30(1) stilus: Joan Hambidge – Begeerte #1

Begeerte

(’n Hibridiese akademiese teks-as-kubervervolgverhaal)

Joan Hambidge

Klik hier vir die PDF-weergawe

 

Die werklikheid is op hierdie teks gebaseer

 

 

When a book leaves its author’s desk it changes. Even before anyone has read it, before eyes other than its creator’s have looked upon a single phrase, it is irretrievably altered. It has become a book that can be read, that no longer belongs to its maker. It has acquired, in a sense, free will. It will make its journey through the world and there is no longer anything the author can do about it. Even he, as he looks at its sentences, reads them differently now that they can be read by others. They look like different sentences. The book has gone out into the world and the world has remade it.

Salman Rushdie, Joseph Anton: A Memoir

 

 

EROS of thanathos

Hoofstuk een: Ons protagonis loop per toeval haar antagonis raak

Om presies twee minute na twaalf op ’n Sondagmiddag, verlaat ons hoofkarakter haar hotel Rathauspark, Rathausstrasse in Wene. Op ’n somersdag met ’n temperatuur van 32 grade Celsius. Min wetende dat om om twaalf minute na twaalf hierdie verhaal sal begin. Dit is ’n dag tussen lesings wat sy bywoon by ’n kongres oor Vergelykende Letterkunde. Wene, die stad van drome en musiek. Wene wat haar lewe handomkeer sal verander. So as u, liewe leser, nie verder wil lees aan ’n verhaal oor begeerte nie, volg dan ’n ander roete in Wene: miskien na die Riesenrad of die oorlogmuseum.

In haar tas is daar ’n kamera en notaboek met een inskrywing oor die Freud-huis, rowwe aantekeninge wat sy later weer sal lees:

 

Freud en Wene 

Met ’n onlangse besoek aan Wene, is Freud se museum op die Berggasse nommer 19 in die negende distrik, ’n besondere ervaring van hoe die geskiedenis nie feite kan ontken nie.  

Die museum is in 1971 gestig deur Anna Freud met die hulp van die stad, Wene en word beskou as een van die belangrikste intellektuele argiewe.  

Hier het mense vir terapie gekom, totdat Freud na Londen moes vlug toe die Nazi’s die stad beset het. Vir ongeveer 200 00 Euro kon hy ontvlug en sy beroemde sofa saamneem. 

’n Mens kry ’n gehoorapparaat vir wanneer jy die verskillende kamers besoek. Tans is daar ’n spesiale uitstalling: “This is the stronger sex. Women in psychoanalysis”. 

Bepaald ’n ironiese uitstalling, gedagtig aan die feit dat Freud se Oedipus-kompleks fokus op die seun se stryd met die vader en dat die dogter, volgens hom, aan penisnyd ly. 

Lou-Andreas Salomé, Marie Bonaparte, Helene Deutsch, Anna Freud en Sabina Spielrein, met Anna Eckstein, word hier vereer ten einde die sogenaamde “talking cure” te begryp. Party van hulle was van Freud se pasiënte. Anna Freud en Deutsch het onder hom opleiding ontvang. En só het psigoanalise in 1896 begin, versprei na ander lande: deur Salomé na Duitsland; met Bonaparte na Frankryk; Deutsch na die VSA, terwyl Anna Freud op haar beurt dit in Engeland gevestig het. Spielrein het weer die Russiese vertolker van Freud se teorieë geword. Spielrein, so word vandag aanvaar, was die persoon wat transferensie gevestig het as ‘n term in die psigoanalise. (Sy het Jung in ’n stadium beskuldig dat hy van haar idees “oorgeneem” het.) 

Jung het sy verhouding met haar beëindig om sy huwelik en reputasie te red. Beide Freud en Jung het haar verdink van ’n skinderveldtog teen Jung. Haar bewering dat Jung ’n verhouding met ’n jong student sou gehad het, blyk vandag onwaar te wees. 

Daar is ook ’n klein home movie, soos Anna Freud dit noem, waar die gesinslede van Freud uitgebeeld word. Sy liefde vir honde (o.a. twee chows en ’n pekinese) blyk onder meer daaruit dat hy vir hulle balletjies gooi. Sy betrokkenheid by sy kinders en kleinkinders is ook daar: o.a. footage van Lucian Freud wat later die beroemde skilder sou word, onder andere van windhonde. 

