. Performing Digital Literature. (Interpretando literatura digital). Caracteres. Estudios cultural y criticos de la esfera digital, 4(2):18-42.

 

GREYLING, F.

  1. Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ʼn kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank. LitNet Akademies, 12(3):308-357.

 

  1. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2):147-189.

 

GREYLING, F., DU PLESSIS, H.G.W. &. TEMPELHOFF, G.

  1. Verweefde netwerk van ʼn plekspesifieke dwaalverhaal. Stilet, 29(2):1-25.

 

HAYLES, N.

  1. My Mother Was a Computer: Digital Subjects and Literary Texts. Chicago: The University of Chicago Press.

 

  1. The Time of Digital Poetry: From Object to Event. (In Morris, A. & Swiss, T. New Media Poetics. Cambridge: MIT Press. p. 181-209).

 

  1. Electronic Literature: New horizons for the literary. Notre Dame, Indiana: University of Notre Dame Wald-Phillips.

 

HIGHT, J.

  1. Locative narrative, literature and form. (In Schäfer, J. & Gendolla, P., eds. Beyond the screen: Transformations of literary structures, interfaces and genres. Bielefelt, transcript Verlag: 317-330).

 

LAW, J.

  1. Actor-network theory and material semiotics. (In Turner, B.S., ed. The New Blackwell Companion to Social Theory. Oxford: Blackwell).

 

LEAHY, M.

  1. Private public reading: Readers in digital literature installation. (In Siemens, R. & Schreibman, S., eds. A companion to digital literary studies. Malden, MA: Blackwell Publishing. p. 301-317).

 

LEEKER, M., SCHIPPER, I. & BEYES, T.

  1. Performing the digital: Performativity and Performance Studies in Digital Cultures. Bielefeld: transcript Verlag.

 

LINDE, J.

  1. Relasionele performatisme: ʼn Metamornistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk. Proefskrif voorgelê ter nakoming vir die graad Philosophia Doctor in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

 

LUCAS, M. & WRIGHT, A.

  1. Liminal performativity: Modern-day festivals and embodied practice. European Group for Organization Studies Colloquium (EGOS 2013), 5-7 July 2013, Montréal, Canada. http://oro.open.ac.uk/44655/ Date of access: 9 Nov. 2018.

 

MILLER, V.

  1. Understanding digital culture. Los Angeles: Sage.

 

O’NEILL, M. E.

  1. Corporeal Experience: A haptic way of knowing. Journal of Architectural Education, 55(1):3-12. DOI:org/10.1162/104648801753168765

 

PACKER, H., HARGOOD, C., HOWARD, Y., PAPADOPOULOS, P. & MILLARD, D.

  1. Developing a Writer’s Toolkit for interactive locative storytelling. (In Proceedings of the International Conference on Interactive Digital Storytelling. Vol. 10690, Springer: 63-74. DOI: 10.1007/978-3-319-71027-3_6).

 

RALEY, R.

  1. Walk this way: Mobile narrative as composed experience. (In Schäfer, J. & Gendolla, P., eds. Beyond the screen: Transformations of literary structures, interfaces and genres. Bielefelt, transcript Verlag: 299-316).

 

SCHEEPERS, R., KOTZÉ-MYBURGH, S. & SMITH, G.

  1. Rympies vir kleintjies en kleuters. Kaapstad: Tafelberg.

 

SMILEY, S.P.

  1. Musing the garden: A poetics of place and emplacement. A dissertation submitted to the Graduate Faculty of the Louisiana State University and Argricultural and Mechanical College in partial fulfillment of the requirements of the degree of Doctor of Philosophy.

 

SMITH, S.

  1. Plek en ingeplaaste skryf. ʼn Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928.

 

TRONSTAD, R.

  1. Performance. (In Ryan, ‎M.L., Emerson, ‎L. & Robertson, B.J., eds. The Johns Hopkins Guide to Digital Media. Baltimore: Johns Hobkins University Press. p. 388-393).

 

Plantkunde: Botaniese Tuin

2018. http://natural-sciences.nwu.ac.za/af/botaniese-tuin/tuis Toegangsdatum: 2 Aug. 2018.

 

VON HANTELMANN, D.

2014. The experiential turn: On performativity. Walker Art Centre. http: //walkerart.org/collections/publications/performativity/experiential-turn/ Toegangsdatum: 30 Nov. 2018.

 

[i] Tronstad (2014: 390) wys dan ook daarop dat resente gemeenskaplike belangstelling in uitvoering (performance) en performatiwiteit deur akademici en kunstenaars vanuit ʼn verskeidenheid velde tot die appropriasie van konsepte oor dissiplinêre grense gelei het, waarskynlik bygedra tot ʼn minder dogmatiese verstaan van wat performance en performatiwiteit is of kan wees, en die konsep en die toepassing daarvan verbreed het

[ii] “The ‘actor’ in actor-network theory is not a solitary self-governing subject who summons up actions and orchestrates events. Rather, actors only become actors via their relations with other phenomena, as mediators and translators linked in extended constellations of cause and effect. Nonhuman actors, then, help to modify states of affairs; they are participants in chains of events; they help shape outcomes and influence actions” (Felski, 2015:164).

[iii] Deur die dade van skep, keuse, kombinasie en belyning is die tekste (leksia) en die plekke (nodus) verweef, sodat dit as performatiewe dade van plekskepping (“place making”) beskou kan word.