Om die gode te verleer
(na Robert Hass se “After the winds”)
Klik hier vir die PDF-weergawe
My vriend se ouer suster se kamermaat se dogter –
dis omtrent die voorskrif wat die digter vir ons gee –
’n stylgids? ’n Drenkeling se reddingsboei?
Pas verbygestap in Brooklyn Mall. ’n Matrikulant
ingeskryf by ‘n privaatskool in Pretoria, ’n mooi meisie,
asblondehare. Ek kon haar doeke omgeruil het.
En die bytmerk in haar nek dit sou haar kêrel wees.
Die drifte wat ons leeg maak en ons leeg maak,
wat ons afmat en ons afmat, en ons oplig en
ons oplig. Altyd bespotlik van die buitekant:
die proponent wat spot dat dansery kan lei
na seks, was nog nie platgeslaan deur gode
of godinne van wie die altare met offerandes
belaai was, met druiwe of olyfbome en blomme
of takke met jong vrugte of swaar koringgerwe,
soos enige ander misterie of krag nie.
Een skemeraand sit my vriend moedeloos
die een sigaret na die ander en rook
terwyl seemeeue oorhoofs krys die buurman
die braairooster met ʼn draadborsel skuur,
heeltyd oor die agtermuur gehoor.
“Ek en sy kom goed oor die weg,” sê hy,
“al werk ons meeste van die tyd.” Waarskynlik
in sy laat dertigs toe. Locum oor naweke, wegneem-
etes by die mall, ‘n krimpende familiekring, sterftes
elke jaar, oorlewendes sy moeder net buite
Potchefstroom, ‘n verlangse neef, ‘n peetkind
wie se verjaarsdag hy bly vergeet.
Nie gewoon het waar, sug, die dinge soos ‘n draaikolk
woel, die deel van jou wat daarteen rebelleer;
die komedie van werk toe gaan en slaap en eet.
Alhoewel hy vir homself kan lag. ‘n Amerikaanse lotery-
kaartjie gekoop een winter vir die uitslag gewag
– hy sou oor die Green Card droom – dit gewen,
maar nie daarmee voortgegaan nie; sy kop geskud,
die e-pos uitgevee, werk toe teruggekeer by die fabriek
waar hy die bestuurder was vir ʼn jaar of twee,
nog ‘n sigaret gerook wat hom altyd sou kalmeer;
dit aangesteek, die eerste rook geruik. “Suid-Afrika,”
het hy gesê, asof die smaak nie uit sy mond kon kry nie.
“Die Here weet,” het hy gesê, “om hier te bly beteken dood.”
’n Hol trom, ’n ongeluide klok, ’n gedempte nie-klank
wat golf op golf tot by die stomme plek versamel
waar dooies aan die nie-begin tot in die leë arms
van lewendes vergader: die lewendes wat rou en woed
en rou oor die vermiste, altyd-onbewaakte dooies
in kerkhowe of familieplase, van hul versamelde
afwesigheid. ’n Man wil ’n vrou so hê. ’n Mens ’n mens.
Op vier bene af- en uitgehonger, onderdanig. En later –
“Geliefdes, wat doen ons met die bedelaars op
straathoeke? Tande uit, verslonsde klere.
Hoe hul jou glimlaggend nader. Hande vol swere.
Hulle ken geen reëls nie en sal alles steel en so
sou jy as jy een van hulle was.” Die ou hoofstad is altyd
reeds geplunder, die grasvelde verbrand, haweloses
in krotte buite die buurt besig om politici se beloftes
aanstons te verbrand, oor grond, werk, behuising.
Honger: die gelowiges se liggame in wit lakens geklee,
staan in ’n veld op Sondae om hul dank te gee.
Vir Petrus het, dat hy op die see kon loop, nie beteken
dat hy sonder twyfel was, maar sonder voorbehoud.
Hy het sy stem in die moment vertrou; die God,
dit sou hy later leer, was nie die rede waarom hy
die waarheid vir homself kon neem, kon eet of glo,
maar iets anders, sy uitstrekte hand op stormseë.
Oorspronklike bydrae, deur Alwyn Roux