Ons sien sy suster wat in ’n konsentrasiekamp gesterf het en beelde van sy moeder, sy vrou en die psigoanalis, Ernst Jones. 

Freud het dit gehaat om afgeneem te word. Hy was baie lief vir reis en dikwels kon die gesin in somertye in beroemde spas of in Tirool bly waar hy onder andere Totem and Taboo geskryf het. Veral die antieke sentra van Italië het Freud bekoor. 

Oom Sigmund het ook graag gerook, terwyl hy geskryf het. Toe hy ernstig siek geraak het en nie meer kon rook nie, weens mondkanker, het hy al hoe moeiliker geskryf. Hier in die museum sien ons hoe Anna Eckstein veral die verminderde rol van vroue aangespreek het.  

Anna Freud het haar vader se werk uitgebou. Sy is bekroon met ’n doktorsgraad aan Yale en in 1967 het Elizabeth II haar tot ‘Commander of the Order or the British Empire’ georden. 

Wat hierdie besoek uitsonderlik maak, is dat dit regstellende aksie is. Hiermee word erkenning gegee aan die werk van vroue wat ágter die skerms gewerk het om aan Freud – en later ook Jung – se belangrike werk beslag te gee in die Stad van Drome. 

Inderdaad is ’n sigaar nie net ’n sigaar nie.

 

 

 

 

Twaalf minute na twaalf (sy het op haar horlosie gekyk) staan sy by die Votivrestaurant skuins oorkant die beroemde kerk. Sy is lus vir koffie. Sy kyk na regs waar ’n jong vrou alleen sit. ’n Glas lemoensap voor haar. Hulle kyk na mekaar.

Sy bestel koffie (op Duits) en versoek ’n dubbel-espresso met koue melk (apart) en bruin suiker.

Die vrou sê: “Ek hou van mense wat weet wat hulle wil hê.”

Hoe simbolies sou hierdie woorde nie later word nie.

Hierdie opmerking van die vrou met die lang bruin hare sal vir lank daarna in haar gemoed bly draal.

Sy haal haar kamera uit en neem ’n foto van haar. Sy bestel nog ’n koffie.

Sy wil opstaan, voortgaan. Maar die vrou bly na haar kyk.

 

Hoofstuk twee: Die ongedanste dans – ’n liefdesverhaal vir beginners vanuit ’n agternaperspektief

In een van sy beroemde onderhoude skryf Colm Tóibín dat ons in ’n Jane Austen roman altyd ’n dans aantref. Twee karakters ontmoet, daar is ’n dans, en alles beweeg vandaar vorentoe. Hy het dit waarskynlik bedoel as raad vir jong skrywers, maar vreemd genoeg het dit haar na al die jare bygebly na die einde tussen haar en X. ’n Ontmoeting, ’n dans … behalwe by hulle het alles altyd agtertoe beweeg.

Asof sy nooit kon klaarmaak met die ópheffing van hul verhouding nie. So het hierdie verbintenis deel van haar emosionele CV geword: die ongedanste dans. Sy het altyd bly hunker na ’n gesprek om afsluiting of “closure” te kry. Om die boek van hul verhouding toe te maak.

En in Wene, tydens ’n kongres in Vergelykende Letterkunde, besef sy dat die meester van die Weense wals, niks van dans gehou het nie. En dat skrywers van en teoretici oor die liefdesverhaal dikwels niks van die liefde weet nie. Nes sielkundiges wat ander van raad van bedien, maar self nie die mas opkom in hulle eie liefdesverhale nie.

Natuurlik sou sy die Freud-museum besoek (Berggasse, 19) waar daar tot haar verbasing ’n uitstalling te siene is oor vroue in Freud se lewe en hoe hulle hom gehelp het om sy teorie van die “talking cure” te verfyn. Party as pasiënte; ander as formele studente.

 

This is the stronger sex. Women in psychoanalysis.

 

Waarheen is hierdie liefdesverhaal op pad? ’n Verhaal wat sy in ’n hotelkamer skryf (Rathauspark, Rathaussstrasse, 17) op pad na die kongres.

Laasnag droom sy weer van haar in Wene: Die stad van drome / Die stad van dans.

Beide karakters vroue. Beide met agentskap. Beide in hul laat-veertigs.

Beide uitgelewer aan ’n ongenaakbare proses toe hulle liefdesverhaal in die openbare domein ontmasker word as geen liefdesverhouding meer nie, maar eerder as teistering, dit wil sê, ’n ongevraagde opdringing van die een party aan ’n ander.

Dus as ons die Ierse skrywer moet glo, het ons nou twee figure, ’n dans (hier ’n aanklag) en dan die afloop. Dis die basiese bestanddele vir ’n storie.

Sabina Spielrein, die Russiese psigoanalis, se lewe word ook onthul in hierdie uitstalling. Sy was ’n geliefde van Jung, ofskoon niemand eintlik werklik weet of hulle liefde fisiek was nie. Ander meen Jung het die verhouding beëindig uit vrees dat dit sy huwelik en reputasie as psigoanalis kon benadeel. Elders word daar geskryf dat dit die verbintenis tussen Freud en Jung versuur het.

Freud het gevoel dat Jung die basiese beginsels van psigoanalise oortree het deur by een van sy pasiënte te slaap. So, het hy gemeen, sou dit onmoontlik wees om haar eie psigiese probleme met haar vader op die terapeut te projekteer, omdat hy te na aan haar beweeg het.

Tydens ons sessies het sy dikwels musiek gespeel. Sy het gemeen dit kalmeer ’n mens wanneer jy na Weense walse luister. Op ’n keer het sy selfs haar bloes losgeknoop. Ek kon haar borste sien. Sy het nadergekom. Gesê ek moenie bang wees nie. Die reuk van haar lyf. Ek weet ek was verkeerd om haar toe te laat om die grense te oortree …

maar ek was aangetrokke … eers later het die volle implikasies my getref. Dat sy my manipuleer vir haar eie doeleindes. Ek het haar vertel van my eerste lesbiese ervaring in standerd vyf met ’n meisie wat al verder ontwikkel was as ons ander. Hoe sy my meegesleur het en toe skielik sonder waarskuwing gelos het. Ek het haar met ’n ander meisie sien stap oor die speelgrond. Hulle het hande vasgehou. Ek sou enigiets doen om haar terug te wen, maar dit was onmoontlik. Sy het my nie eens gegroet nie. Sy het gemaak asof daar nooit iets tussen ons was nie. Oor die speelgrond. Sy en die maatjie. Hoe word die danser van die dans geskei. Later het ek haar weer gesien. Ons was in die hoërskool. Sy moes die skool in standerd agt verlaat. Ons sou nooit weer praat nie. Ek begin huil.

Ek die skrywer. Jy die psigoanalis.

Hoe sal ek myself ooit kan vergewe dat ek jou gaan aankla het by die Mediese Raad toe jy my verlaat het vir ’n ander? Dat ek leuens opgemaak het oor ons sessies en dat jý my verlei het …

Daar bly niks meer oor nie, behalwe om Sabina Spielrein se Destruction as the cause of coming into being (1912) weer te lees nie.

In Julie 1942 word sy deur die Duitsers doodgeskiet.

Vir sommige is sy net ’n voetnoot in die ontwikkeling van psigoanalise.

Vir ander, soos vir my, iemand wat my help om die impak van destruksie te begryp.

Miskien sal jy my vergewe wanneer, nee, ás, jy hierdie verhaal lees.

Daar waar jy nou op die eiland Lesbos ’n gastehuis bedryf met jou nuwe minnares, Anna.

 

Hoofstuk drie: Ons protagonis ontmoet toevallig die antagonis in ’n fiksionalisering van die gebeure

Op ’n Sondagmiddag in Wene is al die winkels gesluit.

Ek stap af in die straat en by ’n restaurant oorkant die Votivkerk, drink ek koffie.

Daar is geen kongres vandag nie en almal het hul eie koers ingeslaan.

Ek soek na ’n ATM en die vriendelike kelnerin gee vir my die geld via haar masjientjie.

Oorkant sit ’n vrou en sy hou my dop. Ons begin gesels.

Die gewone gesprek tussen vreemdelinge.

Sy koop vir my koffie en ek vir haar lemoensap.

Sy is ’n gids verduidelik sy. Haar naam is Beatrice.

Ek is hier vir ’n kongres in Vergelykende Letterkunde.

Die stad het sy eiesoortige sirkels. Die paradys is ’n park hier. ’n Lafenis in die hittegolf. Dit heet die Freud-park. Digby Freud se huis op die Berggasse.

“Jy moet na die tuin hier agter die gebou gaan.” Ek knik instemmend.

Ek voel daar is iets wat sy vir my wil sê.

Maar ek vind nie uit wat dit is nie. Voor die Votivkerk het ek ’n gargoyle gesien wat die bose moet afweer.

“Dit is soos dit is,” sê sy. Sy verwys na ’n Weense digter wat oraloor aangehaal word.

Ek knik weer. Uit beleefdheid. [1]

Ek betaal die rekening en stap aan.

Hoekom het ek nie haar telefoonnommer gevra nie?, sou u stellig wonder, liewe leser.

Die antwoord ken u beter as ek. Moontlik sou sý, indien ek sou reageer, my afwys en dan moet ek ’n onverwagse vertroebeling hanteer van ’n reisgids (gespesialiseer in Italië) en met die naam Beatrice, my reis kompliseer.

Boonop lyk sy soos iemand uit die verlede.

’n Vrou van wie ek nooit herstel het na ons lang en slopende opbreek sowat tien jaar gelede nie. Oor haar het ek verydelde liefdesverse geskrywe op vele kontinente. Maar die hart was toe ’n eensame jagter, om Carson McCullers aan te haal. Nou is die hart gesluit. ’n Sms sketter laat-Sondagmiddag. My Air France-vlug is vertraag weens ’n staking.

Dus twee opsies: ’n ander vlug soek, of miskien aanbly vir ’n paar dae en Freud se stad van drome verken?

Ek dink aan ’n gedig wat ek jare gelede begin skryf het:

 

 

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.

Deur hulle word mens geteister deur ’n vlugvertraging

van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort

tot nuwe ervarings liefde of ’n belangrike afspraak.

 

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.

Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank

vir ’n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer

van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

 

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat

weens willoosheid, herinneringe of ’n onverwagse coup d’etat.

 

Montevideo

 

 

Salida

In die vele hotelkamers van die liefde

my bagasie in- en uitgepak.

 

In die vele hotelkamers van die liefde

die hotelkaart noukeurig ingevul

 

In hierdie hotelkamers

is alles eers klinies – later morsig.

 

In die hotelkamers van die wanhoop

soms ’n soewenier geneem – niks agtergelaat.

 

In hierdie vele hotelkamers

nimmer lank vertoef.

 

Sommige hotelkamers was vyfster;

party minder goed.

 

Nou onthou ek net my geliefdes

soos die kamernommers in dié hotelle.

 

Santiago [2]

 

 

Dit was toe. Opgesluit in ’n bundel Verdraaide raaisels. Nou is hier weer ’n “unheimliche”-proses wat ek moet oplos. ’n Reis, ’n vreemde stad, ’n vrou …

Die volgende oggend stap ek na die Universiteit van Wene om die tweede sirkel van die kongres mee te maak.

Ek stap oor die Ringstrasse vanuit die Hotel Rathauspark.

Daar is nog geen uitsluitsel oor die vlugvertraging nie.

En toe?

Ja inderdaad wag sy my in. Sy sit by ’n tafeltjie en kom nader gestap.

“Hier is my biljet. Met my e-pos en telefoonnommer.” En net so skielik verdwyn sy. Soos iets in ’n droom.

En toe liewe leser?

Ek het opgestaan na die lesinglokaal 2A op die tweede vloer van die Univie gegaan en gaan luister na ’n lesing van ’n gesiene teoretikus oor die invloed van fantasie op moderne letterkunde. Borges en die biblioteek van die Onpeilbare.

 

 

Die stad van begeerte

Haar biljet lê voor my bed in die Hotel Rathauspark. Ek sien haar e-posadres.

“Sou jy vanmiddag dalk koffie wou drink om 6?” Ek versend die e-pos. Stort en vertrek per taxi na die kongres. Dit is die laaste dag. My lesing heet Lost in translation. Vertaling as die onmoontlike daad. As transgressie.

Die meisie spook by my. Ons ontmoet per toeval in ’n restaurant. Gesels. Sy kom die volgende dag na die universiteit en gee haar inligting vir my. ’n Dag later loop ek haar weer raak …

In die vertalingsproses is daar altyd ’n teks van oorsprong. Maar ’n mens kan nooit daardie teks presies korrek vertaal nie. Dit is soos ’n raaisel wat ons moet oplos. Hierom gebruik ek films om hierdie trope te verduidelik. Lost in translation. Vertigo. Eyes wide shut. Rear window, verduidelik sy.

Die gehoor luister. Aandagtig. Oor die politiek van vertaling. Oor skrywers wat jaloers hulle skryfwerk verweer teen (buite)vertalers en na die vertaling voltooi is, bly daar nie veel van die kontrak oor nie. Skrywer en vertaler word vyande.

Soos in die liefde. Wanneer twee geliefdes se kontrak opgehef word, deur een of beide partye, is hulle dikwels gedoem tot vyandskap. Dit is bykans onmoontlik om neutraal teenoor mekaar te staan. Ondermyn hulle mekaar selfs, dink sy.

In haar inboksie is daar ’n boodskap van Beatrice.

Ek sien jou graag om ses. By die restaurantjie langs die Rathauspark.

Dit is presies vier-en-twintig uur later. Ek sit op die Wene-lughawe op pad na Parys terug SA toe. Neffens Luggage storage / Wrapping / Grossgepäck / Bulky luggage.

Sopas al my liefdesgedigte en verhale oor die liefde hier deurgestuur as Bulky luggage. Nou sit ek met ’n kaartjie in die hand. Gaan binne die volgende paar minute deur doeane ensomeer. Dan die lang pad terug.

En die meisie?

Beatrice?

Miskien weet jy reeds leser dat sy nie opgedaag het nie en dat ek kort daarna ’n e-pos ontvang het met ‘n verskoning.

Dit was ’n verligting, bepaald.

Want hoe op aarde sou ’n mens ’n langpad-flirtasie kon volhou?

Sy is die oerteks en ek die vertaalde teks.

 

 

Petrarca kom tot sy sinne

(’n parodie)

 

Sy was só wonderskoon, dié wasmeid

– glad geen hoer – biddend in die kapel bereid

toe ek haar sien. Hartstogtelik ek oor haar

Laura, Laura, my donna angelicata.

 

Heilige Maagd: kyk die blomme staan in wasdom nou

nes jou tere lyf. Ek is gereed vir jou (net vir jou).

Hier in die grassade sal ons lê: naak

(ek op jou).  Jy’s te heilig, onaangeraak…

 

Maar met die lui van die aandklokke

en die son se daal is ek alleen:

weet ek dis alles net ’n sinnespel,

 

bedrog. Ek hoor die wilde bokke

in die vertes blêr. Daarom dié volta. Alleen

’n keerpunt: só droom van werklikheid vertel. [3]

 

Petrarca kom tot haar sinne

(’n self-parodie)

 

Sy was so beautiful, die vrou in Wene

iets soos die aktrise in Vicky Christina Barcelona

in die Votivkafee neffens die kerk

’n Laura nee Beatrice uit Dante.

 

Wat wil jy nou so met my flirt?

Ek is lus vir jou ja, nes jy vir my.

My hotel is hier om die draai

as jy lus is vir ’n bietjie draal?

 

Maar met jou e-pos afwerend

en ek boonop terugkerend,

weet ek dis alles net ’n sinnespel.

 

Hier sit ek op die lughawe, alleen

en jy, waarskynlik, onbewus

dat jy in ’n gedig lê in Wene.

 

Toe ek opkyk, staan sy langs my.

 

 

“Wil u dalk nog koffie hê? U vlug gaan binnekort vertrek …”.

Maar dis nie sy nie. Dis die kelnerin van Burger King. En sy wapper die rekening in die lug.

In Woody Allen se film Vicky Christina Barcelona verlaat die twee vriendinne die stad na hul intense ervarings van Barcelona en gefnuikte liefdeservarings.

Hulle stap die roltrap af, soos ek nou.

Op pad terug.

Ons hoop net daar is geen vlugvertraging nie.

Of ’n e-pos wanneer ons terugkeer.

Ons hoop op begeerte wat ons kan agterlaat.

 

Hoofstuk vier: Ons protagonis begin haar roman van agter na voor 

Na ’n vermoeiende vlug van Wene (via Parys) kom sy tuis. Sy stuur vir Beatrice ’n elektroniese kaart met verjaarsdagwense. Daar is ’n bedanking. Daarna stilte.

Sy stuur ook die foto wat sy geneem het; hierop is daar ook geen reaksie nie.

Sy kyk na die biljet. Dit maak soos twee vensters oop. Sy staan binne-in, met haar rug gekeer na die kyker. In die biljet word verskillende reise aangekondig wat die toeris (of reisiger) saam met haar kan onderneem. Mozart se huis; tuine in Wene; selfs ’n reis van Italiaanse bakens in Wene …

Sy onthou die groot Italiaanse sak wat langs haar gestaan het en hoe sy opgemerk het dat sy dikwels na Italië reis.

“Ek was drie jaar terug in Venesië … saam met my eks-geliefde”, bely die protagonis.

Op die derde dag na hul ontmoeting, stap hulle by mekaar verby in die straat.

“Ons het ’n konneksie,” merk die antagonis op.

Die protagonis weet nie hoe om hierop te reageer nie. Sy stap verby.

 

Hierna, en dit het sy nie toé geweet nie, gebeur alles in fantasie en in drome.

 

In ’n soel droom ontmoet hulle. Hulle soen mekaar. Een nag sien sy haar, weer in ’n droom waar sy stap in ’n roostuin. Sy sien hoe sy rusie maak met ’n man. Hulle is onbewus van haar. ’n Man wat lyk soos Klimt. Hy wat vroue geskilder het in hul naaktheid en die ontblote vrou agter die portret verhul het en wat eers jare later deur kunskenners raakgesien is.

Daagliks kyk sy of daar ’n e-pos is van haar. Maar na die bedanking, is daar nie weer iets nie. Sy sit met die biljet in haar hand en sy wonder of sy haar moet bel. Sy besluit daarteen. Sy vind ’n skakel op YouTube en hoor hoe sy haar reise adverteer vir besoekers: ’n Fremdenführerin.

Wanneer sy die biljet oopmaak op die internet, is daar in die laaste foto net vensters. Die vrou het verdwyn.

Sy kyk na die kaart van Wene en trek met ’n swart pen ’n lyn op die roetes wat sy gevolg het. Veral die Votivkerk en die Freud-huis is twee belangrike bakens.

Sy kyk stip na die ou gedeelte waar sy gewoon het. Sy wonder waar die Fremdenführerin woon. Naby die restaurant?

 

[4] Die kaart as Freud se Id.

 

Woon sy dalk naby die Liebiggasse waar ’n kantoor is of neem sy die trem elke dag werk toe?

Sy tel haar tarotpak op. Elke keer dieselfde boodskap. Temperance. Geduld. [5]

 

 

Begeerte vervolg in stilet.digital uitgawe 31(1)

 

Voetnote & bronne

[1] Erich Fried. http://www.poemhunter.com/poem/what-it-is-11/

It is nonsense
says reason
It is what it is
says love

It is calamity
says calculation
It is nothing but pain
says fear
It is hopeless
says insight
It is what it is
says love

It is ludicrous
says pride
It is foolish
says caution
It is impossible
says experience
It is what it is
says love

[2]  Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.

[3]  Bitterlemoene. Human & Rousseau, 1986.

[4]  http://city-walks.appspot.com/pdf/wien/Vienna-Map-City-Center.pdf

[5]  Morgan-Greer se tarot word geraadpleeg.